Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 112

Gestrand op ’n eiland

Gestrand op ’n eiland

KYK! Die boot is in die moeilikheid! Dit breek in stukke! Sien jy die mense wat in die water gespring het? Party is al klaar op die strand. Is dit Paulus daardie? Kom ons vind uit wat met hom gebeur het.

Onthou, Paulus is twee jaar lank in Sesareʹa in die tronk. Dan word hy en ander gevangenes op ’n boot gesit, en hulle seil na Rome toe. Wanneer hulle naby die eiland Kreta verbyseil, is daar ’n verskriklike storm. Die wind waai so hard dat die mans die boot nie kan stuur nie. En hulle kan in die dag nie die son en in die nag nie die sterre sien nie. Uiteindelik, ná baie dae, gee die mense op die boot alle hoop op om gered te word.

Dan staan Paulus op en sê: ‘Nie een van julle sal doodgaan nie; net die boot sal verlore gaan. Want verlede nag het ’n engel van God na my toe gekom en gesê: “Moenie bang wees nie, Paulus! Jy moet voor die Romeinse keiser staan. En God sal almal red wat saam met jou seil.”’

Omtrent middernag op die 14de dag van die storm kom die matrose agter dat die water vlakker word! Omdat hulle bang is dat hulle teen rotse sal vasseil, laat sak hulle die ankers. Die volgende oggend sien hulle ’n baai. Hulle besluit om met die boot tot op die strand te probeer seil.

Wel, wanneer hulle naby die strand kom, tref die boot ’n sandbank en sit dit vas. Dan begin die golwe daarteen slaan, en die boot begin in stukke breek. Die leëroffisier in bevel sê: ‘Almal wat kan swem, moet eerste in die see spring en na die strand toe swem. Die res van julle moet ná hulle inspring en stukke van die boot gryp om aan vas te hou.’ En dit is wat hulle toe doen. Só kom al 276 mense wat op die boot was, veilig op die strand, net soos die engel belowe het.

Die eiland word Malta genoem. Die mense is baie vriendelik, en hulle sorg vir die mense wat op die boot was. Wanneer die weer beter word, word Paulus op ’n ander boot gesit en na Rome toe geneem.