Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 98

Op die Olyfberg

Op die Olyfberg

HIER is Jesus op die Olyfberg. Die vier mans by hom is sy apostels. Dit is die broers Andreʹas en Petrus, en ook die broers Jakobus en Johannes. Dit is God se tempel in Jerusalem wat jy daar in die verte sien.

Dit is nou twee dae nadat Jesus op die jong donkie in Jerusalem ingery het. Dit is Dinsdag. Jesus was vroeër die dag by die tempel. Daar het die priesters probeer om Jesus te vang om hom dood te maak. Maar hulle was bang om dit te doen, want die mense hou van Jesus.

‘Julle slange en kinders van slange!’ het Jesus daardie godsdiensleiers genoem. Toe het Jesus gesê dat God hulle gaan straf vir al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Daarna het Jesus teen die Olyfberg opgeklim, en toe het hierdie vier apostels begin om vir hom vrae te vra. Weet jy wat hulle vir Jesus vra?

Die apostels vra hom uit oor die toekoms. Hulle weet dat Jesus ’n einde aan alle slegte dinge op die aarde gaan maak. Maar hulle wil weet wanneer dit gaan gebeur. Wanneer gaan Jesus weer kom om as Koning te regeer?

Jesus weet dat sy volgelinge op die aarde hom nie sal kan sien wanneer hy weer kom nie. Dit is omdat hy in die hemel sal wees, en hulle sal hom nie daar kan sien nie. Daarom vertel Jesus vir sy apostels party van die dinge wat op die aarde gaan gebeur wanneer hy as Koning in die hemel regeer. Wat is party van hierdie dinge?

Jesus sê daar gaan groot oorloë wees, baie mense sal siek wees en honger ly, misdaad sal ’n baie groot probleem wees en daar sal groot aardbewings wees. Jesus sê ook dat die goeie nuus van God se koninkryk oor die hele aarde verkondig sal word. Het ons hierdie dinge in ons tyd sien gebeur? Ja! En daarom kan ons seker wees dat Jesus nou in die hemel regeer. Hy sal binnekort ’n einde aan alle slegte dinge op die aarde maak.