Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 106

Uit die tronk vrygelaat

Uit die tronk vrygelaat

KYK na die engel wat die tronkdeur oophou. Die mans wat hy vrylaat, is Jesus se apostels. Kom ons vind uit hoekom hulle in die tronk gegooi is.

Dit is net ’n kort rukkie vandat die heilige gees op Jesus se dissipels uitgestort is. En dit is wat gebeur: Een middag gaan Petrus en Johannes na die tempel in Jerusalem. Daar, naby die deur, is ’n man wat al sy hele lewe kreupel is. Mense dra hom elke dag hierheen sodat hy geld kan bedel by die mense wat in die tempel ingaan. Wanneer hy Petrus en Johannes sien, smeek hy hulle om vir hom iets te gee. Wat gaan die apostels doen?

Hulle staan stil en kyk na die arme man. ‘Ek het niks geld nie’, sê Petrus, ‘maar ek sal vir jou gee wat ek het. In die naam van Jesus, staan op en loop!’ Petrus vat dan die man se regterhand, en dadelik spring hy op en begin hy loop. Wanneer die mense dit sien, is hulle verbaas en baie bly oor hierdie wonderwerk.

‘Dit is deur die krag van God, wat Jesus uit die dode opgewek het, dat ons hierdie wonderwerk gedoen het’, sê Petrus. Terwyl hy en Johannes nog praat, kom ’n paar godsdiensleiers daar aan. Hulle is kwaad omdat Petrus en Johannes vir die volk vertel dat Jesus uit die dode opgewek is. Daarom gryp hulle hulle, en hulle gooi hulle in die tronk.

Die volgende dag het die godsdiensleiers ’n groot vergadering. Petrus en Johannes en die man wat hulle gesond gemaak het, word ingebring. ‘Deur watter krag het julle hierdie wonderwerk gedoen?’ vra die godsdiensleiers.

Petrus sê vir hulle dat dit deur die krag van God is, die God wat Jesus uit die dode opgewek het. Die priesters weet nie wat om te doen nie, want hulle kan nie sê dat hierdie wonderwerk nie regtig gebeur het nie. Daarom waarsku hulle die apostels om nie meer oor Jesus te praat nie, en hulle laat hulle gaan.

Maar in die dae daarna hou die apostels aan om oor Jesus te preek en siekes gesond te maak. Die nuus omtrent hierdie wonderwerke versprei. En daarom bring selfs skares uit die dorpe rondom Jerusalem siekes na die apostels toe om gesond gemaak te word. Dit maak die godsdiensleiers jaloers, en daarom gryp hulle die apostels en gooi hulle hulle in die tronk. Maar hulle bly nie lank daar nie.

Gedurende die nag maak God se engel die tronkdeur oop, soos jy hier kan sien. Die engel sê: ‘Gaan staan in die tempel en hou aan om met die mense te praat.’ Wanneer die godsdiensleiers die volgende oggend mans na die tronk toe stuur om die apostels te gaan haal, is hulle weg. Later kry die mans hulle waar hulle besig is om in die tempel te leer, en hulle bring hulle na die Sanʹhedrinsaal toe.

‘Ons het julle duidelik beveel om nie meer oor Jesus te leer nie’, sê die godsdiensleiers. ‘Maar julle het Jerusalem met julle leer vervul.’ Dan antwoord die apostels: ‘Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.’ Daarom hou hulle aan om mense die “goeie nuus” te leer. Is dit nie ’n goeie voorbeeld vir ons nie?