Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

“Al sy weë is geregtigheid”

“Al sy weë is geregtigheid”

1, 2. (a) Watter skreiende onregte het Josef gely? (b) Hoe het Jehovah die onregte reggestel?

DIT was ’n skreiende onreg. Die aantreklike jong man het geen misdaad gepleeg nie, en tog is hy in ’n kerker opgesluit, nadat hy valslik van ’n poging tot verkragting beskuldig is. Maar dit was nie die eerste keer dat hy verontreg is nie. Hierdie jong man, Josef, is jare tevore, op die ouderdom van 17, verraderlik behandel deur sy broers, wat hom amper doodgemaak het. Toe is hy as ’n slaaf in ’n vreemde land verkoop. Daar het hy die toenaderings van sy heer se vrou verwerp. Die gekrenkte vrou het die valse beskuldiging ingebring, en só het hy in die gevangenis beland. Ongelukkig was daar blykbaar niemand wat vir Josef ’n goeie woordjie kon doen nie.

Josef het ten onregte in “die kerker” gely

2 Maar die God wat ‘regverdigheid en geregtigheid liefhet’, het alles gesien (Psalm 33:5). Jehovah het stappe gedoen om die onregte reg te stel en het sake so bewerk dat Josef uiteindelik vrygelaat is. Wat meer is, Josef—die man wat in ’n “kerker” gewerp is—is later in ’n baie verantwoordelike en besonder hooggeagte posisie aangestel (Genesis 40:15; 41:41-43; Psalm 105:17, 18). Dit was op die ou end duidelik dat Josef heeltemal onskuldig was, en hy het sy hoë posisie gebruik om God se voorneme te bevorder.—Genesis 45:5-8.

3. Waarom is dit nie verbasend dat ons almal regverdig behandel wil word nie?

3 So ’n verslag roer ons hart, nie waar nie? Wie van ons het nog nie onreg sien plaasvind of self onreg gely nie? Ja, ons almal wil graag regverdig en onpartydig behandel word. Dit is nie verbasend nie, want Jehovah het aan ons eienskappe gegee wat sy persoonlikheid weerspieël, en geregtigheid is een van sy vernaamste eienskappe (Genesis 1:27). As ons Jehovah goed wil ken, moet ons sy sin vir geregtigheid verstaan. Ons kan sodoende sy wonderlike weë selfs meer waardeer en beweeg word om nader aan hom te kom.

Wat is geregtigheid?

4. Hoe word geregtigheid dikwels beskou?

4 Mense beskou geregtigheid dikwels bloot as die regverdige toepassing van die regsreëls. Die boek Right and Reason—Ethics in Theory and Practice sê dat “geregtigheid verband hou met die wet, verpligting, regte en pligte, en dat dit beslissings gee op grond van gelykheid of verdienstelikheid”. Jehovah se geregtigheid behels egter meer as die meganiese toepassing van reëls uit pligsgevoel.

5, 6. (a) Wat beteken die woorde uit die oorspronklike tale wat met “geregtigheid” vertaal word? (b) Wat beteken dit dat God regverdig is?

5 Ons kan die omvang van Jehovah se geregtigheid beter verstaan as ons kyk na die woorde uit die oorspronklike tale wat in die Bybel gebruik word. In die Hebreeuse Geskrifte word drie hoofwoorde gebruik. Die woord wat meestal met “geregtigheid” vertaal word, kan ook vertaal word met “wat reg is” (Genesis 18:25). Die ander twee woorde word gewoonlik met “regverdigheid” vertaal. Die woord wat in die Christelike Griekse Geskrifte met “regverdigheid” vertaal word, word omskryf as die “hoedanigheid om reg te wees of reg te laat geskied”. Daar is dus eintlik geen verskil tussen regverdigheid en geregtigheid nie.—Amos 5:24.

6 Wanneer die Bybel dan sê dat God regverdig is, sê dit vir ons dat hy doen wat reg en billik is en dat hy dit konsekwent, sonder partydigheid, doen (Romeine 2:11). Dit is inderdaad ondenkbaar dat hy anders sou optree. Getroue Elihu het gesê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!” (Job 34:10). Ja, dit is onmoontlik vir Jehovah “om onregverdig te handel”. Waarom? Om twee belangrike redes.

7, 8. (a) Waarom kan Jehovah nie onregverdig optree nie? (b) Wat beweeg Jehovah om regverdig te wees in sy handelinge?

7 Eerstens, hy is heilig. Soos ons in Hoofstuk 3 gesien het, is Jehovah oneindig rein en regverdig. Daarom kan hy nie onregverdig optree nie. Dink aan wat dit beteken. Die heiligheid van ons hemelse Vader gee ons alle rede om te vertrou dat hy nooit sy kinders sleg sal behandel nie. Jesus het hierdie vertroue gehad. Hy het op die laaste aand van sy aardse lewe gebid: “Heilige Vader, waak oor hulle [die dissipels] weens u naam” (Johannes 17:11). “Heilige Vader”—in die Skrif is dié aanspreekvorm net op Jehovah van toepassing. Dit is gepas, want geen mensevader kan met Hom vergelyk word wat heiligheid betref nie. Jesus het die vaste vertroue gehad dat sy dissipels veilig sou wees in die hande van sy Vader, wat absoluut rein en heeltemal afgeskeie van alle sondigheid is.—Matteus 23:9.

8 Tweedens, onselfsugtige liefde is inherent aan God se persoonlikheid. Hierdie liefde beweeg hom om regverdig te wees in sy handelinge met ander. Maar al die vorme van ongeregtigheid—insluitende rassisme, diskriminasie en partydigheid—spruit dikwels voort uit gierigheid en selfsug, die teenoorgestelde van liefde. Die Bybel verseker ons aangaande die God van liefde: “Jehovah is regverdig; hy het regverdige dade lief” (Psalm 11:7). Jehovah sê van homself: “Ek, Jehovah, het geregtigheid lief” (Jesaja 61:8). Is dit nie vertroostend om te weet dat ons God behae daarin skep om te doen wat reg, of regverdig, is nie?—Jeremia 9:24.

Barmhartigheid en Jehovah se volmaakte geregtigheid

9-11. (a) Watter verband is daar tussen Jehovah se geregtigheid en sy barmhartigheid? (b) Hoe kan Jehovah se geregtigheid asook sy barmhartigheid gesien word in die manier waarop hy met sondige mense handel?

9 Jehovah se geregtigheid is, soos elke ander faset van sy weergalose persoonlikheid, volmaak en skiet in geen opsig te kort nie. Moses het Jehovah geloof en geskryf: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:3, 4). Wanneer Jehovah geregtigheid uitoefen, is dit altyd foutloos—nooit te toegeeflik nie, nooit te streng nie.

10 Daar is ’n noue verband tussen Jehovah se geregtigheid en sy barmhartigheid. Psalm 116:5 sê: “Jehovah is genadig en regverdig; en ons God bewys barmhartigheid.” Ja, Jehovah is regverdig sowel as barmhartig. Die twee eienskappe bots nie. Wanneer hy barmhartigheid betoon, is dit nie ’n afwatering van sy geregtigheid, asof sy geregtigheid andersins te streng sou wees nie. Inteendeel, hy betoon dikwels die twee eienskappe op dieselfde tyd, selfs in dieselfde daad. Kyk na ’n voorbeeld.

11 Alle mense het sonde geërf en verdien dus die straf vir sonde—die dood (Romeine 5:12). Maar Jehovah skep geen behae in die dood van sondaars nie. Hy is “’n God van dade van vergifnis, genadig en barmhartig” (Nehemia 9:17). Maar omdat hy heilig is, kan hy onregverdigheid nie vergoelik nie. Hoe kan hy dan barmhartigheid bewys aan mense wat inherent sondig is? Die antwoord lê in een van die kosbaarste waarhede van God se Woord: Jehovah se voorsiening van ’n losprys vir die redding van die mensdom. Ons sal in Hoofstuk 14 meer van hierdie liefdevolle reëling leer. Dit is volkome regverdig en terselfdertyd uiters barmhartig. Daardeur kan Jehovah tere barmhartigheid aan berouvolle sondaars bewys terwyl hy by sy standaarde van volmaakte geregtigheid bly.—Romeine 3:21-26.

Jehovah se geregtigheid is bemoedigend

12, 13. (a) Waarom laat Jehovah se geregtigheid ons tot hom aangetrokke voel? (b) Tot watter gevolgtrekking het Dawid gekom wat Jehovah se geregtigheid betref, en hoe kan dit vir ons ’n vertroosting wees?

12 Jehovah se geregtigheid is nie ’n koue eienskap wat ons afstoot nie, maar ’n innemende eienskap wat ons tot hom aangetrokke laat voel. Die Bybel toon duidelik dat medelye inherent is aan Jehovah se geregtigheid, of regverdigheid. Kom ons kyk na ’n paar van die aangrypende maniere waarop Jehovah sy geregtigheid uitoefen.

13 Jehovah se volmaakte geregtigheid beweeg hom om getrou en lojaal aan sy knegte te wees. Die psalmis Dawid het self hierdie faset van Jehovah se geregtigheid ervaar. Tot watter gevolgtrekking het Dawid se eie ondervinding en sy studie van God se weë hom laat kom? Hy het gesê: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word” (Psalm 37:28). Watter vertroostende versekering tog! Ons God sal so nooit aste nimmer dié verlaat wat aan hom lojaal is nie. Ons kan dus daarop staatmaak dat hy naby ons sal wees en liefdevol vir ons sal sorg. Sy geregtigheid waarborg dit!—Spreuke 2:7, 8.

14. Hoe kan Jehovah se besorgdheid oor die minderbevoorregtes gesien word in die Wet wat hy aan Israel gegee het?

14 Goddelike geregtigheid neem die behoeftes van die geteisterdes in ag. Jehovah se besorgdheid oor die minderbevoorregtes kan gesien word in die Wet wat hy aan Israel gegee het. Die Wet het byvoorbeeld spesiale voorsienings bevat om te verseker dat daar na wese en weduwees omgesien word (Deuteronomium 24:17-21). Omdat Jehovah besef hoe moeilik die lewe vir sulke gesinne kan wees, het hy hulle vaderlike Regter en Beskermer geword, die een “wat aan die vaderlose seun en die weduwee reg verskaf” (Deuteronomium 10:18; Psalm 68:5). * Jehovah het die Israeliete gewaarsku dat hy sekerlik die geroep van weerlose vroue en kinders sou hoor as hulle hulle onreg sou aandoen. Hy het gesê: “My toorn sal inderdaad ontvlam” (Eksodus 22:22-24). Hoewel toorn nie een van Jehovah se vernaamste eienskappe is nie, word sy regverdige verontwaardiging deur opsetlike onregte gewek, veral wanneer die slagoffers die geringes en die weerloses is.—Psalm 103:6.

15, 16. Wat is ’n werklik merkwaardige bewys van Jehovah se onpartydigheid?

15 Jehovah verseker ons ook dat hy “niemand partydig behandel en ook nie ’n omkoopgeskenk aanvaar nie” (Deuteronomium 10:17). In teenstelling met baie mense wat mag of invloed het, word Jehovah nie deur materiële rykdom of uiterlike voorkoms beïnvloed nie. Hy is nie in die minste bevooroordeeld of partydig nie. Kyk na ’n werklik merkwaardige bewys van Jehovah se onpartydigheid. Die geleentheid om ’n ware aanbidder van hom te word, met eindelose lewe in die vooruitsig, is nie tot ’n paar uitgesoektes beperk nie. Inteendeel, “in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Enigiemand, ongeag sy stand in die samelewing, die kleur van sy vel of die land waarin hy woon, kan hierdie wonderlike vooruitsig hê. Is dit nie ware geregtigheid in die volle sin van die woord nie?

16 Daar is nog ’n aspek van Jehovah se volmaakte geregtigheid wat ons moet ondersoek en respekteer: die manier waarop hy met oortreders van sy regverdige standaarde handel.

Geen vrystelling van straf nie

17. Verduidelik waarom die onregte in hierdie wêreld geen rede is om Jehovah se geregtigheid in twyfel te trek nie.

17 Party wonder dalk: ‘As Jehovah onregverdigheid nie vergoelik nie, hoe kan ons dan die onregverdige lyding en die verdorwe gebruike wat vandag so algemeen in die wêreld is, verklaar?’ Hierdie onregte is geen rede om Jehovah se geregtigheid in twyfel te trek nie. Al die onregte in hierdie goddelose wêreld is die gevolg van die sonde wat mense van Adam geërf het. In ’n wêreld waar onvolmaakte mense gekies het om hulle eie sondige weë te volg, is daar ’n oorvloed onregte—maar nie veel langer nie.—Deuteronomium 32:5.

18, 19. Wat toon dat Jehovah diegene wat sy regverdige wette opsetlik skend, nie vir ewig sal duld nie?

18 Hoewel Jehovah groot barmhartigheid bewys aan diegene wat in opregtheid nader aan hom kom, sal hy ’n situasie wat sy heilige naam oneer aandoen, nie vir ewig duld nie (Psalm 74:10, 22, 23). Die God van geregtigheid laat hom nie bespot nie; hy sal opsetlike sondaars nie beskerm teen die veroordeling wat hulle verdien nie. Jehovah is “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, . . . maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie” (Eksodus 34:6, 7). In ooreenstemming met hierdie woorde was dit soms vir Jehovah nodig om oordeel te voltrek aan dié wat sy regverdige wette opsetlik skend.

19 Beskou byvoorbeeld God se handelinge met eertydse Israel. Selfs nadat die Israeliete hulle in die Beloofde Land gevestig het, het hulle herhaaldelik in ontrouheid verval. Hoewel hulle verdorwe weë Jehovah ‘gekrenk het’, het hy hulle nie onmiddellik verstoot nie (Psalm 78:38-41). Hy het hulle uit barmhartigheid eerder geleenthede gebied om hulle weë te verander. Hy het gepleit: “Ek skep geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat ’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe. Keer julle af, keer julle af van julle slegte weë, want waarom sou julle sterf, o huis van Israel?” (Esegiël 33:11). Omdat lewe vir Jehovah kosbaar is, het hy sy profete herhaaldelik gestuur sodat die Israeliete hulle van hulle slegte weë kon afkeer. Maar die volk het weens die hardheid van hulle harte oor die algemeen geweier om te luister en berou te toon. Uiteindelik het Jehovah hulle ter wille van sy heilige naam en alles wat dit verteenwoordig, in die hande van hulle vyande gegee.—Nehemia 9:26-30.

20. (a) Wat leer Jehovah se handelinge met Israel ons van hom? (b) Waarom is die leeu ’n gepaste simbool van Jehovah se geregtigheid?

20 Jehovah se handelinge met Israel leer ons baie van hom. Ons leer dat sy alsiende oë onregverdigheid opmerk en dat hy diep geraak word deur wat hy sien (Spreuke 15:3). Dit is ook gerusstellend om te weet dat hy na enige moontlike rede soek om barmhartigheid te bewys. Verder leer ons dat sy geregtigheid nooit haastig uitgeoefen word nie. As gevolg van Jehovah se geduld en lankmoedigheid kom baie mense verkeerdelik tot die slotsom dat hy nooit oordeel aan die goddeloses sal voltrek nie. Maar dit is glad nie waar nie, want God se handelinge met Israel leer ons ook dat sy geduld nie eindeloos is nie. Jehovah is ferm wanneer dit by regverdigheid kom. In teenstelling met mense, wat dikwels daarvan wegskram om geregtigheid uit te oefen, ontbreek dit hom nooit aan die moed om op te kom vir wat reg is nie. Die leeu, ’n simbool van moedige geregtigheid, word gepas met God se teenwoordigheid en troon verbind (Esegiël 1:10; Openbaring 4:7). * Ons kan dus seker wees dat hy sy belofte sal nakom om ongeregtigheid van hierdie aarde te verwyder. Ja, die manier waarop hy oordeel, kan soos volg opgesom word: fermheid waar nodig, barmhartigheid waar moontlik.—2 Petrus 3:9.

Kom nader aan die God van geregtigheid

21. Watter beeld moet ons van Jehovah hê wanneer ons peins oor hoe hy geregtigheid uitoefen, en waarom?

21 Wanneer ons peins oor hoe Jehovah geregtigheid uitoefen, moet ons nie aan hom dink as ’n koue, streng regter wat net daarin belangstel om oortreders te oordeel nie. Ons moet eerder aan hom dink as ’n Vader wat liefdevol maar ferm is en wat sy kinders altyd op die beste manier moontlik behandel. As ’n regverdige Vader hou Jehovah fermheid vir wat reg is in ewewig met tere medelye vir sy aardse kinders, wat sy hulp en vergifnis nodig het.—Psalm 103:10, 13.

22. Watter vooruitsig het Jehovah, gerig deur sy geregtigheid, vir ons moontlik gemaak, en waarom handel hy só met ons?

22 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat God se geregtigheid baie meer behels as om oordeel oor oortreders te vel! Gerig deur sy geregtigheid, het Jehovah dit vir ons moontlik gemaak om ’n waarlik opwindende vooruitsig te hê—volmaakte, eindelose lewe in ’n wêreld waarin ‘regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:13). Ons God handel só met ons, want sy geregtigheid beweeg hom om te red eerder as om te veroordeel. Ja, ’n beter begrip van die omvang van Jehovah se geregtigheid laat ons tot hom aangetrokke voel! In die volgende hoofstukke sal ons kyk presies hoe Jehovah hierdie wonderlike eienskap openbaar.

^ par. 14 Hoewel die Hebreeuse woord vir “vaderlose seun” manlik is, dui dit geensins op ’n gebrek aan besorgdheid oor meisies nie. Jehovah het in die Wet ’n verslag ingesluit oor ’n regterlike beslissing wat verseker het dat die vaderlose dogters van Selofhad ’n erfenis ontvang. Dié beslissing het ’n presedent gestel en sodoende die regte van vaderlose meisies gehandhaaf.—Numeri 27:1-8.

^ par. 20 Dit is interessant dat Jehovah homself met ’n leeu vergelyk in verband met die voltrekking van oordeel aan ontroue Israel.—Jeremia 25:38; Hosea 5:14.