Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 101

Jesus word doodgemaak

Jesus word doodgemaak

KYK wat ’n verskriklike ding gebeur hier! Jesus word doodgemaak. Hulle het hom aan ’n paal vasgespyker. Spykers is in sy hande en voete ingeslaan. Waarom sou enigiemand dit aan Jesus wou doen?

Dit is omdat party persone Jesus haat. Weet jy wie hulle is? Een van hulle is die slegte engel Satan die Duiwel. Dit is hy wat Adam en Eva omgepraat het om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. En dit is Satan wat Jesus se vyande gekry het om hierdie verskriklike misdaad te pleeg.

Selfs voordat Jesus hier aan die paal vasgespyker is, het sy vyande hom sleg behandel. Onthou jy hoe hulle na die tuin van Getseʹmane toe gekom het en hom weggevat het? Wie was daardie vyande? Ja, dit was die godsdiensleiers. Wel, kom ons kyk wat volgende gebeur.

Wanneer Jesus deur die godsdiensleiers gevang word, hardloop sy apostels weg. Hulle laat Jesus alleen by sy vyande, want hulle is bang. Maar die apostels Petrus en Johannes gaan nie ver weg nie. Hulle gaan saam om te sien wat met Jesus gebeur.

Die priesters vat Jesus na die ou man Annas, wat vroeër die hoëpriester was. Die skare bly nie lank hier nie. Daarna vat hulle Jesus na die huis van Kaʹjafas, wat nou die hoëpriester is. Baie godsdiensleiers het by sy huis bymekaargekom.

Hier by Kaʹjafas se huis hou hulle ’n hofsaak. Mense word ingebring om leuens oor Jesus te vertel. Die godsdiensleiers sê almal: ‘Jesus moet doodgemaak word.’ Dan spoeg hulle in sy gesig, en hulle slaan hom met hulle vuiste.

Terwyl dit alles gebeur, is Petrus buite die huis. Dit is ’n koue nag en daarom maak die mense ’n vuur. Terwyl hulle rondom die vuur staan om warm te kry, kyk ’n diensmeisie na Petrus en sê: ‘Hierdie man was ook saam met Jesus.’

‘Nee, ek was nie!’ antwoord Petrus.

Drie keer sê mense vir Petrus dat hy saam met Jesus was. Maar Petrus sê elke keer dat dit nie waar is nie. Toe Petrus dit die derde keer sê, draai Jesus om en kyk hy na hom. Petrus is baie jammer omdat hy hierdie leuens vertel het, en hy gaan weg en huil.

Wanneer die son Vrydagoggend begin opkom, vat die priesters Jesus na hulle groot vergaderplek, die Sanʹhedrinsaal. Hier bespreek hulle wat hulle met hom gaan doen. Hulle vat hom na Pontius Pilatus, die heerser van Judeʹa.

‘Hy is ’n slegte man’, sê die priesters vir Pilatus. ‘Hy moet doodgemaak word.’ Nadat hy Jesus ondervra het, sê Pilatus: ‘Ek dink nie hy het iets verkeerds gedoen nie.’ Dan stuur Pilatus vir Jesus na Herodes Anʹtipas toe. Herodes is die heerser van Galileʹa, maar hy woon in Jerusalem. Herodes dink ook nie dat Jesus iets verkeerds gedoen het nie, en daarom stuur hy hom terug na Pilatus toe.

Pilatus wil Jesus vrylaat. Maar Jesus se vyande wil hê dat ’n ander gevangene vrygelaat moet word. Hierdie man is die rower Barabʹbas. Dit is omtrent twaalfuur in die middag toe Pilatus Jesus uitbring. Hy sê vir die mense: ‘Kyk! Julle koning!’ Maar die hoofpriesters skreeu: ‘Vat hom weg! Maak hom dood! Maak hom dood!’ Daarom laat Pilatus vir Barabʹbas vry, en hulle vat Jesus weg om hom dood te maak.

Vroeg Vrydagmiddag word Jesus aan ’n paal vasgespyker. Jy kan hulle nie in die prent sien nie, maar aan elke kant van Jesus is daar ’n misdadiger wat ook aan ’n paal vasgemaak is. Kort voordat Jesus doodgaan, sê een van die misdadigers vir hom: ‘Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.’ En Jesus antwoord: ‘Ek belowe jou dat jy saam met my in die Paradys sal wees.’

Is dit nie ’n wonderlike belofte nie? Weet jy van watter paradys Jesus praat? Waar was die paradys wat God in die begin gemaak het? Ja, op die aarde. En wanneer Jesus as koning in die hemel regeer, sal hy hierdie man weer lewendig maak om die nuwe Paradys op die aarde te geniet. Moet ons nie bly wees daaroor nie?