Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 4

God het ’n naam

God het ’n naam

WAT is baiekeer die eerste ding wat jy vir iemand vra wanneer jy hom ontmoet?— Ja, jy vra vir hom wat sy naam is. Ons het almal ’n naam. God het die eerste mens op die aarde ’n naam gegee. Hy het hom Adam genoem. Adam se vrou is Eva genoem.

Maar dit is nie net mense wat name het nie. Dink aan ander dinge wat ook name het. Wanneer iemand vir jou ’n pop of ’n troeteldier gee, gee jy dit mos ’n naam, nè?— Ja, dit is baie belangrik om ’n naam te hê.

Kyk na al die sterre wat jy in die nag kan sien. Dink jy hulle het name?— Ja, God het elke ster in die hemel ’n naam gegee. Die Bybel sê vir ons: “Hy bepaal die getal van die sterre; hy noem hulle almal by hulle name.”—Psalm 147:4.

Het jy geweet dat al die sterre name het?

Wie sou jy sê is die heel belangrikste persoon in die heelal?— Ja, dit is God. Dink jy hy het ’n naam?— Jesus het gesê Hy het. Jesus het eenkeer in gebed tot God gesê: ‘Ek het u naam aan my volgelinge bekend gemaak’ (Johannes 17:26). Weet jy wat God se naam is?— God self sê vir ons wat dit is. Hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam.” Ja, God se naam is JEHOVAH.—Jesaja 42:8.

Hoe voel jy as mense jou naam onthou?— Jy hou mos daarvan, nè?— Jehovah wil ook hê dat mense sy naam moet ken. Daarom moet ons die naam Jehovah gebruik wanneer ons van God praat. Die Groot Onderwyser het God se naam, Jehovah, gebruik wanneer hy met mense gepraat het. Jesus het eenkeer gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart.”—Markus 12:30.

Jesus het geweet dat “Jehovah” ’n baie belangrike naam is. Daarom het hy sy volgelinge geleer om God se naam te gebruik. Hy het hulle selfs geleer om van God se naam te praat wanneer hulle bid. Jesus het geweet God wil hê dat alle mense Sy naam, Jehovah, moet ken.

Lank gelede het God vir die man Moses, ’n Israeliet, gewys hoe belangrik Sy naam is. Die Israeliete het in die land Egipte gewoon. Die mense van daardie land is Egiptenaars genoem. Hulle het slawe van die Israeliete gemaak en hulle baie sleg behandel. Toe Moses grootgeword het, het hy een van sy mense probeer help. Dit het Farao, die koning van Egipte, kwaad gemaak. Hy wou Moses doodmaak! Daarom het Moses uit Egipte gevlug.

Moses het na ’n ander land toe gegaan. Dit was die land Midian. Daar het Moses getrou en ’n gesin begin grootmaak. Hy het ook as ’n skaapwagter gewerk. Eendag het Moses ’n vreemde ding gesien terwyl hy naby ’n berg besig was om sy skape op te pas. ’n Doringbos het gebrand, maar dit het nie uitgebrand nie! Moses het nader gegaan om beter te kan sien.

Weet jy wat toe gebeur het?— Moses het ’n stem uit die middel van daardie brandende doringbos hoor roep. Die stem het geroep: “Moses! Moses!” Wie het dit gesê?— Dit was God wat gepraat het! God het baie werk vir Moses gehad. God het gesê: ‘Kom, laat ek jou na Farao, die koning van Egipte, toe stuur, en jy moet my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uitlei.’ God het belowe om Moses te help om dit te doen.

Watter belangrike ding het Moses by die brandende doringbos geleer?

Maar Moses het vir God gesê: ‘Sê nou ek kom by die kinders van Israel in Egipte en sê dat God my gestuur het? Sê nou hulle vra vir my: “Wat is sy naam?” Wat moet ek sê?’ God het vir Moses gesê om vir die kinders van Israel te sê: ‘Jehovah het my na julle toe gestuur. Jehovah is my naam vir ewig’ (Eksodus 3:1-15). Dit het gewys dat God die naam Jehovah gaan hou. Hy sal dit nooit verander nie. God wou hê dat mense sy naam, Jehovah, vir ewig moes gebruik.

Hoe het God sy naam by die Rooi See bekend gemaak?

Toe Moses na Egipte toe teruggegaan het, het die Egiptenaars gedink dat Jehovah net ’n onbelangrike god van die Israeliete is. Hulle het nie gedink dat hy die God van die hele aarde is nie. Daarom het Jehovah vir die koning van Egipte gesê: ‘Ek gaan my naam oor die hele aarde bekend maak’ (Eksodus 9:16). Jehovah het dan ook sy naam bekend gemaak. Weet jy hoe hy dit gedoen het?—

Wel, hy het Moses gebruik om die nasie Israel uit Egipte uit te lei. Toe hulle by die Rooi See gekom het, het Jehovah ’n droë pad regdeur die see gemaak. Die Israeliete het veilig op droë grond deurgegaan. Maar nadat Farao en sy hele leër op die droë seebedding die see ingegaan het, het die water wat aan albei kante teruggehou is, op die Egiptenaars geval, en hulle is almal dood.

Oral in die wêreld het mense gou begin hoor van wat Jehovah by die Rooi See gedoen het. Hoe weet ons dat hulle daarvan gehoor het?— Wel, die Israeliete het omtrent 40 jaar later by Kanaän gekom, die land wat Jehovah belowe het om vir hulle te gee. Daar het die jong vrou Ragab vir twee Israelitiese mans gesê: “Ons het gehoor hoe Jehovah die waters van die Rooi See voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte uitgetrek het.”—Josua 2:10.

Vandag is baie mense net soos daardie Egiptenaars. Hulle glo nie dat Jehovah die God van die hele aarde is nie. Daarom wil Jehovah hê dat sy volk vir ander van hom moet vertel. Dit is wat Jesus gedoen het. Teen die einde van sy lewe op die aarde het hy in gebed vir Jehovah gesê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak.”—Johannes 17:26.

Jesus het God se naam bekend gemaak. Kan jy God se naam in die Bybel kry?

Wil jy soos Jesus wees? Dan moet jy vir ander mense vertel dat God se naam Jehovah is. Jy sal dalk vind dat baie mense dit nie weet nie. Miskien kan jy vir hulle Psalm 83:18 in die Bybel wys. Kom ons kry die Bybel sommer nou en soek daardie teks saam op. Dit sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”

Wat leer ons wanneer ons dit lees?— Ja, ons leer dat Jehovah die heel belangrikste naam is. Dit is die naam van die almagtige God, die Vader van Jesus en die Een wat alles gemaak het. En onthou, Jesus het gesê dat ons Jehovah God met ons hele hart moet liefhê. Het jy Jehovah lief?—

Hoe kan ons wys dat ons Jehovah liefhet?— Een manier is om hom as ’n Vriend te leer ken. Nog ’n manier is om vir ander mense te vertel wat sy naam is. Ons kan vir hulle in die Bybel wys dat sy naam Jehovah is. Ons kan ook praat van die wonderlike dinge wat Jehovah gemaak het en van die goeie dinge wat hy gedoen het. Dit maak Jehovah baie bly, want hy wil hê dat mense van hom moet weet. Ons kan mos ook hierdie dinge doen, nè?—

Nie almal sal wil luister wanneer ons van Jehovah praat nie. Selfs toe Jesus, die Groot Onderwyser, van Hom gepraat het, het baie mense nie geluister nie. Maar dit het Jesus nie gekeer om van Jehovah te praat nie.

Laat ons dan soos Jesus wees. Laat ons aanhou om van Jehovah te praat. As ons dít doen, sal ons Jehovah God bly maak, want ons wys dat ons sy naam liefhet.

Kom ons lees nou nog ’n paar tekste uit die Bybel wat wys hoe belangrik God se naam is: Jesaja 12:4, 5; Matteus 6:9; Johannes 17:6 en Romeine 10:13.