Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 91

Jesus leer op ’n berg

Jesus leer op ’n berg

KYK wat doen Jesus. Hy leer al hierdie mense op ’n berg in Galileʹa. Die mans wat naaste aan hom sit, is sy dissipels. Hy het 12 van hulle gekies om apostels te wees. Die apostels is Jesus se spesiale dissipels. Ken jy hulle name?

Daar is Simon Petrus en sy broer Andreʹas. Dan is daar Jakobus en Johannes, wat ook broers is. Daar is nog ’n apostel met die naam Jakobus, en nog een met die naam Simon. Twee apostels het die naam Judas. Een is Judas Iskaʹriot, en die ander Judas word ook Taddeʹus genoem. Dan is daar Filippus en Nataʹnael (wat ook Bartolomeʹus genoem word), en Matteʹus en Tomas.

Nadat hy van Samariʹa af teruggekom het, het Jesus vir die eerste keer begin preek: ‘Die koninkryk van die hemele is naby.’ Weet jy wat daardie koninkryk is? Dit is ’n regte regering van God. Jesus is die koning daarvan. Hy sal uit die hemel regeer en vrede op die aarde bring. God se koninkryk sal die hele aarde in ’n pragtige paradys verander.

Jesus leer die mense hier van die koninkryk. ‘So moet julle bid’, verduidelik hy. ‘Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil op aarde gedoen word, net soos dit in die hemel gedoen word.’ Baie mense noem dit die ‘Onse Vader’. Kan jy die hele gebed opsê?

Jesus leer die mense ook hoe hulle mekaar moet behandel. ‘Doen vir ander wat jy wil hê hulle vir jou moet doen’, sê hy. Jy hou mos daarvan wanneer ander mense jou vriendelik behandel, nè? Dan moet ons ander mense vriendelik behandel, soos Jesus sê. Sal dit nie op die paradysaarde wonderlik wees wanneer almal dit doen nie?