Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 77

Hulle weier om neer te buig

Hulle weier om neer te buig

ONTHOU jy dat jy van hierdie drie jong mans gehoor het? Ja, hulle is die vriende van Daniël wat geweier het om kos te eet wat nie vir hulle goed was nie. Die Babiloniërs het hulle Sadrag, Mesag en Abedneʹgo genoem. Maar kyk nou na hulle. Hoekom buig hulle nie soos al die ander mense voor hierdie yslike beeld neer nie? Kom ons vind uit.

Onthou jy die wette wat Jehovah self neergeskryf het en wat die Tien Gebooie genoem is? Die eerste een het gesê: ‘Jy mag geen ander gode behalwe my aanbid nie.’ Hierdie jong manne gehoorsaam hierdie wet, al is dit nie maklik nie.

Nebukadneʹsar, die koning van Babilon, het baie belangrike mense laat kom om eer te gee aan hierdie beeld wat hy opgerig het. Hy het so pas vir al die mense gesê: ‘Wanneer julle die geluid van die horings, die harpe en die ander musiekinstrumente hoor, moet julle neerbuig en hierdie goue beeld aanbid. Enigiemand wat nie neerbuig en aanbid nie, sal dadelik in ’n brandende vuuroond gegooi word.’

Wanneer Nebukadneʹsar uitvind dat Sadrag, Mesag en Abedneʹgo nie neergebuig het nie, is hy baie kwaad. Hy laat hulle na hom toe bring. Hy gee hulle nog ’n kans om neer te buig. Maar die jong mans vertrou op Jehovah. ‘Ons God wat ons dien, kan ons red’, sê hulle vir Nebukadneʹsar. ‘Maar al red hy ons nie, sal ons nie voor u goue beeld neerbuig nie.’

Wanneer Nebukadneʹsar dit hoor, word hy nog kwater. Daar is ’n vuuroond daar naby en hy beveel: ‘Maak die vuuroond sewe keer warmer as wat dit was!’ Dan laat hy die sterkste mans in sy leër vir Sadrag, Mesag en Abedneʹgo vasbind en in die vuuroond gooi. Die vuuroond is so warm dat die sterk mans deur die vlamme doodgebrand word. Maar wat van die drie jong mans wat hulle ingegooi het?

Die koning kyk in die vuuroond in en word baie bang. ‘Het ons nie drie mans vasgebind en in die brandende vuuroond gegooi nie?’ vra hy.

‘Ja, ons het’, antwoord sy knegte.

‘Maar ek sien vier mans in die vuur rondloop’, sê hy. ‘Hulle is nie vasgebind nie, en die vuur doen niks aan hulle nie. En die vierde een lyk soos ’n god.’ Die koning gaan nader aan die deur van die vuuroond en roep uit: ‘Sadrag! Mesag! Abedneʹgo! Kom uit, knegte van die Allerhoogste God!’

Wanneer hulle uitkom, kan almal sien dat hulle niks oorgekom het nie. Dan sê die koning: ‘Mag die God van Sadrag, Mesag en Abedneʹgo geloof word! Hy het sy engel gestuur en hulle gered omdat hulle voor geen god behalwe hulle eie wou neerbuig en aanbid nie.’

Dit is vir ons ’n goeie voorbeeld van getrouheid aan Jehovah, nè?