Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 75

Vier seuns in Babilon

Vier seuns in Babilon

KONING Nebukadneʹsar neem al die geleerdste Israeliete na Babilon toe. Daarna kies die koning die aantreklikste en slimste jong mans onder hulle uit. Vier van hulle is die seuns wat jy hier sien. Een is Daniël, en die ander drie word deur die Babiloniërs Sadrag, Mesag en Abedneʹgo genoem.

Nebukadneʹsar wil die jong mans oplei om in sy paleis te werk. Ná drie jaar van opleiding sal hy net die slimstes kies om hom te help om probleme op te los. Die koning wil hê die seuns moet sterk en gesond wees terwyl hulle opgelei word. Daarom beveel hy sy knegte om vir hulle almal dieselfde ryk kos en wyn te gee as wat hy en sy gesin kry.

Kyk na jong Daniël. Weet jy wat hy vir Nebukadneʹsar se hoofbediende Asʹpenas sê? Daniël sê vir hom dat hy nie die ryk kos van die koning se tafel wil eet nie. Maar Asʹpenas is bekommerd. ‘Die koning het besluit wat julle moet eet en drink’, sê hy. ‘En as julle nie so gesond soos die ander jong mans lyk nie, sal hy my miskien doodmaak.’

Daarom gaan Daniël na die oppasser wat Asʹpenas oor hom en sy drie vriende aangestel het. ‘Toets ons asseblief 10 dae lank’, sê hy. ‘Gee vir ons groente om te eet en water om te drink. Vergelyk ons dan met die ander jong mans wat die koning se kos eet, en kyk wie lyk die beste.’

Die oppasser sê hy sal dit doen. En ná die 10 dae lyk Daniël en sy drie vriende gesonder as al die ander jong mans. Daarom laat die oppasser hulle toe om aan te hou om groente te eet in plaas van wat die koning gee.

Teen die einde van drie jaar word al die jong mans na Nebukadneʹsar toe geneem. Nadat hy met almal van hulle gepraat het, sien die koning dat Daniël en sy drie vriende die slimstes is. Daarom hou hy hulle om hom in die paleis te help. En wanneer die koning vir Daniël, Sadrag, Mesag en Abedneʹgo vrae vra of vir hulle moeilike probleme bring, weet hulle 10 keer meer as enige van sy priesters of wyse manne.