Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

Die Een wat alles gemaak het

Die Een wat alles gemaak het

Wie het alles wat lewe, gemaak?

EK WEET iets wonderliks. Wil jy hoor wat dit is?— Kyk na jou hand. Buig jou vingers. Tel nou iets op. Jou hand kan baie dinge doen en kan dit goed doen. Weet jy wie ons hande gemaak het?—

Ja, dit is dieselfde Persoon as die een wat ons mond, ons neus en ons oë gemaak het. Dit is God, die Vader van die Groot Onderwyser. Is ons nie bly dat God vir ons oë gegee het nie?— Ons kan baie dinge daarmee sien. Ons kan na blomme kyk. Ons kan na die groen gras en die blou lug kyk. Ons kan selfs honger voëltjies sien soos dié in die prent. Dit is regtig wonderlik dat ons sulke dinge kan sien, is dit nie?—

Maar wie het hierdie dinge gemaak? Was dit ’n mens wat dit gemaak het? Nee. Mense kan ’n huis bou. Maar geen mens kan gras maak wat groei nie. Mense kan nie ’n voëltjie, ’n blom of enige ander lewende ding maak nie. Het jy dit geweet?—

God het al hierdie dinge gemaak. God het die hemel en die aarde gemaak. Hy het ook mense gemaak. Hy het die eerste man en die eerste vrou geskep. Jesus, die Groot Onderwyser, het dit vir mense geleer.—Matteus 19:4-6.

Hoe het Jesus geweet dat God die man en die vrou gemaak het? Het Jesus gesien dat God dit gedoen het?— Ja, hy het. Jesus was by God toe God die man en die vrou gemaak het. Jesus is die heel eerste persoon wat God gemaak het. Jesus was ’n engel, en hy het saam met sy Vader in die hemel gewoon.

Die Bybel vertel vir ons dat God gesê het: “Laat ons mense maak” (Genesis 1:26). Weet jy met wie God gepraat het?— Hy het met sy Seun gepraat. Hy het met die een gepraat wat later aarde toe gekom het en Jesus geword het.

Is dit nie opwindend nie? Dink net! Wanneer ons na Jesus luister, word ons geleer deur die een wat by God was toe God die aarde en alle ander dinge gemaak het. Jesus het baie geleer toe hy saam met sy Vader in die hemel gewerk het. Dit is geen wonder dat Jesus die Groot Onderwyser is nie!

Dink jy dat God ongelukkig was terwyl hy alleen was voordat hy sy Seun gemaak het?— Nee, hy was nie. Wel, as hy nie ongelukkig was nie, hoekom het hy dan ander lewende wesens gemaak?— Hy het dit gedoen omdat hy ’n God van liefde is. Hy wou hê dat ander moet lewe en die lewe moet geniet. Ons moet vir God dankie sê dat hy vir ons die lewe gegee het.

Alles wat God gedoen het, is ’n bewys van sy liefde. God het die son gemaak. Die son gee vir ons lig en hou ons warm. As ons nie die son gehad het nie, sou alles koud gewees het en sou niks op die aarde gelewe het nie. Is jy nie bly dat God die son gemaak het nie?—

God laat dit ook reën. Jy hou miskien nie altyd van die reën nie, want as dit reën, kan jy nie buite gaan speel nie. Maar die reën laat die blomme groei. Vir wie gaan ons dan dankie sê as ons pragtige blomme sien?— Vir God. En vir wie moet ons dankie sê wanneer ons lekker vrugte en groente eet?— Ons moet vir God dankie sê, want dit is sy son en reën wat alles laat groei.

Sê nou iemand vra vir jou: ‘Het God ook die mense en die diere gemaak?’ Wat sal jy sê?— Dit is reg om te sê: “Ja, God het die mense en die diere gemaak.” Maar sê nou iemand glo nie dat God regtig mense gemaak het nie. Sê nou hy of sy sê dat mense van diere af kom? Wel, die Bybel leer dit nie. Dit sê dat God alles wat lewe, geskep het.—Genesis 1:26-31.

Iemand het die huis gebou. Wie het dan die blomme, die bome en die diere gemaak?

Maar miskien sê iemand vir jou dat hy nie aan God glo nie. Wat sal jy dan sê?— Wys vir hom ’n huis. Vra vir hom: “Wie het daardie huis gebou?” Almal weet dat iemand dit moes gebou het. Die huis het hom beslis nie self gebou nie!—Hebreërs 3:4.

Neem hom dan na ’n tuin toe en wys vir hom ’n blom. Vra vir hom: “Wie het dit gemaak?” Dit was nie ’n mens nie. En net soos die huis hom nie self gebou het nie, het hierdie blom hom ook nie self gemaak nie. Iemand het dit gemaak. God het.

Vra vir hom om stil te staan en te luister hoe ’n voëltjie fluit. Vra dan vir hom: “Wie het die voëls gemaak en hulle geleer fluit?” God het. Dit is God wat die hemel en die aarde en alles wat lewe, gemaak het! Dit is Hy wat lewe gee.

Maar iemand sê dalk dat hy net glo wat hy kan sien. Hy sê miskien: ‘As ek dit nie kan sien nie, glo ek dit nie.’ Omdat hulle God nie kan sien nie, sê party mense dan dat hulle nie aan hom glo nie.

Dit is waar dat ons God nie kan sien nie. Die Bybel sê: ‘Geen mens kan God sien nie.’ Geen man, vrou of kind op die aarde kan God sien nie. Daarom moet niemand probeer om ’n prent of ’n beeld van God te maak nie. God sê selfs vir ons om nie ’n beeld van hom te maak nie. Dit is hoekom God nie daarvan sal hou as ons sulke goed in ons huis het nie.—Eksodus 20:4, 5; 33:20; Johannes 1:18.

Maar as jy God nie kan sien nie, hoe weet jy dan dat daar regtig ’n God is? Dink ’n bietjie hieraan. Kan jy die wind sien?— Nee. Niemand kan die wind sien nie. Maar jy kan sien wat die wind doen. Jy kan sien hoe die blare beweeg wanneer die wind deur ’n boom se takke waai. Daarom glo jy dat daar wind is.

Hoe weet jy dat die wind bestaan?

Jy kan ook sien wat God gedoen het. Wanneer jy ’n blom of ’n voël sien, sien jy iets wat God gemaak het. Daarom glo jy dat daar regtig ’n God is.

Iemand vra dalk vir jou: ‘Wie het die son en die aarde gemaak?’ Die Bybel sê: “God [het] die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Ja, God het al hierdie wonderlike dinge gemaak! Hoe laat dit jou voel?—

Is dit nie wonderlik om te lewe nie? Ons kan die pragtige gefluit van die voëls hoor. Ons kan die blomme sien en die ander dinge wat God gemaak het. En ons kan die kos eet wat God vir ons gegee het.

Ons moet vir God dankie sê vir al hierdie dinge. Maar meer as enigiets anders moet ons vir hom dankie sê omdat hy vir ons die lewe gegee het. As ons regtig dankbaar is teenoor God, sal ons iets doen. Wat is dit?— Ons sal na God luister, en ons sal doen wat hy vir ons in die Bybel sê. So kan ons wys dat ons die Een liefhet wat alles gemaak het.

Ons moet vir God wys dat ons alles waardeer wat hy gedoen het. Hoe? Lees wat geskryf staan in Psalm 139:14; Johannes 4:23, 24; 1 Johannes 5:21 en Openbaring 4:11.