Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 113

Paulus in Rome

Paulus in Rome

SIEN jy die kettings aan Paulus en die Romeinse soldaat wat hom oppas? Paulus is ’n gevangene in Rome. Hy wag dat die Romeinse keiser besluit wat om met hom te doen. Terwyl hy ’n gevangene is, mag mense vir hom kom kuier.

Drie dae nadat Paulus in Rome aangekom het, nooi hy ’n paar Joodse leiers om na hom toe te kom. As gevolg hiervan kom baie van die Jode in Rome na hom toe. Paulus preek vir hulle oor Jesus en die koninkryk van God. Party glo en word Christene, maar ander glo nie.

Paulus preek ook vir die soldate wat hom moet oppas. Gedurende die twee jaar wat hy hier ’n gevangene is, preek Paulus vir almal wat hy kan. As gevolg hiervan hoor selfs die huisgesin van die keiser die goeie nuus van die Koninkryk, en party van hulle word Christene.

Maar wie is die besoeker wat by die tafel sit en skryf? Kan jy raai? Ja, dit is Timoʹteus. Timoʹteus was ook in die tronk omdat hy oor die Koninkryk gepreek het, maar hy is weer vry. En hy het gekom om vir Paulus te help. Weet jy wat Timoʹteus skryf? Kom ons kyk.

Onthou jy die stede Filipʹpi en Eʹfese in Verhaal 110? Paulus het gehelp om Christengemeentes in daardie stede te stig. Nou, terwyl hy in die tronk is, skryf Paulus briewe aan daardie Christene. Die briewe is in die Bybel, en hulle word Efesiërs en Filippense genoem. Paulus vertel hier vir Timoʹteus wat om aan hulle Christenvriende in Filipʹpi te skryf.

Die Filippense was baie goed vir Paulus. Hulle het vir hom ’n geskenk hier in die tronk gestuur, en nou sê Paulus vir hulle dankie daarvoor. Epafrodiʹtus het die geskenk gebring. Maar hy het baie siek geword en amper doodgegaan. Nou is hy weer gesond en kan hy huis toe gaan. Hy sal hierdie brief van Paulus en Timoʹteus saam met hom vat wanneer hy na Filipʹpi toe teruggaan.

Terwyl Paulus in die tronk is, skryf hy nog twee briewe wat in die Bybel is. Een is aan die Christene in die stad Kolosʹse. Weet jy wat dit genoem word? Kolossense. Die ander een is ’n persoonlike brief aan ’n baie goeie vriend met die naam Fileʹmon wat ook in Kolosʹse woon. Hierdie brief is oor Fileʹmon se kneg Oneʹsimus.

Oneʹsimus het weggeloop van Fileʹmon af en na Rome toe gekom. Toe het Oneʹsimus gehoor dat Paulus hier in die tronk is. Hy het na hom toe gekom, en Paulus het vir Oneʹsimus gepreek. Oneʹsimus het sommer gou ook ’n Christen geword. Nou is Oneʹsimus jammer dat hy weggeloop het. Weet jy wat Paulus in hierdie brief aan Fileʹmon skryf?

Paulus vra vir Fileʹmon om Oneʹsimus te vergewe. ‘Ek stuur hom terug na jou toe’, skryf Paulus. ‘Maar nou is hy nie net jou kneg nie. Hy is ook ’n goeie Christenbroer.’ Wanneer Oneʹsimus na Kolosʹse toe teruggaan, neem hy hierdie twee briewe saam met hom, een vir die Kolossense en die ander een vir Fileʹmon. Ons kan net dink hoe bly Fileʹmon is wanneer hy hoor dat sy kneg ’n Christen geword het.

Wanneer Paulus aan die Filippense en aan Fileʹmon skryf, het hy sommer baie goeie nuus. ‘Ek stuur Timoʹteus na julle toe’, sê Paulus vir die Filippense. ‘Maar ek sal ook binnekort na julle toe kom.’ En aan Fileʹmon skryf hy: ‘Kry vir my ’n plek reg dat ek daar kan bly.’

Wanneer Paulus vrygelaat word, gaan hy na sy Christenbroers en -susters in baie plekke toe. Maar later word Paulus weer in Rome gevange gehou. Hierdie keer weet hy dat hy doodgemaak gaan word. Daarom skryf hy aan Timoʹteus en vra hom om gou te kom. ‘Ek was getrou aan God’, skryf Paulus, ‘en God sal my beloon.’ ’n Paar jaar nadat Paulus doodgemaak is, word Jerusalem weer vernietig, hierdie keer deur die Romeine.

Maar daar is nog meer dinge in die Bybel. Jehovah God laat die apostel Johannes die laaste Bybelboeke skryf, waarvan Openbaring een is. Hierdie Bybelboek vertel van die toekoms. Kom ons vind nou uit wat in die toekoms gaan gebeur.