Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 86

Mans gelei deur ’n ster

Mans gelei deur ’n ster

KAN jy die helder ster sien waarna een van hierdie mans wys? Toe hulle uit Jerusalem weggegaan het, het die ster verskyn. Hierdie mans kom uit die Ooste, en hulle bestudeer die sterre. Hulle glo dat hierdie nuwe ster hulle na ’n belangrike persoon lei.

Toe die mans in Jerusalem gekom het, het hulle gevra: ‘Waar is die kind wat die koning van die Jode gaan word?’ “Jode” is ’n ander naam vir die Israeliete. ‘Ons was in die Ooste toe ons die kind se ster die eerste keer gesien het’, het die mans gesê, ‘en ons het gekom om hom te aanbid.’

Toe Herodes, wat in Jerusalem koning is, hiervan hoor, was hy baie ontsteld. Hy wou nie hê dat ’n ander koning sy plek moet vat nie. Toe het Herodes die hoofpriesters geroep en gevra: ‘Waar sal die beloofde koning gebore word?’ Hulle het geantwoord: ‘Die Bybel sê in Betlehem.’

Daarom het Herodes die mans uit die Ooste laat roep en gesê: ‘Gaan soek die jong kind. Laat my weet wanneer julle hom kry. Ek wil hom ook gaan aanbid.’ Maar Herodes wou eintlik die kind kry sodat hy hom kon doodmaak!

Dan beweeg die ster voor die mans uit na Betlehem toe, en dit gaan staan bokant die plek waar die kind is. Wanneer die mans in die huis ingaan, sien hulle Maria en klein Jesus. Hulle haal geskenke uit en gee dit vir Jesus. Maar later waarsku Jehovah die mans in ’n droom om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Daarom gaan hulle met ’n ander pad terug na hulle eie land toe.

Wanneer Herodes hoor dat die mans uit die Ooste weer huis toe is, word hy baie kwaad. Hy beveel toe dat al die seuns in Betlehem wat twee jaar en jonger is, doodgemaak moet word. Maar Jehovah waarsku Josef voor die tyd in ’n droom, en Josef trek met sy gesin na Egipte toe. Wanneer Josef later hoor dat Herodes dood is, vat hy Maria en Jesus terug na Naʹsaret toe. Dit is waar Jesus grootword.

Wie dink jy het daardie nuwe ster laat skyn? Onthou, die mans het eers na Jerusalem toe gegaan nadat hulle die ster gesien het. Satan die Duiwel wou God se Seun doodmaak, en hy het geweet dat koning Herodes van Jerusalem hom sou probeer doodmaak. Dit moet dan Satan wees wat daardie ster laat skyn het.