Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 95

Hoe Jesus ander leer

Hoe Jesus ander leer

EENDAG sê Jesus vir ’n man dat hy sy naaste moet liefhê. Die man vra vir Jesus: ‘Wie is my naaste?’ Wel, Jesus weet wat hierdie man dink. Die man dink dat net mense van sy eie ras en godsdiens sy naaste is. Kom ons kyk wat Jesus vir hom sê.

Partykeer leer Jesus ander deur ’n storie te vertel. Dit is wat hy nou doen. Hy vertel ’n storie oor ’n Jood en ’n Samaritaan. Ons het vroeër geleer dat die meeste Jode nie van Samaritane hou nie. Wel, hier is Jesus se storie:

Eendag het ’n Jood met ’n bergpad na Jeʹrigo toe gereis. Maar rowers het hom aangeval. Hulle het sy geld gevat en hom geslaan totdat hy amper dood was.

Later het ’n Joodse priester daarlangs geloop. Hy het die beseerde man gesien. Wat dink jy het hy gedoen? Hy het net na die ander kant van die pad toe gegaan en verder geloop. Toe het ’n ander baie godsdienstige man verbygekom. Hy was ’n Leviet. Het hy gestop? Nee, hy het ook nie die beseerde man gehelp nie. Jy kan die priester en die Leviet daar ver in die pad sien loop.

Maar wie is hier by die beseerde man? Dit is ’n Samaritaan. En hy help die Jood. Hy sit medisyne op sy wonde. Daarna vat hy die Jood na ’n plek waar hy kan rus en gesond word.

Aan die einde van sy storie vra Jesus vir die man wat hom die vraag gevra het: ‘Watter een van hierdie drie dink jy het opgetree soos die naaste van die beseerde man? Was dit die priester, die Leviet of die Samaritaan?’

Die man antwoord: ‘Die Samaritaanse man. Hy was goed vir die man wat beseer is.’

Jesus sê: ‘Jy is reg. Gaan nou en doen aan ander net soos hy gedoen het.’

Hou jy nie van die manier waarop Jesus ander leer nie? Ons kan baie belangrike dinge leer as ons luister na wat Jesus in die Bybel sê, nè?