Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 116

Hoe ons vir ewig kan lewe

Hoe ons vir ewig kan lewe

SIEN jy wat hierdie meisie en haar maatjies lees? Ja, dit is dieselfde boek wat jy nou lees—My boek met Bybelverhale. En hulle lees presies dieselfde verhaal wat jy nou lees—“Hoe ons vir ewig kan lewe”.

Weet jy wat hulle leer? Eerstens, dat ons Jehovah en sy Seun Jesus moet ken as ons vir ewig wil lewe. Die Bybel sê: ‘Só kan ’n mens vir ewig lewe: Leer van die enigste ware God en van die Seun wat hy na die aarde toe gestuur het, Jesus Christus.’

Hoe kan ons van Jehovah God en sy Seun Jesus leer? Een manier is om My boek met Bybelverhale van voor tot agter te lees. Dit vertel ons baie van Jehovah en Jesus, nie waar nie? En dit vertel ons baie van die dinge wat hulle reeds gedoen het en van die dinge wat hulle nog gaan doen. Maar ons moet meer doen as om net hierdie boek te lees.

Sien jy die ander boek wat op die vloer lê? Dit is die Bybel. Laat iemand vir jou die dele uit die Bybel lees waaroor die verhale in hierdie boek gaan. Die Bybel gee vir ons al die inligting wat ons nodig het sodat ons almal Jehovah op die regte manier kan dien en die ewige lewe kan kry. Daarom moet ons ’n gewoonte daarvan maak om die Bybel dikwels te bestudeer.

Maar dit is nie genoeg om net van Jehovah God en Jesus Christus te leer nie. Ons kan baie weet van hulle en van wat hulle leer en nog altyd nie die ewige lewe kry nie. Weet jy wat nog nodig is?

Ons moet ook lewe volgens die dinge wat ons leer. Onthou jy vir Judas Iskaʹriot? Hy was een van die 12 wat Jesus gekies het om sy apostels te wees. Judas het baie van Jehovah en Jesus geweet. Maar wat het met hom gebeur? Na ’n ruk het hy selfsugtig geword, en hy het Jesus vir 30 silwerstukke aan sy vyande verraai. Daarom sal Judas nie die ewige lewe kry nie.

Onthou jy vir Gehaʹsi, die man waarvan ons in Verhaal 69 geleer het? Hy wou klere en geld hê wat nie aan hom behoort het nie. Toe het hy ’n leuen vertel om hierdie dinge te kry. Maar Jehovah het hom gestraf. En hy sal ons ook straf as ons nie sy wette gehoorsaam nie.

Maar daar is baie goeie mense wat Jehovah altyd getrou gedien het. Ons wil soos hulle wees, nè? Jong Samuel is ’n goeie voorbeeld om na te volg. Soos ons in Verhaal 55 gesien het, was hy net vier of vyf jaar oud toe hy Jehovah by Sy tabernakel begin dien het. Al is jy dan ook hoe jonk, jy is nie te jonk om Jehovah te dien nie.

Jesus Christus is natuurlik die persoon wat ons almal wil navolg. Selfs toe hy nog ’n seun was, het hy in die tempel met ander oor sy hemelse Vader gepraat, soos Verhaal 87 wys. Laat ons sy voorbeeld navolg. Laat ons vir soveel mense as moontlik van ons wonderlike God Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, vertel. As ons hierdie dinge doen, sal ons vir ewig in God se nuwe paradys op die aarde kan lewe.