Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 80

God se volk verlaat Babilon

God se volk verlaat Babilon

AMPER twee jaar het verbygegaan nadat Babilon deur die Meders en die Perse oorgeneem is. En kyk wat gebeur nou! Ja, die Israeliete gaan weg uit Babilon. Hoe het hulle vrygekom? Wie het hulle laat gaan?

Kores, die koning van Persië, het. Lank voor Kores gebore is, het Jehovah sy profeet Jesaja oor hom laat skryf: ‘Jy sal alles doen wat ek wil hê jy moet doen. Die poorte sal oopgelos word sodat jy die stad kan oorneem.’ En Kores het wel die leiding geneem toe Babilon oorgeneem is. Die Meders en die Perse het gedurende die nag in die stad ingekom deur die poorte wat oopgelos is.

Maar Jehovah se profeet Jesaja het ook gesê dat Kores die bevel sou gee dat Jerusalem en sy tempel herbou word. Het Kores hierdie bevel gegee? Ja, hy het. Dit is wat Kores vir die Israeliete sê: ‘Gaan nou na Jerusalem toe en bou die tempel van Jehovah julle God.’ En dit is presies wat hierdie Israeliete op pad is om te doen.

Maar nie al die Israeliete in Babilon kan op die lang reis na Jerusalem toe gaan nie. Dit is ’n lang, lang reis van omtrent 800 kilometer, en baie is te oud of te siek om so ver te reis. En daar is ander redes hoekom party nie gaan nie. Maar Kores sê vir dié wat nie gaan nie: ‘Gee silwer en goud en ander geskenke vir die mense wat teruggaan om Jerusalem en sy tempel te herbou.’

Daarom kry die Israeliete wat op pad is na Jerusalem toe, baie geskenke. Kores gee ook vir hulle die bakke en die bekers wat koning Nebukadneʹsar uit Jehovah se tempel geneem het toe hy Jerusalem vernietig het. Die mense het baie goed om saam met hulle terug te neem.

Ná ’n reis van omtrent vier maande kom die Israeliete presies op tyd in Jerusalem aan. Dit is net mooi 70 jaar vandat die stad vernietig is en daar niks meer mense in die land oorgebly het nie. Maar al is die Israeliete nou terug in hulle eie land, lê daar moeilike tye voor, soos ons nou sal sien.