Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 107

Stefanus word gestenig

Stefanus word gestenig

DIE man wat hier kniel, is Steʹfanus. Hy is ’n getroue dissipel van Jesus. Maar kyk wat gebeur nou met hom! Hierdie mans gooi hom met groot klippe. Hoekom haat hulle Steʹfanus so baie dat hulle hierdie verskriklike ding doen? Kom ons kyk.

God het Steʹfanus gehelp om wonderwerke te doen. Hierdie mans hou nie hiervan nie, en daarom stry hulle met hom omdat hy die volk die waarheid leer. Maar God gee vir Steʹfanus groot wysheid, en Steʹfanus wys dat hierdie mans valse dinge leer. Dit maak hulle nog kwater. Daarom gryp hulle hom, en hulle roep mense om leuens oor hom te vertel.

Die hoëpriester vra vir Steʹfanus: ‘Is hierdie dinge waar?’ Steʹfanus antwoord deur ’n baie goeie toespraak uit die Bybel te hou. Teen die einde vertel hy hoe slegte mense in die verlede Jehovah se profete gehaat het. Dan sê hy: ‘Julle is net soos daardie mense. Julle het God se kneg Jesus doodgemaak en julle het nie God se wette gehoorsaam nie.’

Dit maak hierdie godsdiensleiers baie kwaad! Hulle kners op hulle tande van woede. Maar dan lig Steʹfanus sy kop op en sê: ‘Kyk! Ek sien Jesus wat aan die regterhand van God in die hemel staan.’ Dan druk hierdie mans hulle hande oor hulle ore en storm hulle op Steʹfanus af. Hulle gryp hom en sleep hom uit die stad uit.

Daar trek hulle hulle boklere uit, en hulle gee dit vir die jong man Saulus om op te pas. Sien jy vir Saulus? Dan begin party van die mans om Steʹfanus met klippe te gooi. Steʹfanus kniel, soos jy hier kan sien, en bid tot God: ‘Jehovah, moenie hulle vir hierdie slegte daad straf nie.’ Hy weet dat party van hulle deur die godsdiensleiers mislei is. Daarna gaan Steʹfanus dood.

Probeer jy, wanneer iemand iets slegs aan jou doen, om hom ook seer te maak of vra jy vir God om hom te straf? Dit is nie wat Steʹfanus of Jesus gedoen het nie. Hulle was vriendelik selfs met mense wat onvriendelik met hulle was. Kom ons probeer om hulle voorbeeld na te volg.