Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die wetenskap: Het dit die Bybel verkeerd bewys?

Die wetenskap: Het dit die Bybel verkeerd bewys?

Hoofstuk 8

Die wetenskap: Het dit die Bybel verkeerd bewys?

In 1613 het die Italiaanse wetenskaplike Galileo ’n werk met die titel “Briewe oor sonvlekke” uitgegee. Daarin het hy getuienis aangevoer dat die aarde om die son wentel, en nie die son om die aarde nie. Sodoende het hy ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat op die ou end meegebring het dat hy onder “sterk verdenking van kettery” voor die Rooms-Katolieke Inkwisisie gedaag is. Hy is uiteindelik verplig om sy woorde te “herroep”. Waarom is die gedagte dat die aarde om die son wentel as kettery beskou? Omdat Galileo se aanklaers beweer het dat dit in stryd is met wat die Bybel sê.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Wat het gebeur toe Galileo voorgestel het dat die aarde om die son wentel? (b) Wat vind ons wanneer ons die Bybel met die hedendaagse wetenskap vergelyk, al is die Bybel nie ’n wetenskaphandboek nie?

DAAR word vandag algemeen aangevoer dat die Bybel onwetenskaplik is, en party wys op Galileo se ondervindinge om dit te bewys. Maar is dit die geval? Wanneer ons hierdie vraag beantwoord, moet ons onthou dat die Bybel ’n boek van profesie, geskiedenis, gebed, wette, raad en kennis van God is. Dit maak nie daarop aanspraak dat dit ’n wetenskaphandboek is nie. En tog is die Bybel heeltemal akkuraat wanneer dit wel wetenskaplike sake aanroer.

Ons planeet Aarde

2. Hoe beskryf die Bybel die aarde se posisie in die ruimte?

2 Beskou byvoorbeeld wat die Bybel van ons planeet, die aarde, sê. In die boek Job lees ons: “[God] span die noorde uit oor die leë ruimte, hang die aarde op aan niks” (Job 26:7, NW). Vergelyk dit met Jesaja se woorde wanneer hy sê: “Hy sit bo die kring van die aarde” (Jesaja 40:22). Die beeld wat oorgedra word, naamlik van ’n ronde aarde wat in “die leë ruimte” ‘aan niks hang’, herinner ons baie aan die foto’s wat ruimtevaarders geneem het van die sfeer van die aarde wat in die leë ruimte hang.

3, 4. Wat is die aarde se watersiklus, en wat sê die Bybel daaromtrent?

3 Beskou ook die aarde se verbasende watersiklus. Compton’s Encyclopedia beskryf soos volg wat gebeur: “Water . . . verdamp van die oppervlak van die oseane af in die atmosfeer in . . . Voortdurend bewegende lugstrome in die aarde se atmosfeer voer die vogtige lug na die binneland. Wanneer die lug afkoel, kondenseer die damp en vorm dit waterdruppeltjies. Dit word gewoonlik as wolke gesien. Dikwels kom die druppeltjies saam en vorm hulle reëndruppels. As die atmosfeer koud genoeg is, word sneeuvlokkies in plaas van reëndruppels gevorm. Hoe dit ook sy, water wat van ’n oseaan honderde of selfs duisende kilometers daarvandaan gekom het, val op die aarde se oppervlak. Daar vorm dit strome of trek dit in die grond in en begin dit weer die tog na die see.”1

4 Hierdie merkwaardige proses, wat die lewe op droë grond moontlik maak, is ongeveer 3 000 jaar gelede in die Bybel raak beskryf, in eenvoudige, onomwonde taal: “Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.”—Prediker 1:7.

5. Hoe kom die psalmis se kommentaar oor die geskiedenis van die aarde se berge merkwaardig ooreen met hedendaagse bevindinge?

5 Die Bybel se insig in die geskiedenis van berge is moontlik selfs merkwaardiger. ’n Geologiehandboek sê: “Van voor-Kambriese tye tot nou toe het die onophoudelike proses waardeur berge gevorm en vernietig word, voortgeduur. . . . Berge het nie net op die bodem van verdwene seë ontstaan nie, maar dikwels was hulle nog lank nadat hulle gevorm is deur water bedek en het hulle dan weer gestyg.”2 Vergelyk dit met die digterlike taal van die psalmis: “U het [die aarde] met die wêreldvloed soos met ’n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. Berge het opgerys, laagtes het weggesak—na die plek wat U vir hulle reggemaak het.”—Psalm 104:6, 8.

“In die begin”

6. Watter Bybelse verklaring strook met huidige wetenskaplike teorieë oor die oorsprong van die heelal?

6 Die heel eerste vers van die Bybel sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Wetenskaplikes het op grond van waarnemings teorieë opgestel dat die stoflike heelal inderdaad ’n begin gehad het. Dit het nie altyd bestaan nie. Sterrekundige Robert Jastrow, ’n agnostikus wat godsdienssake betref, het geskryf: “Die besonderhede verskil, maar die wesenlike aspekte van die astronomiese verslag en die Bybelse Genesisverhaal is dieselfde: die reeks gebeurtenisse wat die mens se bestaan voorafgegaan het, het skielik en duidelik op ’n vasgestelde oomblik, in ’n straal van lig en energie, begin.”3

7, 8. Wat is talle wetenskaplikes verplig om oor die oorsprong van die heelal te erken al wil hulle nie God se rol daarin erken nie?

7 Hoewel baie wetenskaplikes meen dat die heelal ’n begin gehad het, aanvaar hulle weliswaar nie die verklaring dat ‘God geskape het’ nie. Nietemin erken party nou dat dit moeilik is om die getuienis te ignoreer dat daar die een of ander soort intelligensie agter alles is. Fisikaprofessor Freeman Dyson sê: “Hoe meer ek die heelal ondersoek en die besonderhede van sy argitektuur bestudeer, hoe meer getuienis vind ek dat die heelal in sekere sin moes geweet het dat ons kom.”

8 Dyson erken voorts: “As wetenskaplike, wat opgelei is volgens die denkrigtings en taal van die twintigste eeu en nie volgens dié van die agttiende nie, sê ek nie dat die argitektuur van die heelal die bestaan van God bewys nie. Ek sê bloot dat die argitektuur van die heelal ooreenstem met die hipotese dat intellek ’n noodsaaklike rol in die werking daarvan speel.”4 Sy kommentaar lig beslis die skeptiese gesindheid van ons tyd toe. Maar as ’n mens daardie skeptisisme opsyskuif, sien jy dat die hedendaagse wetenskap merkwaardig ooreenstem met die Bybel se woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.

Gesondheid en sanitasie

9. Hoe weerspieël die Bybel se wet oor aansteeklike velsiektes praktiese wysheid? (Job 12:9, 16a, NW).

9 Beskou die Bybel se dekking van nog ’n onderwerp: gesondheid en sanitasie. As ’n Israeliet ’n letsel op sy vel gehad het wat vermoedelik melaatsheid was, is hy afgesonder. “Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Onrein is hy; alleen moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees” (Levitikus 13:46). Selfs besmette klere is verbrand (Levitikus 13:52). Dit was destyds ’n doeltreffende manier om te voorkom dat die infeksie versprei.

10. In watter opsig sou toepassing van die Bybel se raad oor higiëne baie mense in party lande tot voordeel strek?

10 Nog ’n belangrike wet het te doen gehad met die wegdoening van menslike uitwerpsels, wat buite die laer begrawe moes word (Deuteronomium 23:12, 13). Hierdie wet het Israel ongetwyfeld talle siektes gespaar. Selfs vandag word ernstige gesondheidsprobleme in party lande veroorsaak omdat daar nie op ’n behoorlike manier van menslike uitwerpsels ontslae geraak word nie. As mense in daardie lande maar net die wet volg wat duisende jare gelede in die Bybel opgeteken is, sal hulle baie gesonder wees.

11. Toetse het getoon dat watter Bybelse raad oor geestesgesondheid prakties is?

11 Die Bybel se hoë standaard van higiëne het selfs geestesgesondheid ingesluit. ’n Bybelspreuk het gesê: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar [jaloesie] ’n verrotting vir die gebeente” (Spreuke 14:30, vgl. NW). Mediese navorsing het in die laaste jare bewys dat ons geestesgesindheid beslis ons liggaamlike gesondheid beïnvloed. Doktor C. B. Thomas van die Johns Hopkins-Universiteit het byvoorbeeld oor ’n tydperk van 16 jaar meer as duisend gegradueerdes bestudeer en hulle sielkundige karaktertrekke met hulle vatbaarheid vir siektes vergelyk. Sy het een ding opgemerk: Die gegradueerdes wat kwater en meer beangs was wanneer hulle onder druk geplaas is, was vatbaarder vir siekte.5

Wat sê die Bybel?

12. Waarom het die Katolieke Kerk volgehou dat Galileo se teorie oor die aarde kettery was?

12 Waarom het die Katolieke Kerk gesê dat Galileo se leer dat die aarde om die son wentel onskriftuurlik was as die Bybel op die gebied van die wetenskap so akkuraat is? Vanweë die manier waarop die gesaghebbendes sekere Bybelverse uitgelê het.6 Was hulle reg? Kom ons lees twee van die gedeeltes wat hulle aangehaal het en kyk.

13, 14. Watter Bybelverse het die Katolieke Kerk verkeerd toegepas? Verduidelik.

13 Een gedeelte sê: “Die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan” (Prediker 1:5). Volgens die Kerk se argument beteken uitdrukkings soos “die son gaan op” en “die son gaan onder” dat die son, nie die aarde nie, beweeg. Maar selfs vandag sê ons dat die son opgaan en ondergaan, en die meeste van ons weet dat dit die aarde is wat beweeg, nie die son nie. Wanneer ons sulke uitdrukkings gebruik, beskryf ons bloot die skynbare beweging van die son soos dit vir ’n menslike waarnemer lyk. Die Bybelskrywer het presies dieselfde gedoen.

14 Die ander gedeelte sê: “Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Die Kerk se uitlegging hiervan was dat die aarde nooit kon beweeg nadat dit geskep is nie. Maar in werklikheid beklemtoon die vers die blywendheid van die aarde, nie die onbeweeglikheid daarvan nie. Die aarde sal nooit “wankel” wat sy bestaan betref oftewel vernietig word nie, soos ander Bybelverse bevestig (Psalm 37:29; Prediker 1:4). Hierdie teks het ook niks te doen met die relatiewe beweging van die aarde en die son nie. In Galileo se tyd was dit die Kerk, nie die Bybel nie, wat vrye wetenskaplike bespreking verhinder het.

Evolusie en die skepping

15. Wat is die evolusieteorie, en hoe weerspreek dit die Bybel?

15 Baie sal egter sê dat daar ’n gebied is waarop die hedendaagse wetenskap en die Bybel dit hopeloos oneens is. Die meeste wetenskaplikes glo die evolusieteorie, waarvolgens alle lewende dinge geëvolueer het uit ’n eenvoudige lewensvorm wat miljoene jare gelede ontstaan het. Die Bybel sê daarenteen dat elke vername groep lewende dinge spesiaal geskep is en slegs “volgens hulle soorte” voortplant. Dit sê dat die mens “uit die stof van die aarde” geskep is (Genesis 1:21; 2:7). Is dit ’n wetenskaplike flater in die Bybel? Kom ons beskou van naderby wat die wetenskap weet, in teenstelling met wat dit teoretiseer, voordat ons besluit.

16-18. (a) Watter waarneming van Charles Darwin het hom in evolusie laat glo? (b) Hoe kan ons sê dat wat Darwin op die Galapagos-eilande gesien het nie strydig is met wat die Bybel sê nie?

16 Die evolusieteorie is gedurende die vorige eeu deur Charles Darwin gewild gemaak. Toe Darwin op die Galapagos-eilande in die Stille Oseaan was, is hy baie beïndruk deur die verskillende vinksoorte op die verskillende eilande. Hy het afgelei dat hulle almal van net een voorouerlike spesie moes afgestam het. Deels as gevolg van hierdie waarneming het hy die teorie gepropageer dat alle lewende dinge van een oorspronklike, eenvoudige vorm kom. Hy het beweer dat natuurlike teeltkeuse, die oorlewing van die geskikste, meebring dat hoër lewensvorme uit laer lewensvorme evolueer. Hy het beweer dat landdiere, danksy evolusie, uit visse ontwikkel het, voëls uit reptiele, ensovoorts.

17 In werklikheid was dít wat Darwin op daardie afgesonderde eilande gesien het nie strydig met die Bybel nie, wat verskeidenheid binne ’n vername lewende soort toelaat. Al die menserasse het byvoorbeeld van net een oorspronklike mensepaar gekom (Genesis 2:7, 22-24). Dit is dus glad nie vreemd dat daardie verskillende vinksoorte uit ’n gemeenskaplike, voorouerlike spesie sou ontstaan nie. Maar hulle het vínke gebly. Hulle het nie tot valke of arende geëvolueer nie.

18 Nòg die verskeie vinksoorte, nòg enigiets anders wat Darwin gesien het, het bewys dat alle lewende dinge, hetsy haaie of seemeeue, olifante of erdwurms, ’n gemeenskaplike voorouer het. Nietemin beweer baie wetenskaplikes dat evolusie nie meer bloot ’n teorie is nie, maar dat dit ’n feit is. Hoewel ander die teorie se probleme erken, sê hulle dat hulle dit in elk geval glo. Hulle gaan eenvoudig saam met die stroom. Maar dit is belangrik dat ons uitvind of evolusie dermate bewys is dat die Bybel verkeerd moet wees.

Is dit bewys?

19. Staaf die fossielverslag evolusie of die skepping?

19 Hoe kan die evolusieteorie op die proef gestel word? Die vanselfsprekendste manier is om die fossielverslag te ondersoek om te sien of ’n geleidelike verandering van een soort tot ’n ander werklik plaasgevind het. Het dit? Nee, soos etlike wetenskaplikes eerlik erken. Een van hulle, Francis Hitching, skryf: “Wanneer jy na skakels tussen die vernaamste diergroepe soek, is hulle eenvoudig nie daar nie.”7 Hierdie gebrek aan getuienis in die fossielverslag is so duidelik dat evolusioniste met alternatiewe vir Darwin se teorie van geleidelike verandering vorendag gekom het. Maar in werklikheid staaf die skielike verskyning van diersoorte in die fossielverslag spesiale skepping baie meer as wat dit evolusie staaf.

20. Waarom is dit op grond van die voortplanting van lewende selle onmoontlik dat evolusie kan plaasvind?

20 Bowendien toon Hitching dat lewende skepsele geprogrammeer is om hulself volgens ’n vaste patroon voort te plant en nie om tot iets anders te evolueer nie. Hy sê: “Lewende selle verdubbel hulself met feitlik algehele getrouheid. Die afwykings is so gering dat geen mensgemaakte masjien naastenby so akkuraat kan wees nie. Daar is ook ingeboude beperkings. Plante bereik ’n sekere grootte en word nie groter nie. Vrugtevlieë weier in enige omstandighede wat tot dusver geskep kon word om enigiets behalwe vrugtevlieë te word.”8 Mutasies in vrugtevlieë wat deur talle dekades heen deur wetenskaplikes tot stand gebring is, kon hierdie mutante nie dwing om tot iets anders te evolueer nie.

Die oorsprong van lewe

21. Watter gevolgtrekking wat deur Louis Pasteur bewys is, is vir evolusioniste ’n ernstige probleem?

21 Nog ’n netelige vraag wat evolusioniste nie beantwoord het nie, is: Wat was die oorsprong van lewe? Hoe het die eerste eenvoudige lewensvorm—waarvan ons almal kwansuis afgestam het—ontstaan? Dit sou eeue gelede nie ’n probleem gewees het nie. Die meeste mense het toe gedink dat vlieë uit verrottende vleis kan ontstaan en dat ’n hoop ou lappe vanself muise kan voortbring. Maar die Franse chemikus Louis Pasteur het meer as honderd jaar gelede duidelik getoon dat lewe slegs van vooraf bestaande lewe kan kom.

22, 23. Hoe het lewe volgens evolusioniste begin, maar wat toon die feite?

22 Hoe verklaar evolusioniste dan die bron van lewe? Volgens die gewildste teorie het ’n toevallige kombinasie van chemikalieë en energie miljoene jare gelede meegebring dat lewe spontaan ontstaan het. Wat van die beginsel wat Pasteur bewys het? The World Book Encyclopedia verduidelik: “Pasteur het getoon dat lewe nie spontaan kan ontstaan in die chemiese en fisiese toestande wat vandag op die aarde heers nie. Maar miljarde jare gelede was die chemiese en fisiese toestande op die aarde baie anders”!9

23 Selfs in heeltemal ander toestande is daar egter ’n reusegaping tussen dooie materie en die eenvoudigste lewende ding. Michael Denton sê in sy boek Evolution: A Theory in Crisis: “Tussen ’n lewende sel en die ordelikste nie-biologiese stelsel, soos ’n kristal of ’n sneeuvlokkie, is daar die grootste en mins oorbrugbare kloof denkbaar.”10 Die idee dat dooie materie op die een of ander manier toevallig lewend kon word, is so vergesog dat dit onmoontlik is. Die Bybel se verduideliking, dat ‘lewe van lewe gekom het’ in soverre dat lewe deur God geskep is, strook oortuigend met die feite.

Waarom nie die skepping nie

24. Waarom hou die meeste wetenskaplikes ondanks die probleme van die evolusieteorie steeds daaraan vas?

24 Geloof in die skepping word vandag, ondanks die probleme wat met die evolusieteorie gepaard gaan, as onwetenskaplik, selfs eksentriek, beskou. Waarom is dit die geval? Waarom verwerp selfs ’n gesaghebbende soos Francis Hitching, wat eerlik op die swakhede van evolusie wys, die skeppingsidee?11 Michael Denton verduidelik dat evolusie, met al die tekortkominge daarvan, steeds aan mense geleer sal word omdat teorieë wat met die skepping verband hou “onteenseglik op bonatuurlike oorsake berus”.12 Met ander woorde, die feit dat die skepping ’n Skepper behels, maak dit onaanvaarbaar. Dit is tog dieselfde soort sirkelredenasie wat ons in die geval van wonderwerke teëgekom het: Wonderwerke is onmoontlik omdat hulle wonderdadig is!

25. Watter swakheid van evolusie toon dat dit, wetenskaplik gesproke, nie as ’n verklaring van die oorsprong van lewe ’n geldige alternatief vir die skepping is nie?

25 Buitendien is die evolusieteorie self uit ’n wetenskaplike oogpunt uiters verdag. Michael Denton sê voorts: “Omdat [Darwin se evolusieteorie] in wese ’n teorie van geskiedkundige herbouing is, is dit onmoontlik om dit, soos gebruiklik in die wetenskap, deur ’n eksperiment of regstreekse waarneming te bevestig. . . . Bowendien behandel die evolusieteorie ’n reeks unieke gebeurtenisse, die oorsprong van lewe, die oorsprong van intelligensie, ensovoorts. Unieke gebeurtenisse is onherhaalbaar en kan geensins eksperimenteel ondersoek word nie.”13 In werklikheid is die evolusieteorie, ondanks die gewildheid daarvan, vol leemtes en probleme. Dit verskaf geen geldige rede om die Bybel se verslag oor die oorsprong van lewe te verwerp nie. Die eerste hoofstuk van Genesis bevat ’n heeltemal redelike verslag oor hoe hierdie “onherhaalbare” “unieke gebeurtenisse” plaasgevind het gedurende ‘skeppingsdae’ wat millenniums geduur het. *

Wat van die Vloed?

26, 27. (a) Wat sê die Bybel van die Vloed? (b) Waarvandaan moes die vloedwaters gedeeltelik gekom het?

26 Baie meld nog ’n sogenaamde teenstrydigheid tussen die Bybel en die hedendaagse wetenskap. In die boek Genesis lees ons dat die mense duisende jare gelede so goddeloos was dat God hom voorgeneem het om hulle te vernietig. Maar hy het die regverdige man Noag beveel om ’n groot houtvaartuig, ’n ark, te bou. Toe het God ’n vloed oor die mensdom gebring. Net Noag en sy gesin, tesame met verteenwoordigers van al die dierespesies, het dit oorleef. Die Vloed was so groot dat dit “al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het”.—Genesis 7:19, NAV.

27 Waar het al die water vandaan gekom om die hele aarde te bedek? Die Bybel antwoord self. Vroeg in die skeppingsproses, toe die uitspansel van die atmosfeer begin vorm aanneem het, was daar “waters . . . onder die uitspansel” en “waters . . . bo die uitspansel” (Genesis 1:7; 2 Petrus 3:5). Volgens die Bybel het die volgende tydens die Vloed gebeur: “Die sluise van die hemel is geopen” (Genesis 7:11). Klaarblyklik het die “waters . . . bo die uitspansel” neergestort en baie van die water vir die watervloed voorsien.

28. Hoe het eertydse knegte van God, waaronder Jesus, die Vloed beskou?

28 Hedendaagse handboeke is dikwels skepties oor ’n universele vloed. Ons moet dus vra: Is die Vloed net ’n mite, of het dit werklik plaasgevind? Voordat ons daardie vraag beantwoord, moet ons daarop let dat latere aanbidders van Jehovah die Vloed as ware geskiedenis aanvaar het; hulle het dit nie as ’n mite beskou nie. Onder meer Jesaja, Jesus, Paulus en Petrus het daarvan gepraat as iets wat werklik plaasgevind het (Jesaja 54:9; Mattheüs 24:37-39; Hebreërs 11:7; 1 Petrus 3:20, 21; 2 Petrus 2:5; 3:5-7). Maar daar is vrae wat aangaande hierdie universele sondvloed beantwoord moet word.

Die vloedwaters

29, 30. Watter feite aangaande die aarde se watervoorraad toon dat die Vloed wel kon plaasgevind het?

29 Ten eerste, is die gedagte dat die hele aarde oorstroom is nie te vergesog nie? Nie werklik nie. Trouens, die aarde is in sekere mate steeds oorstroom. Sewentig persent daarvan word deur water bedek en net 30 persent is droë grond. Bowendien maak 75 persent van die aarde se vars water deel uit van gletsers en poolyskappe. As al hierdie ys sou smelt, sou die seevlak baie hoër styg. Stede soos New York en Tokio sou verdwyn.

30 Verder sê The New Encyclopædia Britannica: “Die gemiddelde diepte van al die seë is na raming 3 790 meter (12 430 voet), ’n syfer wat aansienlik groter is as dié van die gemiddelde hoogte van die land bo die seespieël, naamlik 840 meter (2 760 voet). As elke gemiddelde diepte met sy onderskeie oppervlakte vermenigvuldig word, is die volume van die Wêreldoseaan 11 keer groter as die volume van die land bo die seespieël.”14 As alles gelykgemaak word—as die berge platgestoot en die diep oseaanbekkens opgevul word—sal die see die hele aarde dus met duisende meters bedek.

31. (a) Watter toestande op die aarde was ’n voorvereiste vir die Vloed? (b) Wat toon dat dit moontlik is dat die berge voor die Vloed laer en die oseaanbekkens vlakker was?

31 Die Vloed sou slegs kon plaasvind as die oseaanbekkens voor die Vloed vlakker en die berge laer was as wat hulle nou is. Kon dit moontlik wees? Wel, een handboek sê: “Waar die berge van die wêreld nou duiselingwekkend hoog is, was oseane en vlaktes vroeër, miljoene jare gelede, ’n plat, eentonige uitgestrektheid. . . . Die bewegings van die kontinentale plate laat die land enersyds styg tot hoogtes waar net die gehardste diere en plante kan voortbestaan en andersyds daal sodat die prag daarvan diep onder die oppervlak van die see verborge lê.”15 Aangesien die berge en oseaanbekkens styg en daal, is dit duidelik dat die berge vroeër nie so hoog was as wat hulle nou is nie en dat die groot oseaanbekkens nie so diep was nie.

32. Wat moes met die waters van die Vloed gebeur het? Verduidelik.

32 Wat het na die Vloed met die vloedwaters gebeur? Dit moes in die oseaanbekkens saamgevloei het. Hoe? Wetenskaplikes meen dat die vastelande op groot plate rus. As hierdie plate beweeg, kan dit die vlak van die aarde se oppervlak laat verander. Daar is vandag op sommige plekke groot onderwatertrôe wat by die plaatgrense meer as tien kilometer diep is.16 Dit is—moontlik as direkte gevolg van die Vloed self—heel waarskynlik dat die plate beweeg het, die seebodem gedaal en die groot trôe oopgegaan het, met die gevolg dat die water van die land kon afloop. *

Tekens van die Vloed?

33, 34. (a) Oor watter getuienis wat moontlik die Vloed staaf, beskik wetenskaplikes reeds? (b) Is dit redelik om te sê dat wetenskaplikes die getuienis moontlik verkeerd vertolk?

33 Gestel ons erken dat ’n groot vloed kon plaasgevind het. Waarom het wetenskaplikes geen teken daarvan gevind nie? Dalk het hulle, maar hulle verklaar die getuienis op ’n ander manier. Die ortodokse wetenskap sê byvoorbeeld dat die oppervlak van die aarde gedurende ’n reeks ystye op talle plekke deur kragtige gletsers gevorm is. Maar skynbare getuienis van gletseraktiwiteit kan soms die gevolg van waterwerking wees. Heel waarskynlik word van die getuienis van die Vloed dus verkeerdelik as getuienis van ’n ystyd vertolk.

34 Soortgelyke foute is al gemaak. Ons lees aangaande die tyd toe wetenskaplikes hulle teorie oor ystye ontwikkel het: “Hulle het hul deur die filosofie van gelykvormigheid laat lei en ystye in elke stadium van die geologiese geskiedenis gevind. Maar op grond van sorgvuldige herondersoek van die getuienis in onlangse jare is baie van hierdie ystye verwerp; formasies wat vroeër as gletserpuinhope geidentifiseer is, is hervertolk as lae wat neergelê is deur modderstrome, ondersese grondverskuiwings en troebeldigtheidstrome: toestromings troebel water wat slik, sand en gruis oor die diepseebodem versprei.”18

35, 36. Watter getuienis in die fossielverslag en geologie hou dalk met die Vloed verband? Verduidelik.

35 Daar is blykbaar nog ’n bewys van die Vloed in die fossielverslag. Volgens hierdie verslag het groot sabeltandtiers eens hul prooi in Europa bekruip, het perde groter as enige wat nou lewe eens in Noord-Amerika rondgetrek en het mammoete eens in Siberië kos gesoek. Toe het soogdierspesies in alle wêrelddele uitgesterf. Daar was terselfdertyd ’n skielike klimaatsverandering. Tienduisende mammoete het in Siberië doodgegaan en vinnig gevries. * Alfred Wallace, die bekende tydgenoot van Charles Darwin, het gemeen dat so ’n wydverspreide vernietiging deur ’n buitengewone wêreldgebeurtenis veroorsaak is.19 Talle het aangevoer dat hierdie gebeurtenis die Vloed was.

36 ’n Hoofartikel in die tydskrif Biblical Archaeologist het gesê: “Dit is belangrik om te onthou dat die verhaal van ’n groot vloed een van die wyds verspreide tradisies in die mensekultuur is . . . En tog is die oudste tradisies wat in Nabye-Oosterse bronne gevind word heel moontlik gegrond op ’n werklike vloed van reusagtige afmetinge wat uit een van die reëntydperke . . . derduisende jare gelede dateer.”20 Die reëntydperke was tye toe die oppervlak van die aarde baie natter as nou was. Varswatermere oor die hele wêreld was baie groter. Volgens die teorie is die nattigheid veroorsaak deur swaar reën wat met die einde van die ystye gepaard gegaan het. Maar party het voorgestel dat een van die gevalle van uitermatige nattigheid van die aarde se oppervlak ’n gevolg van die Vloed was.

Die mensdom het nie vergeet nie

37, 38. Hoe toon een wetenskaplike dat die Vloed, volgens die getuienis, moontlik plaasgevind het, en hoe weet ons dat dit wel plaasgevind het?

37 Geologieprofessor John McCampbell het eenkeer geskryf: “Die wesenlike verskille tussen Bybelse katastrofisme [die Vloed] en evolusionêre uniformitarianisme is nie op die feitelike gegewens van geologie gegrond nie, maar op die vertolking van daardie gegewens. Die voorkeurvertolking sal grootliks afhang van die individuele student se agtergrond en vooronderstellings.”21

38 Dat die Vloed wel plaasgevind het, blyk uit die feit dat die mensdom dit nooit vergeet het nie. Oor die hele wêreld, op plekke so ver van mekaar soos Alaska en die Suidsee-eilande, is daar ou verhale daaroor. Inheemse, pre-Columbiaanse beskawings van Amerika, sowel as inboorlinge van Australië, het almal verhale van die Vloed. Hoewel die besonderhede van party van die verhale verskil, bevat feitlik al die weergawes die basiese feit dat die aarde oorstroom is en slegs ’n paar mense in ’n mensgemaakte vaartuig gered is. Die enigste verklaring vir so ’n wydverspreide aanvaarding is dat die Vloed ’n geskiedkundige gebeurtenis was. *

39. Watter bykomende bewys het ons gesien van die feit dat die Bybel God se woord is, nie die mens s’n nie?

39 Wat basiese aspekte betref, strook die Bybel dus met die hedendaagse wetenskap. Waar daar ’n teenstrydigheid tussen die twee is, is die wetenskaplikes se getuienis twyfelagtig. Waar hulle ooreenstem, is die Bybel dikwels so akkuraat dat ons eenvoudig moet glo dat die inligting daarin van ’n bomenslike intelligensie verkry is. Trouens, die feit dat die Bybel met bewese wetenskap ooreenstem, is ’n verdere bewys dat dit God se woord is, nie die mens s’n nie.

[Voetnote]

^ par. 25 Daar is ’n baie uitvoeriger bespreking van evolusie en die skepping in die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? wat in 1985 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is.

^ par. 32 Die boek Planet Earth—Glacier vestig die aandag op die manier waarop water in die vorm van ysplate die oppervlak van die aarde indruk. Dit sê byvoorbeeld: “As die ys van Groenland af sou verdwyn, sal die eiland uiteindelik sowat [600 meter] lig.” Met die oog hierop is dit heel moontlik dat ’n skielike, aardwye vloed ’n katastrofiese uitwerking op dele van die aardkors gehad het.17

^ par. 35 Volgens een raming was dit vyfmiljoen.

^ par. 38 Kyk Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., Deel 1, bladsye 327, 328 en 609-612, vir meer inligting oor die Vloed.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 105]

“Uit die stof”

“The World Book Encyclopedia” sê: “Al die chemiese elemente waaruit lewende dinge bestaan, is ook in dooie materie aanwesig.” Met ander woorde, die basiese chemikalieë waaruit lewende organismes, waaronder die mens, bestaan, word ook in die aarde self aangetref. Dit strook met die Bybel se woorde: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde.”—Genesis 2:7.

[Venster op bladsy 107]

‘Na God se beeld’

Party wys op liggaamlike ooreenkomste tussen die mens en party van die diere om te bewys dat hulle verwant is. Maar hulle moet saamstem dat die mens se verstandelike vermoë dié van enige dier ver oortref. Waarom het die mens die vermoë om planne te beraam en die wêreld om hom te reël, die vermoë om lief te hê, ’n hoë intelligensie, ’n gewete en ’n begrip van die verlede, die hede en die toekoms? Evolusie kan hierdie vraag nie beantwoord nie. Maar die Bybel beantwoord dit wel wanneer dit sê: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape” (Genesis 1:27). Wat die mens se verstandelike en sedelike vermoëns en potensiaal betref, is hy ’n weerspieëling van sy hemelse Vader.

[Prent op bladsy 99]

Die Bybel se beskrywing van die aarde wat in die ruimte hang, stem baie goed ooreen met wat ruimtevaarders gesien het

[Prent op bladsy 102]

Die Bybel sê niks oor die vraag of die aarde om die son wentel of die son om die aarde wentel nie

[Prent op bladsy 112, 113]

As die aarde gelykgemaak word, met geen berge of afgronde nie, sal ’n diep laag water dit geheel en al bedek

[Prent op bladsy 114]

Mammoete wat vinnig na hulle dood gevries het, is gevind

[Prent op bladsy 115]

Louis Pasteur het bewys dat lewe net van reeds bestaande lewe kan kom

[Diagram/Prent op bladsy 109]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Bybel gee ’n akkurate beskrywing van die aarde se watersiklus