Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

Hoekom Jesus ’n Groot Onderwyser was

Hoekom Jesus ’n Groot Onderwyser was

MEER as tweeduisend jaar gelede is ’n baie spesiale kind gebore wat, toe hy grootgeword het, die grootste mens was wat nog ooit gelewe het. Niemand wat toe gelewe het, het vliegtuie of karre gehad nie. Daar was nie goed soos televisie, rekenaars en die Internet nie.

Die kind se naam was Jesus. Hy het die wysste mens geword wat daar nog ooit op die aarde was. Jesus het ook die beste onderwyser geword. Hy het moeilike dinge verduidelik op ’n manier wat mense maklik kon verstaan.

Jesus het mense geleer oral waar hy hulle gekry het. Hy het hulle op die strand en op bote geleer. Hy het hulle in huise geleer en wanneer hy op pad iewers heen was. Jesus het nie ’n kar gehad nie, en hy het ook nie met ’n bus of trein gery nie. Jesus het van die een plek na die ander geloop en mense geleer.

Ons leer baie dinge by ander mense. Maar ons kan die belangrikste dinge by die Groot Onderwyser, Jesus, leer. Jesus se woorde staan in die Bybel opgeskryf. Wanneer ons hierdie woorde uit die Bybel hoor, is dit asof Jesus met ons praat.

Hoekom was Jesus so ’n Groot Onderwyser? Een rede is omdat Jesus self deur iemand geleer is. En hy het geweet hoe belangrik dit is om te luister. Maar na wie het Jesus geluister? Wie het hom geleer?— Sy Vader het. En Jesus se Vader is God.

Voordat Jesus as ’n mens na die aarde toe gekom het, het hy in die hemel by God gewoon. Daarom was Jesus nie soos ander mense nie, want geen ander mens het in die hemel gelewe voordat hy op die aarde gebore is nie. In die hemel was Jesus ’n goeie seun, een wat na sy Vader geluister het. Daarom kon Jesus vir mense leer wat hy by God geleer het. As jy na jou pa en ma luister, kan jy soos Jesus wees.

Nog ’n rede hoekom Jesus ’n Groot Onderwyser was, is omdat hy lief was vir mense. Hy wou mense help om van God te leer. Jesus was lief vir grootmense, maar hy was ook lief vir kinders. En kinders het daarvan gehou om by Jesus te wees, want hy het altyd met hulle gepraat en na hulle geluister.

Hoekom het kinders daarvan gehou om by Jesus te wees?

Eendag het ouers hulle jong kinders na Jesus toe gebring. Maar sy vriende het gedink dat die Groot Onderwyser te besig was om met klein kindertjies te praat. Daarom het hulle vir die ouers en hulle kinders gesê om weg te gaan. Maar wat het Jesus gesê?— Jesus het gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Ja, Jesus wou hê dat die jong kinders na hom toe moes kom. Al was hy ’n baie wyse en belangrike man, het Jesus tyd gemaak om klein kindertjies te leer.—Markus 10:13, 14.

Weet jy hoekom Jesus kinders geleer en na hulle geluister het? Een rede is omdat hy hulle wou gelukkig maak deur vir hulle dinge van God, sy hemelse Vader, te vertel. Hoe kan jy mense gelukkig maak?— Deur vir hulle dinge te vertel wat jy van God geleer het.

Eenkeer het Jesus ’n klein kindjie gebruik om vir Sy vriende ’n belangrike les te leer. Hy het die kindjie gevat en hom laat staan tussen Sy dissipels, soos Sy volgelinge genoem is. Toe het Jesus gesê dat hierdie grootmense moet verander en soos hierdie kindjie moet word.

Watter les kan ouer kinders en grootmense by ’n klein kindjie leer?

Wat het Jesus bedoel toe hy dit gesê het? Weet jy hoe ’n grootmens, of selfs ’n kind wat ’n bietjie ouer is, soos ’n klein kindjie moet word?— Wel, ’n klein kindjie weet nie soveel soos iemand wat ouer is nie en wil graag leer. Met ander woorde, Jesus het gesê sy dissipels moet nederig wees, soos klein kindertjies is. Ja, ons kan almal baie dinge by ander mense leer. En ons moet almal besef dat die dinge wat Jesus vir mense geleer het, belangriker is as ons eie idees.—Matteus 18:1-5.

Nog ’n rede hoekom Jesus so ’n Groot Onderwyser was, is omdat hy geweet het hoe om dinge vir mense interessant te maak. Hy het dinge op ’n eenvoudige manier verduidelik. Hy het gepraat van voëls en blomme en ander gewone goed om mense te help om dinge oor God te verstaan.

Eendag toe Jesus op ’n berghelling was, het baie mense na hom toe gekom. Jesus het gaan sit en met hulle gepraat, soos jy hier kan sien. Die dinge wat hy gesê het, word die Bergpredikasie genoem. Hy het gesê: ‘Kyk na die voëls in die lug. Hulle saai nie saad nie. Hulle gaar ook nie kos op nie. Maar God in die hemel gee vir hulle kos. Is julle nie meer werd as hulle nie?’

Watter les het Jesus vir mense geleer toe hy van voëls en blomme gepraat het?

Jesus het ook gesê: ‘Leer ’n les by die lelies van die veld. Hulle groei sonder om te werk. En kyk net hoe pragtig is hulle! Selfs ryk koning Salomo se klere was nie so mooi soos die lelies van die veld nie. As God vir die blomme sorg, sal hy dan nie ook vir julle sorg nie?’—Matteus 6:25-33.

Verstaan jy die les wat Jesus vir hulle geleer het?— Hy wou nie hê dat ons bekommerd moet wees oor waar ons kos gaan kry om te eet of klere om aan te trek nie. God weet dat ons al hierdie dinge nodig het. Jesus het nie gesê dat ons nie vir kos en klere moet werk nie. Maar hy het gesê dat ons God eerste moet stel. As ons dit doen, sal God sorg dat ons kos het om te eet en klere het om aan te trek. Glo jy dit?—

Wat het die mense gedink toe Jesus klaar gepraat het?— Die Bybel sê dat hulle baie verbaas was oor die manier waarop hy hulle geleer het. Dit was baie interessant om na hom te luister. Wat hy gesê het, het mense gehelp om te doen wat reg is.—Matteus 7:28.

Daarom is dit baie belangrik dat ons by Jesus leer. Weet jy hoe ons dit kan doen?— Wel, die dinge wat hy gesê het, is vir ons in ’n boek opgeskryf. Weet jy watter boek dit is?— Dit is die Bybel. Dit beteken dat ons na Jesus kan luister as ons aandag gee aan die dinge wat ons in die Bybel lees. Om die waarheid te sê, daar is ’n opwindende storie in die Bybel oor hoe God self vir ons gesê het om na Jesus te luister. Kom ons kyk wat het gebeur.

Eendag het Jesus en drie van sy vriende hoog teen ’n berg opgeklim. Hulle name was Jakobus, Johannes en Petrus. Ons sal later baie meer van hierdie manne leer, want al drie van hulle was baie goeie vriende van Jesus. Maar hierdie keer is spesiaal, want Jesus se gesig het helder begin skyn. En sy klere het geskitter soos lig, soos jy hier kan sien.

“Dit is my Seun . . . Luister na hom”

Daarna het Jesus en sy vriende ’n stem uit die hemel gehoor. Dit het gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matteus 17:1-5). Weet jy wie se stem dit was?— Dit was God se stem! Ja, dit was God wat gesê het dat hulle na sy Seun moet luister.

Wat van ons? Sal ons aan God gehoorsaam wees en na sy Seun, die Groot Onderwyser, luister?— Ons almal moet dit doen. Onthou jy hoe ons dit kan doen?—

Ja, ons kan na God se Seun luister deur van sy lewe in die Bybel te lees. Daar is baie wonderlike dinge wat die Groot Onderwyser ons kan vertel. Jy sal dit geniet om van hierdie dinge te leer wat in die Bybel geskrywe staan. En dit sal jou ook gelukkig maak as jy vir jou vriende vertel van die goeie dinge wat jy leer.

Maak jou Bybel oop en lees meer oor hoekom dit goed is om na Jesus te luister, in Johannes 3:16; 8:28-30 en Handelinge 4:12.