Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 78

Die skrif teen die muur

Die skrif teen die muur

WAT gebeur hier? Die mense hou ’n groot fees. Die koning van Babilon het ’n duisend belangrike gaste genooi. Hulle gebruik die goue bekers en die silwerbekers en die bakke wat uit Jehovah se tempel in Jerusalem geneem is. Maar skielik verskyn die vingers van ’n mens se hand in die lug en begin dit op die muur skryf. Almal is bang.

Belʹsasar, die kleinseun van Nebukadneʹsar, is nou koning. Hy roep uit dat sy wyse manne ingebring moet word. ‘Enigiemand wat hierdie skrif kan lees en vir my kan sê wat dit beteken’, sê die koning, ‘sal baie geskenke kry en sal die derde belangrikste heerser in die koninkryk word.’ Maar nie een van die wyse manne kan die skrif teen die muur lees of sê wat dit beteken nie.

Die koning se ma hoor die geraas en kom na die groot eetsaal toe. ‘Moenie so bang wees nie’, sê sy vir die koning. ‘Daar is ’n man in jou koninkryk wat die heilige gode ken. Toe jou oupa Nebukadneʹsar koning was, het hy hom oor al sy wyse manne aangestel. Sy naam is Daniël. Laat hom haal, en hy sal vir jou sê wat dit alles beteken.’

Hy laat Daniël sommer dadelik haal. Nadat hy geweier het om enige geskenke te vat, begin Daniël vertel hoekom Jehovah eenkeer Belʹsasar se oupa Nebukadneʹsar as koning verwyder het. ‘Hy was baie trots’, sê Daniël. ‘En Jehovah het hom gestraf.’

‘Maar u’, sê Daniël vir Belʹsasar, ‘weet goed wat met hom gebeur het, en u is nog steeds net so trots soos Nebukadneʹsar was. U het die bekers en die bakke van Jehovah se tempel laat haal en uit hulle gedrink. U het gode van hout en klip geloof, en u het nie ons Groot Skepper vereer nie. Dit is hoekom God die hand gestuur het om hierdie woorde te skryf.

‘Dit is wat daar geskryf is’, sê Daniël: ‘MENE, MENE, TEKEL en PARSIN.’

‘MENE beteken dat God die dae van u koninkryk getel het en ’n einde daaraan gemaak het. TEKEL beteken dat u op die weegskaal geweeg is en daar gevind is dat u nie goed genoeg is nie. PARSIN beteken dat u koninkryk aan die Meders en die Perse gegee is.’

Terwyl Daniël nog praat, begin die Meders en die Perse om Babilon aan te val. Hulle neem die stad oor en maak Belʹsasar dood. Wat die skrif teen die muur gesê het, gebeur nog daardie selfde nag! Maar wat gaan nou met die Israeliete gebeur? Ons sal binnekort uitvind, maar kom ons kyk eers wat met Daniël gebeur.