Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 2

’n Brief van ’n liefdevolle God

’n Brief van ’n liefdevolle God

SÊ VIR my, van watter boek hou jy die meeste?— Party kinders sal een oor diere kies. Ander sal ’n boek met baie prente kies. Dit kan baie lekker wees om sulke boeke te lees.

Maar die beste boeke in die hele wêreld is boeke wat vir ons die waarheid oor God vertel. Een van daardie boeke is kosbaarder as al die ander. Weet jy watter een dit is?— Die Bybel.

Hoekom is die Bybel so belangrik?— Omdat dit van God af gekom het. Dit vertel ons van hom en van die goeie dinge wat hy vir ons gaan doen. En dit wys vir ons wat ons moet doen sodat ons hom gelukkig kan maak. Dit is soos ’n brief van God af.

God kon die hele Bybel in die hemel geskryf het en dit dan eers vir die mense gegee het. Maar hy het nie. Al het die idees van God af gekom, het hy sy knegte op die aarde gebruik om die grootste deel van die Bybel te skryf.

Hoe het God dit gedoen?— Om dit te verstaan, dink ’n bietjie hieraan. Wanneer ons iemand se stem oor die radio hoor, is hy dalk ver van ons af weg. Wanneer ons televisie kyk, kan ons selfs prente van mense in ander dele van die wêreld sien, en ons kan hoor wat hulle sê.

Mense kan selfs maan toe gaan in hulle ruimtetuie en van daar af boodskappe na die aarde toe terugstuur. Het jy dit geweet?— As mense dit kan doen, kan God dan nie boodskappe uit die hemel stuur nie?— Natuurlik kan hy! En hy het dit gedoen lank voordat mense radio’s of televisies gehad het.

Hoe weet ons dat God van ver af met ons kan praat?

Moses was ’n man wat God self hoor praat het. Moses kon God nie sien nie, maar hy kon God se stem hoor. Miljoene mense was daar toe dit gebeur het. Daardie dag het God ’n hele berg laat skud, en daar was donderslae en weerligstrale. Die mense het geweet dat God gepraat het, maar hulle was baie bang. Toe het hulle vir Moses gesê: “Laat God nie met ons praat nie, sodat ons nie sterf nie.” Later het Moses die dinge wat God gesê het, neergeskryf. En wat Moses geskryf het, is in die Bybel.—Eksodus 20:18-21.

Moses het die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf. Maar hy was nie die enigste een wat geskryf het nie. God het omtrent 40 manne gebruik om dele van die Bybel te skryf. Hierdie manne het lank, lank gelede gelewe, en dit het baie jare geneem om die Bybel klaar te maak. Ja, dit het omtrent 1 600 jaar geneem! Wat verbasend is, is dat alles wat hierdie manne geskryf het, heeltemal met mekaar ooreenstem, al het party van hulle mekaar nooit ontmoet nie.

Wat is die name van hierdie Bybelskrywers?

Party manne wat God gebruik het om die Bybel te skryf, was beroemd. Al was Moses ’n skaapwagter, het hy die leier van die nasie Israel geword. Salomo was ’n koning wat nie net die wysste man in die wêreld was nie, maar ook die rykste. Maar ander skrywers was nie so bekend nie. Amos het met vyebome gewerk.

En een Bybelskrywer was ’n dokter. Weet jy wat sy naam was?— Dit was Lukas. ’n Ander skrywer was ’n belastinggaarder. Sy naam was Matteus. Nog ’n ander een was ’n regsgeleerde, ’n man wat Joodse godsdienswette goed geken het. Hy het meer Bybelboeke as enigiemand anders geskryf. Weet jy wat sy naam was?— Dit was Paulus. En Jesus se dissipels Petrus en Johannes, wat ook Bybelskrywers was, was vissermanne.

Baie van hierdie Bybelskrywers het oor dinge geskryf wat God in die toekoms sou doen. Hoe het hulle van hierdie dinge geweet voordat dit gebeur het?— God het dit vir hierdie manne gesê. Hy het vir hulle vertel wat sou gebeur.

Teen die tyd dat Jesus, die Groot Onderwyser, op die aarde was, was ’n groot deel van die Bybel al klaar geskryf. Maar onthou, die Groot Onderwyser was eers in die hemel. Hy het geweet wat God gedoen het. Het hy geglo dat die Bybel van God af gekom het?— Ja, beslis.

Jesus het uit die Bybel gelees wanneer hy met mense gepraat het oor wat God gedoen het. Partykeer het hy uit sy kop opgesê wat daarin staan. Jesus het ook vir ons meer inligting van God af gebring. Hy het gesê: “Die dinge wat ek by hom gehoor het, dié spreek ek in die wêreld” (Johannes 8:26). Jesus het baie dinge by God gehoor, want hy het by God gewoon. En waar kan ons die dinge lees wat Jesus gesê het?— In die Bybel. Dit is alles neergeskryf sodat ons dit kan lees.

Wanneer God mense gebruik het om te skryf, het hulle natuurlik geskryf in die taal wat hulle elke dag gepraat het. Daarom is die grootste deel van die Bybel in Hebreeus geskryf, ’n bietjie in Aramees en heelwat in Grieks. Omdat die meeste mense vandag nie daardie tale kan lees nie, is die Bybel in ander tale oorgeskryf. Vandag kan dele van die Bybel in meer as 2 260 tale gelees word. Dink net daaraan! Die Bybel is God se brief aan alle mense. Maar al word dit ook hoeveel keer oorgeskryf, die boodskap kom nog altyd van God af.

Wat die Bybel sê, is belangrik vir ons. Dit is lank gelede geskryf. Maar dit vertel van dinge wat vandag gebeur. En dit sê vir ons wat God binnekort gaan doen. Wat dit sê, is opwindend! Dit gee ons ’n wonderlike hoop.

Wat kan jy leer as jy die Bybel lees?

Die Bybel vertel ook vir ons hoe God wil hê ons moet lewe. Dit vertel vir ons wat reg is en wat verkeerd is. Jý moet dit weet, en ék moet ook. Dit vertel vir ons van mense wat slegte dinge gedoen het en wat met hulle gebeur het, sodat ons die probleme wat hulle gehad het, kan vermy. Dit vertel ook vir ons van mense wat reg gedoen het en van die goeie dinge wat met hulle gebeur het. Dit is alles neergeskryf om ons te help.

Maar om die meeste uit die Bybel te leer, is daar ’n vraag waarop ons die antwoord moet ken. Die vraag is: Wie het vir ons die Bybel gegee? Wat sou jy sê?— Ja, die hele Bybel kom van God af. Hoe kan ons dan toon dat ons regtig wys is?— Deur na God te luister en te doen wat hy sê.

Daarom moet ons tyd maak om die Bybel saam te lees. Wanneer ons ’n brief kry van iemand vir wie ons baie lief is, lees ons dit oor en oor. Dit is kosbaar vir ons. Dit is hoe die Bybel vir ons moet wees, want dit is ’n brief van die Een wat ons die liefste het. Dit is ’n brief van ’n liefdevolle God.

Gebruik nou nog ’n paar minute om hierdie tekste te lees wat toon dat die Bybel waarlik God se Woord is wat vir ons beswil opgeteken is: Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16, 17 en 2 Petrus 1:20, 21.