Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 92

Jesus wek dooies op

Jesus wek dooies op

DIE meisie wat jy hier sien, is 12 jaar oud. Jesus hou haar hand vas, en haar ma en pa staan daar naby. Weet jy waarom hulle so bly lyk? Kom ons vind uit.

Die meisie se pa is ’n belangrike man met die naam Jaïrus. Eendag word sy dogter siek, en hulle sit haar in die bed. Maar sy word nie beter nie. Sy word net al hoe sieker. Jaïrus en sy vrou is baie bekommerd, want dit lyk of hulle dogtertjie sal doodgaan. Sy is hulle enigste dogter. Daarom gaan soek Jaïrus na Jesus. Hy het van Jesus se wonderwerke gehoor.

Wanneer Jaïrus vir Jesus kry, is daar ’n groot skare rondom hom. Maar Jaïrus druk deur die skare en val by Jesus se voete neer. ‘My dogter is baie, baie siek’, sê hy. ‘Kom asseblief en maak haar gesond’, soebat hy. Jesus sê hy sal kom.

Terwyl hulle loop, hou die skare aan stoot om nader te kom. Skielik gaan Jesus staan. ‘Wie het aan my geraak?’ vra hy. Jesus het gevoel dat krag uit hom gaan. Daarom weet hy dat iemand aan hom geraak het. Maar wie? Dit is ’n vrou wat 12 jaar lank baie siek was. Sy het nader gekom en aan Jesus se klere geraak, en sy is gesond gemaak!

Dit laat Jaïrus beter voel, want hy kan sien hoe maklik dit vir Jesus is om iemand gesond te maak. Maar dan kom ’n boodskapper daar aan. ‘Moenie vir Jesus verder lastig val nie’, sê hy vir Jaïrus. ‘U dogter is dood.’ Jesus hoor dit en sê vir Jaïrus: ‘Moenie bekommerd wees nie, sy sal gesond word.’

Wanneer hulle uiteindelik by Jaïrus se huis kom, huil die mense vreeslik. Maar Jesus sê: ‘Moenie huil nie. Die kind is nie dood nie. Sy slaap net.’ Maar hulle lag en spot met Jesus, want hulle weet sy is dood.

Dan vat Jesus die meisie se pa en ma en drie van sy apostels na die kamer waar die kind lê. Hy vat haar hand en sê: ‘Staan op!’ En sy word lewendig, net soos jy hier sien. En sy staan op en loop rond! Dit is hoekom haar ma en pa só bly is.

Dit is nie die eerste mens wat Jesus uit die dode opgewek het nie. Die eerste een waarvan die Bybel vertel, is die seun van ’n weduwee wat in die stad Nain woon. Later wek Jesus ook vir Laʹsarus, die broer van Maria en Marta, uit die dode op. Wanneer Jesus as God se koning regeer, sal hy baie, baie dooie mense weer lewendig maak. Moet ons nie bly wees daaroor nie?