Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 4

“Jehovah . . . is groot van krag”

“Jehovah . . . is groot van krag”

1, 2. Watter verbasende dinge het Elia in sy lewe gesien, maar watter skouspelagtige gebeure het hy van die grot op die berg Horeb af aanskou?

ELIA het al tevore verbasende dinge gesien. Hy het gesien hoe rawe twee keer per dag vir hom kos bring terwyl hy weggekruip het. Hy het gesien hoe twee houers met meel en olie dwarsdeur ’n lang hongersnood nooit leeg raak nie. Hy het selfs vuur uit die hemel sien val in antwoord op sy gebed (1 Konings, hoofstukke 17, 18). Maar Elia het nog nooit so iets gesien nie.

2 Terwyl hy gebukkend naby die opening van ’n grot op die berg Horeb gestaan het, het hy ’n reeks skouspelagtige gebeure aanskou. Eers was daar ’n wind. Dit moes ’n oorverdowende gedreun veroorsaak het, want dit was so sterk dat dit berge geskeur en rotse gebreek het. Toe was daar ’n aardbewing, wat ontsaglike kragte in die aardkors losgelaat het. Daarna het ’n vuur gevolg. Terwyl dit deur die gebied getrek het, het Elia waarskynlik die gloed van die vuur se versengende hitte gevoel.—1 Konings 19:8-12.

“Kyk! Jehovah het verbygegaan”

3. Van watter Goddelike eienskap het Elia bewyse gesien, en waar kan ons bewyse van dieselfde eienskap sien?

3 Al hierdie verskillende gebeure wat Elia aanskou het, het een ding in gemeen gehad—dit was vertonings van Jehovah God se groot krag. Ons hoef natuurlik nie ’n wonderwerk te sien om te besef dat God hierdie eienskap besit nie. Dit is baie duidelik. Die Bybel sê vir ons dat die skepping bewys lewer van Jehovah se “ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Dink net aan die verblindende weerligstrale en harde gedreun van ’n donderstorm, die ontsagwekkende prag van ’n magtige waterval, die oorweldigende uitgestrektheid van die sterrehemel! Sien jy nie die krag van God in sulke tonele nie? Tog is daar vandag min mense in die wêreld wat werklik God se krag erken. En nog minder mense het die regte beskouing daarvan. Maar as ons hierdie Goddelike eienskap verstaan, gee dit ons baie redes om nader aan Jehovah te kom. In hierdie deel van die boek gaan ons ’n uitvoerige studie van Jehovah se weergalose krag maak.

’n Kenmerkende eienskap van Jehovah

4, 5. (a) Watter verband is daar tussen Jehovah se naam en sy mag, of krag? (b) Waarom is dit gepas dat Jehovah die bul gekies het om sy krag voor te stel?

4 Jehovah is uniek wat krag betref. Jeremia 10:6 sê: “Daar is hoegenaamd niemand soos u nie, o Jehovah. U is groot, en u naam is groot in mag.” Let op dat mag, of krag, met Jehovah se naam verbind word. Onthou dat hierdie naam blykbaar “Hy laat word” beteken. Wat stel Jehovah in staat om enigiets te skep wat hy wil en om te word wat hy ook al besluit? Krag, om maar een ding te noem. Ja, Jehovah se vermoë om op te tree, om sy wil uit te voer, is onbeperk. Hierdie krag is een van sy kenmerkende eienskappe.

5 Omdat ons nooit die volle omvang van sy krag kan begryp nie, gebruik Jehovah illustrasies om ons te help. Soos ons gesien het, gebruik hy die bul om sy krag voor te stel (Esegiël 1:4-10). Dit is ’n gepaste keuse, want selfs die bul wat ons as plaasdier ken, is ’n groot en kragtige dier. Mense in die Palestina van Bybeltye het selde, indien ooit, ’n sterker dier teëgekom. Maar hulle het ’n vreeswekkender soort bul geken—die wilde bul, of oeros, wat sedertdien uitgesterf het (Job 39:9-12). Die Romeinse keiser Julius Caesar het eenkeer gesê dat hierdie bulle beswaarlik kleiner as olifante was. “Groot is hulle krag”, het hy geskryf, “en groot is hulle spoed.” Stel jou voor hoe klein en kragteloos jy sal voel as jy langs so ’n dier staan!

6. Waarom word Jehovah alleen “die Almagtige” genoem?

6 Net so is die mens klein en kragteloos in vergelyking met die God van krag, Jehovah. Vir hom is selfs magtige nasies soos ’n blote stoflagie op ’n weegskaal (Jesaja 40:15). In teenstelling met alle skepsele het Jehovah onbeperkte krag, want hy alleen word “die Almagtige” genoem (Openbaring 15:3). * Jehovah is “sterk in krag” en het ’n “oorvloed van dinamiese energie” (Jesaja 40:26). Hy is die immeroorvloedige, onuitputlike bron van krag. Hy is van geen ander energiebron afhanklik nie, want ‘sterkte behoort aan God’ (Psalm 62:11). Maar deur middel waarvan oefen Jehovah sy krag uit?

Hoe Jehovah sy krag uitoefen

7. Wat is Jehovah se heilige gees, en waarop dui die woorde wat in die Bybel gebruik word in die oorspronklike tale?

7 Die heilige gees wat van Jehovah af uitstroom, is onuitputlik. Dit is God se krag in werking. Trouens, in Genesis 1:2 noem die Bybel dit God se “werkende krag”. Die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde wat met “gees” weergegee word, kan in ander kontekste met “wind”, “asem” en “geblaas” vertaal word. Volgens leksikograwe dui die woorde in die oorspronklike tale op ’n onsigbare krag in werking. Soos wind, is God se gees onsigbaar vir ons oë, maar die uitwerking daarvan is werklik en waarneembaar.

8. Wat word God se gees in die Bybel figuurlik genoem, en waarom is hierdie vergelykings gepas?

8 God se heilige gees is oneindig veelsydig. Jehovah kan dit gebruik om enige voorneme uit te voer wat hy in gedagte het. Dit is dan gepas dat God se gees in die Bybel figuurlik sy “vinger”, sy “sterk hand” of sy “uitgestrekte arm” genoem word (Lukas 11:20; Deuteronomium 5:15; Psalm 8:3). Net soos ’n man sy hande kan gebruik om ’n groot verskeidenheid take te verrig wat in mindere of meerdere mate krag of delikaatheid vereis, so kan God sy gees gebruik om enige voorneme uit te voer—soos om die mikroskopiese atoom te skep of die Rooi See te verdeel of die eerste-eeuse Christene in staat te stel om vreemde tale te praat.

9. Hoe omvattend is Jehovah se heersersmag?

9 Jehovah oefen ook krag uit deur middel van sy gesag as Universele Soewerein. Kan jy jou voorstel hoe dit moet wees om miljoene der miljoene intelligente, bekwame onderdane te hê wat gretig is om jou bevele uit te voer? Jehovah het sulke heersersmag. Hy het menseknegte, wat in die Skrif dikwels met ’n leër vergelyk word (Psalm 68:11; 110:3). Maar ’n mens het min krag in vergelyking met ’n engel. Toe die Assiriese leër God se volk aangeval het, het net een engel in een nag 185 000 van daardie soldate doodgemaak! (2 Konings 19:35). God se engele is “magtig in krag”.—Psalm 103:19, 20.

10. (a) Waarom word die Almagtige Jehovah van die leërs genoem? (b) Wie is die magtigste van al Jehovah se skepsele?

10 Hoeveel engele is daar? Die profeet Daniël het ’n visioen van die hemel gehad waarin hy heelwat meer as 100 miljoen geesskepsele voor Jehovah se troon gesien het, maar daar is geen aanduiding dat hy al die engele gesien het wat Jehovah geskep het nie (Daniël 7:10). Daar kan dus honderdmiljoene engele wees. God word gevolglik Jehovah van die leërs genoem. Hierdie titel beskryf sy magtige posisie as Bevelvoerder van ’n ontsaglike, georganiseerde skare magtige engele. Hy het een oor al hierdie geesskepsele aangestel, sy geliefde Seun, “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). As die aartsengel—hoof oor al die engele, serafs en gerubs—is Jesus die magtigste van al Jehovah se skepsele.

11, 12. (a) Hoe oefen God se woord krag uit? (b) Hoe het Jesus getuig van die omvang van Jehovah se krag?

11 Daar is nog iets waardeur Jehovah krag uitoefen. Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit.” Het jy al die buitengewone krag gesien van God se woord, of geesgeïnspireerde boodskap, wat nou in die Bybel bewaar is? Dit kan ons versterk, ons geloof opbou en ons help om groot veranderinge in onsself aan te bring. Die apostel Paulus het medegelowiges gewaarsku teen mense wat ’n uiters onsedelike lewe lei. Toe het hy bygevoeg: “Tog is dit wat party van julle was” (1 Korintiërs 6:9-11). Ja, “die woord van God” het sy krag in hulle uitgeoefen en hulle gehelp om te verander.

12 Jehovah se krag is so ontsaglik en die manier waarop hy dit uitoefen so doeltreffend dat niks hom kan keer nie. Jesus het gesê: “By God is alles moontlik” (Matteus 19:26). Waarvoor wend Jehovah sy krag aan?

Krag gerig deur voorneme

13, 14. (a) Waarom kan ons sê dat Jehovah nie ’n onpersoonlike kragbron is nie? (b) Hoe gebruik Jehovah sy krag?

13 Jehovah se gees is baie groter as enige fisiese krag; en Jehovah is nie ’n onpersoonlike krag, ’n blote kragbron nie. Hy is ’n persoonlike God wat in volle beheer van sy eie krag is. Maar wat beweeg hom om dit te gebruik?

14 Soos ons sal sien, gebruik God krag om te skep, te vernietig, te beskerm, te herstel—kortom, om te doen wat ook al nodig is om sy volmaakte voornemens te verwesenlik (Jesaja 46:10). In party gevalle gebruik Jehovah sy krag om belangrike aspekte van sy persoonlikheid en standaarde te openbaar. Bowenal rig hy sy krag om sy wil te vervul—om sy soewereiniteit te regverdig en sy heilige naam te heilig deur middel van die Messiaanse Koninkryk. Niks kan ooit daardie voorneme dwarsboom nie.

15. Met watter doel gebruik Jehovah sy krag wanneer dit by sy knegte kom, en hoe kan dit in Elia se geval gesien word?

15 Jehovah gebruik ook sy krag tot voordeel van ons as individue. Let op wat 2 Kronieke 16:9 sê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.” Elia se ondervinding, wat aan die begin gemeld is, is ’n voorbeeld hiervan. Waarom het Jehovah hom daardie ontsagwekkende vertoning van Goddelike krag gegee? Wel, goddelose koningin Isebel het gesweer dat sy Elia sou laat teregstel. Die profeet het gevlug vir sy lewe. Hy het alleen, bang en mismoedig gevoel—asof al sy harde werk tevergeefs was. Om die verontruste man te vertroos, het Jehovah Elia op aanskoulike wyse aan Sy krag herinner. Die wind, die aardbewing en die vuur het getoon dat die almagtigste Wese in die heelal daar by Elia was. Waarom sou hy Isebel vrees as die almagtige God aan sy kant is?—1 Konings 19:1-12. *

16. Waarom kan dit ons vertroos as ons aan Jehovah se groot krag dink?

16 Hoewel dit nie nou Jehovah se tyd is om wonderwerke te verrig nie, het hy sedert Elia se dag nie verander nie (1 Korintiërs 13:8). Hy is vandag net so gretig om sy krag te gebruik ten behoewe van diegene wat hom liefhet. Al woon hy in ’n verhewe geesteryk, is hy nie ver van ons af nie. Sy krag is onbeperk; gevolglik is afstand geen probleem nie. Ja, “Jehovah is naby almal wat hom aanroep” (Psalm 145:18). Toe die profeet Daniël eenkeer tot Jehovah om hulp geroep het, het ’n engel verskyn nog voordat hy klaar gebid het! (Daniël 9:20-23). Niks kan Jehovah keer om diegene wat hy liefhet, te help en te versterk nie.—Psalm 118:6.

Maak God se krag hom ongenaakbaar?

17. In watter opsig wek Jehovah se krag vrees in ons, maar watter soort vrees wek dit nie?

17 Moet ons God vrees weens sy krag? Ons moet ja en nee antwoord. Ja, aangesien hierdie eienskap ons alle rede gee vir godvrugtige vrees, die diepe ontsag en respek wat ons kortliks in die vorige hoofstuk bespreek het. Hierdie vrees, sê die Bybel vir ons, is “die begin van wysheid” (Psalm 111:10). Maar ons antwoord ook nee, aangesien God se krag ons geen rede gee om ’n morbiede vrees vir hom te hê of om bang te wees om ons tot hom te wend nie.

18. (a) Waarom wantrou baie mense diegene met mag? (b) Hoe weet ons dat Jehovah nie deur sy mag verderf kan word nie?

18 “Mag is geneig om te verderf; absolute mag verderf absoluut.” Dit is wat die Britse edelman lord Acton in 1887 geskryf het. Sy woorde is al dikwels aangehaal, miskien omdat so baie mense sien dat dit onteenseglik waar is. Onvolmaakte mense misbruik mag dikwels, soos die geskiedenis al oor en oor getoon het (Prediker 4:1; 8:9). Daarom wantrou baie mense diegene met mag en wil hulle niks met hulle te doen hê nie. Wel, Jehovah het absolute mag. Het dit hom enigsins verderf? Beslis nie! Soos ons gesien het, is hy heilig, heeltemal onverderflik. Jehovah is nie soos die onvolmaakte manne en vroue wat mag het in hierdie verdorwe wêreld nie. Hy het nog nooit sy mag misbruik nie, en hy sal dit ook nooit doen nie.

19, 20. (a) In ooreenstemming met watter ander eienskappe oefen Jehovah altyd sy krag uit, en waarom is dit gerusstellend? (b) Hoe kan jy Jehovah se selfbeheersing toelig, en waarom vind jy dit aantreklik?

19 Onthou dat krag nie Jehovah se enigste eienskap is nie. Ons moet nog sy geregtigheid, sy wysheid en sy liefde bestudeer. Maar ons moenie dink dat Jehovah se eienskappe op ’n onbuigsame, werktuiglike manier geopenbaar word, asof hy net een eienskap op ’n slag aan die dag lê nie. Inteendeel, ons sal in die volgende paar hoofstukke sien dat Jehovah altyd sy krag in ooreenstemming met sy geregtigheid, sy wysheid en sy liefde uitoefen. Dink aan nog ’n eienskap wat God besit, een wat min wêreldse heersers het—selfbeheersing.

20 Stel jou voor dat jy ’n man ontmoet wat so groot en sterk is dat jy geïntimideerd voel. Maar na ’n ruk sien jy dat hy blykbaar saggeaard is. Hy is altyd bereid en gretig om sy krag te gebruik om mense te help en te beskerm, veral die weerloses en swakkes. Hy misbruik nooit sy krag nie. Jy sien dat hy sonder rede belaster word, en tog is sy houding ferm maar kalm, waardig, selfs vriendelik. Jy wonder of jy sulke vriendelikheid en selfbeheersing aan die dag sou kon lê, veral as jy so sterk was! Sou jy nie, namate jy so iemand leer ken, nader aan hom wil kom nie? Ons het baie meer rede om nader aan die almagtige Jehovah te kom. Kyk na die hele sin waaruit die titel van hierdie hoofstuk kom: “Jehovah word nie gou toornig nie en is groot van krag” (Nahum 1:3). Jehovah gebruik nie gou sy krag teen mense nie, nie eens teen die goddeloses nie. Hy is saggeaard en goedhartig. Hy ‘word nie gou toornig nie’, al is daar dikwels rede daarvoor.—Psalm 78:37-41.

21. Waarom dwing Jehovah mense nie om sy wil te doen nie, en wat leer dit ons van hom?

21 Beskou nou Jehovah se selfbeheersing uit ’n ander oogpunt. Dink jy dat jy mense soms sou wou dwing om dinge op jou manier te doen as jy onbeperkte krag gehad het? Jehovah, met al sy krag, dwing mense nie om hom te dien nie. Hoewel ons die ewige lewe net kan verkry deur God te dien, forseer Jehovah ons nie om sulke diens te verrig nie. Uit goedgunstigheid verleen hy eerder waardigheid aan elke persoon deur aan hulle keusevryheid te gee. Hy waarsku teen die gevolge van slegte keuses en sê wat die belonings vir goeie keuses is. Maar die keuse self laat hy aan ons oor (Deuteronomium 30:19, 20). Jehovah stel eenvoudig nie belang in diens wat uit dwang of uit ’n morbiede vrees vir sy ontsagwekkende krag verrig word nie. Hy soek mense wat hom gewillig, uit liefde, sal dien.—2 Korintiërs 9:7.

22, 23. (a) Wat toon dat Jehovah behae daarin skep om mag of krag aan ander te gee? (b) Wat gaan ons in die volgende hoofstuk bespreek?

22 Kom ons kyk na ’n laaste rede waarom ons nie in vrees vir die almagtige God hoef te lewe nie. Mense wat mag het, is dikwels bang om hulle mag met ander te deel. Maar Jehovah skep behae daarin om mag of krag aan sy lojale aanbidders te gee. Hy dra groot gesag oor aan ander, soos sy Seun (Matteus 28:18). Jehovah gee ook op ’n ander manier krag aan sy knegte. Die Bybel verduidelik: “Aan u, o Jehovah, behoort die grootheid en die mag en die luisterrykheid en die voortreflikheid en die waardigheid; want alles in die hemel en op die aarde behoort aan u. . . . In u hand is krag en mag, en in u hand is die vermoë om groot te maak en om aan almal sterkte te gee.”—1 Kronieke 29:11, 12.

23 Ja, Jehovah sal graag aan jou sterkte gee. Hy gee selfs “krag wat bo die normale is”, aan diegene wat hom wil dien (2 Korintiërs 4:7). Voel jy nie aangetrokke tot hierdie dinamiese God, wat sy krag op sulke goedhartige en beginselvaste maniere gebruik nie? In die volgende hoofstuk gaan ons die aandag vestig op hoe Jehovah sy krag gebruik om te skep.

^ par. 6 Die Griekse woord wat met “Almagtige” vertaal word, beteken letterlik “Heerser oor alles; Een wat alle mag het”.

^ par. 15 Die Bybel sê: “Jehovah was nie in die wind . . . , die aardbewing . . . , die vuur nie.” In teenstelling met aanbidders van mitiese natuurgode soek Jehovah se knegte hom nie in die natuurkragte nie. Hy is veels te verhewe om binne-in enigiets te wees wat hy geskep het.—1 Konings 8:27.