Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Beoefen geregtigheid’ terwyl jy met God wandel

‘Beoefen geregtigheid’ terwyl jy met God wandel

HOOFSTUK 16

1-3. (a) Waarom is ons aan Jehovah dank verskuldig? (b) Wat vra ons liefdevolle Redder van ons terug?

STEL jou voor dat jy op ’n sinkende skip vasgekeer is. Net wanneer jy dink dat daar geen hoop is nie, daag iemand op wat jou red en na veiligheid bring. Hoe verlig voel jy tog wanneer jou redder jou van die gevaar af wegneem en sê: “Jy is nou veilig”! Sou jy nie voel dat jy aan dié persoon dank verskuldig is nie? Jy sal letterlik jou lewe aan hom te danke hê.

2 Dit lig in sekere opsigte toe wat Jehovah vir ons gedoen het. Ons is beslis aan hom dank verskuldig. Hy het immers die losprys voorsien wat dit vir ons moontlik maak om uit die greep van sonde en die dood verlos te word. Ons voel veilig in die wete dat ons sondes vergewe word en ons ewige toekoms veilig is solank ons geloof in daardie kosbare offerande beoefen (1 Johannes 1:7; 4:9). Soos ons in Hoofstuk 14 gesien het, is die losprys die grootste blyk van Jehovah se liefde en geregtigheid. Hoe moet ons daarop reageer?

3 Dit is gepas om te kyk na wat ons liefdevolle Redder self van ons terugvra. Jehovah sê deur middel van die profeet Miga: “Hy het jou vertel, o mens, wat goed is. En wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Let op dat een van die dinge wat Jehovah van ons terugvra, is dat ons ‘geregtigheid beoefen’. Hoe kan ons dit doen?

Streef “ware regverdigheid” na

4. Hoe weet ons dat Jehovah van ons verwag om in ooreenstemming met sy regverdige standaarde te lewe?

4 Jehovah verwag van ons om te lewe volgens sy standaarde van wat reg en verkeerd is. Aangesien sy standaarde regverdig is, streef ons geregtigheid en regverdigheid na wanneer ons in ooreenstemming daarmee lewe. “Leer om goed te doen; soek geregtigheid”, sê Jesaja 1:17. God se Woord spoor ons aan om ‘regverdigheid te soek’ (Sefanja 2:3). Dit moedig ons ook aan om ons “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Ware regverdigheid—ware geregtigheid—sluit geweld, onreinheid en onsedelikheid uit, want hierdie dinge skend wat heilig is.—Psalm 11:5; Efesiërs 5:3-5.

5, 6. (a) Waarom is dit nie vir ons ’n las om volgens Jehovah se standaarde te lewe nie? (b) Hoe toon die Bybel dat dit ’n voortdurende proses is om regverdigheid na te streef?

5 Is dit vir ons ’n las om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe? Nee. ’n Hart wat tot Jehovah aangetrokke voel, vind nie sy vereistes moeisaam nie. Omdat ons ons God liefhet, asook alles wat hy verteenwoordig, wil ons lewe op ’n wyse wat hom behaag (1 Johannes 5:3). Onthou dat Jehovah ‘regverdige dade liefhet’ (Psalm 11:7). As ons werklik Goddelike geregtigheid, of regverdigheid, wil navolg, moet ons leer om lief te hê wat Jehovah liefhet en te haat wat hy haat.—Psalm 97:10.

6 Dit is nie vir onvolmaakte mense maklik om regverdigheid na te streef nie. Ons moet die ou persoonlikheid met sy sondige gebruike aflê en ons met die nuwe persoonlikheid beklee. Die Bybel sê dat die nuwe persoonlikheid deur juiste kennis “vernuwe word” (Kolossense 3:9, 10). Die woorde “vernuwe word” gee te kenne dat dit ’n voortdurende proses is om ’n mens met die nuwe persoonlikheid te beklee, ’n proses wat groot inspanning verg. Hoe hard ons ook al probeer om te doen wat reg is, daar is tye wanneer ons sondige natuur ons in denke, woord of daad laat struikel.—Romeine 7:14-20; Jakobus 3:2.

7. Hoe moet ons dit beskou as ons ’n terugslag kry terwyl ons regverdigheid nastreef?

7 Hoe moet ons dit beskou as ons ’n terugslag kry terwyl ons regverdigheid nastreef? Ons wil natuurlik nie die erns van sonde verklein nie. Terselfdertyd moet ons nooit tou opgooi en voel dat ons tekortkominge ons ongeskik maak om Jehovah te dien nie. Ons genadige God het voorsiening gemaak om diegene wat opreg berouvol is, in sy guns te herstel. Kyk na die gerusstellende woorde van die apostel Johannes: “Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde begaan nie.” Maar hy was realisties en het bygevoeg: “En tog, as iemand ’n sonde begaan [weens oorgeërfde onvolmaaktheid], het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus” (1 Johannes 2:1). Ja, Jehovah het Jesus se losprysoffer voorsien sodat ons Hom ondanks ons sondige natuur op aanneemlike wyse kan dien. Wek dit nie by ons die begeerte om ons bes te doen om Jehovah te behaag nie?

Die goeie nuus en Goddelike geregtigheid

8, 9. Hoe is die verkondiging van die goeie nuus ’n bewys van Jehovah se geregtigheid?

8 Ons kan geregtigheid beoefen—ja, Goddelike geregtigheid navolg—deur ’n volle aandeel daaraan te hê om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander te verkondig. Watter verband is daar tussen Jehovah se geregtigheid en die goeie nuus?

9 Jehovah sal nie hierdie goddelose stelsel tot ’n einde bring voordat hy eers die waarskuwing laat hoor het nie. In sy profesie oor wat gedurende die tyd van die einde sal plaasvind, het Jesus gesê: “Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word” (Markus 13:10; Matteus 24:3). Die gebruik van die woord “eers” dui daarop dat ander gebeure op die wêreldwye predikingswerk sal volg. Daardie gebeure sluit die voorspelde groot verdrukking in, wat vernietiging vir die goddeloses sal beteken en die weg vir ’n regverdige nuwe wêreld sal baan (Matteus 24:14, 21, 22). Waarlik, niemand kan Jehovah tereg daarvan beskuldig dat hy onregverdig teenoor die goddeloses is nie. Deur die waarskuwing te laat hoor, gee hy sulke mense oorgenoeg geleentheid om hulle weë te verander en dus vernietiging te vermy.—Jona 3:1-10.

Ons openbaar Goddelike geregtigheid wanneer ons die goeie nuus onpartydig aan ander bekend maak

10, 11. Hoe weerspieël ons verkondiging van die goeie nuus Goddelike geregtigheid?

10 Hoe weerspieël ons verkondiging van die goeie nuus Goddelike geregtigheid? Eerstens, dit is net reg dat ons ons bes doen om ander te help om redding te verkry. Dink weer aan die illustrasie oor hoe jy van ’n sinkende skip gered word. Wanneer jy veilig in ’n reddingsboot is, sal jy sekerlik ander wat nog in die water is, wil help. Net so het ons ’n verpligting teenoor diegene wat nog in die “waters” van hierdie goddelose wêreld spartel. Baie verwerp weliswaar ons boodskap. Maar solank Jehovah geduldig bly, is dit ons verantwoordelikheid om hulle die geleentheid te gee om ‘tot berou te kom’ en sodoende vir redding in aanmerking te kom.—2 Petrus 3:9.

11 Deur die goeie nuus te verkondig aan almal wat ons teëkom, openbaar ons geregtigheid op nog ’n belangrike manier: Ons toon onpartydigheid. Onthou dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). As ons Sy geregtigheid wil navolg, moet ons mense nie vooraf oordeel nie. Ons moet eerder die goeie nuus aan ander bekend maak, ongeag hulle ras, sosiale status of finansiële posisie. So gee ons almal wat wil luister, die geleentheid om die goeie nuus te hoor en daarop ag te slaan.—Romeine 10:11-13.

Hoe ons ander behandel

12, 13. (a) Waarom moet ons nie gou wees om ander te oordeel nie? (b) Wat beteken Jesus se raad om ‘op te hou om te oordeel’ en ‘op te hou om te veroordeel’? (Sien ook voetnoot.)

12 Ons kan ook geregtigheid beoefen deur ander te behandel soos Jehovah ons behandel. Dit is so maklik om ander te oordeel deur hulle foute te kritiseer en hulle beweegredes te bevraagteken. Maar wie van ons wil hê dat Jehovah ons beweegredes en tekortkominge op so ’n genadelose wyse onder ’n vergrootglas moet sit? Dit is nie hoe Jehovah ons behandel nie. Die psalmis het gesê: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Is ons nie dankbaar dat ons regverdige en barmhartige God nie gedurig aan ons foute dink nie? (Psalm 103:8-10). Hoe moet ons ander dan behandel?

13 As ons die barmhartigheid in God se geregtigheid verstaan, sal ons nie gou wees om ander te oordeel oor dinge wat ons regtig nie aangaan of wat van minder belang is nie. In sy Bergpredikasie het Jesus gewaarsku: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matteus 7:1). Volgens Lukas se verslag het Jesus bygevoeg: “Hou op om te veroordeel, en julle sal hoegenaamd nie veroordeel word nie” (Lukas 6:37). * Jesus het getoon dat hy bewus was van onvolmaakte mense se neiging om ander te oordeel. As enige van sy toehoorders in die gewoonte was om ander kras te oordeel, moes hulle ophou om dit te doen.

14. Om watter redes moet ons ‘ophou om te oordeel’?

14 Waarom moet ons ‘ophou om te oordeel’? Om maar een ding te noem, ons gesag is beperk. Die dissipel Jakobus herinner ons hieraan: “Een is wetgewer en regter”—Jehovah. Daarom vra Jakobus reguit: “Wie is jy om jou naaste te oordeel?” (Jakobus 4:12; Romeine 14:1-4). Daarbenewens kan ons sondige natuur so maklik veroorsaak dat ons oordeel onredelik is. Baie gesindhede en beweegredes—onder meer vooroordeel, gekrenkte trots, jaloesie en selfvoldaanheid—kan ons beskouing van ons medemens verwring. Ons het ook nog ander beperkings, en as ons daaraan dink, behoort dit ons daarvan te weerhou om gou met ander fout te vind. Ons kan nie harte lees nie; en ook ken ons nie al die persoonlike omstandighede van ander nie. Wie is ons dan om verkeerde beweegredes aan medegelowiges toe te skryf of om hulle pogings in God se diens te kritiseer? Hoeveel beter is dit tog om Jehovah na te volg en eerder na die goeie in ons broers en susters te soek as om op hulle tekortkominge te konsentreer!

15. Watter woorde en behandeling hoort geensins onder God se aanbidders nie, en waarom nie?

15 Wat van ons gesinslede? In vandag se wêreld word mense ongelukkig die krasste geoordeel in wat ’n oord van vrede behoort te wees—hulle eie huis. Dit is niks ongewoons om te hoor van mans, vrouens of ouers wat hulle gesinslede as ’t ware “vonnis” tot voortdurende uitskellery of fisiese mishandeling nie. Maar venynige woorde, bytende sarkasme en mishandeling hoort geensins onder God se aanbidders nie (Efesiërs 4:29, 31; 5:33; 6:4). Jesus se raad om ‘op te hou om te oordeel’ en ‘op te hou om te veroordeel’, is net soveel van toepassing wanneer ons by die huis is. Onthou dat die beoefening van geregtigheid beteken dat ons ander behandel soos Jehovah ons behandel. En ons God is nooit ongevoelig of wreed in sy handelinge met ons nie. Hy is eerder “baie teer in geneentheid” teenoor diegene wat hom liefhet (Jakobus 5:11). Wat ’n wonderlike voorbeeld is dit tog vir ons om na te volg!

Ouer manne wat “vir geregtigheid” dien

16, 17. (a) Wat verwag Jehovah van ouer manne? (b) Wat moet gedoen word wanneer ’n sondaar nie opregte berou toon nie, en waarom?

16 Ons almal het ’n verantwoordelikheid om geregtigheid te beoefen, maar veral ouer manne in die Christengemeente het ’n verantwoordelikheid in hierdie opsig. Let op die profetiese beskrywing van “vorste”, of ouer manne, wat deur Jesaja opgeteken is: “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers” (Jesaja 32:1). Ja, Jehovah verwag van ouer manne om geregtigheid te bevorder. Hoe kan hulle dit doen?

17 Hierdie geestelik bekwame manne weet goed dat geregtigheid, of regverdigheid, vereis dat die gemeente rein gehou word. Ouer manne is soms verplig om in gevalle van ernstige oortreding as regters op te tree. Wanneer hulle dit doen, hou hulle in gedagte dat Goddelike geregtigheid daarna streef om, wanneer moontlik, barmhartigheid te betoon. Hulle probeer dus om die sondaar tot berou te lei. Maar gestel die sondaar toon nie opregte berou nie, ondanks hierdie pogings om hom te help? In volmaakte geregtigheid, sê Jehovah se Woord moet ’n ferm stap gedoen word: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.” Dit beteken dat hy uit die gemeente gesit moet word (1 Korintiërs 5:11-13; 2 Johannes 9-11). Dit bedroef die ouer manne om so ’n stap te doen, maar hulle besef dat dit nodig is sodat die sedelike en geestelike reinheid van die gemeente bewaar kan word. Selfs dan hoop hulle dat die sondaar eendag tot besinning sal kom en na die gemeente sal terugkeer.—Lukas 15:17, 18.

18. Wat hou ouer manne in gedagte wanneer hulle Bybelse raad aan ander gee?

18 Om geregtigheid te bevorder, beteken ook dat Bybelse raad gegee word wanneer dit nodig is. Ouer manne soek natuurlik nie foute in ander nie. Hulle gryp ook nie elke geleentheid aan om ander tereg te wys nie. Maar ’n medegelowige begaan dalk “die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is”. As ouer manne in gedagte hou dat Goddelike geregtigheid nie wreed of ongevoelig is nie, sal dit hulle beweeg om “so iemand in ’n gees van sagmoedigheid [te] probeer reghelp” (Galasiërs 6:1). Gevolglik sal ouer manne nie ’n oortreder uitskel of harde woorde gebruik nie. Raad wat op ’n liefdevolle wyse gegee word, is ’n aansporing vir die een wat dit ontvang. Selfs wanneer hulle pertinente raad gee—deur duidelik te beskryf wat die gevolge van ’n onverstandige weg is—hou ouer manne in gedagte dat ’n medegelowige wat oortree het, ’n skaap in Jehovah se kudde is (Lukas 15:7). * As dit duidelik is dat liefde die beweegrede vir die raad of teregwysing is en dat dit in liefde gegee word, is die kanse groter dat dit die oortreder sal reghelp.

19. Watter besluite moet ouer manne neem, en waarop moet hulle hierdie besluite baseer?

19 Ouer manne moet dikwels besluite neem wat hulle medegelowiges raak. Ouer manne vergader byvoorbeeld van tyd tot tyd om te kyk of ander broers in die gemeente aan die vereistes voldoen om as ouer manne of bedieningsknegte aanbeveel te word. Die ouer manne weet hoe belangrik dit is om onpartydig te wees. Wanneer hulle besluite neem, laat hulle hulle deur God se vereistes vir sulke aanstellings lei en verlaat hulle hulle nie bloot op persoonlike gevoelens nie. Sodoende tree hulle op ‘sonder vooroordeel en doen hulle niks uit partydigheid nie’.—1 Timoteus 5:21.

20, 21. (a) Wat probeer ouer manne wees, en waarom? (b) Hoe kan ouer manne “terneergedrukte siele” help?

20 Ouer manne oefen ook op ander maniere Goddelike geregtigheid uit. Nadat Jesaja voorspel het dat ouer manne “vir geregtigheid” sou dien, het hy verder gesê: “Elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:2). Ouer manne probeer dus om ’n bron van vertroosting en verkwikking vir hulle medeaanbidders te wees.

21 Talle het vandag aanmoediging nodig weens al die probleme wat mense dikwels moedeloos maak. Ouer manne, hoe kan julle “terneergedrukte siele” help? (1 Tessalonisense 5:14). Luister na hulle met empatie (Jakobus 1:19). Hulle het dalk ’n behoefte daaraan om die “angstige besorgdheid” in hulle hart te bespreek met iemand in wie hulle vertroue het (Spreuke 12:25). Verseker hulle dat hulle belangrik, kosbaar en geliefd is—ja, vir Jehovah en ook vir hulle broers en susters (1 Petrus 1:22; 5:6, 7). Verder kan julle saam met en vir sulke persone bid. Dit kan vir hulle baie vertroostend wees om ’n ouer man ’n opregte gebed ten behoewe van hulle te hoor doen (Jakobus 5:14, 15). Julle liefdevolle pogings om terneergedruktes te help, sal nie ongemerk by die God van geregtigheid verbygaan nie.

Ouer manne weerspieël Jehovah se geregtigheid wanneer hulle terneergedruktes bemoedig

22. In watter opsigte kan ons Jehovah se geregtigheid navolg, en met watter gevolg?

22 Ja, ons kom al hoe nader aan Jehovah as ons sy geregtigheid navolg! Wanneer ons sy regverdige standaarde handhaaf, wanneer ons die lewegewende goeie nuus aan ander bekend maak en wanneer ons besluit om eerder op die goeie in ander te konsentreer as om hulle foute te soek, openbaar ons Goddelike geregtigheid. Ouer manne, wanneer julle die reinheid van die gemeente bewaar, wanneer julle opbouende skriftuurlike raad gee, wanneer julle onpartydige besluite neem en wanneer julle terneergedruktes bemoedig, weerspieël julle Goddelike geregtigheid. Hoe bly moet dit Jehovah se hart tog maak wanneer hy vanuit die hemele afkyk en sien hoe sy knegte hulle bes doen om “geregtigheid te beoefen” terwyl hulle met hulle God wandel!

^ par. 13 Party vertalings sê “moenie oordeel nie” en “moenie veroordeel nie”. Sulke weergawes impliseer “moenie begin oordeel nie” en “moenie begin veroordeel nie”. Maar die Bybelskrywers gebruik hier negatiewe bevele in die teenswoordige tyd met werkwoorde wat voortdurende handeling aandui. Die betrokke handelinge het dus reeds op dié tydstip plaasgevind, maar moes ophou.

^ par. 18 Die Bybel sê in 2 Timoteus 4:2 dat ouer manne soms moet ‘teregwys, berispe, vermaan’. Die Griekse woord wat met “vermaan” (pa·ra·ka·leʹo) vertaal word, kan beteken “om aan te moedig”. ’n Verwante Griekse woord, pa·raʹkle·tos, kan na ’n verdediger in ’n regsaak verwys. Dus moet ouer manne, selfs wanneer hulle ferm teregwysing gee, helpers wees van dié wat geestelike hulp nodig het.