Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 81

Vertroue op God se hulp

Vertroue op God se hulp

BAIE duisende mense gaan op die lang reis van Babilon na Jerusalem. Maar wanneer hulle in Jerusalem aankom, is dit net ’n groot puinhoop. Niemand woon daar nie. Die Israeliete moet alles van voor af bou.

Een van die eerste dinge wat hulle bou, is ’n altaar. Dit is ’n plek waar hulle diere-offers, of gawes, aan Jehovah kan bring. ’n Paar maande later begin die Israeliete om die tempel te bou. Maar vyande in die lande daar naby wil nie hê dat die Israeliete dit moet bou nie. Daarom probeer hulle hulle bang maak sodat hulle sal ophou. Uiteindelik oorreed hierdie vyande die nuwe koning van Persië om ’n wet te maak wat sê dat hulle met die bouwerk moet ophou.

Jare gaan verby. Dit is nou 17 jaar vandat die Israeliete uit Babilon teruggekom het. Jehovah stuur sy profete Haggai en Sagariʹa om vir die volk te sê om weer te begin bou. Die volk vertrou op God se hulp, en hulle luister na die profete. Hulle begin weer bou, al is daar ’n wet wat sê dat hulle nie dit mag doen nie.

Daarom kom vra ’n Persiese amptenaar met die naam Tatʹtenai die Israeliete watter reg hulle het om die tempel te bou. Die Israeliete sê vir hom dat toe hulle nog in Babilon was, koning Kores vir hulle gesê het: ‘Gaan nou na Jerusalem toe en bou die tempel van Jehovah julle God.’

Tatʹtenai stuur ’n brief na Babilon en vra of Kores, wat nou dood is, regtig so gesê het. Kort daarna kry hy ’n brief van die nuwe koning van Persië. Dit sê dat Kores regtig so gesê het. Daarom skryf die koning: ‘Laat die Israeliete die tempel van hulle God bou. En ek beveel jou om hulle te help.’ Die tempel word binne omtrent vier jaar klaar gebou, en die Israeliete is baie bly.

Nog baie jare gaan verby. Dit is nou omtrent 48 jaar vandat die tempel klaar gebou is. Die mense in Jerusalem is arm, en die stad en God se tempel lyk nie baie mooi nie. In Babilon hoor die Israeliet Esra dat God se tempel reggemaak moet word. Weet jy wat hy toe doen?

Esra gaan na Artasasʹta, die koning van Persië, en hierdie goeie koning gee vir Esra baie geskenke om terug te neem na Jerusalem toe. Esra vra die Israeliete in Babilon om hom te help om hierdie geskenke na Jerusalem toe te dra. Omtrent 6 000 mense sê hulle sal gaan. Hulle het baie silwer en goud en ander kosbare dinge wat hulle saam met hulle moet neem.

Esra is bekommerd, want daar is slegte mense langs die pad. Hierdie mense sal dalk hulle silwer en goud steel en hulle doodmaak. Daarom roep Esra die mense bymekaar, soos jy in die prent kan sien. Dan bid hulle tot Jehovah om hulle op hulle lang reis na Jerusalem toe te beskerm.

Jehovah beskerm hulle dan ook. En nadat hulle vier maande lank gereis het, kom hulle veilig in Jerusalem aan. Wys dit nie dat Jehovah die mense kan beskerm wat op sy hulp vertrou nie?