Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 71

God belowe ’n paradys

God belowe ’n paradys

DIT is ’n prent van ’n paradys soos God moontlik vir sy profeet Jesaja gewys het. Jesaja het kort ná Jona gelewe.

Paradys beteken “tuin” of “park”. Laat dit jou nie aan iets dink wat ons vroeër in hierdie boek gesien het nie? Dit lyk baie soos die pragtige tuin wat Jehovah God vir Adam en Eva gemaak het, nie waar nie? Maar sal die hele aarde ooit ’n paradys wees?

Jehovah het vir sy profeet Jesaja gesê om te skryf oor die nuwe paradys vir God se volk wat nog gaan kom. Hy het gesê: ‘Wolwe en skape sal in vrede saamlewe. Kalwers en leeuwelpies sal saam eet, en jong kindertjies sal hulle oppas. Selfs al speel ’n baba naby ’n giftige slang, sal niks slegs met hom gebeur nie.’

‘Dit kan nooit gebeur nie’, sal baie sê. ‘Daar was nog altyd moeilikheid op die aarde, en daar sal altyd wees.’ Maar dink ’n bietjie hieraan: Watter soort tuiste het God vir Adam en Eva gegee?

God het vir Adam en Eva in ’n paradys gesit. Dit is net omdat hulle aan God ongehoorsaam was dat hulle hulle pragtige tuiste verloor het, oud geword het en doodgegaan het. God belowe dat hy vir mense wat vir hom lief is, alles sal gee wat Adam en Eva verloor het.

In die nuwe paradys wat nog gaan kom, sal daar niks wees wat mense seermaak of iets vernietig nie. Daar sal volmaakte vrede wees. Almal sal gesond en gelukkig wees. Dit sal wees net soos God dit aan die begin wou hê. Maar ons sal later leer hoe God dit gaan doen.