Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 83

Die mure van Jerusalem

Die mure van Jerusalem

KYK net hoe werk die mense hier. Die Israeliete is besig om die mure van Jerusalem te bou. Toe koning Nebukadneʹsar Jerusalem 152 jaar vroeër vernietig het, het hy die mure afgebreek en die stad se poorte verbrand. Die Israeliete het nie dadelik die mure herbou toe hulle van Babilon af teruggekom het nie.

Hoe dink jy het dit vir die mense gevoel om al hierdie jare sonder mure rondom hulle stad te woon? Hulle het nie veilig gevoel nie. Hulle vyande kon hulle maklik kom aanval. Maar nou help hierdie man Nehemiʹa die volk uiteindelik om die mure te herbou. Weet jy wie Nehemiʹa is?

Nehemiʹa is ’n Israeliet wat van die stad Susan kom, waar Morʹdegai en Ester woon. Nehemiʹa het in die koning se paleis gewerk, en hy was dalk ’n goeie vriend van Morʹdegai en koningin Ester. Maar die Bybel sê nie dat Nehemiʹa vir Ester se man, koning Ahasʹveros, gewerk het nie. Hy het vir die volgende koning, koning Artasasʹta, gewerk.

Onthou, Artasasʹta is die goeie koning wat vir Esra al daardie geld gegee het om na Jerusalem toe te neem om Jehovah se tempel reg te maak. Maar Esra het nie die afgebreekte mure van die stad herbou nie. Kom ons kyk hoe dit gebeur het dat Nehemiʹa hierdie werk gedoen het.

Dertien jaar het verbygegaan vandat Artasasʹta vir Esra die geld gegee het om die tempel reg te maak. Nehemiʹa is nou koning Artasasʹta se hoofskinker. Dit beteken dat hy die koning se wyn inskink en sorg dat niemand probeer om die koning te vergiftig nie. Dit is ’n baie belangrike werk.

Wel, eendag kom kuier Nehemiʹa se broer Hanaʹni en ander mans van die land van Israel vir Nehemiʹa. Hulle vertel vir hom van die Israeliete se probleme, en dat die mure van Jerusalem nog steeds stukkend lê. Dit maak Nehemiʹa baie hartseer, en hy bid tot Jehovah hieroor.

Eendag sien die koning dat Nehemiʹa hartseer is en hy vra: ‘Waarom lyk jy so hartseer?’ Nehemiʹa sê vir hom dat dit is omdat Jerusalem in so ’n slegte toestand is en die mure stukkend is. ‘Wat wil jy hê?’ vra die koning.

‘Laat my na Jerusalem toe gaan’, sê Nehemiʹa, ‘sodat ek die mure kan herbou.’ Koning Artasasʹta is baie gaaf. Hy sê Nehemiʹa kan gaan, en hy help hom om hout te kry om van die bouwerk te doen. Kort nadat Nehemiʹa in Jerusalem aankom, vertel hy die volk van sy planne. Hulle hou van die idee en sê: ‘Kom ons begin bou.’

Wanneer die Israeliete se vyande sien dat die muur hoër word, sê hulle: ‘Ons sal hulle gaan doodmaak en ’n einde aan die bouery maak.’ Maar Nehemiʹa hoor hiervan en gee vir die werkers swaarde en spiese. En hy sê: ‘Moenie vir ons vyande bang wees nie. Veg vir julle broers, julle kinders, julle vrouens en julle huise.’

Die mense is baie dapper. Hulle hou hulle wapens dag en nag by hulle en hou aan bou. Binne net 52 dae is die mure dan klaar gebou. Nou kan die mense veilig voel in die stad. Nehemiʹa en Esra leer die volk God se wet, en die mense is gelukkig.

Maar dinge is nog steeds nie soos dit was voordat die Israeliete as gevangenes na Babilon toe geneem is nie. Die koning van Persië regeer oor die volk, en hulle moet hom dien. Maar Jehovah het belowe dat hy ’n nuwe koning sal stuur en dat hierdie koning vir die volk vrede sal bring. Wie is hierdie koning? Hoe sal hy vrede op die aarde bring? Omtrent 450 jaar gaan verby voordat mense meer hiervan leer. Dan word ’n baie belangrike baba gebore. Maar dit is ’n ander verhaal.