Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 89

Jesus reinig die tempel

Jesus reinig die tempel

JESUS lyk hier regtig kwaad, nè? Weet jy hoekom hy so kwaad is? Dit is omdat hierdie mans by God se tempel in Jerusalem baie geldgierig is. Hulle probeer om baie geld te maak uit die mense wat hierheen gekom het om God te aanbid.

Sien jy al daardie jong bulle en skape en duiwe? Wel, die mans verkoop hierdie diere hier in die tempel. Weet jy hoekom? Dit is omdat die Israeliete diere en voëls nodig het om aan God te offer.

God se wet het gesê dat wanneer ’n Israeliet iets verkeerds gedoen het, hy ’n offer aan God moes bring. En daar was ook ander tye wanneer die Israeliete offers moes bring. Maar waar kon ’n Israeliet voëls en diere kry om aan God te offer?

Party Israeliete het self voëls en diere gehad. Dan kon hulle dit offer. Maar baie Israeliete het self geen diere of voëls gehad nie. En ander het so ver van Jerusalem af gewoon dat hulle nie een van hulle diere na die tempel toe kon bring nie. Daarom het die mense hierheen gekom en die diere of voëls gekoop wat hulle nodig gehad het. Maar hierdie mans het die mense te veel laat betaal. Hulle het die mense gekul. Boonop mag hulle nie goed hier in God se tempel verkoop nie.

Dit is wat Jesus kwaad maak. Daarom keer hy die mans se tafels met die geld om, en die muntstukke rol oral rond. Hy maak ook ’n sweep van toue en jaag al die diere uit die tempel. Hy beveel die mans wat die duiwe verkoop: ‘Vat hulle hier uit! Hou op om geld te maak in my Vader se huis.’

Party van Jesus se volgelinge is saam met hom hier by die tempel in Jerusalem. Hulle is verbaas oor wat hulle Jesus sien doen. Dan dink hulle aan die plek in die Bybel waar dit van God se Seun sê: ‘Liefde vir God se huis sal soos ’n vuur in hom brand.’

Terwyl Jesus die Pasga hier in Jerusalem bywoon, doen hy baie wonderwerke. Daarna gaan Jesus weg uit Judeʹa en begin hy met sy reis terug na Galileʹa toe. Maar op pad soontoe gaan hy deur Samariʹa. Kom ons kyk wat gebeur daar.