Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

Wysheid in “die woord van God”

Wysheid in “die woord van God”

1, 2. Watter “brief” het Jehovah aan ons geskryf, en waarom?

ONTHOU jy die laaste keer toe jy ’n brief ontvang het van ’n geliefde wat ver van jou af woon? Daar is min dinge wat ons soveel genot verskaf as ’n hartlike brief van iemand vir wie ons lief is. Ons is bly om te hoor hoe dit met hom gaan, watter ondervindinge hy gehad het en wat sy planne is. Sulke kommunikasie bring geliefdes nader aan mekaar, al is hulle ook fisies ver van mekaar.

2 Wat kan ons dan groter genot verskaf as om ’n geskrewe boodskap te ontvang van die God vir wie ons lief is? Jehovah het in sekere sin ’n “brief” aan ons geskryf—sy Woord, die Bybel. Daarin vertel hy vir ons wie hy is, wat hy gedoen het, wat hy van voorneme is om te doen, en nog baie meer. Jehovah het vir ons sy Woord gegee omdat hy wil hê dat ons na aan hom moet wees. Ons alwyse God het die allerbeste manier gekies om met ons te kommunikeer. Daar is onvergelyklike wysheid in die manier waarop die Bybel geskryf is en in wat dit bevat.

Waarom ’n geskrewe Woord?

3. Hoe het Jehovah die Wet aan Moses oorgedra?

3 Party wonder dalk: ‘Waarom het Jehovah nie ’n dramatieser manier gekies—soos ’n stem uit die hemel—om met mense te kommunikeer nie?’ Jehovah het in werklikheid soms uit die hemel gepraat deur middel van engeleverteenwoordigers. Hy het dit byvoorbeeld gedoen toe hy die Wet aan Israel gegee het (Galasiërs 3:19). Die stem uit die hemel was ontsagwekkend—in so ’n mate dat die vreesbevange Israeliete gevra het dat Jehovah nie op hierdie manier met hulle moet praat nie, maar dat hy deur Moses moet kommunikeer (Eksodus 20:18-20). Die Wet, wat uit sowat 600 insettinge bestaan, is dus mondeling, woord vir woord, aan Moses oorgedra.

4. Verduidelik waarom oorvertelling nie ’n betroubare manier sou gewees het om God se wette oor te dra nie.

4 Maar sê nou daardie Wet is nooit op skrif gestel nie? Sou Moses die presiese woorde van daardie uitvoerige Wet kon onthou het en dit foutloos aan die res van die nasie kon oorgedra het? Wat van latere geslagte? Sou hulle hulle uitsluitlik op oorvertelling moes verlaat het? Dit sou nouliks ’n betroubare manier gewees het om God se wette oor te dra. Stel jou voor wat sal gebeur as jy ’n storie aan ’n hele string mense oordra deur dit vir die eerste een te vertel en dit dan van persoon tot persoon te laat oorvertel. Wat die laaste persoon hoor, sal waarskynlik baie anders wees as wat die eerste een gehoor het. Daar was nie so ’n gevaar in die geval van die woorde van God se Wet nie.

5, 6. Wat het Jehovah Moses beveel om met Sy woorde te doen, en waarom is dit vir ons ’n seën om Jehovah se Woord op skrif te hê?

5 Jehovah het wyslik besluit om sy woorde op skrif te laat stel. Hy het Moses beveel: “Skryf hierdie woorde vir jou op, want ooreenkomstig hierdie woorde sluit ek ’n verbond met jou en Israel” (Eksodus 34:27). So het die tydperk waartydens die Bybel geskryf is, in 1513 v.G.J. begin. Gedurende die volgende 1 610 jaar het Jehovah “by baie geleenthede en op baie maniere” met ongeveer 40 menseskrywers gepraat wat toe die Bybel geskryf het (Hebreërs 1:1). In dié tyd het toegewyde kopiïste met groot sorg akkurate kopieë gemaak om die Skrif te bewaar.—Esra 7:6; Psalm 45:1.

6 Jehovah het ons waarlik geseën deur skriftelik met ons te kommunikeer. Het jy al ooit ’n brief ontvang wat vir jou so kosbaar was—miskien omdat dit nodige vertroosting verskaf het—dat jy dit gebêre het en oor en oor gelees het? So is dit met Jehovah se “brief” aan ons. Omdat Jehovah sy woorde laat neerskryf het, kan ons dit gereeld lees en peins oor wat dit sê (Psalm 1:2). Ons kan “die vertroosting van die Skrif” ontvang wanneer ons dit ook al nodig het.—Romeine 15:4.

Waarom menseskrywers?

7. Hoe word Jehovah se wysheid gesien in die feit dat hy menseskrywers gebruik het?

7 In sy wysheid het Jehovah mense gebruik om sy Woord op skrif te stel. Dink hieraan: Sou die Bybel dieselfde ingang by mense gevind het as Jehovah engele gebruik het om die Bybel te skryf? Engele sou Jehovah weliswaar vanuit hulle verhewe gesigspunt kon uitbeeld, hulle toegewydheid aan hom kon beskryf en verslag kon lewer oor getroue menseknegte van God. Maar sou ons ons werklik kon vereenselwig met die beskouing van volmaakte geesskepsele, wat baie groter kennis, ondervinding en krag as ons het?—Hebreërs 2:6, 7.

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer”

8. Hoe is die Bybelskrywers toegelaat om hulle eie verstandelike vermoëns te gebruik? (Sien ook voetnoot.)

8 Deur menseskrywers te gebruik, het Jehovah ons presies gegee wat ons nodig het—’n verslag wat ‘deur God geïnspireer is’ maar wat nog die menslike element bevat (2 Timoteus 3:16). Hoe het hy dit gedoen? In baie gevalle het hy die skrywers blykbaar toegelaat om hulle eie verstandelike vermoëns te gebruik om “die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf” (Prediker 12:10, 11). Dit verklaar die verskeidenheid style in die Bybel; die geskrifte weerspieël die agtergrond en persoonlikheid van die verskillende skrywers. * Nietemin het hierdie manne “uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Petrus 1:21). Gevolglik is die eindproduk waarlik “die woord van God”.—1 Tessalonisense 2:13.

9, 10. Waarom maak die gebruik van menseskrywers die Bybel ’n boek vol gevoel wat by mense ingang vind?

9 Die gebruik van menseskrywers maak die Bybel ’n boek vol gevoel wat by mense ingang vind. Die skrywers was manne met gevoelens soos ons s’n. Hulle was onvolmaak en het voor dieselfde soort beproewinge en druk as ons te staan gekom. In sommige gevalle het Jehovah se gees hulle geïnspireer om oor hulle gevoelens en moeilikhede te skryf (2 Korintiërs 12:7-10). Hulle het dus in die eerste persoon geskryf, iets wat geen engel sou kon doen nie.

10 Kyk byvoorbeeld na koning Dawid van Israel. Nadat hy ’n paar ernstige sondes gepleeg het, het Dawid ’n psalm gekomponeer waarin hy sy hart uitgestort en God om vergifnis gesmeek het. Hy het geskryf: “Reinig my selfs van my sonde. Want my oortredings ken ek, en my sonde is voortdurend voor my. Kyk! In ongeregtigheid is ek met geboortepyne voortgebring, en in sonde het my moeder my ontvang. Moet my nie voor u aangesig wegwerp nie; en moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie. Die offerandes aan God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie” (Psalm 51:2, 3, 5, 11, 17). Kan jy nie die skrywer se pyn voel nie? Wie anders as ’n onvolmaakte mens kan sulke intense gevoelens uitspreek?

Waarom ’n boek oor mense?

11. Watter soort werklike voorbeelde is “tot ons onderrigting” in die Bybel ingesluit?

11 Daar is nog iets wat die Bybel by mense ingang laat vind. Dit is in groot mate ’n boek oor mense—mense wat werklik gelewe het—dié wat God gedien het en dié wat hom nie gedien het nie. Ons lees van hulle ondervindinge, ontberinge en vreugdes. Ons sien die gevolge van hulle keuses in die lewe. Hierdie verslae is “tot ons onderrigting” ingesluit (Romeine 15:4). Deur hierdie werklike voorbeelde leer Jehovah ons op maniere wat ons hart raak. Kom ons kyk na ’n paar.

12. Hoe help Bybelverslae oor ontroue mense ons?

12 Die Bybel vertel van ontroue, selfs goddelose, mense en wat met hulle gebeur het. In hierdie verslae sien ons hoe ongewenste eienskappe in dade geopenbaar word, wat dit vir ons makliker maak om dié eienskappe te verstaan. Watter gebod teen ontrouheid kan byvoorbeeld kragtiger wees as die lewende voorbeeld van hierdie eienskap in Judas toe hy sy verraderlike komplot teen Jesus uitgevoer het? (Matteus 26:14-16, 46-50; 27:3-10). Sulke verslae het ’n groter uitwerking op ons hart deurdat dit ons help om afstootlike eienskappe te herken en te verwerp.

13. Hoe help die Bybel ons om wenslike eienskappe te verstaan?

13 Die Bybel beskryf ook talle getroue knegte van God. Ons lees van hulle toegewydheid en lojaliteit. Ons sien lewende voorbeelde van die eienskappe wat ons moet aankweek om nader aan God te kom. Kyk byvoorbeeld na geloof. Die Bybel omskryf geloof en vertel ons hoe noodsaaklik dit is as ons God wil behaag (Hebreërs 11:1, 6). Maar die Bybel bevat ook duidelike voorbeelde van daadwerklike geloof. Dink aan die geloof wat Abraham geopenbaar het toe hy gereed was om Isak op te offer (Genesis, hoofstuk 22; Hebreërs 11:17-19). Deur sulke verslae neem die woord “geloof” groter betekenis aan en word dit makliker om te verstaan. Hoe wys is Jehovah tog dat hy ons nie net aanspoor om wenslike eienskappe aan te kweek nie, maar ook voorbeelde voorsien van hoe dit toegepas word!

14, 15. Wat vertel die Bybel ons van ’n sekere vrou wat na die tempel gekom het, en wat leer ons oor Jehovah uit hierdie verslag?

14 Die lewensgetroue verslae wat in die Bybel gevind word, leer ons dikwels iets oor watter soort persoon Jehovah is. Dink aan wat ons lees van ’n vrou wat Jesus in die tempel gesien het. Terwyl hy naby die skatkiste gesit het, het Jesus toegekyk terwyl die mense hulle bydraes ingegooi het. Talle rykes het gekom en “uit hulle oorvloed” gegee. Maar Jesus se oog het op ’n nederige weduwee geval. Haar gawe het bestaan uit “twee muntstukkies . . . wat baie min waarde het”. * Dit was die laaste bietjie geld wat sy gehad het. Jesus, wat Jehovah se beskouing volmaak weerspieël het, het gesê: “Hierdie arm weduwee [het] meer ingegooi . . . as almal wat geld in die skatkiste gegooi het.” Volgens hierdie woorde het sy meer ingegooi as al die ander tesame.—Markus 12:41-44; Lukas 21:1-4; Johannes 8:28.

15 Is dit nie betekenisvol dat hierdie weduwee uit al die mense wat daardie dag na die tempel gekom het, uitgesonder en in die Bybel gemeld is nie? Deur hierdie voorbeeld leer Jehovah ons dat hy ’n God is wat waardering toon. Dit verskaf hom genoeë om ons heelhartige gawes te ontvang, ongeag hoe dit vergelyk met wat ander kan gee. Jehovah kon nouliks ’n beter manier gevind het om ons hierdie bemoedigende waarheid te leer!

Wat die Bybel nie bevat nie

16, 17. Hoe word Jehovah se wysheid gesien selfs in wat hy besluit het om uit sy Woord weg te laat?

16 Wanneer jy ’n brief aan ’n geliefde skryf, kan jy net soveel sê. Jy kies dus mooi wat jy wil skryf. Net so het Jehovah besluit om sekere persone en gebeure in sy Woord te meld. Maar in hierdie beskrywende verslae spel die Bybel nie altyd elke besonderheid uit nie (Johannes 21:25). Wanneer die Bybel byvoorbeeld van God se oordeel praat, beantwoord die inligting wat verstrek word, miskien nie al ons vrae nie. Jehovah se wysheid word gesien selfs in wat hy besluit het om uit sy Woord weg te laat. Hoe so?

17 Die manier waarop die Bybel geskryf is, toets wat in ons hart is. Hebreërs 4:12 sê: “Die woord [of, boodskap] van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei.” Die Bybel se boodskap dring diep in en openbaar ons ware denke en beweegredes. Wanneer mense dit met ’n kritiese hart lees, laat verslae wat nie genoeg inligting bevat om hulle te bevredig nie, sulke persone dikwels struikel. Hulle bevraagteken partykeer selfs of Jehovah werklik liefdevol, wys en regverdig is.

18, 19. (a) Waarom moet ons nie ontsteld raak as ’n spesifieke Bybelverslag vrae laat ontstaan waarop ons nie onmiddellik antwoorde kan vind nie? (b) Wat is nodig om God se Woord te verstaan, en hoe is dit ’n bewys van Jehovah se groot wysheid?

18 As ons daarenteen die Bybel met ’n opregte hart noukeurig bestudeer, leer ons Jehovah ken in die konteks waarin die Bybel as ’n geheel hom voorstel. Ons raak dus nie ontsteld as ’n spesifieke verslag vrae laat ontstaan waarop ons nie onmiddellik antwoorde kan vind nie. Ter toeligting: Wanneer ons ’n groot legkaart bou, kan ons aanvanklik dalk nie ’n spesifieke stukkie vind of sien waar ’n sekere stukkie inpas nie. Maar ons het moontlik genoeg stukkies inmekaar gepas om te besef hoe die hele prent moet lyk. Wanneer ons die Bybel bestudeer, leer ons eweneens geleidelik watter soort God Jehovah is, en ’n duidelike beeld kom na vore. Selfs as ons aanvanklik nie ’n sekere verslag kan verstaan of kan sien hoe dit by God se persoonlikheid pas nie, het ons studie van die Bybel ons alreeds oorgenoeg van Jehovah geleer om ons te laat sien dat hy altyd ’n liefdevolle en regverdige God is.

19 Om God se Woord dan te verstaan, moet ons dit met ’n opregte hart en ’n oop gemoed lees en bestudeer. Is dit nie ’n bewys van Jehovah se groot wysheid nie? Slim mense kan boeke skryf wat net “wyse en intellektuele mense” kan verstaan. Maar om ’n boek te skryf wat net verstaan kan word deur diegene wat die regte hartsgesindheid het—dit vereis die wysheid van God!—Matteus 11:25.

’n Boek van “praktiese wysheid”

20. Waarom kan Jehovah alleen vir ons vertel wat die beste manier is om te lewe, en wat bevat die Bybel wat ons kan help?

20 In sy Woord vertel Jehovah ons wat die beste manier is om te lewe. As ons Skepper weet hy beter as ons wat ons behoeftes is. En basiese mensebehoeftes—insluitende die begeerte om liefde te vind, gelukkig te wees en goeie verhoudinge met ander te hê—is nog dieselfde. Die Bybel bevat ’n oorvloed van “praktiese wysheid” wat ons kan help om ’n sinvolle lewe te lei (Spreuke 2:7). Elke deel van hierdie studiehulp bevat ’n hoofstuk wat wys hoe ons die Bybel se wyse raad kan toepas, maar kom ons kyk hier na net een voorbeeld.

21-23. Watter wyse raad kan ons help om nie kwaad te bly of ’n wrok te koester nie?

21 Het jy al opgemerk dat mense wat wrokke koester, dikwels op die ou end hulleself benadeel? ’n Wrok is ’n swaar vrag om te dra in die lewe. Wanneer ons ’n wrok koester, neem dit ons gedagtes heeltemal in beslag, beroof dit ons van vrede en onderdruk dit ons vreugde. Wetenskaplike studies dui daarop dat ons ons kanse kan vergroot om hartkwaal en ’n magdom ander chroniese kwale te ontwikkel as ons kwaad bly. Die Bybel het lank voor sulke wetenskaplike studies wyslik gesê: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede” (Psalm 37:8). Maar hoe kan ons dit doen?

22 God se Woord gee hierdie wyse raad: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11). Insig is die vermoë om dieper as die oppervlak te kyk, om nie net te sien wat voor die hand liggend is nie. Insig bevorder begrip, want dit kan ons help om te onderskei waarom iemand iets op ’n sekere manier gesê of gedoen het. As ons probeer om sy ware beweegredes, gevoelens en omstandighede te verstaan, kan dit ons help om ontslae te raak van negatiewe gedagtes en gevoelens oor hom.

23 Die Bybel bevat ook hierdie raad: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kolossense 3:13). Die uitdrukking “hou aan om mekaar te verdra” gee te kenne dat ons geduldig moet wees met ander en dat ons eienskappe wat ons irriteer, moet verdra. Sulke verdraagsaamheid kan ons help om nie ’n wrok oor kleinighede te koester nie. “Vergewe” dra die gedagte oor dat ons ontslae moet raak van wrokke. Ons wyse God weet dat ons ander moet vergewe wanneer daar gegronde rede is om dit te doen. Dit is nie net ter wille van hulle nie, maar ook ter wille van ons eie gemoedsrus (Lukas 17:3, 4). Watter wysheid bevat God se Woord tog!

24. Wat is die gevolg wanneer ons ons lewe in ooreenstemming met Goddelike wysheid bring?

24 Weens sy oneindige liefde wou Jehovah met ons kommunikeer. Hy het die beste manier moontlik gekies—’n geskrewe “brief” wat deur menseskrywers onder leiding van die heilige gees geskryf is. Gevolglik is dit Jehovah se wysheid wat in die blaaie daarvan gevind word. Hierdie wysheid is “baie betroubaar” (Psalm 93:5). Wanneer ons ons lewe in ooreenstemming hiermee bring en wanneer ons dit aan ander bekend maak, kom ons natuurlikerwys nader aan ons alwyse God. In die volgende hoofstuk sal ons nog ’n uitsonderlike voorbeeld van Jehovah se versiende wysheid bespreek: sy vermoë om die toekoms te voorspel en sy voorneme te vervul.

^ par. 8 Byvoorbeeld: Dawid, wat ’n herder was, gebruik voorbeelde wat uit ’n herder se lewe kom (Psalm 23). Matteus, wat ’n belastinggaarder was, maak dikwels melding van syfers en geldwaardes (Matteus 17:27; 26:15; 27:3). Lukas, wat ’n geneesheer was, gebruik woorde wat sy mediese agtergrond weerspieël.—Lukas 4:38; 14:2; 16:20.

^ par. 14 Elkeen van hierdie muntstukke was ’n lepton, die kleinste Joodse muntstuk wat destyds in omloop was. Twee lepta was gelyk aan 1/64 van ’n dagloon. Hierdie twee muntstukke was nie eens genoeg om een mossie te koop nie, die goedkoopste voël wat deur die armes as kos gebruik is.