Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 7

Beskermingskrag​—“God is vir ons ’n toevlug”

Beskermingskrag​—“God is vir ons ’n toevlug”

1, 2. In watter gevaar het die Israeliete verkeer toe hulle in 1513 v.G.J. die Sinai-streek ingetrek het, en hoe het Jehovah hulle gerusgestel?

DIE Israeliete het in gevaar verkeer toe hulle vroeg in 1513 v.G.J. die Sinai-streek ingetrek het. ’n Vreeswekkende tog het vir hulle voorgelê, ’n reis deur ’n “groot en gevaarlike woestyn vol giftige slange en skerpioene” (Deuteronomium 8:15, Die Bybel, 1983). Daar was ook die gevaar van aanvalle deur vyandige nasies. Jehovah het sy volk in hierdie situasie laat kom. As hulle God, sou hy hulle kon beskerm?

2 Jehovah se woorde was baie gerusstellend: “Julle het self gesien wat ek die Egiptenaars aangedoen het, sodat ek julle op arendsvlerke kon dra en julle na my toe kon bring” (Eksodus 19:4). Jehovah het sy volk daaraan herinner dat hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het, as ’t ware deur arende te gebruik om hulle na veiligheid te bring. Maar daar is ander redes waarom “arendsvlerke” ’n gepaste simbool van Goddelike beskerming is.

3. Waarom is “arendsvlerke” ’n gepaste simbool van Goddelike beskerming?

3 Die arend gebruik sy groot, sterk vlerke nie net om in die lug te sweef nie. In die hitte van die dag sal ’n moederarend haar vlerke—met ’n spanwydte van soms meer as twee meter—uitsprei om ’n beskermende sambreel te vorm wat haar jong kuikens teen die skroeiende son kan beskut. Op ander tye vou sy haar vlerke om haar kleintjies om hulle teen die koue wind te beskerm. Net soos ’n arend haar kuikens beskerm, het Jehovah die jong nasie Israel beskut en beskerm. Daar in die wildernis sou sy volk toevlug in die skaduwee van sy magtige vleuels vind solank hulle getrou bly (Deuteronomium 32:9-11; Psalm 36:7). Maar kan ons vandag tereg verwag dat God ons sal beskerm?

Die belofte van Goddelike beskerming

4, 5. Waarom kan ons volle vertroue in God se belofte van beskerming hê?

4 Jehovah is beslis in staat om sy knegte te beskerm. Hy is “God die Almagtige”—’n titel wat aandui dat hy onstuitbare krag het (Genesis 17:1). Soos ’n onkeerbare gety kan Jehovah se krag nie teëgehou word wanneer hy dit uitoefen nie. Aangesien hy enigiets kan doen wat volgens sy wil is, kan ons vra: ‘Is dit Jehovah se wil om sy krag te gebruik om sy volk te beskerm?’

5 Die antwoord is: Ja! Jehovah verseker ons dat hy sy volk sal beskerm. “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word”, sê Psalm 46:1. Aangesien God “nie kan lieg nie”, kan ons volle vertroue in sy belofte van beskerming hê (Titus 1:2). Kom ons kyk na ’n paar van die treffende illustrasies wat Jehovah gebruik om sy beskermende sorg te beskryf.

6, 7. (a) Hoe het die herder van Bybeltye sy skape beskerm? (b) Hoe illustreer die Bybel Jehovah se opregte begeerte om sy skape te beskerm en te versorg?

6 Jehovah is ’n Herder, en “ons is sy volk en die skape van sy weiding” (Psalm 23:1; 100:3). Min diere is so hulpeloos soos skape. Die herder van Bybeltye moes dapper wees om sy skape teen leeus, wolwe en bere sowel as diewe te beskerm (1 Samuel 17:34, 35; Johannes 10:12, 13). Maar daar was tye dat teerheid nodig was om die skape te beskerm. Wanneer ’n skaap ver van die kraal af gelam het, het die sorgsame herder wag gehou oor die moeder gedurende haar hulpelose oomblikke en dan die weerlose lammetjie opgetel en kraal toe gedra.

“In sy boesem sal hy hulle dra”

7 Deur homself met ’n herder te vergelyk, verseker Jehovah ons dat dit sy opregte begeerte is om ons te beskerm (Esegiël 34:11-16). Dink aan die beskrywing van Jehovah in Jesaja 40:11, wat in Hoofstuk 2 van hierdie boek bespreek is: “Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra.” Hoe kom die lammetjie in die herder se “boesem”—die voue van sy bokleed? Die lam kom miskien na die herder toe, stoot dalk selfs teen sy been. Maar dit is die herder wat moet buk, die lam moet optel en dit sagkens in die veiligheid van sy boesem moet sit. Wat ’n gevoelvolle voorstelling van ons Groot Herder se bereidwilligheid om ons te beskut en te beskerm!

8. (a) Aan wie word God se belofte van beskerming gerig, en hoe word dit in Spreuke 18:10 aangedui? (b) Wat behels dit om in God se naam skuiling te vind?

8 God se belofte van beskerming is voorwaardelik—net diegene wat nader aan hom kom, kan dit geniet.Spreuke 18:10 sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” In Bybeltye is torings soms in die wildernis gebou as toevlugsoorde. Maar dit was die verantwoordelikheid van die een wat in gevaar verkeer, om vir veiligheid na so ’n toring te vlug. Dieselfde geld as iemand in God se naam skuiling wil vind. Dit behels meer as om net God se naam oor en oor te sê; die Goddelike naam is nie ’n towerwoord nie. Ons moet eerder die Draer van daardie naam ken en hom vertrou en in ooreenstemming met sy regverdige standaarde lewe. Hoe goedhartig is dit tog van Jehovah om ons te verseker dat hy ’n toring van beskerming vir ons sal wees as ons ons in geloof tot hom wend!

‘Ons God is in staat om ons te red’

9. Hoe het Jehovah meer gedoen as om beskerming net te belowe?

9 Jehovah het beskerming nie net belowe nie. In Bybeltye het hy op wonderdadige maniere bewys dat hy in staat is om sy volk te beskerm. Gedurende Israel se geskiedenis het Jehovah se magtige “hand” dikwels sterk vyande teruggehou (Eksodus 7:4). Maar Jehovah het ook sy beskermingskrag ten behoewe van individue gebruik.

10, 11. Watter Bybelvoorbeelde toon hoe Jehovah sy beskermingskrag ten behoewe van individue gebruik het?

10 Toe drie jong Hebreërs—Sadrag, Mesag en Abednego—geweier het om hulle voor koning Nebukadnesar se goue beeld neer te buig, het die woedende koning gedreig om hulle in ’n oorverhitte oond te gooi. “Wie is die god wat julle uit my hand kan red?” het Nebukadnesar, die magtigste koning op aarde, getart (Daniël 3:15). Die drie jong manne het volkome vertroue gehad in God se krag om hulle te beskerm, maar hulle het dit nie as vanselfsprekend aangeneem dat hy dit sou doen nie. Daarom het hulle geantwoord: “As dit moet, is ons God wat ons dien, in staat om ons te red” (Daniël 3:17). Ja, daardie vuuroond, selfs toe dit sewe keer warmer as gewoonlik gemaak is, was geen probleem vir hulle almagtige God nie. Hy het hulle dan ook beskerm, en die koning was verplig om te erken: “Daar [is] geen ander god . . . wat kan verlos soos dié een nie.”—Daniël 3:29.

11 Jehovah het ook ’n werklik merkwaardige vertoning van sy beskermingskrag gegee toe hy die lewe van sy enigverwekte Seun na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria oorgeplaas het. ’n Engel het vir Maria gesê dat sy ‘in haar moederskoot sou ontvang en aan ’n seun geboorte sou gee’. Die engel het verduidelik: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu” (Lukas 1:31, 35). God se Seun was blykbaar nog nooit so kwesbaar nie. Sou die sonde en onvolmaaktheid van die menslike moeder die embrio besmet? Sou Satan hierdie Seun skade kon aandoen of doodmaak voordat Hy gebore word? Onmoontlik! Jehovah het as ’t ware ’n beskermende muur om Maria gevorm sodat niks—geen onvolmaaktheid, geen skadelike invloed, geen moorddadige mens, geen demoon—die groeiende embrio van die oomblik van bevrugting af kon beskadig nie. Jehovah het voortgegaan om Jesus gedurende sy jeug te beskerm (Matteus 2:1-15). Tot God se bestemde tyd was sy geliefde Seun onaantasbaar.

12. Waarom het Jehovah sekere individue in Bybeltye wonderdadig beskerm?

12 Waarom het Jehovah sekere individue op sulke wonderdadige maniere beskerm? In baie gevalle het Jehovah individue beskerm om iets baie belangriker te beskerm: die vervulling van sy voorneme. Die oorlewing van die baba Jesus was byvoorbeeld noodsaaklik vir die vervulling van God se voorneme, wat uiteindelik die hele mensdom tot voordeel sal strek. Die verslag van al die vertonings van beskermingskrag is deel van die geïnspireerde Skrif, wat “tot ons onderrigting geskryf [is], sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Ja, hierdie voorbeelde versterk ons geloof in ons almagtige God. Maar watter beskerming kan ons vandag van God verwag?

Wat Goddelike beskerming nie beteken nie

13. Is Jehovah verplig om wonderwerke vir ons te verrig? Verduidelik.

13 Die belofte van Goddelike beskerming beteken nie dat Jehovah verplig is om wonderwerke vir ons te verrig nie. Nee, ons God waarborg ons nie ’n probleemvrye lewe in hierdie ou stelsel nie. Talle getroue knegte van Jehovah kom voor kwaai beproewinge te staan, onder meer armoede, oorlog, siekte en die dood. Jesus het reguit vir sy dissipels gesê dat hulle as individue moontlik om die lewe gebring sou word weens hulle geloof. Daarom het Jesus beklemtoon dat dit nodig is om tot die einde toe te volhard (Matteus 24:9, 13). As Jehovah sy krag sou gebruik om in elke geval wonderdadige verlossing te bewerkstellig, kan daar moontlik rede wees vir Satan om Jehovah uit te tart en om die opregtheid van ons toegewydheid aan ons God te bevraagteken.—Job 1:9, 10.

14. Watter voorbeelde toon dat Jehovah nie altyd al sy knegte op dieselfde manier beskerm nie?

14 Selfs in Bybeltye het Jehovah nie sy beskermingskrag gebruik om elkeen van sy knegte teen ’n ontydige dood te beskerm nie. Die apostel Jakobus is byvoorbeeld omstreeks 44 G.J. deur Herodes tereggestel; en tog is Petrus kort daarna “uit Herodes se hand” verlos (Handelinge 12:1-11). En Johannes, Jakobus se broer, het langer as Petrus én Jakobus gelewe. Dit is duidelik dat ons nie kan verwag dat ons God al sy knegte op dieselfde manier moet beskerm nie. Boonop tref “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” ons almal (Prediker 9:11). Hoe beskerm Jehovah ons dan vandag?

Jehovah bied fisiese beskerming

15, 16. (a) Watter bewys is daar dat Jehovah fisiese beskerming aan sy aanbidders as ’n groep gebied het? (b) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah sy knegte nou en gedurende “die groot verdrukking” sal beskerm?

15 Kom ons kyk eers na die kwessie van fisiese beskerming. As Jehovah se aanbidders kan ons verwag dat ons sulke beskerming as ’n groep sal geniet. Anders sou ons maklike prooi vir Satan gewees het. Dink hieraan: Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, sou wát wou gee om ware aanbidding uit te wis (Johannes 12:31; Openbaring 12:17). Party van die magtigste regerings op aarde het al ons predikingswerk verbied en ons heeltemal probeer uitwis. Maar Jehovah se volk het standvastig gebly en voortgegaan om sonder ophou te preek! Waarom kon magtige nasies nie daarin slaag om die werk van hierdie betreklike klein en oënskynlik weerlose groepie Christene stop te sit nie? Omdat Jehovah ons met sy kragtige vleuels beskerm het!—Psalm 17:7, 8.

16 Wat van fisiese beskerming gedurende die komende “groot verdrukking”? Ons hoef nie die voltrekking van God se oordele te vrees nie. “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om uitgeroei te word” (Openbaring 7:14; 2 Petrus 2:9). Intussen kan ons altyd van twee dinge seker wees. Eerstens, Jehovah sal nooit toelaat dat sy lojale knegte van die aarde af uitgewis word nie. Tweedens, hy sal handhawers van onkreukbaarheid met ewige lewe in sy regverdige nuwe wêreld beloon—deur middel van ’n opstanding indien nodig. Vir diegene wat sterf, is daar nie ’n veiliger plek om te wees as in God se geheue nie.—Johannes 5:28, 29.

17. Hoe beskerm Jehovah ons deur sy Woord?

17 Jehovah beskerm ons ook nou deur sy lewende “woord”, wat die motiveringskrag het om harte te genees en lewens ten goede te verander (Hebreërs 4:12). As ons die beginsels daarvan toepas, kan dit ons in sekere opsigte teen fisiese kwaad beskerm. “Ek, Jehovah, . . . leer [jou] om jouself te bevoordeel”, sê Jesaja 48:17. As ons in ooreenstemming met God se Woord lewe, kan dit ongetwyfeld ons gesondheid verbeter en ons lewe verleng. Omdat ons byvoorbeeld die Bybelse raad toepas om ons van hoerery te onthou en ons van verontreiniging te reinig, vermy ons die onrein gebruike en skadelike gewoontes wat die lewens van talle goddeloses verwoes (Handelinge 15:29; 2 Korintiërs 7:1). Hoe dankbaar is ons tog vir die beskerming van God se Woord!

Jehovah beskerm ons geestelik

18. Watter geestelike beskerming bied Jehovah ons?

18 Van die allergrootste belang is dat Jehovah geestelike beskerming bied. Ons liefdevolle God beskerm ons teen geestelike skade deur ons toe te rus met wat ons nodig het om beproewinge te verduur en ons verhouding met hom te bewaar. Jehovah tree dus op om ons lewe te bewaar, nie net vir ’n paar jaar nie, maar vir ewig. Beskou party van God se voorsienings wat ons geestelik kan beskerm.

19. Hoe kan Jehovah se gees ons opgewasse maak teen enige beproewing waarvoor ons te staan kom?

19 Jehovah is die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:2). Wanneer dit voel of die druk van die lewe te erg raak, kan dit vir ons groot verligting bring as ons ons hart voor hom uitstort (Filippense 4:6, 7). Hy sal ons beproewinge moontlik nie wonderdadig wegneem nie, maar in antwoord op ons opregte gebede kan hy ons die wysheid gee om dit te bowe te kom (Jakobus 1:5, 6). Wat meer is, Jehovah gee heilige gees aan diegene wat hom vra (Lukas 11:13). Hierdie kragtige gees kan ons opgewasse maak teen enige beproewing of probleem waarvoor ons te staan kom. Dit kan ons “krag wat bo die normale is”, gee om te volhard totdat Jehovah alle pynlike probleme uit die weg ruim in die nuwe wêreld wat so naby is.—2 Korintiërs 4:7.

20. Hoe word Jehovah se beskermingskrag deur middel van ons medeaanbidders geopenbaar?

20 Soms word Jehovah se beskermingskrag deur middel van ons medeaanbidders geopenbaar. Jehovah het sy volk in ’n wêreldwye “gemeenskap van broers” saamgebring (1 Petrus 2:17; Johannes 6:44). In die liefdevolle milieu van hierdie broederskap sien ons lewende bewys van die krag van God se heilige gees om mense ten goede te beïnvloed. Hierdie gees bring vrugte in ons voort—pragtige, kosbare eienskappe wat liefde, goedhartigheid en goedheid insluit (Galasiërs 5:22, 23). Wanneer ons dus in benoudheid verkeer en ’n medegelowige word beweeg om goeie raad te gee of broodnodige woorde van aanmoediging uit te spreek, kan ons Jehovah dank vir hierdie blyke van sy beskermende sorg.

21. (a) Watter tydige geestelike voedsel voorsien Jehovah deur “die getroue en verstandige slaaf”? (b) Hoe het jy al baat gevind by Jehovah se voorsienings om ons geestelik te beskerm?

21 Jehovah voorsien iets anders om ons te beskerm: tydige geestelike voedsel. Om ons te help om krag uit sy Woord te put, het Jehovah “die getroue en verstandige slaaf” aangestel om geestelike voedsel te versprei. Hierdie ‘getroue slaaf’ gebruik gedrukte publikasies, insluitende Die Wagtoring en Ontwaak!, asook vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste om ons te voorsien van “voedsel op die regte tyd”—wat ons nodig het, wanneer ons dit nodig het (Matteus 24:45). Het jy al ooit iets by ’n Christelike vergadering gehoor—in ’n kommentaar, in ’n toespraak of selfs in ’n gebed—wat jou die krag en aanmoediging gegee het wat jy juis op daardie oomblik nodig gehad het? Is jou lewe al ooit geraak deur ’n spesifieke artikel in een van ons tydskrifte? Onthou dat Jehovah al hierdie voorsienings verskaf om ons geestelik te beskerm.

22. Hoe gebruik Jehovah altyd sy krag, en waarom is dit in ons belang?

22 Jehovah is beslis ’n skild “vir almal wat hulle toevlug tot hom neem” (Psalm 18:30). Ons verstaan dat hy nie sy krag gebruik om ons nou teen alle rampspoed te beskerm nie. Maar hy gebruik altyd sy beskermingskrag om te verseker dat sy voorneme vervul word. Op die lange duur is dit in sy volk se belang. As ons nader aan Jehovah kom en in sy liefde bly, sal hy ons tot in alle ewigheid volmaakte lewe gee. Met hierdie vooruitsig in gedagte kan ons werklik enige lyding in hierdie stelsel as “kortstondig en lig” beskou.—2 Korintiërs 4:17.