Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 96

Jesus maak siekes gesond

Jesus maak siekes gesond

TERWYL Jesus deur die land reis, maak hy siekes gesond. Die nuus van hierdie wonderwerke word in al die dorpies in die omgewing oorvertel. Daarom bring mense kreupeles en blindes en dowes na hom toe, en ook baie ander wat siek is. En Jesus maak hulle almal gesond.

Meer as drie jaar is nou al verby vandat Johannes vir Jesus gedoop het. En Jesus sê vir sy apostels dat by binnekort na Jerusalem toe sal gaan, waar hy doodgemaak sal word en dan uit die dode sal opstaan. Intussen hou Jesus aan om siekes gesond te maak.

Eendag leer Jesus mense op die Sabbat. Die Sabbat is ’n rusdag vir die Jode. Die vrou wat jy hier sien, was baie siek. Sy het 18 jaar lank krom geloop en kon nie regop staan nie. Jesus sit toe sy hande op haar, en sy begin regop staan. Sy is gesond!

Dit maak die godsdiensleiers kwaad. ‘Daar is ses dae waarop ons moet werk’, skreeu een van hulle vir die skare. ‘Dit is die dae waarop julle kan kom om gesond gemaak te word, nie op die Sabbat nie!’

Maar Jesus antwoord: ‘Julle slegte mense. Enigeen van julle sal julle donkie losmaak en dit op die Sabbat na die water lei om te drink. Moet hierdie arme vrou, wat 18 jaar lank siek was, dan nie op die Sabbat gesond gemaak word nie?’ Jesus se antwoord laat hierdie slegte mans skaam voel.

Later reis Jesus en sy apostels na Jerusalem toe. Wanneer hulle net buitekant die dorp Jeʹrigo kom, hoor twee blinde bedelaars dat Jesus verbygaan. Daarom roep hulle uit: ‘Jesus, help ons!’

Jesus roep die blinde mans na hom toe en vra: ‘Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?’ Hulle sê: ‘Here, laat ons oë oopgaan.’ Jesus raak aan hulle oë, en dadelik kan hulle sien! Weet jy hoekom Jesus al hierdie wonderwerke doen? Omdat hy mense liefhet en wil hê dat hulle in hom moet glo. Daarom kan ons seker wees dat wanneer hy as Koning regeer, niemand op die aarde weer siek sal wees nie.