Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Opstand in die geesteryk

Opstand in die geesteryk

Toe Satan ’n slang gebruik het om met Eva te praat, het sy haar by hom geskaar in sy opstand teen God

Al die geespersone wat Jehovah geskep het, was goed. Toe het een engel sleg geword. Hy is Satan die Duiwel. Satan wou hê dat mense op die aarde hom moes aanbid, pleks van Jehovah. Dit is wat gebeur het:

In die tuin van Eden was daar baie bome wat heerlike vrugte gedra het. Jehovah het vir Adam en sy vrou, Eva, gesê dat hulle vrylik daarvan kon eet. Maar daar was een boom waarvan God gesê het hulle nie mag eet nie. Hy het gesê dat as hulle daarvan sou eet, hulle sekerlik sou sterf.—Genesis 2:9, 16, 17.

Eendag was Eva alleen toe ’n slang met haar gepraat het. Dit was natuurlik nie werklik die slang wat gepraat het nie; dit was Satan die Duiwel wat dit laat lyk het of die slang praat. Satan het vir Eva gesê dat sy soos God wys sal wees as sy van die verbode vrug sou eet. Hy het ook gesê dat sy nie sou sterf nie. Albei hierdie bewerings was leuens. Eva het Satan nogtans geglo en die vrug geëet. Later het sy daarvan aan Adam gegee, en hy het ook geëet.—Genesis 3:1-6.

Uit hierdie ware verhaal leer ons dat Satan ’n opstandeling en ’n leuenaar is. Hy het vir Eva gesê dat sy nie sou sterf as sy aan God ongehoorsaam sou wees nie. Dit was ’n leuen. Sy het wel gesterf en Adam het ook gesterf. Satan het nie toe gesterf nie, hoewel hy uiteindelik sal sterf omdat hy gesondig het. Intussen leef hy egter nog en gaan hy voort om die mensdom te verlei. Hy is steeds ’n leuenaar, en hy probeer mense sover kry om God se wette te verbreek.—Johannes 8:44.

Ander engele kom in opstand

Later het ander engele sleg geword. Hierdie engele het die mooi vroue op die aarde gesien en wou met hulle geslagsgemeenskap hê. Hulle het dus aarde toe gekom en menslike liggame as mans aangeneem. Toe het hulle die vroue vir hulle geneem. Dit was in stryd met God se voorneme.—Genesis 6:1, 2; Judas 6.

Goddelose engele het na die aarde gekom om onsedelike dade met vroue te pleeg

Dit het ook baie probleme vir die mensdom veroorsaak. Die vrouens van hierdie engele het kinders gebaar, maar hulle was nie normale kinders nie. Hulle het gewelddadige en wrede reuse geword. Uiteindelik was die aarde so vol geweld dat Jehovah besluit het om die goddelose mense deur ’n groot vloed te vernietig. Die enigste mense wat die Vloed oorleef het, was regverdige Noag en sy gesin.—Genesis 6:4, 11; 7:23.

Die goddelose engele het egter na die geesteryk teruggekeer; hulle het nie gesterf nie. Maar hulle is gestraf. Hulle is nie toegelaat om na God se gesin van regverdige engele terug te keer nie. Verder het Jehovah hulle nie meer toegelaat om menslike liggame aan te neem nie. En hulle sal uiteindelik in die groot oordeel sterf.—2 Petrus 2:4; Judas 6.

Satan word uit die hemel gewerp

Satan en sy slegte engele is uit die hemel gewerp

In die vroeë deel van ons eeu was daar ’n oorlog in die hemel. Die Bybelboek Openbaring beskryf wat gebeur het: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael [die verrese Jesus Christus] en sy [goeie] engele het oorlog gevoer teen die draak [Satan], en die draak en sy [slegte] engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy [slegte] engele is saam met hom neergewerp.”

Wat was die gevolg? Die verslag sê verder: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon.” Die goeie engele kan verheug wees omdat Satan en die slegte engele, of geeste, nie meer in die hemel is nie. Maar wat van mense op die aarde? Die Bybel sê: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:7-9, 12.

Ja, Satan en sy goddelose engele verlei mense op die aarde en veroorsaak groot wee vir hulle. Hierdie goddelose engele word demone genoem. Hulle is vyande van God. Hulle is almal boos.