Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 28

“U alleen is lojaal”

“U alleen is lojaal”

1, 2. Waarom kan daar gesê word dat koning Dawid eerstehandse kennis van dislojaliteit gehad het?

 KONING DAWID het eerstehandse kennis van dislojaliteit gehad. Op een stadium gedurende sy onstuimige bewind was hy omring deur intrige toe party van sy eie volksgenote teen hom saamgesweer het. Boonop is Dawid verraai deur persone wat ’n mens sou verwag sy intiemste metgeselle sou gewees het. Dink aan Migal, Dawid se eerste vrou. Sy was aanvanklik “verlief op Dawid” en het hom ongetwyfeld in sy koninklike pligte ondersteun. Maar later het sy “hom in haar hart begin verag” en selfs gemeen dat Dawid “net soos ’n verstandelose man” was. – 1 Samuel 18:20; 2 Samuel 6:16, 20.

2 Dan was daar Dawid se persoonlike raadgewer, Agitofel. Sy raad is beskou asof dit woorde direk van Jehovah af was (2 Samuel 16:23). Maar na verloop van tyd het hierdie vertroueling ’n verraaier geword en by die georganiseerde opstand teen Dawid aangesluit. En wie was die aanstigter van die sameswering? Absalom, Dawid se eie seun! Hierdie slinkse opportunis het “die harte van die manne van Israel bly steel” en hom tot ’n mededingende koning verhef. Absalom se opstand het so sterk geword dat koning Dawid vir sy lewe moes vlug. – 2 Samuel 15:1-6, 12-17.

3. Watter vertroue het Dawid gehad?

3 Was daar niemand wat aan Dawid lojaal gebly het nie? Deur al sy ontberinge het Dawid geweet dat daar wel so iemand was. Wie? Niemand anders as Jehovah God nie. “Aan iemand wat lojaal is, is u lojaal”, het Dawid van Jehovah gesê (2 Samuel 22:26). Wat is lojaliteit, en hoe stel Jehovah die voortreflikste voorbeeld in die betoning van hierdie eienskap?

Wat is lojaliteit?

4, 5. (a) Wat is “lojaliteit”? (b) Hoe verskil lojaliteit van getrouheid?

4 “Lojaliteit” soos dit in die Hebreeuse Geskrifte gebruik word, is goedhartigheid wat hom liefdevol aan iets heg en dit nie laat los totdat sy doel daarmee bereik is nie. Dit behels meer as getrouheid. Iemand kan immers net uit pligsgevoel getrou wees. In teenstelling hiermee spruit lojaliteit voort uit liefde. a Daarbenewens kan die woord “getrou” ook op lewelose dinge toegepas word. Die psalmis het byvoorbeeld die maan “’n getroue getuie in die hemelruim” genoem omdat dit gereeld elke nag sy verskyning maak (Psalm 89:37). Maar die maan kan nie as lojaal beskryf word nie. Waarom nie? Omdat lojaliteit ’n blyk van liefde is – iets wat lewelose dinge nie kan betoon nie.

Die maan word ’n getroue getuie genoem, maar net intelligente lewende skepsele kan waarlik Jehovah se lojaliteit weerspieël

5 In die Bybelse sin is lojaliteit ’n hartlike eienskap. Die blote feit dat dit betoon word, dui aan dat daar ’n verhouding bestaan tussen die persoon wat die eienskap openbaar en die een teenoor wie dit betoon word. Sulke lojaliteit is nie wisselvallig nie. Dit is nie soos golwe van die see wat deur veranderende winde heen en weer gewaai word nie. Inteendeel, lojaliteit, of lojale liefde, is so bestendig en sterk dat dit die gedugste struikelblok kan oorkom.

6. (a) Hoe seldsaam is lojaliteit onder mense, en hoe toon die Bybel dit? (b) Wat is die beste manier om uit te vind wat lojaliteit behels, en waarom?

6 Sulke lojaliteit is vandag weliswaar seldsaam. Hegte vriende is dikwels geneig om ‘mekaar te verwoes’. Ons hoor al hoe meer van mans of vrouens wat hulle huweliksmaat verlaat (Spreuke 18:24; Maleagi 2:14-16). Verraderlike dade is so algemeen dat ons moontlik vind dat ons soos die profeet Miga sê: “Die lojale het van die aarde af verdwyn” (Miga 7:2). Mense versuim dikwels om lojaliteit te betoon, maar nie Jehovah nie; hy is die beste voorbeeld van daardie kosbare eienskap. Trouens, die beste manier om uit te vind presies wat lojaliteit behels, is om te kyk hoe Jehovah hierdie wonderlike faset van sy liefde openbaar.

Jehovah se weergalose lojaliteit

7, 8. Hoe kan daar gesê word dat Jehovah alleen lojaal is?

7 Die Bybel sê van Jehovah: “U alleen is lojaal” (Openbaring 15:4). Hoe kan dit wees? Het mense en engele nie al by tye merkwaardige lojaliteit geopenbaar nie? (Job 1:1; Openbaring 4:8). En wat van Jesus Christus? Is hy nie God se vernaamste “lojale kneg” nie? (Psalm 16:10). Hoe kan daar dan gesê word dat Jehovah alleen lojaal is?

8 In die eerste plek moet ons onthou dat lojaliteit ’n faset van liefde is. Wie kan, aangesien ‘God liefde is’ – omdat hy die verpersoonliking van hierdie eienskap is – dan in voller mate lojaliteit betoon as Jehovah? (1 Johannes 4:8). Ja, engele en mense kan God se eienskappe weerspieël, maar net Jehovah is lojaal in die oortreffende sin. As “die Oue van Dae” betoon hy al langer lojaliteit as enige skepsel, op die aarde of in die hemel (Daniël 7:9). Jehovah is dus die absolute verpersoonliking van lojaliteit. Hy openbaar hierdie eienskap soos geen skepsel dit kan doen nie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

9. Hoe is Jehovah “lojaal in alles wat hy doen”?

9 Jehovah is “lojaal in alles wat hy doen” (Psalm 145:17). Hoe? Psalm 136 verskaf die antwoord. ’n Hele paar van Jehovah se reddingsdade word daar gemeld, onder andere die dramatiese verlossing van die Israeliete deur die Rooisee. Dit is betekenisvol dat elke vers van hierdie psalm onderbreek word met die uitdrukking: “Sy lojale liefde duur vir ewig.” Hierdie psalm word genoem in die “ Vrae om oor te peins” op bladsy 289. Wanneer ’n mens hierdie verse lees, kan jy nie anders as om beïndruk te wees deur al die maniere waarop Jehovah lojale liefde aan sy volk bewys het nie. Ja, Jehovah betoon lojaliteit teenoor sy getroue knegte deur hulle hulpgeroep te hoor en deur op die bestemde tyd op te tree (Psalm 34:6). Solank Jehovah se knegte lojaal bly teenoor hom, verflou sy lojale liefde vir hulle nie.

10. Hoe toon Jehovah lojaliteit met betrekking tot sy standaarde?

10 Daarbenewens betoon Jehovah lojaliteit teenoor sy knegte deur getrou te bly aan sy standaarde. In teenstelling met party wispelturige mense, wat deur hulle giere en gevoelens gelei word, verander Jehovah nie in sy beskouing van wat reg en wat verkeerd is nie. Sy beskouing van dinge soos spiritisme, afgodediens en moord het deur die millenniums heen dieselfde gebly. “Selfs wanneer jy oud word, sal ek dieselfde wees”, het hy deur sy profeet Jesaja gesê (Jesaja 46:4). Ons kan dus die vertroue hê dat dit ons tot voordeel sal strek as ons die duidelike sedelike leiding volg wat in God se Woord gevind word. – Jesaja 48:17-19.

11. Gee voorbeelde om te toon dat Jehovah sy beloftes getrou nakom.

11 Jehovah toon ook lojaliteit deur sy beloftes getrou na te kom. Wanneer hy iets voorspel, gebeur dit. Jehovah het dus gesê: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat ek wil hê, en dit sal beslis die doel bereik waarvoor ek dit gestuur het” (Jesaja 55:11). Deur sy woord getrou na te kom, betoon Jehovah lojaliteit teenoor sy volk. Hy laat hulle nie gretig wag op iets wat hy nie van voorneme is om te doen nie. Jehovah se reputasie in hierdie opsig is so onberispelik dat sy kneg Josua kon sê: “Nie een van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie. Dit het alles waar geword” (Josua 21:45). Ons kan dus vol vertroue wees dat Jehovah ons nooit sal teleurstel deur nie sy beloftes te hou nie. – Jesaja 49:23; Romeine 5:5.

12, 13. In watter opsigte duur Jehovah se lojale liefde vir ewig?

12 Soos ons vroeër gesien het, sê die Bybel vir ons Jehovah se lojale liefde “duur vir ewig” (Psalm 136:1). Hoe so? Om maar een ding te noem, Jehovah se vergifnis van sondes is permanent. Soos in Hoofstuk 26 bespreek is, haal Jehovah nie vorige sondes op waarvoor iemand vergewe is nie. Aangesien ‘niemand die heerlikheid van God volmaak kan weerspieël nie’, moet elkeen van ons dankbaar wees dat Jehovah se lojale liefde vir ewig duur. – Romeine 3:23.

13 Maar Jehovah se lojale liefde duur ook in ’n ander opsig vir ewig. Sy Woord sê dat die regverdige “soos ’n boom [sal] wees wat by waterstrome geplant is, ’n boom wat vrugte op die regte tyd gee, waarvan die blare nie verlep nie. Alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:3). Stel jou ’n vrugbare boom voor waarvan die blare nooit verlep nie! Ons sal dan ook ’n lang, vreedsame en vrugbare lewe lei as ons werklik behae skep in God se Woord. Die seëninge wat Jehovah lojaal aan sy getroue knegte skenk, duur vir ewig. Ja, in die regverdige nuwe wêreld wat Jehovah sal bring, sal gehoorsame mense sy lojale liefde vir ewig geniet. – Openbaring 21:3, 4

Jehovah “sal nie sy lojales verlaat nie”

14. Hoe toon Jehovah waardering vir die lojaliteit van sy knegte?

14 Jehovah het sy lojaliteit keer op keer bewys. Aangesien Jehovah absoluut konsekwent is, neem die lojaliteit wat hy teenoor sy getroue knegte betoon, nooit af nie. Die psalmis het geskryf: “Ek was eens jonk en nou is ek oud, maar ek het nog nooit gesien dat ’n regverdige verlaat word of dat sy kinders na brood soek nie. Want Jehovah is lief vir geregtigheid, en hy sal nie sy lojales verlaat nie” (Psalm 37:25, 28). As die Skepper verdien Jehovah weliswaar ons aanbidding (Openbaring 4:11). Maar omdat hy lojaal is, is ons getroue dade vir Jehovah kosbaar. – Maleagi 3:16, 17.

15. Verduidelik hoe Jehovah se handelinge met Israel sy lojaliteit beklemtoon.

15 In sy lojale liefde kom Jehovah sy volk herhaaldelik te hulp wanneer hulle in nood verkeer. Die psalmis sê vir ons: “Hy bewaar die lewe van sy lojales. Hy red hulle uit die hand van die goddeloses” (Psalm 97:10). Dink aan sy handelinge met die nasie Israel. Ná hulle wonderdadige verlossing deur die Rooisee het die Israeliete ’n lied tot Jehovah gesing: “In u lojale liefde het u die volk gelei wat u verlos het” (Eksodus 15:13). Die verlossing by die Rooisee was beslis ’n daad van lojale liefde van Jehovah se kant. Moses het dus vir die Israeliete gesê: “Dit was nie omdat julle die grootste van al die volke was dat Jehovah liefde aan julle betoon het en julle uitgekies het nie, want julle was die kleinste van al die volke. Maar dit was omdat Jehovah julle liefgehad het en getrou gebly het aan die eed wat hy aan julle voorvaders gesweer het. Daarom het Jehovah julle met ’n magtige hand uitgelei, om julle te verlos uit die huis van slawerny, uit die greep van Farao, die koning van Egipte.” – Deuteronomium 7:7, 8.

16, 17. (a) Watter skokkende gebrek aan waardering het die Israeliete geopenbaar, maar hoe het Jehovah nogtans medelye aan hulle bewys? (b) Hoe het die meeste Israeliete getoon dat daar “geen hoop was dat hulle genees kon word nie”, en watter waarskuwende voorbeeld verskaf dit aan ons?

16 As ’n nasie het die Israeliete natuurlik versuim om waardering vir Jehovah se lojale liefde te toon, want ná hulle verlossing het hulle “aangehou om teen [Jehovah] te sondig deur teen die Allerhoogste in opstand te kom” (Psalm 78:17). Hulle het deur die eeue heen herhaaldelik in opstand gekom en Jehovah verlaat en hulle tot valse gode en heidense gebruike gewend wat hulle verontreinig het. Nietemin het Jehovah nie sy verbond verbreek nie. Deur die profeet Jeremia het Jehovah sy volk eerder gesmeek: “Keer terug, o ontroue Israel . . . Ek sal nie kwaad na julle kyk nie, want ek is lojaal” (Jeremia 3:12). Maar soos ons in Hoofstuk 25 gesien het, het die meeste Israeliete nie verander nie. Inteendeel, “hulle het die boodskappers van die ware God bly spot, en hulle het sy woorde geïgnoreer en sy profete uitgelag”. Wat was die gevolg? Uiteindelik het ‘Jehovah vir sy volk woedend geword en was daar geen hoop dat hulle genees kon word nie’. – 2 Kronieke 36:15, 16.

17 Wat leer ons hieruit? Dat Jehovah se lojaliteit nie blind of goedgelowig is nie. Dit is wel so dat Jehovah “vol lojale liefde” is en dat hy daarin behae skep om genade te toon wanneer daar gronde daarvoor is. Maar wat gebeur wanneer dit duidelik word dat ’n oortreder verstok is in sy goddeloosheid? In so ’n geval bly Jehovah by sy regverdige standaarde en veroordeel hy die persoon. Soos daar vir Moses gesê is, sal Jehovah “beslis nie die skuldiges ongestraf laat bly nie”. – Eksodus 34:6, 7.

18, 19. (a) Hoe is dit ook ’n daad van lojaliteit wanneer Jehovah die goddeloses straf? (b) Hoe sal Jehovah bewys dat hy lojaal is teenoor sy knegte wat tot die dood toe vervolg is?

18 Wanneer God die goddeloses straf, is dit ook ’n daad van lojaliteit. Hoe so? Ons kry ’n aanduiding in die boek Openbaring in die bevele wat Jehovah aan sewe engele gee: “Gaan gooi die sewe bakke van die woede van God op die aarde uit.” Wanneer die derde engel sy bak “in die riviere en die fonteine” uitgooi, word hulle bloed. Dan sê die engel vir Jehovah: “U, die Een wat is en wat was, die Een wat lojaal is, is regverdig, omdat u hierdie oordele gegee het, want hulle het die bloed van heiliges en van profete uitgestort, en u het vir hulle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” – Openbaring 16:1-6.

19 Let daarop dat die engel in die middel van daardie oordeelsboodskap na Jehovah verwys as “die Een wat lojaal is”. Waarom? Omdat Jehovah, deur die goddeloses te vernietig, lojaliteit betoon teenoor sy knegte, van wie baie tot die dood toe vervolg is. Jehovah is lojaal en hou hulle lewend in sy geheue. Hy verlang om hierdie getroue afgestorwenes weer te sien, en die Bybel bevestig dat dit sy voorneme is om hulle met ’n opstanding te beloon (Job 14:14, 15). Jehovah vergeet nie sy lojale knegte net omdat hulle nie meer lewe nie. Inteendeel, “vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:37, 38). Jehovah se voorneme om dié op te wek wat in sy geheue is, is ’n kragtige bewys van sy lojaliteit.

Jehovah sal dié wat selfs tot die dood toe lojaal gebly het, uit lojaliteit onthou en opwek

Bernard Luimes (bo) en Wolfgang Kusserow (middel) is deur die Nazi’s tereggestel

Moses Nyamussua is deur ’n politieke groep met ’n spies doodgesteek

Jehovah se lojale liefde maak redding moontlik

20. Wie is die “voorwerpe van genade”, en hoe betoon Jehovah lojaliteit teenoor hulle?

20 Jehovah het deur die geskiedenis heen merkwaardige lojaliteit teenoor getroue mense betoon. Trouens, Jehovah het duisende jare lank “voorwerpe van woede, wat vernietig sou word, geduldig verdra”. Waarom? “Om die oorvloed van sy heerlikheid bekend te maak oor voorwerpe van genade, wat hy vooraf voorberei het om verheerlik te word” (Romeine 9:22, 23). Hierdie “voorwerpe van genade” is mense wat die regte gesindheid het en deur die heilige gees gesalf is om mede-erfgename met Christus in sy Koninkryk te wees (Matteus 19:28). Deur redding vir hierdie voorwerpe van genade moontlik te maak, het Jehovah lojaal gebly teenoor Abraham, aan wie hy hierdie verbondsbelofte gemaak het: “Deur middel van jou nageslag sal al die nasies van die aarde ’n seën vir hulleself verkry omdat jy na my stem geluister het.” – Genesis 22:18.

Danksy Jehovah se lojaliteit het al sy getroue knegte ’n betroubare hoop vir die toekoms

21. (a) Hoe betoon Jehovah lojaliteit teenoor “’n groot menigte” wat die vooruitsig het om uit “die groot verdrukking” te kom? (b) Wat beweeg Jehovah se lojaliteit jou om te doen?

21 Jehovah betoon soortgelyke lojaliteit teenoor “’n groot menigte” wat die vooruitsig het om uit “die groot verdrukking” te kom en om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Openbaring 7:9, 10, 14). Hoewel sy knegte onvolmaak is, bied Jehovah hulle uit lojaliteit die geleentheid om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Hoe doen hy dit? Deur middel van die losprys – die grootste blyk van Jehovah se lojaliteit (Johannes 3:16; Romeine 5:8). Jehovah se lojaliteit trek dié aan wat in hulle hart na regverdigheid smag (Jeremia 31:3). Voel jy nie nader aan Jehovah weens die intense lojaliteit wat hy betoon het en nog sal betoon nie? Aangesien dit ons begeerte is om nader aan God te kom, moet ons op sy liefde reageer deur ons voorneme te versterk om hom met lojaliteit te dien.

a Dit is interessant dat die woord wat in 2 Samuel 22:26 met “lojaal” weergegee word, op ander plekke met “lojale liefde” vertaal word.