Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 73

Israel se laaste goeie koning

Israel se laaste goeie koning

JOSIA is net agt jaar oud wanneer hy die koning van die suidelike twee stamme van Israel word. Dit is baie jonk vir iemand om koning te wees. Daarom help ’n paar ouer mense hom aan die begin om oor die nasie te regeer.

Nadat Josiʹa sewe jaar lank koning is, begin hy Jehovah soek. Hy volg die voorbeeld van goeie konings soos Dawid, Joʹsafat en Hiskiʹa. En terwyl hy nog ’n tiener is, doen Josiʹa ’n dapper ding.

Die meeste Israeliete is al lank baie sleg. Hulle aanbid valse gode. Hulle buig voor afgode neer. Daarom gaan Josiʹa saam met sy manne uit en begin hy om valse aanbidding uit die land te verwyder. Dit is ’n groot werk, want so baie mense aanbid valse gode. Kyk hoe kap Josiʹa en sy manne hier die afgode stukkend.

Daarna stel Josiʹa drie mans aan oor die herstelwerk aan Jehovah se tempel. Die volk gee geld, en dit word vir hierdie mans gegee om vir die werk te betaal. Terwyl hulle aan die tempel werk, kry die hoëpriester Hilkiʹa iets baie belangriks daar. Dit is die wetboek wat Jehovah lank, lank gelede vir Moses gesê het om te skryf. Dit was baie jare lank weg.

Die boek word na Josiʹa toe geneem, en hy vra dat dit vir hom gelees word. Terwyl hy luister, besef Josiʹa dat die volk nie Jehovah se wet gehou het nie. Hy voel baie hartseer daaroor, en daarom skeur hy sy klere, soos jy hier kan sien. Hy sê: ‘Jehovah is kwaad vir ons, want ons vaders het nie die wette in hierdie boek gehou nie.’

Josiʹa beveel hoëpriester Hilkiʹa om uit te vind wat Jehovah met hulle gaan doen. Hilkiʹa gaan na die vrou Hulda, ’n profetes, en vra vir haar. Sy gee vir hom hierdie boodskap van Jehovah af om na Josiʹa toe terug te neem: ‘Jerusalem en die hele volk gaan gestraf word omdat hulle valse gode aanbid het en die land vol slegte dinge is. Maar omdat jy, Josiʹa, gedoen het wat goed is, sal hierdie straf eers ná jou dood kom.’