Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe geloofwaardig is die “Ou Testament”?

Hoe geloofwaardig is die “Ou Testament”?

Hoofstuk 4

Hoe geloofwaardig is die “Ou Testament”?

In die volgende paar hoofstukke sal ons voorbeelde van hedendaagse kritici se beskuldigings teen die Bybel bespreek. Party beweer dat die Bybel homself weerspreek en “onwetenskaplik” is, en hierdie aantygings sal later bespreek word. Maar ondersoek eers die algemene beskuldiging dat die Bybel niks meer as ’n versameling mites en legendes is nie. Het die teenstanders van die Bybel ’n vaste grondslag vir sulke kritiek? Laat ons allereers na die Hebreeuse Skrifte, die sogenaamde Ou Testament, kyk.

1, 2. Beskryf die beleëring van Jerigo. Watter vrae word in verband daarmee geopper?

’N EERTYDSE stad word beleër. Die aanvallers het die Jordaanrivier oorgesteek en voor die stad se hoë mure laer opgeslaan. Maar watter buitengewone krygstaktiek tog! Die invallende leër het ses dae lank elke dag in stilte om die stad gestap terwyl ’n begeleidende groep priesters op horings geblaas het. Nou, op die sewende dag, stap die leër in stilte sewe keer om die stad. Skielik blaas die priesters so hard hulle kan op hulle horings. Die leër verbreek sy stilte met ’n groot krygsgeskreeu, en die hoë stadsmure stort in ’n stofwolk ineen, sodat die stad onbeskerm is.—Josua 6:1-21.

2 Dit is hoe die boek Josua, die sesde boek van die Hebreeuse Skrifte, die val van Jerigo beskryf wat sowat 3 500 jaar gelede plaasgevind het. Maar het dit werklik gebeur? Talle hoër kritici sal vol vertroue nee antwoord. * Hulle beweer dat die boek Josua, tesame met die vorige vyf boeke van die Bybel, bestaan uit legendes wat baie eeue nadat die beweerde gebeure plaasgevind het, opgeteken is. Baie argeoloë sal ook nee antwoord. Volgens hulle het Jerigo moontlik nie eens bestaan toe die Israeliete in die land Kanaän ingekom het nie.

3. Waarom is dit belangrik om die vraag of die Bybel wel ware geskiedenis bevat te bespreek?

3 Dit is ernstige beskuldigings. Terwyl jy die Bybel lees, sal jy oplet dat daar ’n noue verband tussen die Bybel se leerstellings en die geskiedenis is. God handel met werklike manne, vroue, gesinne en nasies, en sy bevele word aan ’n geskiedkundige volk gegee. Hedendaagse geleerdes wat die historiese egtheid van die Bybel in twyfel trek, trek ook die belangrikheid en betroubaarheid van sy boodskap in twyfel. As die Bybel werklik God se Woord is, moet die geskiedenis daarin betroubaar wees en nie blote legendes en mites bevat nie. Het hierdie kritici ’n grondslag om die Bybel se geskiedkundige waarheid te bevraagteken?

Hoër kritiek—Hoe betroubaar?

4-6. Wat is party van Wellhausen se teorieë van hoër kritiek?

4 Hoër kritiek op die Bybel het gedurende die 18de en 19de eeu in alle erns begin. In die tweede helfte van die 19de eeu het die Duitse Bybelkritikus Julius Wellhausen die teorie gewild gemaak dat die eerste ses boeke van die Bybel, waaronder Josua, in die vyfde eeu v.G.J. geskryf is—ongeveer duisend jaar ná die gebeure wat beskryf word. Maar hy het darem gesê dat hulle materiaal bevat het wat vroeër opgeteken was.1 Hierdie teorie is gepubliseer in die 11de uitgawe van die Encyclopædia Britannica, wat in 1911 uitgegee is en verduidelik het: “Genesis is ’n werk uit die tydperk ná die ballingskap en bestaan uit ’n priesterlike bron (P) uit dieselfde tydperk en nie-priesterlike, vroeëre bronne wat met betrekking tot taal, styl en godsdiensstandpunt opvallend van P verskil.”

5 Volgens Wellhausen en sy volgelinge was al die geskiedenis wat in die eerste deel van die Hebreeuse Skrifte opgeteken is “nie letterlike geskiedenis nie, maar gewilde tradisies van weleer”.2 Die vroeëre verslae is as ’n blote weerspieëling van die latere geskiedenis van Israel beskou. Daar is byvoorbeeld gesê dat die vyandskap tussen Jakob en Esau nie werklik bestaan het nie, maar dat dit die latere vyandskap tussen die nasie Israel en Edom weerspieël het.

6 In ooreenstemming hiermee het hierdie kritici gemeen dat Moses nooit beveel is om die verbondsark te maak nie en dat die tabernakel, die sentrum van Israelitiese aanbidding in die woestyn, nooit bestaan het nie. Hulle het ook gemeen dat die gesag van die Aäronitiese priesterdom eers ten volle bevestig is ’n paar jaar voor die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs, wat na die kritici se mening aan die begin van die sesde eeu v.G.J. plaasgevind het.3

7, 8. Watter “bewyse” het Wellhausen vir sy teorieë gehad, en was hulle gegrond?

7 Watter “bewys” het hulle vir hierdie idees gehad? Hoër kritici beweer dat hulle die teks van die eerste Bybelboeke in ’n paar verskillende dokumente kan indeel. ’n Basiese beginsel wat hulle gebruik, is die veronderstelling dat enige Bybelvers waarin die Hebreeuse woord vir God (’Elo·himʹ) op sy eie gebruik word in die meeste gevalle deur een skrywer geskryf is, terwyl enige vers wat God by sy naam, Jehovah, noem deur ’n ander geskryf moes gewees het—asof een skrywer nie albei woorde kon gebruik het nie.4

8 Telkens wanneer ’n gebeurtenis meer as een keer in ’n boek opgeteken is, word dit eweneens as ’n bewys beskou dat meer as een skrywer die boek geskryf het, al bevat ou Semitiese literatuur ander soortgelyke voorbeelde van herhaling. Daarbenewens word daar aangeneem dat enige stylverandering ’n verandering van skrywer beteken. Maar selfs die skryfstyle van skrywers wat in moderne tale skryf, verskil op verskillende stadiums in hulle loopbaan of wanneer hulle oor verskillende onderwerpe skryf. *

9-11. Wat is ’n paar opvallende swakhede van hedendaagse hoër kritiek?

9 Is daar enige werklike bewys vir hierdie teorieë? Glad nie. Een kommentator het gesê: “Kritiek is, selfs op sy beste, spekulatief en tentatief, iets wat altyd maklik verander of verkeerd bewys kan word en deur iets anders vervang moet word. Dit is ’n intellektuele oefening, onderhewig aan al die twyfelgedagtes en gissings wat onafskeidelik aan sulke oefeninge verbonde is.”5 Veral hoër kritiek op die Bybel is uiters “spekulatief en tentatief”.

10 Gleason L. Archer jr. wys op nog ’n gebrek in die redenasie van hoër kritiek. Die probleem is volgens hom dat “die Wellhausen-groep uitgegaan het van die blote veronderstelling (wat hulle nouliks die moeite gedoen het om te bewys) dat Israel se godsdiens soos enige ander ’n bloot menslike oorsprong gehad het, en dat dit as ’n blote produk van evolusie verklaar moet word”.6 Met ander woorde, Wellhausen en sy volgelinge het van die veronderstelling uitgegaan dat die Bybel bloot die woord van die mens is, en van daar het hulle hul redenasie verder gevoer.

11 Reeds in 1909 het The Jewish Encyclopedia nog twee swakhede in Wellhausen se teorie gemeld: “Die argumente waarmee Wellhausen feitlik al die tydgenootlike Bybelkritici meegesleep het, is gegrond op twee veronderstellings: eerstens dat rituele gedurende die ontwikkeling van godsdiens ingewikkelder word; tweedens dat ouer bronne noodwendig die vroeëre stadiums van die ontwikkeling van rituele bespreek. Eersgenoemde veronderstelling is strydig met die getuienis van oerkulture, en laasgenoemde word nie deur die getuienis van rituele kodes soos dié van Indië gestaaf nie.”

12. Deurstaan hedendaagse hoër kritiek die toets van argeologie?

12 Is daar ’n manier waarop ’n mens hoër kritiek op die proef kan stel om te sien of die teorieë daarvan wel korrek is? The Jewish Encyclopedia het voorts gesê: “Wellhausen se beskouings is feitlik uitsluitlik op letterlike ontleding gebaseer en sal deur ’n ondersoek uit die oogpunt van institusionele argeologie aangevul moet word.” Het argeologie na verloop van jare Wellhausen se teorieë bevestig? The New Encyclopædia Britannica antwoord: “Argeologiese kritiek staaf in die meeste gevalle die betroubaarheid van die kenmerkende geskiedkundige besonderhede van selfs die oudste tydperke [van Bybelgeskiedenis] en doen dikwels afbreuk aan die teorie dat die verslae van die Pentateug [die geskiedverslae in die eerste boeke van die Bybel] bloot die weerspieëling van ’n veel later tydperk is.”

13, 14. Waarom word Wellhausen se hoër kritiek ten spyte van die onvaste grondslag daarvan steeds algemeen aanvaar?

13 Waarom is hoër kritiek dan vandag so gewild onder intellektuele as dit soveel swakhede het? Omdat dit vir hulle sê wat hulle wil hoor. Een 19de-eeuse geleerde het verduidelik: “Ek het hierdie boek van Wellhausen meer as feitlik enigiemand anders toegejuig; want dit het vir my gelyk of die moeilike probleem van die geskiedenis van die Ou Testament uiteindelik opgelos is op ’n manier wat ooreenstem met die beginsel van mense-evolusie wat ek genoodsaak is om op die geskiedenis van alle godsdienste toe te pas.”7 Hoër kritiek het klaarblyklik met sy vooroordele as evolusionis gestrook. En die twee teorieë bereik inderdaad ’n soortgelyke doel. Net soos evolusie dit onnodig sou maak om in ’n Skepper te glo, sou Wellhausen se hoër kritiek beteken dat ’n mens nie hoef te glo dat die Bybel deur God geïnspireer is nie.

14 In hierdie rasionalistiese 20ste eeu lyk die veronderstelling dat die Bybel nie God se woord is nie, maar die mens s’n, vir intellektuele aanneemlik. * Dit is vir hulle baie makliker om te glo dat profesieë ná hul vervulling geskryf is as om te aanvaar dat hulle eg is. Hulle sal die Bybelverslae van wonderwerke liewer as mites, legendes of volksverhale wegpraat as om die moontlikheid te oorweeg dat hulle werklik plaasgevind het. Maar so ’n siening is bevooroordeeld en verskaf geen geldige rede om die Bybel as onwaar te verwerp nie. Hoër kritiek het ernstige gebreke, en die aanval wat dit op die Bybel gerig het, kon nie bewys dat die Bybel nie die Woord van God is nie.

Staaf argeologie die Bybel?

15, 16. Watter eertydse heerser wat in die Bybel gemeld word se bestaan is deur argeologie bevestig?

15 Argeologie is ’n studieveld met ’n baie stewiger fondament as hoër kritiek. Met hulle opgrawings tussen die oorblyfsels van eertydse beskawings het argeoloë in baie opsigte ons begrip van toestande in die ou tyd uitgebrei. Dit is derhalwe nie verbasend dat die argeologiese verslag herhaaldelik ooreenstem met wat ons in die Bybel lees nie. Soms het argeologie die Bybel selfs teen sy kritici geregverdig.

16 Die boek Daniël sê byvoorbeeld dat die laaste heerser in Babilon voordat die Perse dit verower het Belsasar genoem is (Daniël 5:1-30). Aangesien Belsasar skynbaar nie in enige geskrifte buiten die Bybel gemeld word nie, is daar beweer dat die Bybel verkeerd was en dat hierdie man nooit bestaan het nie. Maar gedurende die 19de eeu is etlike klein silinders met spykerskrif daarop in ruïnes in suidelike Irak ontdek. Daar is bevind dat hulle ’n gebed vir die gesondheid van die oudste seun van Nabonidus, die koning van Babilon, insluit. Die naam van hierdie seun? Belsasar.

17. Hoe kan ons die feit verklaar dat die Bybel Belsasar ’n koning noem, terwyl die meeste inskripsies hom ’n prins genoem het?

17 Daar wás dus ’n Belsasar! Maar was hy ’n koning toe Babilon verower is? Die meeste dokumente wat daarna gevind is, het hom die seun van die koning, die kroonprins, genoem. Maar ’n spykerskrifdokument wat die “Versverslag van Nabonidus” genoem word, het meer lig op Belsasar se ware posisie gewerp. Dit het gesê: “Hy [Nabonidus] het die ‘Laer’ aan sy oudste (seun), die eersgeborene, toevertrou, die soldate oral in die land onder sy (bevel) geplaas. Hy het (alles) oorhandig, hy het die koningskap aan hom toevertrou.”8 Die koningskap is dus aan Belsasar toevertrou. In die praktyk het dit tog sekerlik daarop neergekom dat hy ’n koning was! * Hierdie verhouding tussen Belsasar en sy vader, Nabonidus, verklaar waarom Belsasar, gedurende daardie laaste feesmaal in Babilon, aangebied het om Daniël die derde heerser in die koninkryk te maak (Daniël 5:16). Aangesien Nabonidus die eerste heerser was, was Belsasar self maar net die tweede heerser van Babilon.

Ander stawende getuienis

18. Watter inligting verskaf argeologie om die vrede en voorspoed wat uit Dawid se bewind voortgespruit het te bevestig?

18 Ja, daar is baie argeologiese ontdekkings wat die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel bewys. Die Bybel sê byvoorbeeld dat Israel baie voorspoedig was nadat koning Salomo die koningskap van sy vader, Dawid, oorgeneem het. Ons lees: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly” (1 Konings 4:20). Ter stawing van hierdie woorde lees ons: “Argeologiese getuienis openbaar dat daar gedurende en na die tiende eeu vC ’n bevolkingsontploffing in Juda was toe die vrede en voorspoed wat Dawid gebring het die bou van talle nuwe dorpe moontlik gemaak het.”10

19. Watter bykomende inligting verskaf argeologie aangaande die oorlog tussen Israel en Moab?

19 Later het Israel en Juda twee nasies geword en het Israel die buurland Moab verower. ’n Ruk daarna het Moab, onder koning Mesa, in opstand gekom en het Israel ’n alliansie met Juda en die naburige koninkryk Edom gesluit om teen Moab oorlog te voer (2 Konings 3:4-27). Dit is merkwaardig dat ’n grafsuil (’n gegraveerde klipblad) in 1868 in Jordanië ontdek is waarop Mesa se eie verslag van hierdie stryd in die Moabitiese taal gegraveer is.

20. Wat vertel argeologie ons aangaande die vernietiging van Israel deur die Assiriërs?

20 Toe, in 740 v.G.J., het God toegelaat dat die Assiriërs die opstandige noordelike koninkryk Israel vernietig (2 Konings 17:6-18). Argeoloog Kathleen Kenyon sê van die Bybelverslag oor hierdie gebeurtenis: “’n Mens vermoed dalk dat gedeeltes hiervan oordrywing is.” Maar is dit? Sy voeg by: “Die argeologiese getuienis van die val van die koninkryk Israel is byna aanskouliker as dié van die Bybelverslag. . . . Die algehele uitwissing van die Israelitiese stede Samaria en Hasor en die gepaardgaande verwoesting van Megiddo is die feitelike, argeologiese getuienis dat die [Bybel]skrywer nie oordryf het nie.”11

21. Watter besonderhede verskaf argeologie aangaande die onderwerping van Juda deur die Babiloniërs?

21 Nog later deel die Bybel ons mee dat Jerusalem ten tyde van koning Jojagin se heerskappy deur die Babiloniërs beleër en verower is. Hierdie gebeurtenis is op die Babiloniese Kroniek, ’n spykerskriftablet wat deur argeoloë ontdek is, opgeteken. Hierop lees ons: “Die koning van Akkad [Babilon] . . . het die stad Juda (iahoedoe) beleër, en die koning het die stad op die tweede dag van die maand Addaru verower.”12 Jojagin is na Babilon geneem en opgesluit. Maar volgens die Bybel is hy later uit die gevangenis vrygelaat en ’n rantsoen voedsel gegee (2 Konings 24:8-15; 25:27-30). Dit word gestaaf deur administratiewe dokumente wat in Babilon gevind is en wat ’n lys gee van die rantsoene wat aan “Jaukîn, koning van Juda”, gegee is.13

22, 23. Wat is oor die algemeen die verband tussen argeologie en die Bybel se geskiedverslae?

22 Aangaande die verband tussen argeologie en die Bybel se geskiedverslae het professor David Noel Freedman gesê: “Oor die algemeen staaf argeologie egter die geskiedkundige geldigheid van die Bybelverhaal. In breë trekke korreleer die chronologiese skets van die tydperk tussen die aartsvaders en N[ieu]-T[estamentiese] tye met argeologiese gegewens. . . . Toekomstige ontdekkings sal waarskynlik die huidige, gematigde standpunt staaf, naamlik dat die Bybelse tradisie op geskiedenis berus en getrou oorgedra is, hoewel dit nie in die kritiese of wetenskaplike sin geskiedenis is nie.”

23 Dan sê hy aangaande die pogings van hoër kritici om afbreuk te doen aan die Bybel se geloofwaardigheid: “Hedendaagse geleerdes se pogings om Bybelgeskiedenis weer saam te stel—byvoorbeeld Wellhausen se beskouing dat die aartsvaderlike tydperk ’n weerspieëling van die verdeelde monargie was; of Noth en sy volgelinge se verwerping van die historiese egtheid van Moses en die eksodus en die gevolglike hersamestelling van Israelitiese geskiedenis—het nie die argeologiese gegewens so goed soos die Bybelverslag deurstaan nie.”14

Die val van Jerigo

24. Watter inligting gee die Bybel ons aangaande die val van Jerigo?

24 Beteken dit dat argeologie in elke geval met die Bybel ooreenstem? Nee, daar is etlike verskille. Een daarvan is die dramatiese verowering van Jerigo wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is. Volgens die Bybel was Jerigo die eerste stad wat deur Josua verower is toe hy die Israeliete in die land Kanaän ingelei het. Bybelchronologie dui aan dat die stad in die eerste helfte van die 15de eeu v.G.J. geval het. Jerigo is na die verowering geheel en al met vuur verbrand en was toe honderde jare lank onbewoon.—Josua 6:1-26; 1 Konings 16:34.

25, 26. Watter twee verskillende gevolgtrekkings het argeoloë op grond van opgrawings by Jerigo gemaak?

25 Voor die Tweede Wêreldoorlog het professor John Garstang opgrawings gedoen by die terrein wat vermoedelik Jerigo was. Hy het ontdek dat die stad baie oud was en etlike kere verwoes en herbou is. Garstang het gevind dat die mure gedurende een van hierdie verwoestings ingeval het asof dit deur ’n aardbewing getref is en dat die stad geheel en al met vuur verbrand is. Garstang het gemeen dat dit omstreeks 1400 v.G.J. plaasgevind het, nie te ver van die jaartal wat die Bybel vir Josua se verwoesting van Jerigo aangee nie.15

26 Na die oorlog het ’n ander argeoloog, Kathleen Kenyon, verdere opgrawings by Jerigo gedoen. Sy het die gevolgtrekking gemaak dat die ingestorte mure wat Garstang geïdentifiseer het uit ’n tydperk gedateer het wat sý tydsbepaling honderde jare voorafgegaan het. Sy het wel ’n groot verwoesting van Jerigo in die 16de eeu v.G.J. geïdentifiseer, maar het gesê dat daar gedurende die 15de eeu—die tydperk wat die Bybel vir Josua se inval in die land aangee—geen stad op die terrein van Jerigo was nie. Sy sê voorts dat daar moontlike aanduidings van ’n ander verwoesting is wat dalk in 1325 v.G.J. op die terrein plaasgevind het en stel voor: “As die verwoesting van Jerigo aan ’n inval onder Josua gekoppel moet word, is dít [laasgenoemde] die jaartal wat argeologie aan die hand doen.”16

27. Waarom moet verskille tussen argeologie en die Bybel ons nie juis ontstel nie?

27 Beteken dit dat die Bybel verkeerd is? Glad nie. Ons moet onthou dat hoewel argeologie ons ’n blik op die verlede gee, dit nie altyd ’n duidelike blik is nie. Soms is dit beslis onduidelik. Soos een kommentator opgemerk het: “Argeologiese getuienis is, ongelukkig, onvolledig en is derhalwe beperk.”17 Dit geld veral vir die vroeë tydperke van Israelitiese geskiedenis, waarvoor argeologiese getuienis nie duidelik is nie. Trouens, die getuienis is selfs minder duidelik by Jerigo, aangesien die terrein baie geërodeer is.

Die beperkings van argeologie

28, 29. Wat is party beperkings van argeologie wat geleerdes erken het?

28 Argeoloë erken self die beperkings van hulle wetenskap. Yohanan Aharoni verduidelik byvoorbeeld: “Wanneer dit by historiese of histories-geografiese interpretasie kom, verlaat die argeoloog die sfeer van die eksakte wetenskappe en moet hy op waardeoordeel en veronderstelling staatmaak om ’n volledige geskiedkundige voorstelling te verkry.”18 Aangaande die jaartalle wat aan verskeie ontdekkings geheg word, voeg hy by: “Ons moet derhalwe altyd onthou dat nie alle jaartalle absoluut is nie en in meerdere of mindere mate verdag is”, hoewel hy meen dat hedendaagse argeoloë sekerder kan wees van hulle datering as wat die geval in die verlede was.19

29 The World of the Old Testament stel die vraag: “Hoe objektief of waarlik wetenskaplik is die argeologiese metode?” Dit antwoord: “Argeoloë is meer objektief wanneer hulle die feite opgrawe as wanneer hulle dit interpreteer. Maar hulle menslike vooroordele sal ook ’n uitwerking hê op die metodes wat hulle tydens die opgrawing gebruik. Hulle kan nie anders as om hulle getuienis te vernietig terwyl hulle afwaarts deur die grondlae grawe nie, en hulle kan gevolglik nooit hulle ‘eksperiment’ toets deur dit te herhaal nie. Dit maak argeologie ’n unieke wetenskap. Daarbenewens maak dit argeologiese verslaggewing ’n uiters veeleisende taak wat vol slaggate is.”20

30. Hoe beskou Bybelstudente argeologie?

30 Argeologie kan dus baie nuttig wees, maar dit is, soos enige menslike strewe, feilbaar. Hoewel ons argeologiese teorieë met belangstelling ondersoek, moet ons hulle nooit as die onomstootlike waarheid beskou nie. As argeoloë hulle bevindings só interpreteer dat dit die Bybel weerspreek, moet daar nie outomaties aangeneem word dat die Bybel verkeerd en die argeoloë reg is nie. Hulle interpretasies het al verander.

31. Watter gewysigde siening is onlangs aangaande die val van Jerigo aan die hand gedoen?

31 Dit is interessant om daarop te let dat professor John J. Bimson in 1981 weer die verwoesting van Jerigo ondersoek het. Hy het die vlammende verwoesting van Jerigo wat—volgens Kathleen Kenyon—in die middel van die 16de eeu v.G.J. plaasgevind het sorgvuldig ondersoek. Volgens hom het daardie verwoesting nie net by die Bybelverslag oor Josua se verwoesting van die stad gepas nie, maar klop die argeologiese voorstelling van Kanaän as geheel ook volkome met die Bybel se beskrywing van Kanaän toe die Israeliete die land binnegeval het. Hy doen gevolglik aan die hand dat die argeologiese datering verkeerd is en stel voor dat hierdie verwoesting in werklikheid in die middel van die 15de eeu v.G.J., gedurende Josua se leeftyd, plaasgevind het.21

Die Bybel is ware geskiedenis

32. Watter neiging toon sommige geleerdes?

32 Dit lig die feit toe dat argeoloë dikwels met mekaar verskil. Dit is dan nie verbasend dat party nie met die Bybel saamstem nie terwyl ander wel daarmee saamstem. Sommige geleerdes kry nietemin respek vir die historiese egtheid van die Bybel in die algemeen, indien nie in elke besonderheid nie. William Foxwell Albright het een denkwyse verteenwoordig toe hy geskryf het: “Die akkuraatheid van Israel se godsdienstige geskiedenis, hetsy in breë trekke of in feitelike besonderhede, word oor die algemeen weer waardeer. . . . Ons kan nou weer, opsommenderwys, die Bybel van begin tot end as ’n geloofwaardige dokument van godsdiensgeskiedenis beskou.”22

33, 34. Hoe bewys die Hebreeuse Skrifte self dat hulle histories akkuraat is?

33 Trouens, die Bybel dra op sigself die stempel van akkurate geskiedenis. Gebeure word met spesifieke tye en datums in verband gebring, anders as dié in die meeste eertydse mites en legendes. Baie gebeure wat in die Bybel opgeteken is, word gestaaf deur inskripsies wat uit daardie tye dateer. Wanneer daar ’n verskil tussen die Bybel en ’n eertydse inskripsie is, kan die verskil dikwels toegeskryf word aan die feit dat die eertydse heersers nie hulle nederlae wou opteken nie, maar wel hulle sukses wou ophemel.

34 Baie van daardie eertydse inskripsies is in werklikheid nie geskiedenis nie, maar eerder amptelike propaganda. In teenstelling daarmee skryf die Bybelskrywers met seldsame eerlikheid. Vername voorvaderlike figure soos Moses en Aäron word met al hulle swakhede en goeie eienskappe uitgebeeld. Selfs die tekortkominge van die groot koning Dawid word eerlik geopenbaar. Die tekortkominge van die nasie as geheel word herhaaldelik aan die lig gebring. Hierdie eerlikheid dui aan dat die Hebreeuse Skrifte waar en betroubaar is en verleen krag aan die woorde van Jesus, wat in gebed tot God gesê het: “U woord is die waarheid.”—Johannes 17:17.

35. Wat kon rasionalistiese denkers nie doen nie, en waartoe wend Bybelstudente hulle om die inspirasie van die Bybel te bewys?

35 Albright het voorts gesê: “In elk geval is die Bybel se inhoud ver verhewe bo alle vroeëre godsdiensliteratuur; en dit is net so ver verhewe bo alle latere literatuur wat die reguit eenvoud van sy boodskap en sy katolieke [algemene] trefkrag op mense van alle lande en tye betref.”23 Dit is hierdie ‘verhewe boodskap’, eerder as die getuienis van geleerdes, wat die inspirasie van die Bybel bewys, soos ons in latere hoofstukke sal sien. Maar laat ons hier daarvan kennis neem dat hedendaagse rasionalistiese denkers nie kon bewys dat die Hebreeuse Skrifte nie ware geskiedenis is nie, terwyl hierdie geskrifte self in elke opsig blyk gee van akkuraatheid. Kan dieselfde van die Christelike Griekse Skrifte, die “Nuwe Testament”, gesê word? Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.

[Voetnote]

^ par. 2 “Hoër kritiek” (of “die histories-kritiese metode”) is ’n term wat gebruik word vir die studie van die Bybel wat daarop gemik is om besonderhede vas te stel, soos wie elke boek geskryf het, watter bronmateriaal gebruik is en wanneer dit geskryf is.

^ par. 8 Die Engelse digter John Milton het byvoorbeeld sy statige, epiese gedig “Paradise Lost” in ’n heeltemal ander styl as sy gedig “L’Allegro” geskryf. En sy politieke traktaatjies is weer in ’n ander styl geskryf.

^ par. 14 Die meeste intellektuele is vandag geneig om rasionalisties te wees. Volgens die woordeboek beteken rasionalisme “vertroue op die rede as grondslag vir die bepaling van godsdienswaarheid”. Rasionaliste probeer om alles eerder in menslike terme te verklaar as om die moontlikheid van goddelike optrede in ag te neem.

^ par. 17 Dit is interessant dat ’n standbeeld van ’n eertydse heerser wat in die sewentigerjare in noordelike Sirië gevind is, getoon het dat dit nie ongewoon was dat ’n heerser ’n koning genoem is terwyl hy na regte ’n ondergeskikte titel gehad het nie. Die standbeeld was van ’n heerser van Gosan, en Assiriese en Aramese inskripsies was daarop gegraveer. Die Assiriese inskripsie het die man die goewerneur van Gosan genoem, maar die ooreenkomstige Aramese inskripsie het hom die koning genoem.9 Dit sou derhalwe nie ongekend wees dat Belsasar in die amptelike Babiloniese inskripsies ’n kroonprins genoem word terwyl hy in die Aramese geskrif van Daniël ’n koning genoem word nie.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 53]

Anders as eertydse sekulêre geskiedenisverslae meld die Bybel eerlik die menslike tekortkominge van gesiene figure soos Moses en Dawid

[Venster op bladsy 44]

Die waarde van argeologie

“Argeologie verskaf voorbeelde van eertydse gereedskap en houers, mure en geboue, wapens en versierings. Die meeste hiervan kan chronologies gerangskik en sonder twyfel gelykgestel word met gepaste terme en kontekste in die Bybel. In hierdie sin bewaar die Bybel sy eertydse kulturele milieu akkuraat in geskrewe vorm. Die besonderhede van Bybelverhale is nie ’n skrywer se verbeeldingsvlugte nie, maar is eerder geloofwaardige weerspieëlings van die wêreld waarin die opgetekende gebeure, van die alledaagse tot die wonderdadige, plaasgevind het.”​—The Archaeological Encyclopedia of the Holy Land.

[Venster op bladsy 50]

Wat argeologie kan en nie kan doen nie

“Argeologie kan die Bybel nie onweerlegbaar staaf of weerlê nie, maar dit het ander baie belangrike funksies. Dit herwin in sekere mate die materiële wêreld wat deur die Bybel geïmpliseer word. As ’n mens byvoorbeeld weet van watter materiaal ’n huis gebou is, of hoe ’n ‘hoogte’ gelyk het, word ons begrip van die teks inderdaad vergroot. Tweedens vul dit die geskiedverslag aan. Die Moabitiese Steen gee byvoorbeeld die ander kant van die verhaal in 2 Konings 3:4e.v. . . . Derdens openbaar dit die lewe en denkwyse van eertydse Israel se bure​—wat op sigself interessant is en wat lig werp op die ideëwêreld waarin die denkwyse van eertydse Israel ontwikkel het.”​—Ebla—A Revelation in Archaeology.

[Prent op bladsy 41]

Milton het in verskillende style geskryf, nie net in een nie. Meen hoër kritici dat sy werk die produk van etlike skrywers is?

[Prent op bladsy 45]

Die “Versverslag van Nabonidus” sê dat Nabonidus die koningskap aan sy eersgeborene toevertrou het

[Prent op bladsy 46]

Die Moabitiese Steen gee koning Mesa se weergawe van die stryd tussen Moab en Israel

[Prent op bladsy 47]

Amptelike Babiloniese verslae staaf die Bybel-verslag oor die val van Jerusalem