Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 69

’n Kind help ’n vername man

’n Kind help ’n vername man

WEET jy wat hierdie meisietjie sê? Sy vertel vir die vrou van Jehovah se profeet Eliʹsa en die wonderlike dinge wat Jehovah hom help om te doen. Die vrou weet nie van Jehovah nie, want sy is nie ’n Israeliet nie. Kom ons kyk hoekom die meisietjie dan in die vrou se huis is.

Die vrou is ’n Siriër. Haar man is Naäman, die hoof van die Siriese leër. Die Siriërs het hierdie Israelitiese meisietjie gevang, en nou is sy Naäman se vrou se diensmeisie.

Naäman het ’n vreeslike siekte wat melaatsheid genoem word. Dit kan selfs stukke van ’n mens se vlees laat afval. Daarom sê die meisietjie vir Naäman se vrou: ‘Ek wens my heer kon na Jehovah se profeet in Israel gaan. Hy sal hom gesond maak van sy melaatsheid.’ Later word dit vir die vrou se man vertel.

Naäman wil baie graag gesond word; daarom besluit hy om na Israel toe te gaan. Wanneer hy daar kom, gaan hy na Eliʹsa se huis toe. Eliʹsa stuur sy kneg uit om vir Naäman te sê om sewe keer in die Jordaanrivier te gaan was. Dit maak Naäman baie kwaad, en hy sê: ‘Die riviere in my land is beter as enige rivier in Israel!’ Nadat hy dit gesê het, gaan Naäman weg.

Maar een van sy knegte sê vir hom: ‘Meneer, as Eliʹsa vir u gesê het om iets moeiliks te doen, sou u dit mos gedoen het. Hoekom gaan was u u nie net soos hy gesê het nie?’ Naäman luister na sy kneg en gaan was homself sewe keer in die Jordaanrivier. Wanneer hy dit doen, word sy vlees gesond!

Naäman is baie bly. Hy gaan terug na Eliʹsa toe en sê vir hom: ‘Nou weet ek vir seker dat die God in Israel die enigste ware God in die hele aarde is. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.’ Maar Eliʹsa antwoord: ‘Nee, ek sal dit nie aanvaar nie.’ Eliʹsa weet dat dit verkeerd sal wees as hy die geskenk aanvaar, want dit was Jehovah wat Naäman gesond gemaak het. Maar Eliʹsa se kneg Gehaʹsi wil die geskenk vir homself hê.

Dít is wat Gehaʹsi toe doen: Nadat Naäman weggegaan het, hardloop Gehaʹsi agter hom aan. ‘Eliʹsa het my gestuur om vir u te sê dat hy graag ’n deel van u geskenk wil hê vir vriende wat nou net vir hom kom kuier het’, sê Gehaʹsi. Dit is natuurlik ’n leuen. Maar Naäman weet nie dat dit ’n leuen is nie; daarom gee hy vir Gehaʹsi van die goed.

Wanneer Gehaʹsi by die huis kom, weet Eliʹsa wat hy gedoen het. Jehovah het vir hom gesê. Daarom sê hy: ‘Omdat jy hierdie slegte ding gedoen het, sal jy Naäman se melaatsheid kry.’ En dit gebeur sommer dadelik!

Wat kan ons hieruit leer? Eerstens, ons moet soos die meisietjie wees en van Jehovah praat. Dit kan mense baie help. Tweedens, ons moenie trots wees soos Naäman eers was nie, maar ons moet gehoorsaam wees aan God se knegte. En derdens, ons moenie leuens vertel soos Gehaʹsi nie. Ons kan baie leer wanneer ons die Bybel lees, nè?