Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 90

Die vrou by die put

Die vrou by die put

JESUS het by ’n put in Samariʹa gestop om te rus. Sy dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop. Die vrou met wie Jesus gesels, het kom water haal. Hy sê vir haar: ‘Gee vir my ’n bietjie water om te drink.’

Dit verbaas die vrou baie. Weet jy hoekom? Want Jesus is ’n Jood en sy is ’n Samaritaan. En die meeste Jode hou nie van Samaritane nie. Hulle praat nie eens met hulle nie! Maar Jesus is lief vir alle soorte mense. Daarom sê hy: ‘As jy geweet het wie vir jou ’n bietjie water vra om te drink, sou jy hom gevra het en hy sou vir jou lewegewende water gee.’

‘Meneer’, sê die vrou, ‘die put is diep, en jy het nie eens ’n emmer nie. Waar sal jy hierdie lewegewende water kry?’

‘As jy water uit hierdie put drink, sal jy weer dors word’, verduidelik Jesus. ‘Maar die water wat ek jou sal gee, kan ’n mens vir ewig laat lewe.’

‘Meneer’, sê die vrou, ‘gee vir my hierdie water! Dan sal ek nooit weer dors wees nie. En ek sal nie meer hierheen hoef te kom om water te haal nie.’

Die vrou dink Jesus praat van regte water. Maar hy praat van die waarheid oor God en sy koninkryk. Hierdie waarheid is soos lewegewende water. Dit kan vir ’n mens ewige lewe gee.

Jesus sê nou vir die vrou: ‘Gaan roep jou man en kom terug.’

‘Ek het nie ’n man nie’, antwoord sy.

‘Jy het reg geantwoord’, sê Jesus. ‘Maar jy het vyf mans gehad, en die man saam met wie jy nou lewe, is nie jou man nie.’

Die vrou is verbaas, want al hierdie dinge is waar. Hoe het Jesus hierdie dinge geweet? Ja, dit is omdat Jesus die Beloofde Een is wat deur God gestuur is, en God laat hom dit weet. Net toe kom Jesus se dissipels terug, en hulle is verbaas dat hy met ’n Samaritaanse vrou gesels.

Wat leer ons hieruit? Dit wys dat Jesus mense van alle rasse vriendelik behandel. En ons moet ook. Ons moenie dink dat party mense sleg is net omdat hulle aan ’n sekere ras behoort nie. Jesus wil hê dat alle mense die waarheid moet ken wat na die ewige lewe lei. En ons moet ook mense wil help om die waarheid te leer.