Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Weerspreek die Bybel homself?

Weerspreek die Bybel homself?

Hoofstuk 7

Weerspreek die Bybel homself?

Die aantyging dat die Bybel homself weerspreek, word dikwels gemaak. Mense wat hierdie aantyging maak, het gewoonlik nie self die Bybel gelees nie; hulle herhaal bloot wat hulle gehoor het. Maar sommige het gedeeltes gevind wat skynbaar egte weersprekings is, en dit kwel hulle.

1, 2. (Sluit die inleiding in.) (a) Watter aantyging word dikwels teen die Bybel gemaak? (b) Wat moet ons onthou wanneer ons verskillende Bybelgedeeltes vergelyk? (c) Wat is party redes waarom twee Bybelskrywers op verskillende maniere van dieselfde gebeurtenis vertel?

AS DIE Bybel werklik die Woord van God is, moet dit harmonies wees, sonder weersprekings. Waarom lyk dit dan asof party gedeeltes ander weerspreek? In antwoord op die vraag moet ons onthou dat die Bybel, hoewel dit die Woord van God is, oor ’n tydperk van etlike eeue deur verskeie manne op skrif gestel is. Hierdie skrywers het verskillende agtergronde, skryfstyle en gawes gehad, en al hierdie verskille word in die geskrifte weerspieël.

2 As twee of meer skrywers dieselfde gebeurtenis bespreek, kan een bowendien besonderhede insluit wat ’n ander weglaat. Daarbenewens benader verskillende skrywers die onderwerp op verskillende maniere. Een skrywer teken dit dalk chronologies op, terwyl ’n ander moontlik ’n ander patroon volg. In hierdie hoofstuk sal ons etlike sogenaamde weersprekings in die Bybel bespreek en kyk hoe hulle deur die inagneming van voormelde oorwegings versoen kan word.

Onafhanklike getuies

3, 4. Watter oënskynlike teenstrydigheid is daar tussen Mattheüs en Lukas se verslae oor die hoofman oor honderd wie se dienskneg siek was, en hoe kan hierdie verslae versoen word?

3 Party “weersprekings” ontstaan wanneer ons twee of meer verslae van dieselfde gebeurtenis het. Ons lees byvoorbeeld in Mattheüs 8:5 dat toe Jesus in Kapernaüm ingekom het ‘’n hoofman oor honderd na Hom gekom en Hom gesmeek het’ om sy kneg te genees. Maar in Lukas 7:3 lees ons dat hierdie hoofman oor honderd “ouderlinge van die Jode na Hom gestuur [het] met die versoek aan [Jesus] dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak”. Het die hoofman oor honderd met Jesus gepraat, of het hy die ouderlinge gestuur?

4 Die antwoord is klaarblyklik dat die man die ouderlinge van die Jode gestuur het. Waarom sê Mattheüs dan dat die man self Jesus gesmeek het? Omdat die man Jesus in werklikheid deur die Joodse ouderlinge gevra het. Die ouderlinge was sy woordvoerders.

5. Waarom sê die Bybel dat Salomo die tempel gebou het terwyl die werk klaarblyklik deur ander gedoen is?

5 Ter toeligting hiervan lees ons in 2 Kronieke 3:1: “En Salomo het die huis van die HERE begin bou in Jerusalem.” Later lees ons: “En toe Salomo die huis van die HERE . . . voltooi het” (2 Kronieke 7:11). Het Salomo die tempel persoonlik begin bou en voltooi? Natuurlik nie. Die werklike bouwerk is deur ’n menigte vakmanne en arbeiders gedoen. Maar Salomo het die werk georganiseer, hy was daarvoor verantwoordelik. Gevolglik sê die Bybel dat hy die huis gebou het. Mattheüs se Evangelie deel ons eweneens mee dat die militêre bevelvoerder Jesus genader het. Maar Lukas verskaf die bykomende besonderheid dat hy hom deur die Joodse ouderlinge genader het.

6, 7. Hoe kan ons die twee verskillende Evangelieverslae oor die versoek van die seuns van Sebedeüs versoen?

6 Hier is ’n soortgelyke voorbeeld. In Mattheüs 20:20, 21 lees ons: “Toe kom die moeder van die seuns van Sebedeüs met haar seuns na [Jesus] en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra.” Wat sy gevra het, was dat haar seuns die mees begunstigde posisie sou hê wanneer Jesus sy Koninkryk ontvang. In Markus se verslag van hierdie selfde gebeurtenis lees ons: “Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeüs, het na [Jesus] gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra” (Markus 10:35-37). Was dit die twee seuns van Sebedeüs wat die versoek tot Jesus gerig het, of was dit hulle moeder?

7 Dit was klaarblyklik die twee seuns van Sebedeüs wat die versoek gerig het, soos Markus sê. Maar hulle het dit deur hulle moeder gedoen. Sy was hulle woordvoerder. Dit word gestaaf deur Mattheüs se verslag dat die ander apostels verontwaardig was teenoor “die twee broers”, nie teenoor die moeder nie, toe hulle gehoor het wat die moeder van die seuns van Sebedeüs gedoen het.—Mattheüs 20:24.

8. Hoe kan twee verskillende verslae oor dieselfde gebeurtenis verskil en tog albei die waarheid wees?

8 Het jy al ooit gehoor hoe twee mense ’n gebeurtenis beskryf wat hulle albei gesien het? Indien wel, het jy opgelet dat elke persoon besonderhede beklemtoon wat hom beïndruk het? Die een het dalk dinge weggelaat wat die ander ingesluit het. Maar albei het die waarheid vertel. Dieselfde geld vir die vier Evangelieverslae van Jesus se bediening, asook vir ander geskiedkundige gebeurtenisse waarvan meer as een Bybelskrywer verslag doen. Elke skrywer het akkurate inligting opgeteken, selfs wanneer een besonderhede behou het wat ’n ander weggelaat het. Deur al die verslae in ag te neem, kan ons ’n vollediger begrip verkry van wat gebeur het. Sulke variasies bewys dat die Bybelverslae onafhanklik is. En hulle wesenlike harmonie bewys dat hulle waar is.

Lees die konteks

9, 10. Hoe help die konteks ons om te sien waar Kain sy vrou gekry het?

9 Oënskynlike teenstrydighede kan dikwels uit die weg geruim word as ons eenvoudig na die konteks kyk. Beskou byvoorbeeld die probleem aangaande Kain se vrou wat dikwels geopper word. In Genesis 4:1, 2 lees ons: “[Eva het] Kain gebaar en gesê: Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE. Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar.” Dit is welbekend dat Kain Abel doodgemaak het; maar ons lees daarna dat Kain ’n vrou en kinders gehad het (Genesis 4:17). Waar het Kain sy vrou gekry as Adam en Eva net twee seuns gehad het?

10 Die oplossing lê in die feit dat Adam en Eva meer as twee kinders gehad het. Volgens die konteks het hulle ’n groot gesin gehad. In Genesis 5:3 lees ons dat Adam nog ’n seun genaamd Set verwek het, en dan, in die volgende vers, lees ons: “Hy het seuns en dogters gehad” (Genesis 5:4). Kain kon dus met een van sy susters of selfs ’n broers- of susterskind getrou het. Op daardie vroeë stadium van die mensegeskiedenis, toe die mensdom so na aan volmaaktheid was, het so ’n huwelik blykbaar nie vir die kinders uit die huwelik die gevare ingehou wat dit vandag sou inhou nie.

11. Op watter sogenaamde meningsverskil tussen Jakobus en die apostel Paulus vestig sommige die aandag?

11 Inagneming van die konteks help ons ook om iets te verstaan wat volgens party ’n meningsverskil tussen die apostel Paulus en Jakobus is. In Efesiërs 2:8, 9 sê Paulus dat Christene gered word deur geloof, nie deur werke nie. Hy sê: “Julle [is] gered, deur die geloof, . . . nie uit die werke nie.” Maar Jakobus hou vol dat werke belangrik is. Hy skryf: “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood” (Jakobus 2:26). Hoe kan hierdie twee verklarings versoen word?

12, 13. Hoe vul Jakobus se woorde dié van die apostel Paulus aan eerder as om dit te weerspreek?

12 As ons die konteks van Paulus se woorde in ag neem, vind ons dat die een verklaring die ander aanvul. Die apostel Paulus praat van die Jode se pogings om die Mosaïese Wet te onderhou. Hulle het geglo dat hulle regverdig sou wees as hulle die Wet tot in die fynste besonderhede onderhou. Paulus het daarop gewys dat dit onmoontlik was. Ons kan onmoontlik deur ons eie werke regverdig word—en sodoende redding verdien—want ons is van nature sondig. Ons kan alleenlik deur geloof in Jesus se losprysoffer gered word.—Romeine 5:18.

13 Maar Jakobus voeg die lewensbelangrike punt by dat geloof op sigself waardeloos is as dit nie deur dade gerugsteun word nie. Iemand wat beweer dat hy geloof in Jesus het, moet dit deur sy werke bewys. ’n Onaktiewe geloof is ’n dooie geloof en sal nie tot redding lei nie.

14. In watter gedeeltes toon Paulus dat hy ten volle saamstem met die beginsel dat ’n lewende geloof deur werke bewys moet word?

14 Die apostel Paulus het ten volle hiermee saamgestem, en hy meld dikwels die soort werke wat Christene as bewys van hulle geloof moet doen. Hy het byvoorbeeld aan die Romeine geskryf: “Want met die hart beoefen ons geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens ’n openbare bekendmaking tot redding.” ’n “Openbare bekendmaking”—die verkondiging van ons geloof aan ander—is noodsaaklik vir redding. (Romeine 10:10, NW; kyk ook 1 Korinthiërs 15:58; Efesiërs 5:15, 21-33; 6:15; 1 Timotheüs 4:16; 2 Timotheüs 4:5; Hebreërs 10:23-25.) Maar ’n Christen kan nie deur enige daad, en beslis nie deur enige poging om die Wet van Moses te onderhou, die reg op die ewige lewe verdien nie. Dit is “die genadegawe van God” aan diegene wat geloof beoefen.—Romeine 6:23; Johannes 3:16.

Verskillende oogpunte

15, 16. Hoe kon Moses sowel as Josua reg gewees het as die een gesê het dat die gebied oos van die Jordaan aan “hierdie kant” van die rivier is en die ander gesê het dat dit aan die “oorkant” is?

15 Soms het die Bybelskrywers uit verskillende oogpunte oor dieselfde gebeurtenis geskryf of het hulle hul verslae op verskillende maniere aangebied. Wanneer hierdie verskille in ag geneem word, kan ander oënskynlike weersprekings maklik verklaar word. ’n Voorbeeld hiervan is in Numeri 35:14 (NW) waar Moses sê dat die gebied oos van die Jordaan “aan hierdie kant van die Jordaan” is. Maar Josua het van die land oos van die Jordaan gepraat en gesê dat dit “oorkant die Jordaan” is (Josua 22:4). Wie is reg?

16 In werklikheid is albei reg. Volgens die verslag in Numeri het die Israeliete nog nie die Jordaanrivier na die Beloofde Land oorgesteek nie, en vir hulle was oos van die Jordaan dus aan “hierdie kant”. Maar Josua het reeds die Jordaan oorgesteek. Hy was nou wes van die rivier, in die land Kanaän. Oos van die Jordaan was dus vir hom aan die “oorkant”.

17. (a) Op watter oënskynlike teenstrydigheid in die eerste twee hoofstukke van Genesis vestig party die aandag? (b) Wat is die basiese rede vir die vermeende teenstrydigheid?

17 Ook die samestelling van ’n verhaal kan ’n oënskynlike weerspreking veroorsaak. In Genesis 1:24-26 sê die Bybel dat die diere voor die mens geskep is. Maar in Genesis 2:7, 19, 20 lyk dit asof die verhaal sê dat die mens voor die diere geskep is. Waarom die teenstrydigheid? Omdat die twee verslae van die skepping dit uit twee verskillende oogpunte bespreek. Die eerste beskryf die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarin is (Genesis 1:1–2:4). Die tweede beklemtoon die skepping van die mens en hul sondeval.—Genesis 2:5–4:26.

18. Hoe kan ons die oënskynlike teenstrydighede tussen die twee skeppingsverslae in die eerste hoofstukke van Genesis versoen?

18 Die eerste verslag is chronologies saamgestel en in ses opeenvolgende “dae” verdeel. Die tweede is in volgorde van aktuele belang geskryf. Na ’n kort inleiding gaan dit logieserwys onmiddellik oor na die skepping van Adam, aangesien hy en sy gesin die onderwerp van die daaropvolgende bespreking is (Genesis 2:7). Ander noodsaaklike inligting word dan bygevoeg. Ons word meegedeel dat Adam na sy skepping in ’n tuin in Eden sou bly. Daarom word die aanplanting van die tuin van Eden nou gemeld (Genesis 2:8, 9, 15). Jehovah beveel Adam om “al die diere van die veld en al die voëls van die hemel” name te gee. Dit is dus nou die tyd om te meld dat “die HERE God” al hierdie skepsele “uit die aarde geformeer” het, hoewel hulle skepping begin het lank voordat Adam op die toneel verskyn het.—Genesis 2:19; 1:20, 24, 26.

Lees die verslag noukeurig

19. Watter skynbare verwarring bestaan in die Bybelverslag oor die verowering van Jerusalem?

19 Soms kan ’n mens oënskynlike weersprekings verklaar bloot deur die verslag noukeurig te lees en te redeneer oor die inligting wat verskaf word. Dit is die geval wanneer ons die verowering van Jerusalem deur die Israeliete beskou. Jerusalem is as ’n deel van Benjamin se erfdeel aangegee, maar ons lees dat die stam van Benjamin dit nie kon verower nie (Josua 18:28; Rigters 1:21). Ons lees ook dat Juda nie in staat was om Jerusalem te verower nie—asof dit ’n deel van dáárdie stam se erfdeel was. Uiteindelik het Juda Jerusalem oorwin en dit met vuur verbrand (Josua 15:63; Rigters 1:8). Maar daar word honderde jare later gesê dat Dawid ook Jerusalem verower het.—2 Samuel 5:5-9.

20, 21. Wat is die geskiedenis van die Hebreeuse verowering van die stad Jerusalem as ’n mens al die verwante besonderhede noukeurig ondersoek?

20 Op die oog af lyk dit dalk alles verwarrend, maar daar is in werklikheid geen weersprekings nie. Trouens, die grens tussen Benjamin se erfdeel en dié van Juda het al met die dal Hinnom langs geloop, dwarsdeur die eertydse stad Jerusalem. Die gedeelte wat later die Stad van Dawid genoem is, was in werklikheid in Benjamin se gebied geleë, net soos Josua 18:28 sê. Maar die Jebusitiese stad Jerusalem het waarskynlik tot anderkant die dal Hinnom uitgebrei en gevolglik met Juda se gebied oorvleuel, sodat Juda ook teen die Kanaänitiese inwoners daarvan moes veg.

21 Benjamin kon nie die stad verower nie. Juda het Jerusalem by een geleentheid wel verower en dit verbrand (Rigters 1:8, 9). Maar Juda se magte het blykbaar verder getrek, en party van die oorspronklike inwoners het die stad weer in besit geneem. Hulle het later ’n weerstandskol gevorm wat nòg Juda nòg Benjamin kon verwyder. Die Jebusiete het dus in Jerusalem gebly totdat Dawid die stad honderde jare later verower het.

22, 23. Wie het Jesus se folterpaal na die teregstellingsplek gedra? 

22 In die Evangelies tref ons ’n tweede voorbeeld aan. Ons lees in Johannes se Evangelie dat Jesus, toe hy uitgelei is om tereggestel te word, “sy [folterpaal] gedra en uitgegaan” het (Johannes 19:17, vgl. NW). Maar in Lukas lees ons: “En toe hulle Hom weglei, neem hulle ’n sekere Simon van Cirene wat van die veld af gekom het, en sit die [folterpaal] op hom om dit agter Jesus aan te dra” (Lukas 23:26, vgl. NW). Het Jesus die voorwerp waaraan hy gesterf het self gedra, of het Simon dit vir hom gedra?

23 Aanvanklik het Jesus blykbaar sy eie folterpaal gedra, soos Johannes sê. Maar later, soos Mattheüs, Markus en Lukas getuig, is Simon van Cirene gedwing om dit verder tot by die teregstellingsplek te dra.

Bewys van onafhanklikheid

24. Waarom is ons nie verbaas as ons ’n paar oënskynlike teenstrydighede in die Bybel vind nie, maar wat moet ons nie daaruit aflei nie?

24 Daar is weliswaar party oënskynlike teenstrydighede in die Bybel wat moeilik is om te versoen. Maar ons moet nie aanneem dat hulle beslis weersprekings is nie. Dit is dikwels bloot ’n geval van gebrek aan volledige inligting. Die Bybel verskaf genoeg kennis om in ons geestelike behoefte te voorsien. Maar as dit ons elke besonderheid oor elke vermelde gebeurtenis moes gee, sou dit ’n groot, lomp biblioteek gewees het in plaas van die gerieflike, draagbare bundel wat ons vandag het.

25. Wat sê Johannes aangaande die verslag oor Jesus se bediening, en hoe help dit ons om te verstaan waarom die Bybel ons nie elke besonderheid oor elke gebeurtenis gee nie?

25 Toe die apostel Johannes van Jesus se bediening gepraat het, het hy met geregverdigde oordrywing geskryf: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie” (Johannes 21:25). Dit sou selfs onmoontliker wees om al die besonderhede van die lang geskiedenis van God se volk, van die aartsvaders tot die eerste-eeuse Christengemeente, op te teken!

26. Die Bybel bevat genoeg inligting om ons van watter lewensbelangrike feit te oortuig?

26 Die Bybel is in werklikheid ’n wonder van samevatting. Dit bevat genoeg inligting om ons daarvan te oortuig dat dit meer as bloot ’n menslike werk is. Enige variasies wat dit bevat, bewys dat die skrywers waarlik onafhanklike getuies was. Daarenteen bewys die merkwaardige harmonie van die Bybel—wat ons in ’n latere hoofstuk uitvoeriger sal bespreek—dat dit ongetwyfeld ’n goddelike oorsprong het. Dit is die woord van God, nie van die mens nie.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 89]

Oënskynlike teenstrydighede in die Bybel bewys dat die skrywers waarlik onafhanklike getuies was

[Lokteks op bladsy 91]

Inagneming van die konteks help dikwels om sogenaamde weersprekings uit die weg te ruim

[Venster op bladsy 93]

“Teenstrydighede” is nie noodwendig weersprekings nie

Kenneth S. Kantzer, ’n teoloog, het eenkeer toegelig hoe twee verslae oor dieselfde gebeurtenis soos ’n weerspreking kan lyk en albei tog waar kan wees. Hy het geskryf: “’n Ruk gelede het ’n dierbare vriend van ons se moeder gesterf. ’n Betroubare gemeenskaplike vriend het ons van haar dood vertel en gesê dat ons vriend se moeder op die straathoek vir ’n bus gestaan en wag het, deur ’n ander, verbygaande bus getref is, noodlottig beseer is en ’n paar minute later gesterf het.”

Kort daarna het hy ’n heeltemal ander verslag gehoor. Hy sê: “Die oorlede vrou se kleinseun het ons vertel dat sy in ’n botsing betrokke was, uit die motor waarin sy gery het, geslinger is en op slag dood is. Die seun was baie seker van sy feite.

“Heelwat later . . . het ons probeer om die twee verslae te versoen. Ons het uitgevind dat die ouma vir ’n bus gewag het, deur ’n ander bus getref is en ernstig beseer is. Sy is in ’n verbygaande motor gelaai en inderhaas na die hospitaal geneem, maar in die haas het die motor waarin sy na die hospitaal vervoer is met ’n ander motor gebots. Sy is uit die motor geslinger en het onmiddellik gesterf.”

Ja, twee verslae oor dieselfde gebeurtenis kan albei waar wees, al lyk dit asof hulle verskil. Dit is soms met die Bybel die geval. Onafhanklike getuies beskryf moontlik verskillende besonderhede van dieselfde gebeurtenis. Maar pleks van teenstrydig te wees, is wat hulle skryf aanvullend, en as ons alle verslae in ag neem, verkry ons ’n beter begrip van wat gebeur het.