Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 93

Jesus gee baie mense kos

Jesus gee baie mense kos

IETS verskrikliks het gebeur. Johannes die Doper is so pas doodgemaak. Heroʹdias, die koning se vrou, het nie van hom gehou nie. En sy het die koning omgepraat om Johannes se kop te laat afkap.

Wanneer Jesus dit hoor, is hy baie hartseer. Hy gaan alleen na ’n eensame plek toe. Maar die mense volg hom. Wanneer Jesus die skare sien, kry hy hulle jammer. Daarom praat hy met hulle oor die koninkryk van God, en hy maak hulle siekes gesond.

Daardie aand kom sy dissipels na hom toe en sê: ‘Dit is al laat, en dit is ’n eensame plek. Stuur die mense weg sodat hulle vir hulle in die dorpies hier naby kos kan koop.’

‘Hulle hoef nie te gaan nie’, antwoord Jesus. ‘Gee julle vir hulle iets om te eet.’ Jesus draai na Filippus toe en vra: ‘Waar kan ons genoeg kos koop om vir al hierdie mense kos te gee?’

‘Dit sal vreeslik baie geld kos om genoeg te koop sodat elkeen net ’n bietjie kan kry’, antwoord Filippus. Andreʹas sê: ‘Hierdie seun, wat ons kos dra, het vyf brode en twee visse. Maar dit sal nie naastenby genoeg wees vir al hierdie mense nie.’

‘Sê vir die mense om op die gras te gaan sit’, sê Jesus. Dan sê hy vir God dankie vir die kos en begin hy om dit in stukke te breek. Daarna gee die dissipels die brood en vis vir al die mense. Daar is 5 000 mans, en ook nog duisende vroue en kinders. Hulle eet almal totdat hulle genoeg gehad het. En wanneer die dissipels die kos optel wat oorgebly het, is daar 12 mandjies vol!

Jesus laat sy dissipels nou in ’n boot klim om na die oorkant van die See van Galileʹa te vaar. Gedurende die nag kom ’n groot storm op, en golwe laat die boot heen en weer rol. Die dissipels is baie bang. Dan, in die middel van die nag, sien hulle iemand oor die water na hulle toe loop. Hulle skreeu van vrees, want hulle weet nie wat hulle sien nie.

‘Moenie bang wees nie’, sê Jesus. ‘Dit is ek!’ Hulle kan dit nog altyd nie glo nie. Daarom sê Petrus: ‘As dit regtig u is, Here, sê dan vir my om oor die water na u toe te loop.’ Jesus antwoord: ‘Kom!’ En Petrus klim uit en loop op die water! Dan word hy bang, en hy begin sink, maar Jesus red hom.

Later gee Jesus weer vir duisende mense kos. Hierdie keer doen hy dit met sewe brode en ’n paar vissies. En weer is daar genoeg vir almal. Is dit nie wonderlik hoe Jesus vir mense sorg nie? Wanneer hy as God se koning regeer, sal ons nooit oor enigiets bekommerd hoef te wees nie!