Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 27

“Hoe groot is sy goedheid tog!”

“Hoe groot is sy goedheid tog!”

1, 2. Hoe verreikend is die goedheid van God, en hoe benadruk die Bybel hierdie eienskap?

’N PAAR ou vriende sit buite in die sagte lig van die sonsondergang en geniet ’n ete saam terwyl hulle lag en gesels en die uitsig bewonder. Ver daarvandaan kyk ’n boer oor sy lande uit en glimlag tevrede omdat donker wolke saamgepak het en die eerste druppels reën op dorstige plante val. Elders is ’n man en vrou verheug om hulle kindjie sy eerste wankelende treetjies te sien gee.

2 Of hulle dit weet of nie, hierdie mense vind almal by dieselfde ding baat—die goedheid van Jehovah God. Godsdienstige mense sê dikwels: “God is goed.” Die Bybel stel dit baie sterker. Dit sê: “Hoe groot is sy goedheid tog!” (Sagaria 9:17). Maar dit lyk of min mense vandag waarlik weet wat hierdie woorde beteken. Wat behels die goedheid van Jehovah God werklik, en hoe raak hierdie eienskap van God elkeen van ons?

’n Uitsonderlike faset van Goddelike liefde

3, 4. Wat is goedheid, en waarom kan Jehovah se goedheid die beste beskryf word as ’n blyk van Goddelike liefde?

3 In baie moderne tale is “goedheid” nie juis ’n sinryke woord nie. Maar soos dit in die Bybel geopenbaar word, is goedheid uiters sinryk. Dit verwys hoofsaaklik na deugsaamheid en sedelike voortreflikheid. In sekere sin kan ons dan sê dat Jehovah met goedheid vervul is. Al sy eienskappe—insluitende sy krag, sy geregtigheid en sy wysheid—is deur en deur goed. Goedheid kan nietemin die beste beskryf word as ’n blyk van Jehovah se liefde. Waarom?

4 Goedheid is ’n aktiewe eienskap. Die apostel Paulus het getoon dat dit in mense selfs aantrekliker as regverdigheid is (Romeine 5:7). ’n Regverdige man sal getrou by die vereistes van die wet bly, maar ’n goeie man doen meer. Hy neem die inisiatief en soek doelgerig na maniere om ander te bevoordeel. Soos ons sal sien, is Jehovah beslis goed in hierdie sin. Sulke goedheid spruit ongetwyfeld voort uit Jehovah se onbeperkte liefde.

5-7. Waarom het Jesus geweier om “Goeie Leermeester” genoem te word, en watter belangrike waarheid het hy hierdeur bevestig?

5 Jehovah is ook uniek wat sy goedheid betref. Kort voor Jesus gesterf het, het ’n man na hom toe gekom om ’n vraag te vra en hom met die woorde “Goeie Leermeester” aangespreek. Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy my goed? Niemand is goed nie, behalwe een, God” (Markus 10:17, 18). Jy vind hierdie antwoord dalk vreemd. Waarom het Jesus die man reggehelp? Was Jesus dan nie ’n “Goeie Leermeester” nie?

6 Die man het blykbaar die woorde “Goeie Leermeester” as ’n vleiende titel gebruik. Jesus het sulke heerlikheid op beskeie wyse eerder aan sy hemelse Vader gegee, wat in die hoogste graad goed is (Spreuke 11:2). Maar Jesus het ook ’n belangrike waarheid bevestig. Jehovah alleen is die standaard vir wat goed is. Net hy het die soewereine reg om te bepaal wat goed en wat sleg is. Adam en Eva het vir hulle daardie reg probeer toe-eien toe hulle opstandig was en van die boom van die kennis van goed en kwaad geneem het. In teenstelling met hulle laat Jesus dit nederig aan sy Vader oor om standaarde vas te stel.

7 Jesus het ook geweet dat Jehovah die bron is van alles wat waarlik goed is. Hy is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Kom ons kyk hoe Jehovah se goedheid in sy vrygewigheid gesien kan word.

Bewyse van Jehovah se oorvloedige goedheid

8. Hoe het Jehovah goedheid aan die hele mensdom bewys?

8 Al die mense wat tot nog toe gelewe het, het by Jehovah se goedheid baat gevind.Psalm 145:9 sê: “Jehovah is goed vir almal.” Wat is ’n paar voorbeelde van sy allesomvattende goedheid? Die Bybel sê: “Hy [het] homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat . . . nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Handelinge 14:17). Het jy nie al ná ’n heerlike ete opgebeur gevoel nie? As Jehovah nie in sy goedheid hierdie aarde met sy nimmereindigende waterkringloop en “vrugbare tye” ontwerp het om ’n oorvloed voedsel voort te bring nie, sou daar geen etes gewees het nie. Jehovah het hierdie goedheid nie net bewys aan diegene wat hom liefhet nie, maar aan almal. Jesus het gesê: “Hy [laat] sy son . . . opgaan oor goddeloses en goeies en [laat dit] reën op regverdiges en onregverdiges.”—Matteus 5:45.

Jehovah ‘gee vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye’

9. Hoe lig die appel Jehovah se goedheid toe?

9 Baie neem die groot vrygewigheid wat as gevolg van die volgehoue werking van die son, die reën en die vrugbare tye aan die mensdom betoon word, as vanselfsprekend aan. Dink byvoorbeeld aan die appel. Dit is ’n vrug wat in al die gematigde streke van die aarde algemeen voorkom. Tog is dit mooi om na te kyk, lekker om te eet en vol verfrissende sap en noodsaaklike voedingstowwe. Het jy geweet dat daar wêreldwyd ongeveer 7 500 verskillende soorte appels is, wat wissel in kleur van rooi tot goud tot geel tot groen en in grootte van net ’n bietjie groter as ’n kersie tot so groot soos ’n pomelo? As jy ’n appelpit in jou hand hou, lyk dit onbeduidend. Maar daaruit groei een van die mooiste bome (Hooglied van Salomo 2:3). Elke lente is die appelboom versier met ’n pragtige krans van bloeisels; elke herfs dra dit vrugte. Die gemiddelde appelboom sal elke jaar—tot 75 jaar lank—genoeg vrugte dra om 20 kartondose van 19 kilogram elk te vul!

Uit hierdie pitjie groei ’n boom wat dekades lank aan mense vrugte en vreugde kan verskaf

10, 11. Hoe lewer die sintuie bewys van God se goedheid?

10 In sy oneindige goedheid het Jehovah ons ’n liggaam gegee wat “wonderbaar gemaak is”, met sintuie om ons te help om sy werke waar te neem en te geniet (Psalm 139:14). Dink weer aan die tonele wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is. Wat sien die oog wat sulke oomblikke vreugdevol maak? Die blosende wange van ’n gelukkige kind. Die vlae reën wat oor die landerye uitsak. Die rooi, goud en pers van ’n sonsondergang. Die menseoog is gemaak om meer as 300 000 verskillende kleure te sien! En ons gehoor neem die verskillende tone in ’n geliefde se stem waar, die geruis van die wind in die bome, ’n klein kindjie se geskater. Waarom kan ons sulke tonele en klanke geniet? Die Bybel sê: “Die oor wat hoor en die oog wat sien—Jehovah het hulle al twee gemaak” (Spreuke 20:12). Maar dit is net twee van die sintuie.

11 Die reuksin is nog ’n bewys van Jehovah se goedheid. Die mens se neus kan ongeveer 10 000 verskillende geure onderskei. Dink aan net ’n paar: jou gunstelingkos op die stoof, blomme, blare wat afgeval het, die rook van ’n gesellige vuurtjie. En jou tassin stel jou in staat om die streling van die bries teen jou gesig, die vertroostende omhelsing van ’n geliefde, ’n lekker gladde vrug in jou hand te voel. Wanneer jy ’n hap vat, begin jou smaaksin werk. Jy proe ’n heerlike kombinasie van geure wanneer jou smaakknoppies subtiele smake waarneem wat deur die vrug se ingewikkelde chemiese samestelling geskep word. Ja, ons het alle rede om oor Jehovah uit te roep: “Hoe oorvloedig is u goedheid tog, wat u as ’n skat bewaar het vir dié wat u vrees!” (Psalm 31:19). Maar hoe het Jehovah goedheid “as ’n skat bewaar” vir dié wat godvrugtige vrees het?

Goedheid met ewige voordele

12. Watter voorsienings van Jehovah is die belangrikste, en waarom?

12 Jesus het gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom’” (Matteus 4:4). Ja, Jehovah se geestelike voorsienings kan ons selfs tot groter voordeel strek as die fisiese voorsienings, want dit lei tot die ewige lewe. In Hoofstuk 8 van hierdie boek het ons gesien dat Jehovah sy herstellingskrag gedurende hierdie laaste dae gebruik het om ’n geestelike paradys tot stand te bring. ’n Vername kenmerk van hierdie paradys is die oorvloed geestelike voedsel.

13, 14. (a) Wat het die profeet Esegiël in ’n visioen gesien, en wat beteken dit vandag vir ons? (b) Watter lewegewende geestelike voorsienings maak Jehovah vir sy getroue knegte?

13 In een van die Bybel se groot herstellingsprofesieë is die profeet Esegiël ’n visioen van ’n herstelde en verheerlikte tempel gegee. Uit daardie tempel het ’n stroom water gevloei wat al hoe breër en dieper geword het totdat dit ’n “dubbele stroom” gevorm het. Oral waar dié rivier gevloei het, het dit seëninge meegebring. Op sy oewers het ’n groot aantal bome gefloreer wat kos en genesing voorsien het. En die rivier het selfs aan die lewelose soutwater van die Dooie See lewe gegee en dit vrugbaar laat word! (Esegiël 47:1-12). Maar wat het dit alles beteken?

14 Die visioen het beteken dat Jehovah sy reëling vir rein aanbidding, wat afgebeeld is deur die tempel wat Esegiël gesien het, sou herstel. Soos daardie rivier in die visioen, sou God se voorsienings vir die lewe al hoe oorvloediger na sy volk vloei. Sedert die herstelling van rein aanbidding in 1919 het Jehovah sy volk met lewegewende voorsienings geseën. Hoe? Wel, Bybels, Bybellektuur, vergaderinge en byeenkomste het alles gehelp om lewensbelangrike waarhede na miljoene te bring. Deur middel daarvan het Jehovah mense van sy allerbelangrikste voorsiening vir die lewe geleer—Christus se losprysoffer, wat ’n rein posisie voor Jehovah en die hoop op ewige lewe moontlik maak vir almal wat God waarlik liefhet en vrees. * Gevolglik het Jehovah se volk deur hierdie laaste dae heen ’n geestelike fees geniet terwyl die wêreld geestelik honger gely het.—Jesaja 65:13.

15. In watter sin sal Jehovah se goedheid gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy na getroue mense vloei?

15 Maar die rivier van Esegiël se visioen hou nie op vloei wanneer hierdie ou stelsel van dinge tot ’n einde kom nie. Inteendeel, dit sal gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy in selfs oorvloediger mate vloei. Dan sal Jehovah deur middel van die Messiaanse Koninkryk die volle waarde van Jesus se offerande aanwend en getroue mense geleidelik tot volmaaktheid verhef. Hoe sal ons ons tog nie dan oor Jehovah se goedheid verheug nie!

Bykomende fasette van Jehovah se goedheid

16. Hoe toon die Bybel dat Jehovah se goedheid ander eienskappe insluit, en wat is party hiervan?

16 Jehovah se goedheid behels meer as vrygewigheid. God het vir Moses gesê: “Ek sal al my goedheid voor jou aangesig laat verbygaan, en ek sal die naam van Jehovah voor jou bekend maak.” Later sê die verslag: “Jehovah het voor sy aangesig verbygegaan en uitgeroep: ‘Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid’” (Eksodus 33:19; 34:6). Jehovah se goedheid sluit dus ’n aantal voortreflike eienskappe in. Kom ons kyk na net twee hiervan.

17. Wat beteken dit om genadig te wees, en hoe het Jehovah hierdie eienskap teenoor onvolmaakte mense geopenbaar?

17 ‘Genadig.’ Hierdie eienskap vertel ons baie van die manier waarop Jehovah met sy skepsele handel. Jehovah is nie kortaf, kil of tiranniek, soos so dikwels die geval met mense in gesagsposisies is nie; hy is eerder vriendelik en goedhartig. Jehovah het byvoorbeeld vir Abram gesê: “Slaan asseblief jou oë op en kyk van die plek waar jy is noordwaarts en suidwaarts en ooswaarts en weswaarts” (Genesis 13:14). Baie vertalings laat die woord “asseblief” uit. Maar volgens Bybelgeleerdes bevat die bewoording in die oorspronklike Hebreeus ’n woorddeel wat die stelling van ’n bevel in ’n vriendelike versoek verander. Daar is ander soortgelyke gevalle (Genesis 31:12; Esegiël 8:5). Dink net, die Soewerein van die heelal sê “asseblief” vir blote mense! In ’n wêreld waar hardvogtigheid, aggressiewe gedrag en onbeskoftheid so algemeen is, is dit uiters verfrissend om te dink aan hoe genadig ons God, Jehovah, is.

18. In watter sin is Jehovah ‘oorvloedig in waarheid’, en waarom is hierdie woorde bemoedigend?

18 Oorvloedig in waarheid.’ Oneerlikheid is vandag baie algemeen in die wêreld. Maar die Bybel herinner ons hieraan: “God is nie ’n mens dat hy leuens sou vertel nie” (Numeri 23:19). Trouens,Titus 1:2 sê dat “God . . . nie kan lieg nie”. Hy is heeltemal te goed daarvoor. Jehovah se beloftes is dus absoluut betroubaar; sy woorde sal altyd vervul word. Jehovah word selfs “die God van waarheid” genoem (Psalm 31:5). Nie net vertel hy nie leuens nie, maar hy verskaf ook ’n oorvloed van waarheid. Hy is nie afsydig, terughoudend of geheimsinnig nie; inteendeel, uit sy onbeperkte skatkamer van wysheid voorsien hy mildelik geestelike verligting aan sy getroue knegte. * Hy leer hulle selfs hoe om volgens die waarhede te lewe wat hy voorsien sodat hulle kan “voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 3). Hoe moet Jehovah se goedheid ons as individue raak?

“Straal oor die goedheid van Jehovah”

19, 20. (a) Hoe het Satan Eva se vertroue in Jehovah se goedheid ondermyn, en met watter gevolg? (b) Watter uitwerking moet Jehovah se goedheid tereg op ons hê, en waarom?

19 Toe Satan Eva in die tuin van Eden versoek het, het hy begin deur haar vertroue in Jehovah se goedheid subtiel te ondermyn. Jehovah het vir Adam gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet.” Van al die duisende bome wat daardie tuin versier het, was daar net een wat Jehovah die mens verbied het om van te eet. Maar let op hoe Satan sy eerste vraag aan Eva bewoord het: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” (Genesis 2:9, 16; 3:1). Satan het Jehovah se woorde verdraai om Eva te laat dink dat Jehovah iets goeds van hulle weerhou. Ongelukkig het die taktiek gewerk. Eva het, soos so baie mans en vroue ná haar, begin twyfel aan die goedheid van God, wat haar alles gegee het wat sy gehad het.

20 Ons weet watter groot smart en ellende sulke twyfelgedagtes veroorsaak. Laat ons dan die woorde van Jeremia 31:12 ter harte neem: “Hulle sal beslis . . . straal oor die goedheid van Jehovah.” Jehovah se goedheid moet ons inderdaad laat straal van vreugde. Ons hoef nooit die beweegredes van ons God, wat so vol goedheid is, in twyfel te trek nie. Ons kan volkome op hom vertrou, want hy wil net die beste hê vir diegene wat hom liefhet.

21, 22. (a) Wat is ’n paar maniere waarop jy op Jehovah se goedheid wil reageer? (b) Watter eienskap sal ons in die volgende hoofstuk bespreek, en hoe verskil dit van goedheid?

21 Verder is ons verheug wanneer ons ’n geleentheid kry om met ander oor God se goedheid te praat. Psalm 145:7 sê van Jehovah se volk: “Hulle sal die vermelding van u oorvloedige goedheid laat uitborrel.” Ons vind elke dag van ons lewe op die een of ander manier baat by Jehovah se goedheid. Maak dit gerus jou gewoonte om Jehovah elke dag vir sy goedheid te dank en wees so spesifiek moontlik. As ons oor hierdie eienskap nadink, Jehovah elke dag daarvoor dank en ander daarvan vertel, sal dit ons help om ons goeie God na te volg. En terwyl ons na maniere soek om, soos Jehovah, goed te doen, sal ons steeds nader aan hom kom. Die bejaarde apostel Johannes het geskryf: “Geliefde, wees ’n navolger, nie van wat sleg is nie, maar van wat goed is. Hy wat die goeie doen, het sy oorsprong by God.”—3 Johannes 11.

22 Jehovah se goedheid hou ook met ander eienskappe verband. God is byvoorbeeld “oorvloedig . . . in liefderyke goedhartigheid”, of lojale liefde (Eksodus 34:6). Hierdie eienskap is meer spesifiek as goedheid, want Jehovah bewys dit in die besonder aan sy getroue knegte. Ons sal in die volgende hoofstuk leer hoe hy dit doen.

^ par. 14 Daar kan nie ’n beter voorbeeld van Jehovah se goedheid wees as die losprys nie. Uit al die miljoene geesskepsele uit wie Jehovah kon kies, het hy sy geliefde, enigverwekte Seun gekies om vir ons te sterf.

^ par. 18 Die Bybel verbind waarheid tereg met lig. “Stuur u lig en u waarheid uit”, het die psalmis gesing (Psalm 43:3). Jehovah gee ’n oorvloed van geestelike lig aan diegene wat bereid is om deur hom geleer, of verlig, te word.—2 Korintiërs 4:6;1 Johannes 1:5.