Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 109

Petrus by Kornelius

Petrus by Kornelius

DIT is die apostel Petrus wat hier staan, en van sy vriende staan agter hom. Maar hoekom kniel die man voor Petrus? Is dit reg dat hy dit doen? Weet jy wie hy is?

Die man is Kornelius. Hy is ’n offisier in die Romeinse leër. Kornelius ken nie vir Petrus nie, maar hy is gesê om hom na sy huis te nooi. Kom ons vind uit hoe dit gebeur het.

Jesus se eerste volgelinge was Jode, maar Kornelius is nie ’n Jood nie. Tog het hy God lief, bid hy tot hom en doen hy baie goeie dinge vir mense. Wel, een middag verskyn ’n engel aan hom en sê: ‘God hou van jou en hy gaan jou gebede verhoor. Stuur ’n paar mans om ’n sekere man met die naam Petrus te gaan haal. Hy bly in Joppe by die huis van Simon, wat by die see woon.’

Wel, Kornelius stuur dadelik mans om Petrus te soek. Die volgende dag, wanneer die mans naby Joppe kom, is Petrus op die plat dak van Simon se huis. Daar laat God vir Petrus dink dat hy ’n groot doek uit die hemel sien kom. In die doek is allerhande diere. Volgens God se wet was hierdie diere onrein as kos, en tog sê ’n stem: ‘Staan op, Petrus. Slag en eet.’

‘Nee!’ antwoord Petrus. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat onrein is nie.’ Maar die stem sê vir Petrus: ‘Hou op om die dinge wat God nou sê rein is, onrein te noem.’ Dit gebeur drie keer. Terwyl Petrus wonder wat dit beteken, kom die mans wat Kornelius gestuur het, by die huis aan en vra waar Petrus is.

Petrus gaan ondertoe en sê: ‘Ek is die man na wie julle soek. Hoekom het julle gekom?’ Wanneer die mans verduidelik dat ’n engel vir Kornelius gesê het om Petrus na sy huis te nooi, sê Petrus dat hy saam met hulle sal gaan. Die volgende dag gaan Petrus en party van sy vriende na Kornelius in Sesareʹa.

Kornelius het sy familielede en goeie vriende bymekaargeroep. Wanneer Petrus kom, gaan ontmoet Kornelius hom. Hy val neer en kniel voor Petrus se voete, soos jy hier sien. Maar Petrus sê: ‘Staan op; ek is ook net ’n mens.’ Ja, die Bybel wys dat dit verkeerd is om te kniel en ’n mens te aanbid. Ons moet net vir Jehovah aanbid.

Petrus preek nou vir die mense wat daar bymekaargekom het. ‘Ek sien dat God alle mense wat hom wil dien, aanvaar’, sê Petrus. En terwyl hy praat, stuur God sy heilige gees, en die mense begin om in verskillende tale te praat. Dit verbaas die Joodse dissipels wat saam met Petrus gekom het, want hulle het gedink dat God net van die Jode hou. Dit leer hulle dan dat die mense van een ras nie vir God beter of belangriker is as die mense van enige ander ras nie. Sal dit nie goed wees as ons almal dit onthou nie?