Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 105

Hulle wag in Jerusalem

Hulle wag in Jerusalem

HIERDIE mense is Jesus se volgelinge. Hulle was gehoorsaam aan hom en het in Jerusalem gebly. En terwyl hulle almal saam wag, vul ’n geraas die hele huis. Dit klink soos ’n sterk wind wat waai. En dan verskyn ’n vuurtong bokant elke dissipel se kop. Kan jy die vuur bokant elkeen van hulle sien? Wat beteken dit alles?

Dit is ’n wonderwerk! Jesus is terug in die hemel by sy Vader, en hy stort God se heilige gees op sy volgelinge uit. Weet jy wat hierdie gees hulle laat doen? Hulle begin almal in verskillende tale praat.

Baie mense in Jerusalem hoor die geluid wat soos ’n sterk wind klink, en hulle kom kyk wat gebeur. Party van die mense is uit ander nasies wat vir die Israelitiese Pinksterfees hierheen gekom het. Wat ’n verrassing kry hierdie besoekers tog! Hulle hoor hoe die dissipels in hulle eie tale praat oor die wonderlike dinge wat God gedoen het.

‘Hierdie mense kom almal uit Galileʹa’, sê die besoekers. ‘Hoe is dit dan dat hulle kan praat in die verskillende tale van die lande waar ons vandaan kom?’

Petrus staan nou op om vir hulle te verduidelik. Met ’n harde stem vertel hy vir die mense hoe Jesus doodgemaak is en dat Jehovah hom opgewek het. ‘Nou is Jesus in die hemel aan die regterhand van God’, sê Petrus. ‘En hy het die beloofde heilige gees uitgestort. Dit is hoekom julle hierdie wonderwerke sien en hoor.’

Wel, wanneer Petrus hierdie dinge sê, is baie van die mense baie jammer oor wat aan Jesus gedoen is. ‘Wat moet ons doen?’ vra hulle. Petrus sê vir hulle: ‘Julle moet julle lewens verander en gedoop word.’ Daarom laat omtrent 3 000 mense hulle op daardie dag doop en word hulle volgelinge van Jesus.