Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 22

Het “die wysheid van bo” ’n invloed op jou lewe?

Het “die wysheid van bo” ’n invloed op jou lewe?

1-3. (a) Hoe het Salomo buitengewone wysheid aan die dag gelê in die manier waarop hy ’n saak oor moederskap hanteer het? (b) Wat belowe Jehovah om aan ons te gee, en watter vrae ontstaan?

DIT was ’n moeilike saak—twee vroue het oor ’n baba gestry. Die vroue het ’n huis gedeel, en albei het aan ’n seuntjie geboorte gegee, die een ’n paar dae ná die ander. Een van die babas het gesterf, en nou het elkeen van die vroue beweer dat sy die moeder van die lewende baba is. * Daar was geen getuies van wat gebeur het nie. Die saak is waarskynlik in ’n laer hof verhoor, maar daar was geen beslissing nie. Uiteindelik is die geskil na Salomo, die koning van Israel, geneem. Sou hy kon uitvind wat die waarheid is?

2 Nadat Salomo ’n ruk geluister het terwyl die vroue gestry het, het hy gesê dat ’n swaard gebring moet word. Toe het hy met oënskynlike oortuiging beveel dat die kind in twee gesny en ’n helfte aan elke vrou gegee moet word. Dadelik het die werklike moeder die koning gesmeek om die baba—haar kosbare kind—vir die ander vrou te gee. Maar die ander vrou het daarop aangedring dat die kind in twee gesny moet word. Nou het Salomo geweet wat die waarheid is. Hy het geweet dat ’n moeder tere gevoelens het vir die kind aan wie sy geboorte gegee het, en hy het hierdie kennis gebruik om die geskil te besleg. Stel jou die moeder se verligting voor toe Salomo vir haar die baba gegee en gesê het: “Sy is sy moeder.”—1 Konings 3:16-27.

3 Buitengewone wysheid, nie waar nie? Toe die volk hoor hoe Salomo die saak opgelos het, is hulle met ontsag vervul, “want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was”. Ja, Salomo se wysheid was ’n Goddelike gawe. Jehovah het hom “’n wyse hart met begrip” gegee (1 Konings 3:12, 28). Maar wat van ons? Kan ons ook Goddelike wysheid ontvang? Ja, want Salomo het onder inspirasie geskryf: “Jehovah gee wysheid” (Spreuke 2:6). Jehovah belowe om wysheid—die vermoë om kennis, begrip en onderskeidingsvermoë goed te benut—aan diegene te gee wat opreg daarna soek. Hoe kan ons wysheid van bo verwerf? En hoe kan ons dit in ons lewe toepas?

“Verwerf wysheid”—Hoe?

4-7. Wat is vier vereistes om wysheid te verwerf?

4 Moet ons baie intelligent of hoog geleerd wees om Goddelike wysheid te ontvang? Nee. Jehovah is bereid om van sy wysheid aan ons te gee ongeag ons agtergrond of opvoeding (1 Korintiërs 1:26-29). Maar ons moet die inisiatief neem, want die Bybel spoor ons aan: “Verwerf wysheid” (Spreuke 4:7). Hoe kan ons dit doen?

5 Eerstens, ons moet God vrees. “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid [“die eerste stap tot wysheid”, The New English Bible]”, sê Spreuke 9:10. Vrees vir God is die grondslag van ware wysheid. Waarom? Onthou dat wysheid die vermoë behels om kennis met welslae te gebruik. Om God te vrees, beteken nie om voor hom te bewe van angs nie, maar om voor hom te buig in ontsag, eerbied en vertroue. Hierdie vrees is heilsaam en ’n kragtige dryfveer. Dit beweeg ons om ons lewe in ooreenstemming te bring met ons kennis van God se wil en weë. Daar is geen wyser weg vir ons om te volg nie, want Jehovah se standaarde strek altyd diegene wat dit volg, tot voordeel.

6 Tweedens, ons moet nederig en beskeie wees. Goddelike wysheid kan nie sonder nederigheid en beskeidenheid bestaan nie (Spreuke 11:2). Hoe so? As ons nederig en beskeie is, is ons bereid om te erken dat ons nie alles weet nie, dat ons menings nie altyd reg is nie en dat ons Jehovah se denke oor sake moet leer ken. Jehovah “staan die hoogmoediges teë”, maar hy gee met graagte wysheid aan dié wat nederig van hart is.—Jakobus 4:6.

As ons Goddelike wysheid wil verwerf, moet ons ons inspan om daarna te soek

7 ’n Derde vereiste is om God se geskrewe Woord te bestudeer. Jehovah se wysheid word in sy Woord geopenbaar. Om daardie wysheid te verwerf, moet ons ons inspan om daarna te soek (Spreuke 2:1-5). ’n Vierde vereiste is gebed. As ons God opreg om wysheid vra, sal hy dit mildelik gee (Jakobus 1:5). Ons gebede vir die hulp van sy gees sal nie onverhoord bly nie. En sy gees kan ons in staat stel om skatte in sy Woord te vind wat ons kan help om probleme op te los, gevare te vermy en wyse besluite te maak.—Lukas 11:13.

8. Waaraan sal dit gesien kan word as ons werklik Goddelike wysheid verwerf het?

8 Soos ons in Hoofstuk 17 gesien het, is Jehovah se wysheid prakties. As ons werklik Goddelike wysheid verwerf het, sal dit dus in ons handelswyse gesien kan word. Die dissipel Jakobus het die vrugte van Goddelike wysheid beskryf toe hy gesê het: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie” (Jakobus 3:17). Terwyl ons elkeen van hierdie aspekte van Goddelike wysheid bespreek, kan ons ons afvra: ‘Het die wysheid van bo ’n invloed op my lewe?’

“Kuis, dan vredeliewend”

9. Wat beteken dit om kuis te wees, en waarom is dit gepas dat kuisheid die eerste eienskap van wysheid is wat genoem word?

9 “Allereers kuis.” Om kuis te wees, beteken om rein en onbevlek te wees, nie net uiterlik nie maar ook innerlik. Die Bybel verbind wysheid met die hart, maar hemelse wysheid kan nie in ’n hart inkom wat besoedel is met goddelose gedagtes, begeertes en beweegredes nie (Spreuke 2:10; Matteus 15:19, 20). As ons hart egter kuis is—dit wil sê sover dit vir onvolmaakte mense moontlik is—sal ons ‘afwyk van wat sleg is en doen wat goed is’ (Psalm 37:27; Spreuke 3:7). Is dit nie gepas dat kuisheid die eerste eienskap van wysheid is wat genoem word nie? Hoe kan ons per slot van rekening die ander eienskappe van die wysheid van bo ten volle weerspieël as ons nie sedelik en geestelik rein is nie?

10, 11. (a) Waarom is dit belangrik dat ons vredeliewend moet wees? (b) Hoe kan jy toon dat jy ’n vredemaker is wanneer jy besef dat jy ’n medeaanbidder aanstoot gegee het? (Sien ook voetnoot.)

10 “Dan vredeliewend.” Hemelse wysheid beweeg ons om vrede na te streef, wat ’n vrug van God se gees is (Galasiërs 5:22). Ons probeer om nie die “band van vrede” wat Jehovah se volk verenig, te ontwrig nie (Efesiërs 4:3). Ons doen ook ons bes om vrede te herstel wanneer dit versteur is. Waarom is dit belangrik? Die Bybel sê: “Hou aan . . . om vreedsaam te lewe; en die God van liefde en van vrede sal met julle wees” (2 Korintiërs 13:11). Solank ons aanhou om vreedsaam te lewe, sal die God van vrede dus met ons wees. Die manier waarop ons ons medeaanbidders behandel, het ’n regstreekse uitwerking op ons verhouding met Jehovah. Hoe kan ons toon dat ons vredemakers is? Kyk na ’n voorbeeld.

11 Wat moet jy doen as jy besef dat jy ’n medeaanbidder aanstoot gegee het? Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). Jy kan hierdie raad toepas deur die inisiatief te neem om na jou broer toe te gaan. Met watter doel? Om ‘vrede te maak’ met hom. * Om dit te doen, moet jy moontlik erken dat hy seergemaak is en dit nie net ignoreer nie. As jy hom nader met die doel om vrede te herstel en dié gesindheid behou, kan enige misverstand moontlik uit die weg geruim word, kan daar gepas om verskoning gevra word en kan vergifnis geskenk word. As jy jou inspan om vrede te maak, toon jy dat jy deur Goddelike wysheid gerig word.

“Redelik, bereid om te gehoorsaam”

12, 13. (a) Wat beteken die woord wat in Jakobus 3:17 met “redelik” weergegee word? (b) Hoe kan ons toon dat ons redelik is?

12 “Redelik.” Wat beteken dit om redelik te wees? Volgens geleerdes is die oorspronklike Griekse woord wat in Jakobus 3:17 met “redelik” weergegee word, moeilik om te vertaal. Vertalers het woorde soos “vriendelik”, “verdraagsaam” en “bedagsaam” gebruik. ’n Voetnoot in die Nuwe Wêreld-vertaling dui aan dat die letterlike betekenis “toegewend” is. Hoe kan ons toon dat hierdie aspek van die wysheid van bo ’n invloed op ons het?

13 “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”, sê Filippense 4:5. ’n Ander vertaling lui: “Julle moet daarvoor bekend wees dat julle redelik is” (The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips). Let daarop dat dit nie soseer ’n kwessie is van hoe ons onsself beskou nie; dit is ’n kwessie van hoe ander ons beskou, van hoe ons bekend staan. ’n Redelike persoon dring nie altyd daarop aan dat die letter van die wet in alles gevolg moet word of dat alles op sy manier gedoen moet word nie. Hy is eerder bereid om na ander te luister en, wanneer dit gepas is, aan hulle wense toe te gee. Hy behandel ander ook vriendelik, nie hard of kwaai nie. Hoewel dit noodsaaklik is vir alle Christene, is dit veral belangrik vir diegene wat as ouer manne dien. Vriendelikheid trek mense aan en maak ouer manne genaakbaar (1 Tessalonisense 2:7, 8). Dit sal goed wees as ons almal ons afvra: ‘Is ek daarvoor bekend dat ek bedagsaam, toegewend en vriendelik is?’

14. Hoe kan ons toon dat ons “bereid [is] om te gehoorsaam”?

14 “Bereid om te gehoorsaam.” Die Griekse woord wat met “bereid om te gehoorsaam” weergegee word, kom nêrens anders in die Christelike Griekse Geskrifte voor nie. Volgens een geleerde word hierdie woord “dikwels in verband met militêre dissipline gebruik”. Dit dra die gedagte oor van “maklik om oorreed te word” en “onderdanig”. Iemand wat deur die wysheid van bo gerig word, onderwerp hom geredelik aan wat die Skrif sê. Hy is nie bekend as iemand wat op iets besluit en dan weier om beïnvloed te word deur enige feite wat bots met sy besluit nie. Inteendeel, hy verander gou wanneer duidelike Skriftuurlike bewyse aan hom voorgelê word dat hy ’n verkeerde standpunt ingeneem of verkeerde gevolgtrekkings gemaak het. Is dit hoe ander jou ken?

“Vol barmhartigheid en goeie vrugte”

15. Wat is barmhartigheid, en waarom is dit gepas dat “barmhartigheid” en “goeie vrugte” saam gemeld word in Jakobus 3:17?

15 “Vol barmhartigheid en goeie vrugte.” * Barmhartigheid is ’n belangrike aspek van die wysheid van bo, want die vers sê dat hierdie wysheid “vol barmhartigheid” is. Let daarop dat “barmhartigheid” en “goeie vrugte” saam gemeld word. Dit is gepas, want in die Bybel verwys barmhartigheid meestal na ’n daadwerklike besorgdheid oor ander, medelye wat ’n oorvloed goedhartige dade voortbring. Een naslaanwerk omskryf barmhartigheid as “’n gevoel van jammerte oor iemand se slegte situasie en die strewe om iets daaromtrent te doen”. Goddelike wysheid is dus nie onverskillig, gevoelloos of bloot intellektueel nie. Dit is eerder hartlik, opreg en sensitief. Hoe kan ons toon dat ons vol barmhartigheid is?

16, 17. (a) Wat behalwe liefde vir God beweeg ons om aan die predikingswerk deel te neem, en waarom? (b) Op watter maniere kan ons toon dat ons vol barmhartigheid is?

16 ’n Belangrike manier is ongetwyfeld deur die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander bekend te maak. Wat beweeg ons om hierdie werk te doen? Dit is hoofsaaklik liefde vir God. Maar ons word ook beweeg deur barmhartigheid, of medelye met ander (Matteus 22:37-39). Baie is vandag “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Hulle is geestelik verwaarloos en verblind deur valse godsdiensherders. Gevolglik weet hulle nie van die wyse leiding in God se Woord of van die seëninge wat die Koninkryk binnekort vir hierdie aarde gaan bring nie. Wanneer ons dan nadink oor die geestelike behoeftes van die mense om ons, beweeg ons opregte medelye ons om alles in ons vermoë te doen om hulle van Jehovah se liefdevolle voorneme te vertel.

Wanneer ons barmhartigheid, of medelye, aan ander bewys, weerspieël ons “die wysheid van bo”

17 Op watter ander maniere kan ons toon dat ons vol barmhartigheid is? Dink weer aan Jesus se gelykenis van die Samaritaan wat ’n reisiger langs die pad gevind het waar hy gelê het nadat hy beroof en geslaan is. Ontroer deur medelye het die Samaritaan ‘barmhartig opgetree’ en die slagoffer se wonde verbind en vir hom gesorg (Lukas 10:29-37). Lig dit nie toe dat barmhartigheid beteken dat ons praktiese hulp moet verleen aan dié wat dit nodig het nie? Die Bybel sê dat ons “aan almal [moet] goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Dink aan ’n paar moontlikhede. ’n Bejaarde medegelowige het dalk vervoer na en van Christelike vergaderinge nodig. ’n Weduwee in die gemeente het miskien hulp nodig met herstelwerk aan haar huis (Jakobus 1:27). Iemand wat mismoedig is, het dalk ’n “goeie woord” nodig om hom op te beur (Spreuke 12:25). Wanneer ons op hierdie maniere barmhartigheid bewys, toon ons dat die wysheid van bo ’n invloed op ons het.

“Maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie”

18. Wat moet ons met wortel en tak uit ons hart probeer uitroei as ons deur die wysheid van bo gerig word, en waarom?

18 “Maak nie partydige onderskeid nie.” Goddelike wysheid styg bo rassevooroordeel en volkstrots uit. As ons deur hierdie wysheid gerig word, probeer ons enige neiging om sommige voor te trek, met wortel en tak uit ons hart uitroei (Jakobus 2:9). Ons begunstig ander nie op grond van hulle geleerdheid, finansiële posisie of gemeentelike verantwoordelikheid nie; ons sien ook nie op enige van ons medeaanbidders neer, ongeag hoe eenvoudig hulle skynbaar is nie. As Jehovah sulke mense waardig ag om sy liefde te ontvang, moet ons hulle beslis waardig ag om ons liefde te ontvang.

19, 20. (a) Wat is die agtergrond van die Griekse woord vir “huigelaar”? (b) Hoe toon ons “ongeveinsde broederlike geneentheid”, en waarom is dit belangrik?

19 “Is nie huigelagtig nie.” Die Griekse woord vir “huigelaar” kan verwys na “’n akteur wat ’n rol gespeel het”. In die ou tyd het Griekse en Romeinse akteurs groot maskers gedra wanneer hulle opgetree het. Gevolglik is die Griekse woord vir “huigelaar” toegepas op iemand wat voorgee, of iemand wat ander bedrieg. Hierdie aspek van Goddelike wysheid moet nie net ’n uitwerking hê op hoe ons medegelowiges behandel nie, maar ook op hoe ons oor hulle voel.

20 Die apostel Petrus het gesê dat ons “gehoorsaamheid aan die waarheid” tot “ongeveinsde broederlike geneentheid” moet lei (1 Petrus 1:22). Ja, ons geneentheid vir ons broers moet nie net vir die skyn wees nie. Ons dra nie maskers of speel nie toneel om ander te bedrieg nie. Ons geneentheid moet opreg, uit die hart wees. As dit die geval is, sal ons die vertroue van ons medegelowiges wen, want hulle sal weet dat ons nie voorgee om iets te wees wat ons nie is nie. Sulke opregtheid maak openhartige en eerlike verhoudinge tussen Christene moontlik en bevorder ’n atmosfeer van vertroue in die gemeente.

“Bewaar praktiese wysheid”

21, 22. (a) Hoe het Salomo versuim om wysheid te bewaar? (b) Hoe kan ons wysheid bewaar, en hoe sal dit ons tot voordeel strek as ons dit doen?

21 Goddelike wysheid is ’n gawe van Jehovah, een wat ons moet bewaar. Salomo het gesê: “My seun, . . . bewaar praktiese wysheid en denkvermoë” (Spreuke 3:21). Ongelukkig het Salomo self versuim om dit te doen. Hy het wys gebly solank hy ’n gehoorsame hart behou het. Maar op die ou end het al sy uitlandse vrouens sy hart van Jehovah se rein aanbidding laat afwyk (1 Konings 11:1-8). Salomo se uiteinde lig toe dat kennis nie veel beteken as ons dit nie reg gebruik nie.

22 Hoe kan ons praktiese wysheid bewaar? Ons moet nie net die Bybel en die Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word, gereeld lees nie, maar ons moet ook probeer toepas wat ons leer (Matteus 24:45). Ons het alle rede om Goddelike wysheid toe te pas. Dit beteken ’n beter lewenswyse nou. Dit stel ons in staat om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”—die lewe in God se nuwe wêreld (1 Timoteus 6:19). En bowenal, as ons die wysheid van bo aankweek, sal ons nader kom aan die bron van alle wysheid, Jehovah God.

^ par. 1 Volgens 1 Konings 3:16 was die twee vroue prostitute. Insight on the Scriptures sê: “Hierdie vroue was moontlik prostitute, nie in ’n kommersiële sin nie, maar vroue wat hoerery gepleeg het. Hulle was óf Joodse vroue óf heel moontlik vroue van vreemde afkoms.”—Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 11 Die Griekse uitdrukking wat met ‘maak vrede’ weergegee word, kom van ’n werkwoord wat beteken “‘om ’n verandering te bewerkstellig, om te verruil’, en gevolglik ‘om te versoen’”. Jou doel is dus om ’n verandering te bewerkstellig, om indien moontlik kwade gevoelens uit die gekrenkte persoon se hart te verwyder.—Romeine 12:18.

^ par. 15 ’n Ander vertaling gee hierdie woorde weer met “vol medelye en goeie dade”.—A Translation in the Language of the People, deur Charles B. Williams.