Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 94

Hy is lief vir kindertjies

Hy is lief vir kindertjies

KYK na Jesus met sy arms om die seuntjie. ’n Mens kan sien dat Jesus regtig vir kindertjies omgee. Die mans hier by hom is sy apostels. Wat sê Jesus vir hulle? Kom ons vind uit.

Jesus en sy apostels het nou net van ’n lang reis af teruggekom. Langs die pad het sy apostels met mekaar gestry. Ná die reis vra Jesus toe vir hulle: ‘Waaroor het julle op die pad gestry?’ Jesus weet eintlik al klaar waaroor hulle gestry het. Maar hy vra hulle om te kyk of die apostels vir hom sal vertel.

Die apostels antwoord nie, want op die pad het hulle gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Party apostels wil belangriker as die ander wees. Hoe gaan Jesus vir hulle vertel dat dit nie reg is om die belangrikste te wil wees nie?

Hy roep die seuntjie en laat hom voor hulle staan. Dan sê hy vir sy dissipels: ‘Ek wil hê julle moet dit vir seker weet: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nooit in God se koninkryk ingaan nie. Die belangrikste persoon in die koninkryk is die een wat soos hierdie kind word.’ Weet jy hoekom Jesus dit gesê het?

Wel, klein kindertjies is nie daaroor bekommerd of hulle belangriker as ander is of nie. Daarom moet die apostels leer om op hierdie manier soos kinders te wees en nie te stry oor wie die belangrikste is nie.

Daar is ook ander tye wanneer Jesus wys hoe baie hy vir kindertjies omgee. ’n Paar maande later bring party mense hulle kinders na Jesus toe. Die apostels probeer hulle keer. Maar Jesus sê vir sy apostels: ‘Laat die kinders na my toe kom, en moet hulle nie keer nie, want die koninkryk van God behoort aan mense wat soos hulle is.’ Dan neem Jesus die kinders in sy arms en seën hulle. Is dit nie goed om te weet dat Jesus lief is vir kindertjies nie?