Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 19

“God se wysheid in ’n heilige geheim”

“God se wysheid in ’n heilige geheim”

1, 2. In watter “heilige geheim” behoort ons belang te stel, en waarom?

GEHEIME! Omdat dit so interessant en fassinerend is, is dit dikwels vir mense moeilik om dit vir hulleself te hou. Maar die Bybel sê: “Die eer van God is die geheimhouding van ’n saak” (Spreuke 25:2). Ja, as Soewereine Heerser en Skepper hou Jehovah tereg sekere dinge vir die mensdom geheim totdat dit sy bestemde tyd is om dit bekend te maak.

2 Daar is egter ’n interessante, fassinerende geheim wat Jehovah in sy Woord geopenbaar het. Dit word “die heilige geheim van [God se] wil” genoem (Efesiërs 1:9). As jy uitvind wat dit is, sal dit nie net jou nuuskierigheid bevredig nie. Kennis van hierdie geheim kan tot redding lei en kan jou insig gee in Jehovah se ondeurgrondelike wysheid.

Progressief geopenbaar

3, 4. Hoe het die profesie wat in Genesis 3:15 opgeteken is, hoop gebied, en watter verborgenheid, of “heilige geheim”, het dit ingesluit?

3 Toe Adam en Eva gesondig het, het dit miskien gelyk of Jehovah se voorneme vir ’n aardse paradys wat deur volmaakte mense bewoon word, verydel is. Maar God het onmiddellik aan die probleem aandag gegee. Hy het gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [die slang] en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond.”—Genesis 3:15.

4 Dit was raaiselagtige, kriptiese woorde. Wie was hierdie vrou? Wie was die slang? Wie was die “saad” wat die slang se kop sou vermorsel? Adam en Eva kon maar net raai. God se woorde het nietemin hoop gebied vir alle getroue nakomelinge van daardie ontroue paar. Regverdigheid sou seëvier. Jehovah se voorneme sou verwesenlik word. Maar hoe? Dit was ’n verborgenheid! Die Bybel noem dit “God se wysheid in ’n heilige geheim, die verborge wysheid”.—1 Korintiërs 2:7.

5. Lig toe waarom Jehovah sy geheim progressief geopenbaar het.

5 As die “Openbaarder van geheime” sou Jehovah uiteindelik pertinente besonderhede oor die vervulling van hierdie geheim onthul (Daniël 2:28). Maar hy sou dit geleidelik, progressief doen. Ter toeligting kan ons dink aan die manier waarop ’n liefdevolle vader antwoord wanneer sy seuntjie vra: “Pappa, waar kom ek vandaan?” ’n Wyse vader gee net soveel inligting as wat die seuntjie kan verstaan. Namate die seun ouer word, vertel die vader hom meer. Net so besluit Jehovah wanneer sy volk gereed is vir openbarings ten opsigte van sy wil en voorneme.—Spreuke 4:18; Daniël 12:4.

6. (a) Wat is die doel van ’n verbond, of kontrak? (b) Waarom is dit merkwaardig dat Jehovah verbonde met mense sou aangaan?

6 Hoe het Jehovah hierdie openbarings gegee? Hy het ’n reeks verbonde, of kontrakte, gebruik om baie dinge te openbaar. Jy het waarskynlik al ’n kontrak van die een of ander aard aangegaan—miskien om ’n huis te koop of om geld te leen of uit te leen. So ’n kontrak was ’n wetlike waarborg dat daar aan die voorwaardes waarop besluit is, voldoen sou word. Maar waarom was dit vir Jehovah nodig om formele verbonde, of kontrakte, met mense te sluit? Sy woord is tog sekerlik genoeg waarborg vir sy beloftes. Dit is waar, en tog het God by etlike geleenthede sy woord goedgunstig met wetlike kontrakte bekragtig. Hierdie bindende ooreenkomste gee ons as onvolmaakte mense ’n selfs vaster grondslag vir vertroue in Jehovah se beloftes.—Hebreërs 6:16-18.

Die verbond met Abraham

7, 8. (a) Watter verbond het Jehovah met Abraham gesluit, en watter lig het dit op die heilige geheim gewerp? (b) Hoe het Jehovah die geslagslyn van die beloofde Saad mettertyd meer spesifiek aangedui?

7 Meer as tweeduisend jaar nadat die mens uit die Paradys verdryf is, het Jehovah vir sy getroue kneg Abraham gesê: “Ek [sal] jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel . . . en deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:17, 18). Dit was meer as ’n belofte; Jehovah het dit in die vorm van ’n wetlike verbond gestel en dit met sy onverbreeklike eed bekragtig (Genesis 17:1, 2; Hebreërs 6:13-15). Hoe merkwaardig is dit tog dat die Soewereine Heer ’n kontrak aangegaan het om die mensdom te seën!

‘Ek sal jou saad vermeerder soos die sterre van die hemel’

8 Die Abrahamitiese verbond het geopenbaar dat die beloofde Saad as ’n mens sou kom, want hy sou ’n nakomeling van Abraham wees. Maar wie sou hy wees? Mettertyd het Jehovah geopenbaar dat Abraham se seun Isak ’n voorouer van die Saad sou wees. Uit Isak se twee seuns is Jakob gekies (Genesis 21:12; 28:13, 14 ). Later het Jakob hierdie profetiese woorde oor een van sy 12 seuns uitgespreek: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie die aanvoerderstaf tussen sy voete uit nie, totdat Silo [“Hy aan wie dit behoort”] kom; en aan hom sal die gehoorsaamheid van die volke behoort” (Genesis 49:10). Hierdeur is getoon dat die Saad ’n koning sou wees, wat van Juda afstam!

Die verbond met Israel

9, 10. (a) Watter verbond het Jehovah met die nasie Israel gesluit, en watter beskerming het daardie verbond gebied? (b) Hoe het die Wet getoon dat die mensdom ’n losprys nodig het?

9 In 1513 v.G.J. het Jehovah ’n reëling ingestel wat die weg gebaan het vir nog openbarings omtrent die heilige geheim. Hy het ’n verbond gesluit met Abraham se nakomelinge, die nasie Israel. Hoewel hierdie Mosaïese Wetsverbond nou nie meer van krag is nie, het dit ’n noodsaaklike deel uitgemaak van Jehovah se voorneme om die beloofde Saad te voorsien. Hoe so? Kyk na drie maniere. Eerstens, die Wet was soos ’n beskermende muur (Efesiërs 2:14). Die regverdige insettinge daarvan het as ’n versperring tussen Jood en nie-Jood gedien. Sodoende het die Wet gehelp om die geslagslyn van die Saad van die belofte te bewaar. Dit was grootliks te danke aan hierdie beskerming dat die nasie nog bestaan het toe God se bestemde tyd aangebreek het vir die Messias om in die stam Juda gebore te word.

10 Tweedens, die Wet het duidelik getoon dat die mensdom ’n losprys nodig het. Omdat dit ’n volmaakte Wet was, het dit die onvermoë van sondige mense geopenbaar om dit volkome te onderhou. Dit het dus “oortredings openbaar [gemaak], totdat die saad sou kom aan wie die belofte gemaak is” (Galasiërs 3:19). Deur middel van diereoffers het die Wet tydelike versoening vir sondes gebied. Maar aangesien dit, soos Paulus geskryf het, “nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik [is] om sondes weg te neem nie”, het hierdie offerandes bloot Christus se losprysoffer voorafgeskadu (Hebreërs 10:1-4). Vir getroue Jode het daardie verbond dus ’n “tugmeester geword wat na Christus gelei het”.—Galasiërs 3:24.

11. Watter wonderlike vooruitsig het die Wetsverbond aan Israel gebied, en waarom het daardie nasie as ’n geheel daardie vooruitsig verbeur?

11 Derdens, daardie verbond het ’n wonderlike vooruitsig aan die nasie Israel gebied. Jehovah het vir hulle gesê dat hulle “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” sou word as hulle aan die verbond getrou bly (Eksodus 19:5, 6). Vleeslike Israel het dan ook uiteindelik die eerste lede van ’n hemelse koninkryk van priesters voorsien. Maar Israel as ’n geheel het teen die Wetsverbond in opstand gekom, die Messiaanse Saad verwerp en daardie vooruitsig verbeur. Wie sou dan die koninkryk van priesters voltallig maak? En wat sou die verband tussen hierdie geseënde nasie en die beloofde Saad wees? Dié aspekte van die heilige geheim sou op God se bestemde tyd geopenbaar word.

Die Dawidiese Koninkryksverbond

12. Watter verbond het Jehovah met Dawid gesluit, en watter lig het dit op God se heilige geheim gewerp?

12 In die 11de eeu v.G.J. het Jehovah verdere lig op die heilige geheim gewerp toe hy nog ’n verbond gesluit het. Hy het getroue koning Dawid belowe: “Ek [sal] beslis jou saad ná jou verwek, . . . en ek sal inderdaad sy koninkryk stewig vestig. . . . Ek sal beslis die troon van sy koninkryk tot onbepaalde tyd stewig vestig” (2 Samuel 7:12, 13; Psalm 89:3). Nou is die geslagslyn van die beloofde Saad tot die huis van Dawid beperk. Maar sou ’n gewone mens “tot onbepaalde tyd” kon regeer? (Psalm 89:20, 29, 34-36). En sou so ’n mensekoning die mensdom van sonde en die dood kon red?

13, 14. (a) Watter belofte maak Jehovah aan sy gesalfde Koning volgens Psalm 110? (b) Watter verdere besonderhede omtrent die komende Saad is deur Jehovah se profete geopenbaar?

13 Dawid het onder inspirasie geskryf: “Jehovah het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak.’ Jehovah het gesweer (en hy sal nie spyt wees nie): ‘Jy is ’n priester tot onbepaalde tyd volgens die wyse van Melgisedek!’” (Psalm 110:1, 4). Dawid se woorde was regstreeks van toepassing op die beloofde Saad, of Messias (Handelinge 2:35, 36). Hierdie Koning sou nie uit Jerusalem regeer nie, maar vanuit die hemel aan Jehovah se “regterhand”. Dit sou hom nie net oor die land Israel gesag gee nie, maar oor die hele aarde (Psalm 2:6-8). Nog iets is hier geopenbaar. Let daarop dat Jehovah met ’n plegtige eed verklaar het dat die Messias “’n priester . . . volgens die wyse van Melgisedek” sou wees. Soos Melgisedek, wat in Abraham se dag as koning-priester gedien het, sou die komende Saad regstreeks deur God aangestel word om as Koning en Priester te dien!—Genesis 14:17-20.

14 Deur die jare heen het Jehovah sy profete gebruik om verdere besonderhede omtrent sy heilige geheim te openbaar. Jesaja het byvoorbeeld geopenbaar dat die Saad ’n offerdood sou sterf (Jesaja 53:3-12). Miga het die Messias se geboorteplek voorspel (Miga 5:2). Daniël het selfs voorspel presies wanneer die Saad sou verskyn en sou sterf.—Daniël 9:24-27.

Die heilige geheim word geopenbaar!

15, 16. (a) Hoe is Jehovah se Seun “uit ’n vrou gebore”? (b) Wat het Jesus van sy menseouers geërf, en wanneer het hy as die Saad van die belofte gekom?

15 Hoe hierdie profesieë vervul sou word, het ’n verborgenheid gebly totdat die Saad verskyn het.Galasiërs 4:4 sê: “Toe die voleinding van die tyd aangebreek het, het God sy Seun uitgestuur, wat uit ’n vrou gebore is.” In die jaar 2 v.G.J. het ’n engel vir ’n Joodse maagd met die naam Maria gesê: “Kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee . . . Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word.”—Lukas 1:31, 32, 35.

16 Later het Jehovah die lewe van sy Seun van die hemel na Maria se moederskoot oorgeplaas, sodat hy uit ’n vrou gebore is. Maria was ’n onvolmaakte vrou. Tog het Jesus nie onvolmaaktheid van haar geërf nie, want hy was “God se Seun”. Terselfdertyd het Jesus se menseouers, as nakomelinge van Dawid, aan Hom die natuurlike sowel as die wetlike reg as ’n erfgenaam van Dawid gegee (Handelinge 13:22, 23). By Jesus se doop in 29 G.J. het Jehovah hom met heilige gees gesalf en gesê: “Dit is my Seun, die geliefde” (Matteus 3:16, 17). Uiteindelik het die Saad gekom! (Galasiërs 3:16). Dit was tyd om nog meer omtrent die heilige geheim te openbaar.—2 Timoteus 1:10.

17. Hoe is lig op die betekenis van Genesis 3:15 gewerp?

17 Gedurende sy bediening het Jesus die slang van Genesis 3:15 as Satan geïdentifiseer en die slang se saad as Satan se volgelinge (Matteus 23:33; Johannes 8:44). Later is daar geopenbaar hoe hulle almal vir ewig vernietig sou word (Openbaring 20:1-3, 10, 15). En die vrou is geïdentifiseer as “die Jerusalem daar bo”, Jehovah se hemelse gemalinorganisasie van geesskepsele. *Galasiërs 4:26; Openbaring 12:1-6.

Die nuwe verbond

18. Wat is die doel van “die nuwe verbond”?

18 Moontlik die dramatiesste openbaring het plaasgevind op die aand voor Jesus se dood toe hy vir sy getroue dissipels van “die nuwe verbond” vertel het (Lukas 22:20). Hierdie nuwe verbond sou soos sy voorganger, die Mosaïese Wetsverbond, “’n koninkryk van priesters” voortbring (Eksodus 19:6; 1 Petrus 2:9). Maar hierdie verbond sou nie ’n vleeslike nasie tot stand bring nie, maar ’n geestelike, “die Israel van God”, wat uitsluitlik uit Christus se getroue gesalfde volgelinge bestaan (Galasiërs 6:16). Hierdie deelgenote van die nuwe verbond sou saam met Jesus die mensdom seën!

19. (a) Waarom slaag die nuwe verbond daarin om “’n koninkryk van priesters” voort te bring? (b) Waarom word gesalfde Christene “’n nuwe skepping” genoem, en hoeveel sal saam met Christus in die hemel dien?

19 Maar waarom slaag die nuwe verbond daarin om “’n koninkryk van priesters” voort te bring om die mensdom te seën? Omdat dit nie Christus se dissipels as sondaars veroordeel nie, maar eerder vergifnis vir hulle sondes deur sy offerande moontlik maak (Jeremia 31:31-34). Wanneer hulle ’n rein posisie voor Jehovah verkry, neem hy hulle aan as lede van sy hemelse gesin en salf hy hulle met heilige gees (Romeine 8:15-17; 2 Korintiërs 1:21). Sodoende ondergaan hulle ‘’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop, tot ’n erfenis wat in die hemele bewaar word’ (1 Petrus 1:3, 4). Aangesien so ’n verhewe status iets heeltemal nuuts is vir mense, word geesverwekte gesalfde Christene “’n nuwe skepping” genoem (2 Korintiërs 5:17). Die Bybel openbaar dat 144 000 uiteindelik vanuit die hemel oor die losgekoopte mensdom sal regeer.—Openbaring 5:9, 10; 14:1-4.

20. (a) Wat is in 36 G.J. omtrent die heilige geheim geopenbaar? (b) Wie sal die seëninge geniet wat aan Abraham belowe is?

20 Hierdie gesalfdes word saam met Jesus “Abraham se saad” (Galasiërs 3:29). * Die eerstes wat gekies is, was vleeslike Jode. Maar in 36 G.J. is nog ’n aspek van die heilige geheim geopenbaar: Heidene, of nie-Jode, sou ook in die hemelse hoop deel (Romeine 9:6-8; 11:25, 26; Efesiërs 3:5, 6). Sou net gesalfde Christene die seëninge geniet wat aan Abraham belowe is? Nee, want Jesus se offerande strek die hele wêreld tot voordeel (1 Johannes 2:2). Mettertyd het Jehovah geopenbaar dat ’n ongetelde “groot menigte” die einde van Satan se stelsel van dinge sou oorleef (Openbaring 7:9, 14). ’n Menigte ander sal opgewek word met die vooruitsig om vir ewig in die Paradys te lewe!—Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29; Openbaring 20:11-15; 21:3, 4.

God se wysheid en die heilige geheim

21, 22. In watter opsigte is Jehovah se heilige geheim ’n bewys van sy wysheid?

21 Die heilige geheim is ’n merkwaardige bewys van “die uiters veelsydige wysheid van God” (Efesiërs 3:8-10). Watter wysheid het Jehovah tog aan die dag gelê deur hierdie geheim te formuleer en deur dit toe so geleidelik te openbaar! Hy het wyslik die beperkings van mense in ag geneem en hulle toegelaat om hulle ware hartstoestand te openbaar.—Psalm 103:14.

22 Jehovah het ook ongeëwenaarde wysheid getoon toe hy Jesus as Koning gekies het. Jehovah se Seun is betroubaarder as enige ander wese in die heelal. Gedurende Jesus se lewe as ’n mens van vlees en bloed het hy baie ontberinge van die een of ander aard ervaar. Hy verstaan menslike probleme ten volle (Hebreërs 5:7-9). En wat van Jesus se medeheersers? Deur die eeue heen is mans sowel as vroue—wat uit alle rasse, tale en agtergronde gekies is—gesalf. Daar is hoegenaamd geen probleem wat individue onder hulle nie ondervind het en te bowe gekom het nie (Efesiërs 4:22-24). Dit sal ’n genot wees om onder die heerskappy van hierdie barmhartige koning-priesters te lewe!

23. Watter voorreg het Christene met betrekking tot Jehovah se heilige geheim?

23 Die apostel Paulus het geskryf: “Die heilige geheim wat van die vergange stelsels van dinge en van die vergange geslagte af verborge was[, is] aan sy heiliges openbaar gemaak” (Kolossense 1:26). Ja, Jehovah se gesalfde heiliges het baie omtrent die heilige geheim geleer, en hulle het hierdie kennis aan miljoene bekend gemaak. Wat ’n voorreg het ons almal tog! Jehovah het “die heilige geheim van sy wil aan ons bekend gemaak” (Efesiërs 1:9). Laat ons ander van hierdie wonderlike geheim vertel en hulle help om ook diep in die ondeurgrondelike wysheid van Jehovah God te kyk!

^ par. 17 “Die heilige geheim van . . . godvrugtige toegewydheid” is ook in Jesus geopenbaar (1 Timoteus 3:16). Dit was lank ’n geheim, ’n verborgenheid, of enigiemand volmaakte onkreukbaarheid teenoor Jehovah sou kon handhaaf. Jesus het die antwoord geopenbaar. Hy het onkreukbaarheid gehandhaaf onder elke toets waaraan Satan hom onderwerp het.—Matteus 4:1-11; 27:26-50.

^ par. 20 Jesus het ook “’n verbond . . . vir ’n koninkryk” met dieselfde groep gesluit (Lukas 22:29, 30). Trouens, Jesus het ’n kontrak met hierdie “klein kuddetjie” aangegaan dat hulle saam met hom in die hemel sou regeer as die sekondêre deel van die saad van Abraham.—Lukas 12:32.