Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 82

Mordegai en Ester

Mordegai en Ester

KOM ons gaan ’n paar jaar terug tot die tyd voordat Esra na Jerusalem gegaan het. Morʹdegai en Ester is die belangrikste Israeliete in die koninkryk van Persië. Ester is die koningin, en haar neef Morʹdegai is die belangrikste man, naas die koning. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

Ester se ouers het doodgegaan toe sy nog baie klein was, en daarom het Morʹdegai haar grootgemaak. Ahasʹveros, die koning van Persië, het ’n paleis in die stad Susan, en Morʹdegai is een van sy knegte. Wel, eendag is die koning se vrou Vasti aan hom ongehoorsaam, en daarom kies die koning ’n nuwe vrou om sy koningin te wees. Weet jy wie kies hy? Ja, die pragtige jong Ester.

Sien jy hierdie trotse man voor wie mense buig? Dit is Haman. Hy is ’n baie belangrike man in Persië. Haman wil hê dat Morʹdegai, wat jy hier kan sien sit, ook voor hom moet buig. Maar Morʹdegai weier. Hy dink dit is verkeerd om voor so ’n slegte man te buig. Dit maak Haman baie kwaad. En dít is wat hy toe doen.

Haman vertel vir die koning leuens oor die Israeliete. ‘Hulle is slegte mense wat nie u wette gehoorsaam nie’, sê hy. ‘Hulle moet doodgemaak word.’ Ahasʹveros weet nie dat sy vrou Ester ’n Israeliet is nie. Daarom luister hy na Haman, en hy laat ’n wet maak dat alle Israeliete op ’n sekere dag doodgemaak moet word.

Wanneer Morʹdegai van hierdie wet hoor, is hy baie ontsteld. Hy stuur ’n boodskap na Ester: ‘Jy moet vir die koning vertel en hom smeek om ons te red.’ In Persië is dit teen die wet om na die koning toe te gaan as jy nie genooi is nie. Maar Ester gaan in sonder dat sy genooi is. Die koning steek sy goue septer na haar toe uit, wat beteken dat sy nie doodgemaak moet word nie. Ester nooi die koning en Haman uit na ’n groot ete. Daar vra die koning vir Ester watter guns hy vir haar kan doen. Ester sê dat sy vir hom sal sê as hy en Haman die volgende dag weer by haar kom eet.

By daardie ete sê Ester vir die koning: ‘Ek en my volk gaan doodgemaak word.’ Die koning is kwaad. ‘Wie durf so iets doen?’ vra hy.

‘Die man, die vyand, is hierdie slegte Haman!’ sê Ester.

Nou is die koning éérs kwaad. Hy beveel dat Haman doodgemaak moet word. Dan gee die koning Morʹdegai die hoogste posisie naas homself. Morʹdegai sorg dan dat ’n nuwe wet gemaak word wat die Israeliete toelaat om hulle te verdedig op die dag wat hulle doodgemaak moet word. Omdat Morʹdegai nou so ’n belangrike man is, help baie mense die Israeliete, en hulle word van hulle vyande gered.

Die Bybelboek Ester.