Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 84

’n Engel kom na Maria toe

’n Engel kom na Maria toe

HIERDIE mooi vrou is Maria. Sy is ’n Israeliet wat in die dorp Naʹsaret woon. God weet dat sy ’n baie goeie mens is. Dit is hoekom hy sy engel Gaʹbriël gestuur het om met haar te praat. Weet jy wat Gaʹbriël vir Maria kom vertel? Kom ons kyk.

‘Goeiedag, hoogbegunstigde vrou’, sê Gaʹbriël vir haar. ‘Jehovah is met jou.’ Maria het nog nooit hierdie persoon gesien nie. Sy is bekommerd, want sy weet nie wat hy bedoel nie. Maar Gaʹbriël stel haar dadelik gerus.

‘Moenie bang wees nie, Maria’, sê hy. ‘Jehovah hou baie van jou. Dit is hoekom hy iets wonderliks vir jou gaan doen. Jy gaan binnekort ’n baba hê. En jy moet hom Jesus noem.’

Gaʹbriël verduidelik verder: ‘Hierdie kind sal belangrik wees, en hy sal die Seun van die Allerhoogste God genoem word. Jehovah sal hom koning maak, net soos Dawid was. Maar Jesus sal vir ewig ’n koning wees, en sy koninkryk sal nooit eindig nie!’

‘Hoe kan dit wees?’ vra Maria. ‘Ek is nie eens getroud nie. Ek het nog nooit saam met ’n man gebly nie, hoe kan ek dan ’n baba hê?’

‘God se krag sal oor jou kom’, antwoord Gaʹbriël. ‘Daarom sal die kind God se Seun genoem word.’ Dan sê hy vir Maria: ‘Onthou jou familielid Elisabet. Mense het gesê sy is te oud om kinders te hê. Maar sy gaan binnekort ’n seun hê. Soos jy kan sien, is daar niks wat God nie kan doen nie.’

Maria sê dadelik: ‘Ek is Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur net soos u gesê het.’ Dan gaan die engel weg.

Maria gaan dadelik na Elisabet toe om vir haar te kuier. Wanneer Elisabet Maria se stem hoor, spring die baba binne-in Elisabet van vreugde. Elisabet is vervul met God se gees en sy sê vir Maria: ‘Jy is baie geseënd onder die vroue.’ Maria bly omtrent drie maande by Elisabet, en dan gaan sy terug na Naʹsaret toe.

Maria gaan binnekort trou met ’n man met die naam Josef. Maar wanneer Josef hoor dat Maria ’n baba gaan hê, dink hy dat hy nie met haar moet trou nie. Dan sê God se engel vir hom: ‘Moenie bang wees om met Maria te trou nie. Want dit is God wat vir haar ’n seun gegee het.’ Dan trou Maria en Josef, en hulle wag dat Jesus gebore moet word.