Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die “Nuwe Testament”—Geskiedenis of mite?

Die “Nuwe Testament”—Geskiedenis of mite?

Hoofstuk 5

Die “Nuwe Testament”—Geskiedenis of mite?

“Die Nuwe Testament kan vandag as die bes ondersoekte boek in die wêreldliteratuur bestempel word.” Dit was Hans Küng se woorde in sy boek “On Being a Christian”. En hy was reg. Die Christelike Griekse Skrifte is gedurende die afgelope 300 jaar meer as net ondersoek. Hulle is deegliker ontleed en noukeuriger bestudeer as enige ander literatuur.

1, 2. (Sluit die inleiding in.) (a) Wat is die afgelope 300 jaar met die Christelike Griekse Skrifte gedoen? (b) Watter eienaardige gevolgtrekkings het party navorsers gemaak?

PARTY navorsers het eienaardige gevolgtrekkings gemaak. In die 19de eeu het Ludwig Noack in Duitsland die gevolgtrekking gemaak dat die Evangelie van Johannes in 60 G.J. deur die geliefde dissipel geskryf is—wat, volgens Noack, Judas was! Die Fransman Joseph Ernest Renan het voorgestel dat die opstanding van Lasarus waarskynlik ’n bedrieëry was wat deur Lasarus self gereël is om Jesus se bewering dat hy ’n wonderwerker is te ondersteun, terwyl die Duitse teoloog Gustav Volkmar volgehou het dat die geskiedkundige Jesus onmoontlik daarop aanspraak kon gemaak het dat hy die Messias is.1

2 Bruno Bauer het daarenteen besluit dat Jesus glad nie bestaan het nie! “Hy het beweer dat die ware skeppingskragte in die vroeë Christelike godsdiens Filo, Seneca en die Gnostici was. Uiteindelik het hy gesê dat daar nooit ’n geskiedkundige Jesus was nie . . . dat die Christelike godsdiens laat in die tweede eeu ontstaan het en voortgespruit het uit ’n Judaïsme waarin Stoïsisme begin oorheers het.”2

3. Watter mening huldig baie steeds aangaande die Bybel?

3 Vandag glo min mense sulke verregaande opvattings. Maar as jy die werke van hedendaagse geleerdes lees, sal jy vind dat baie nog glo dat die Christelike Griekse Skrifte legendes, mites en oordrywing bevat. Is dit waar?

Wanneer is dit geskryf?

4. (a) Waarom is dit belangrik om te weet wanneer die boeke van die Christelike Griekse Skrifte geskryf is? (b) Wanneer is die Christelike Griekse Skrifte volgens party geskryf?

4 Tyd is nodig vir mites en legendes om te ontwikkel. Die vraag: Wanneer is hierdie boeke geskryf?, is derhalwe belangrik. Michael Grant, ’n geskiedskrywer, sê dat daar “dertig of veertig jaar na Jesus se dood” met die geskiedkundige geskrifte van die Christelike Griekse Skrifte begin is.4 Bybelargeoloog William Foxwell Albright het C. C. Torrey se gevolgtrekking aangehaal “dat al die Evangelies voor 70 nC geskryf is en dat daar niks in hulle is wat nie binne twintig jaar na die Kruisiging geskryf kon gewees het nie”. Albright self het gemeen dat die opskrifstelling daarvan “nie later as omstreeks 80 nC voltooi is nie”. Ander se skattings verskil effens hiervan, maar die meeste is dit eens dat die opskrifstelling van die “Nuwe Testament” teen die einde van die eerste eeu voltooi is.

5, 6. Watter gevolgtrekking moet ons maak op grond van die feit dat die Christelike Griekse Skrifte betreklik gou na die gemelde gebeurtenisse geskryf is?

5 Wat beteken dit? Albright se slotsom is: “Al wat ons kan sê, is dat ’n tydperk van tussen twintig en vyftig jaar te kort is vir enige merkbare bederf van die wesenlike inhoud en selfs van die spesifieke woorde wat Jesus gebruik het.”5 Professor Gary Habermas voeg by: “Die Evangelies volg redelik kort op die tydperk wat daarin beskryf word, terwyl eertydse geskiedenisverslae dikwels gebeure beskryf wat eeue tevore plaasgevind het. En tog kan hedendaagse geskiedskrywers selfs die gebeure van hierdie ou tydperke met welslae aflei.”6

6 Met ander woorde, die geskiedkundige dele van die Christelike Griekse Skrifte verdien ten minste soveel vertroue as sekulêre geskiedenisverslae. In die paar dekades tussen die gebeure van die vroeë Christelike godsdiens en die opskrifstelling daarvan was daar beslis nie genoeg tyd vir mites en legendes om te ontwikkel en algemeen aanvaar te word nie.

Die getuienis van ooggetuies

7, 8. (a) Wie het nog gelewe terwyl die Christelike Griekse Skrifte geskryf en versprei is? (b) Watter gevolgtrekking moet ons in ooreenstemming met professor F. F. Bruce se kommentaar maak?

7 Dit is veral waar in die lig van die feit dat baie van die verslae die getuienis van ooggetuies meld. Die skrywer van die Evangelie van Johannes het gesê: “Dit is daardie dissipel [die dissipel vir wie Jesus lief was] wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het” (Johannes 21:24). Die skrywer van die boek Lukas sê: “Soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het” (Lukas 1:2). Die apostel Paulus het gepraat van diegene wat getuies was van die opstanding van Jesus en het gesê: “Van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe.”—1 Korinthiërs 15:6, NAV.

8 In hierdie verband maak professor F. F. Bruce ’n skerpsinnige opmerking: “Dit kon geensins so maklik gewees het as wat sommige skrywers skynbaar dink om woorde en dade van Jesus te versin in daardie vroeë jare toe so baie van Sy dissipels daar was en kon onthou wat gebeur het en wat nie. . . . Die dissipels kon dit nie bekostig om kanse te waag met onjuisthede (laat staan nog opsetlike knoeiery met die feite) wat onmiddellik oopgevlek sou word deur diegene wat dit maar alte graag sou wou doen nie. Daarenteen is een van die sterk punte in die oorspronklike apostoliese prediking die vrymoedige beroep op die kennis van die hoorders; hulle het nie net gesê: ‘Ons is getuies van hierdie dinge’ nie, maar ook: ‘Soos julle ook self weet’ (Handelinge 2:22).”7

Is die teks betroubaar?

9, 10. Waarvan kan ons met betrekking tot die Christelike Griekse Skrifte seker wees?

9 Is dit moontlik dat hierdie getuienis van ooggetuies akkuraat opgeteken maar later verdraai is? Met ander woorde, is mites en legendes ingebring nadat die oorspronklike opskrifstelling voltooi is? Ons het reeds gesien dat die teks van die Christelike Griekse Skrifte in ’n beter toestand as enige ander eertydse literatuur is. Kurt en Barbara Aland, kenners van die Griekse teks van die Bybel, gee ’n lys van sowat 5 000 manuskripte wat van die ou tyd tot vandag toe behoue gebly het, party reeds vanaf die tweede eeu G.J.8 Oor die algemeen dui hierdie massa getuienis daarop dat die teks in wese suiwer is. Daarbenewens is daar talle ou vertalings—die vroegste dateer uit omstreeks 180 G.J.—wat help om te bewys dat die teks akkuraat is.9

10 Ons kan derhalwe, uit watter oogpunt die saak ook al beskou word, seker wees dat legendes en mites nie in die Christelike Griekse Skrifte ingesypel het nadat die oorspronklike skrywers hulle werk voltooi het nie. Die teks wat ons het, is wesenlik dieselfde as dié wat die oorspronklike skrywers op skrif gestel het, en die akkuraatheid daarvan word bevestig deur die feit dat Christene van daardie selfde tyd dit aanvaar het. Kan ons dan die geskiedkundige egtheid van die Bybel nagaan deur dit met ander eertydse geskiedenisverslae te vergelyk? Ja, in sekere mate.

Die dokumentêre getuienis

11. In watter mate staaf eksterne dokumentêre getuienis die geskiedenisverslae in die Christelike Griekse Skrifte?

11 In werklikheid is daar buiten die Bybel min dokumentêre getuienis oor gebeure in die lewe van Jesus en sy apostels. Dit is net te verwagte, aangesien Christene in die eerste eeu ’n betreklik klein groepie was wat nie by die politiek betrokke geraak het nie. Maar die getuienis wat sekulêre geskiedenis wel verskaf, strook met wat ons in die Bybel lees.

12. Wat vertel Josephus ons van Johannes die Doper?

12 Nadat Herodes Antipas ’n beslissende militêre nederlaag gely het, het die Joodse geskiedskrywer, Josephus, byvoorbeeld in 93 G.J. geskryf: “Vir party van die Jode het die vernietiging van Herodes se leër soos goddelike wraak gelyk, en beslis regverdige wraak vir sy behandeling van Johannes, bygenaamd die Doper. Want Herodes het hom doodgemaak hoewel hy ’n goeie man was en die Jode gemaan het om regverdige lewens te lei en geregtigheid teenoor hulle medemens en vroomheid teenoor God te beoefen.”10 Josephus bevestig sodoende die Bybelverslag dat Johannes die Doper ’n regverdige man was wat bekering verkondig het en deur Herodes tereggestel is.—Mattheüs 3:1-12; 14:11.

13. Hoe staaf Josephus die geskiedkundige egtheid van Jakobus en Jesus self?

13 Josephus meld ook Jakobus, die halfbroer van Jesus, wat, soos die Bybel ons meedeel, Jesus aanvanklik nie gevolg het nie maar later ’n vooraanstaande ouere man in Jerusalem geword het (Johannes 7:3-5; Galasiërs 1:18, 19). Hy vertel met hierdie woorde van Jakobus se arrestasie: “[Die hoëpriester Ananus] het die regters van die Sanhedrin byeengeroep en voor hulle ’n man genaamd Jakobus gebring, die broer van Jesus wat die Christus genoem is, en sekere ander persone.”11 Met hierdie woorde het Josephus ook bevestig dat “Jesus wat die Christus genoem is” ’n werklike, geskiedkundige persoon was.

14, 15. Hoe staaf Tacitus die Bybelverslag?

14 Ander vroeë skrywers meld ook dinge wat in die Griekse Skrifte genoem word. Die Evangelies deel ons byvoorbeeld mee dat Jesus se predikingswerk in Palestina wyd en syd ’n reaksie uitgelok het. Toe hy deur Pontius Pilatus ter dood veroordeel is, was sy volgelinge verward en ontmoedig. Kort daarna het hierdie selfde dissipels Jerusalem vrymoedig vervul met die boodskap dat hulle Heer opgewek is. Die Christelike godsdiens het binne ’n paar jaar dwarsdeur die Romeinse Ryk versprei.—Mattheüs 4:25; 26:31; 27:24-26; Handelinge 2:23, 24, 36; 5:28; 17:6.

15 Die waarheid hiervan word bevestig deur die Romeinse geskiedskrywer Tacitus, wat nie ’n vriend van die Christelike godsdiens was nie. Hy het kort na 100 G.J. geskryf en vertel van Nero se wrede vervolging van die Christene. Hy voeg by: “Christus, die stigter van die naam, het tydens die bewind van Tiberius die doodstraf ondergaan nadat hy deur die stadhouer Pontius Pilatus gevonnis is, en die verderflike bygeloof is ’n oomblik teëgehou, maar het weer eens begin woeker, nie net in Judea, waar die siekte ontstaan het nie, maar in die hoofstad [Rome] self.”12

16. Watter geskiedkundige gebeurtenis wat in die Bybel gemeld word, word ook deur Suetonius gemeld?

16 In Handelinge 18:2 meld die Bybelskrywer die feit dat “[die Romeinse keiser] Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek”. Tweede-eeuse Romeinse geskiedskrywer Suetonius meld ook hierdie uitsetting. In sy werk The Deified Claudius sê die geskiedskrywer: “Aangesien die Jode voortdurend op aanstigting van Chrestus oproerigheid veroorsaak het, het hy [Claudius] hulle uit Rome verdryf.”13 As Chrestus hier op Jesus Christus betrekking het en as die gebeure in Rome die patroon in ander stede gevolg het, was die oproere nie werklik op aanstigting van Christus (dit wil sê, Christus se volgelinge) nie. Dit was eerder die Jode se gewelddadige reaksie op die getroue predikingswerk van die Christene.

17. Watter bronne wat in die tweede eeu vir Justinus Martyr beskikbaar was, het die Bybelverslag oor Jesus se wonderwerke en sy dood gestaaf?

17 Justinus Martyr het in die middel van die tweede eeu die volgende met betrekking tot Jesus se dood geskryf: “Jy kan jou uit die Handelinge van Pontius Pilatus vergewis dat hierdie dinge wel gebeur het.”14 Volgens Justinus Martyr het hierdie selfde verslae ook Jesus se wonderwerke gemeld, en hy sê in daardie verband: “Jy kan uit die Handelinge van Pontius Pilatus vasstel dat Hy daardie dinge gedoen het.”15 Hierdie “Handelinge”, of amptelike verslae, bestaan weliswaar nie meer nie. Maar hulle het blykbaar in die tweede eeu bestaan, en Justinus Martyr het sy lesers vol vertroue uitgedaag om dit na te gaan en die waarheid van wat hy gesê het te bevestig.

Die argeologiese getuienis

18. Hoe staaf argeologie die bestaan van Pontius Pilatus?

18 Argeologiese ontdekkings het ook toegelig of bevestig wat ons in die Griekse Skrifte lees. In 1961 is die naam van Pontius Pilatus byvoorbeeld in ’n inskripsie in die ruïnes van ’n Romeinse teater in Caesarea gevind.16 Voor hierdie ontdekking was daar, buiten die Bybel self, slegs beperkte getuienis dat hierdie Romeinse heerser bestaan het.

19, 20. Van watter Bybelpersoonlikhede wat deur Lukas (in Lukas en Handelinge) gemeld word, het argeologie getuig?

19 In Lukas se Evangelie lees ons dat Johannes die Doper sy bediening begin het “toe . . . Lisanias viervors van Abilene” was (Lukas 3:1). Party het daardie woorde in twyfel getrek omdat Josephus ’n Lisanias gemeld het wat oor Abilene geheers en in 34 v.G.J. gesterf het, lank voor Johannes gebore is. Maar argeoloë het ’n inskripsie in Abilene ontdek wat ’n ander Lisanias meld wat ’n tetrarg (viervors) was gedurende die bewind van Tiberius, wat as keiser in Rome geheers het toe Johannes sy bediening begin het.17 Dit kon maklik die Lisanias gewees het van wie Lukas gepraat het.

20 In Handelinge lees ons dat Paulus en Barnabas gestuur is om sendingwerk op Ciprus te doen en daar ’n prokonsul genaamd Sergius Paulus, “’n intelligente man”, ontmoet het (Handelinge 13:7, NW). In die middel van die 19de eeu is ’n inskripsie wat uit 55 G.J. dateer en hierdie man meld tydens opgrawings op Ciprus ontdek. Argeoloog G. Ernest Wright sê hiervan: “Dit is die enigste vermelding buite die Bybel wat ons van hierdie prokonsul het, en dit is interessant dat Lukas sy naam en titel korrek meld.”18

21, 22. Watter godsdiensgebruike wat in die Bybelverslag gemeld word, is deur argeologiese ontdekkings bevestig?

21 Toe Paulus in Athene was, het hy gesê dat hy ’n altaar gesien het wat “aan ’n onbekende God” gewy is (Handelinge 17:23). Altare wat in Latyn aan naamlose gode gewy is, is in dele van die Romeinse Ryk se gebied ontdek. Die inskripsie op een altaar wat in Pergamus gevind is, was in Grieks, soos dit in Athene die geval sou gewees het.

22 Later, terwyl hy in Efese was, is Paulus gewelddadig teengestaan deur silwersmede wat ’n bestaan gemaak het deur tempels en beelde van die godin Artemis te maak. Efese is “die tempelbewaarder . . . van die groot godin Diana [of, Artemis]” genoem (Handelinge 19:35, vgl. NW). In ooreenstemming hiermee is etlike terra-cotta- en marmerbeeldjies van Artemis op die terrein van antieke Efese ontdek. In die vorige eeu is die oorblyfsels van die groot tempel self opgegrawe.

Die klank van die waarheid

23, 24. (a) Waar vind ons die oortuigendste bewys dat die inhoud van die Christelike Griekse Skrifte waar is? (b) Watter eienskap eie aan die Bybelverslag getuig dat dit waar is? Lig toe.

23 Die geskiedkundige elemente van die Griekse Skrifte word derhalwe deur die geskiedenis en argeologie toegelig en in sekere mate bevestig. Maar weer eens lewer die boeke self die oortuigendste bewys dat hierdie geskrifte waar is. Wanneer jy hulle lees, klink hulle nie soos mites nie. Hulle klink na die waarheid.

24 Vir eers is hulle baie eerlik. Dink aan die verslag oor Petrus. Sy onvermoë om op water te loop, word uitvoerig beskryf, al het dit hom in die verleentheid gebring. Dan sê Jesus vir hierdie uiters gesiene apostel: “Gaan weg agter My, Satan!” (Mattheüs 14:28-31; 16:23). En nadat hy heftig beswaar gemaak het dat hy Jesus nooit sou verlaat nie, al sou al die ander dit doen, het Petrus tydens sy nagwaak aan die slaap geraak en sy Heer toe drie keer verloën.—Mattheüs 26:31-35, 37-45, 73-75.

25. Watter swakhede van die apostels word eerlik deur Bybelskrywers blootgelê?

25 Maar Petrus is nie die enigste wie se swakhede blootgelê word nie. Die eerlike verslag verbloem nie die apostels se gekibbel oor wie van hulle die grootste was nie (Mattheüs 18:1; Markus 9:34; Lukas 22:24). Dit laat ook nie na om ons mee te deel dat die moeder van die apostels Jakobus en Johannes Jesus gevra het om haar seuns die mees begunstigde posisies in sy Koninkryk te gee nie (Mattheüs 20:20-23). Daar word ook getrou vertel van die “sterk verskil” tussen Barnabas en Paulus.—Handelinge 15:36-39, NAV.

26. Watter besonderheid aangaande Jesus se opstanding sou alleenlik as dit die waarheid was in die teks ingesluit gewees het?

26 Dit is ook merkwaardig dat die boek Lukas ons meedeel dat “die vroue wat saam met Hom van Galilea gekom het” eerste van Jesus se opstanding gehoor het. Dit is ’n uiters ongewone besonderheid in die eerste-eeuse gemeenskap wat deur die man oorheers is. Trouens, volgens die verslag het die vroue se woorde vir die apostels “na onsinnige praatjies gelyk” (Lukas 23:55–24:11). As die geskiedenis in die Griekse Skrifte nie waar is nie, moes iemand dit versin het. Maar waarom sou enigiemand ’n verhaal versin het waarin sulke gesiene figure so onvleiend uitgebeeld word? Hierdie besonderhede sou alleenlik in die teks ingesluit gewees het as dit die waarheid was.

Jesus—’n werklike persoon

27. Hoe getuig een geskiedskrywer van die geskiedkundige bestaan van Jesus?

27 Baie het Jesus op grond van hoe hy in die Bybel beskryf word as ’n geïdealiseerde verdigsel beskou. Maar geskiedskrywer Michael Grant sê: “As ons, soos ons behoort te doen, dieselfde maatstawe ten opsigte van die Nuwe Testament gebruik as wat ons ten opsigte van ander ou geskrifte met geskiedkundige inligting moet gebruik, kan ons net so min die bestaan van Jesus verwerp as wat ons die bestaan kan verwerp van ’n menigte heidense persone wie se bestaan as geskiedkundige figure nooit in twyfel getrek word nie.”19

28, 29. Waarom is dit betekenisvol dat die vier Evangelies ’n eenvormige beeld van Jesus se persoonlikheid gee?

28 Die Bybel se beskrywing van nie net Jesus se bestaan nie, maar ook sy persoonlikheid, klink beslis na die waarheid. Dit is nie maklik om ’n buitengewone karakter te versin en hom dan dwarsdeur ’n hele boek konsekwent uit te beeld nie. Dit is feitlik onmoontlik vir vier verskillende skrywers om van dieselfde karakter te skryf en hom konsekwent op dieselfde manier uit te beeld as daardie karakter nooit werklik bestaan het nie. Die feit dat die Jesus wat in al vier Evangelies beskryf word ongetwyfeld dieselfde persoon is, is oortuigende bewys dat die Evangelies waar is.

29 Michael Grant haal ’n uiters gepaste vraag aan: “Waarom verskyn daar, in ál die Evangelietradisies, ’n merkwaardig duidelike beeld van ’n aantreklike jong man wat sonder ’n sweem van sentimentaliteit, gekunsteldheid of preutsheid vryelik rondbeweeg tussen allerhande vroue, met inbegrip van dié wat beslis ’n slegte reputasie het, en tog, in elke opsig, ’n eenvoudige karaktervastheid handhaaf?”20 Die enigste antwoord is dat so ’n man werklik bestaan het en opgetree het soos die Bybel sê.

Waarom hulle nie glo nie

30, 31. Waarom weier baie om, ten spyte van al die getuienis, die geskiedkundige juistheid van die Christelike Griekse Skrifte te aanvaar?

30 Waarom sê party dat die Griekse Skrifte nie ware geskiedenis is nie terwyl daar oortuigende getuienis bestaan dat dit wel is? Waarom weier talle mense wat dele daarvan as eg aanvaar om die hele inhoud daarvan te aanvaar? Dit is hoofsaaklik omdat die Bybel dinge meld wat hedendaagse intellektuele nie wil glo nie. Dit sê byvoorbeeld nie net dat Jesus profetiese voorspellings vervul het nie, maar dat hy dit ook gemaak het. Dit sê ook dat hy wonderwerke gedoen het en dat hy na sy dood opgewek is.

31 In hierdie skeptiese 20ste eeu lyk sulke dinge ongelooflik. Professor Ezra P. Gould sê aangaande wonderwerke: “Sommige van die kritici meen dat hulle met reg een voorbehoud kan stel . . . dat wonderwerke nie plaasvind nie.”21 Party aanvaar dat Jesus moontlik genesings bewerk het, maar slegs psigosomatiese genesings van ‘die gees bo die stoflike’. Die meeste praat die ander wonderwerke weg as òf versinsels òf werklike gebeure wat verdraai is toe dit vertel is.

32, 33. Hoe het party probeer om die feit dat Jesus die groot skare wonderdadig gevoed het weg te praat, maar waarom is dit onlogies?

32 Beskou as ’n voorbeeld hiervan die geleentheid toe Jesus ’n menigte van meer as 5 000 met net ’n paar brode en twee visse gevoed het (Mattheüs 14:14-22). Negentiende-eeuse geleerde Heinrich Paulus het voorgestel dat die volgende in werklikheid gebeur het: Jesus en sy apostels is vergesel deur ’n groot skare wat honger geword het. Toe het hy besluit om ’n goeie voorbeeld vir die rykes onder hulle te stel. Hy het die bietjie kos wat hy en sy apostels gehad het met die skare gedeel. Ander wat kos gebring het, het weldra sy voorbeeld gevolg en hulle kos gedeel. Uiteindelik is die hele skare gevoed.22

33 Maar al is dit ook wat gebeur het, was dit ’n merkwaardige bewys van die krag van goeie voorbeeld. Waarom sou so ’n interessante en sinvolle verhaal verdraai word om dit soos ’n bonatuurlike wonderwerk te laat klink? Trouens, alle soortgelyke pogings om die wonderwerke as iets anders as wonderdadig weg te praat, lewer meer probleme op as wat dit oplos. En hulle is almal op ’n valse veronderstelling gegrond. Hulle begin deur te veronderstel dat wonderwerke onmoontlik is. Maar hoef dit noodwendig die geval te wees?

34. Wat word bewys indien die Bybel werklik akkurate profesieë en verslae van egte wonderwerke bevat?

34 Volgens die redelikste standaarde is die Hebreeuse sowel as die Griekse Skrifte ware geskiedenis, en tog bevat albei voorbeelde van profesieë en wonderwerke. (Vergelyk 2 Konings 4:42-44.) Sê nou die profesieë is eg? En sê nou wonderwerke het werklik plaasgevind? Dan het God inderdaad die opskrifstelling van die Bybel gerig en is dit werklik sy woord, nie die mens s’n nie. In ’n latere hoofstuk sal ons die kwessie van profesieë bespreek, maar kom ons kyk eers na wonderwerke. Is dit in hierdie 20ste eeu redelik om te glo dat wonderwerke wel in vorige eeue plaasgevind het?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 66]

Waarom sou die Bybel sê dat Jesus se opstanding eers deur vroue ontdek is as dit nie werklik gebeur het nie?

[Venster op bladsy 56]

Hedendaagse kritiek te lig bevind

Beskou as ’n voorbeeld van die onsekere aard van hedendaagse Bybelkritiek hierdie opmerkings deur Raymond E. Brown aangaande die Evangelie van Johannes: “Teen die einde van die vorige eeu en in die eerste jare van hierdie eeu was vakkundiges ’n tyd lank uiters skepties oor hierdie Evangelie. Daar is gesê dat Johannes baie laat, selfs in die tweede helfte van die 2de eeu, geskryf is. Omdat dit ’n produk van die Hellenistiese wêreld is, het die gedagte bestaan dat dit hoegenaamd geen geskiedkundige waarde gehad het nie en weinig verband gehou het met die Palestina van Jesus van Nasaret . . .

“Daar is nie een van hierdie standpunte wat nie deur ’n reeks onverwagte argeologiese, dokumentêre en tekstuele ontdekkings geraak is nie. Hierdie ontdekkings het meegebring dat ons die kritiese beskouings wat feitlik ortodoks geword het intelligent betwis en het ons laat besef hoe swak die grondslag van die hoogs skeptiese ontleding van Johannes was. . . . 

“Daar word nou gesê dat die Evangelie teen die einde van die 1ste eeu of selfs vroeër geskryf is. . . . Die heel vreemdste feit is moontlik dat sommige geleerdes dit selfs waag om weer aan die hand te doen dat Johannes die seun van Sebedeüs dalk iets met die Evangelie te doen gehad het”!3

Waarom sou dit vreemd wees om te glo dat Johannes die boek geskryf het wat volgens die oorlewering aan hom toegeskryf word? Alleenlik omdat dit nie met die kritici se vooropgesette menings strook nie.

[Venster op bladsy 70]

Bloot nog ’n aanval op die Bybel

Timothy P. Weber skryf: “Die bevindinge van hoër kritiek het talle leke verplig om te twyfel aan hulle vermoë om enigiets [in die Bybel] te verstaan. . . . A. T. Pierson het die frustrasie van talle evangeliesgesindes verwoord toe hy gesê het dat [hoër kritiek] net ‘soos Rooms-Katolisisme die Woord van God feitlik by die gewone mense afneem deur te veronderstel dat net geleerdes dit kan uitlê; waar Rome ’n priester tussen ’n man en die Woord plaas, plaas kritiek ’n geleerde verklaarder tussen die gelowige en sy Bybel’.”23 Hedendaagse hoër kritiek word dus aan die kaak gestel as bloot nog ’n aanval op die Bybel.

[Prent op bladsy 62]

Hierdie altaar in Pergamus was blykbaar “aan onbekende gode” gewy

[Prent op bladsy 63]

Ruïnes van die eens indrukwekkende tempel van Artemis waarop die Efesiërs so trots was

[Prent op bladsy 64]

Die Bybel meld eerlik dat Petrus Jesus verloën het

[Prent op bladsy 67]

Die Bybel vertel ronduit van die “skerp verskil” tussen Paulus en Barnabas

[Prent op bladsy 68]

Die konsekwentheid waarmee Jesus in die vier Evangelies uitgebeeld word, is ’n oortuigende bewys van hulle egtheid

[Prent op bladsy 69]

Die meeste hedendaagse kritici aanvaar dit as vanself-sprekend dat wonderwerke nie gebeur nie