Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

Ons moet versoekings weerstaan

Ons moet versoekings weerstaan

HET enigiemand al ooit vir jou gevra om iets te doen wat verkeerd is?— Het hy jou uitgedaag om dit te doen? Of het hy gesê dat dit pret sal wees en dat dit nie regtig verkeerd sal wees om dit te doen nie?— Wanneer iemand dit met ons doen, probeer hy ons versoek.

Wat moet ons doen wanneer ons versoek word? Moet ons ingee en doen wat verkeerd is?— Jehovah God sal nie daarvan hou nie. Maar weet jy wie sal bly wees?— Ja, Satan die Duiwel.

Satan is God se vyand, en Satan is ons vyand. Ons kan hom nie sien nie, want hy is ’n gees. Maar hy kan ons sien. Die Duiwel het eendag met Jesus, die Groot Onderwyser, gepraat en hom probeer versoek. Kom ons kyk wat Jesus gedoen het. Dan sal ons weet wat die regte ding is om te doen wanneer ons versoek word.

Wat het Jesus dalk begin onthou toe hy gedoop is?

Jesus wou altyd God se wil doen. Hy het dit duidelik gewys deur in die Jordaanrivier gedoop te word. Net nadat Jesus gedoop is, het Satan Hom probeer versoek. Die Bybel sê “die hemele is geopen” vir Jesus (Matteus 3:16). Dit kan beteken dat Jesus nou alles omtrent sy vroeëre lewe in die hemel saam met God begin onthou het.

Ná sy doop het Jesus na die wildernis toe gegaan om te dink oor die dinge wat hy begin onthou het. Veertig dae en nagte het verbygegaan. In al hierdie tyd het Jesus niks geëet nie, en daarom was hy nou baie honger. Dit was toe dat Satan vir Jesus probeer versoek het.

Hoe het die Duiwel klippe gebruik om Jesus te versoek?

Die Duiwel het gesê: “As jy ’n seun van God is, sê vir hierdie klippe om brode te word.” Hoe lekker sou brood tog gesmaak het! Maar kon Jesus klippe in brode verander het?— Ja, hy kon. Hoekom? Omdat Jesus, die Seun van God, spesiale krag gehad het.

Sou jy ’n klip in ’n brood verander het as die Duiwel vir jou gesê het om dit te doen?— Jesus was honger. Sou dit dan nie aanvaarbaar gewees het om dit net een keer te doen nie?— Jesus het geweet dat dit verkeerd is om sy krag so te gebruik. Jehovah het vir hom hierdie krag gegee om mense na God toe te trek, nie om dit vir homself te gebruik nie.

Daarom het Jesus eerder vir Satan gesê wat in die Bybel geskrywe staan: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.” Jesus het geweet dat dit belangriker is om te doen wat Jehovah bly maak as om kos te hê om te eet.

Maar die Duiwel het weer probeer. Hy het Jesus na Jerusalem toe geneem en hom op ’n hoë deel van die tempel laat staan. Toe het Satan gesê: ‘As jy ’n seun van God is, spring hier af. Want daar staan geskrywe dat God se engele jou sal beskerm sodat jy jou nie seermaak nie.’

Hoekom het Satan dit gesê?— Hy het dit gesê om Jesus te versoek om iets dwaas te doen. Maar Jesus het weer eens nie na Satan geluister nie. Hy het vir Satan gesê: “Daar staan ook geskrywe: ‘Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie.’” Jesus het geweet dat dit verkeerd is om Jehovah te toets deur sy lewe in gevaar te stel.

Satan het nog steeds nie tou opgegooi nie. Volgende het hy Jesus na ’n baie hoë berg geneem. Daar het hy vir hom al die koninkryke, of regerings, van die wêreld en hulle heerlikheid gewys. Toe het Satan vir Jesus gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.”

Dink aan die Duiwel se aanbod. Het al hierdie koninkryke, of regerings van mense, regtig aan Satan behoort?— Wel, Jesus het nie gesê dat dit nie Satan s’n is nie. Hy sou dit gedoen het as dit nie aan Satan behoort het nie. Ja, Satan is regtig die heerser van al die nasies van die wêreld. Die Bybel noem hom selfs “die heerser van hierdie wêreld”.—Johannes 12:31.

Hoekom kon Satan vir Jesus al hierdie koninkryke aanbied?

Wat sou jy doen as die Duiwel jou iets belowe as jy hom aanbid?— Jesus het geweet dat dit verkeerd sou wees om die Duiwel te aanbid, ongeag wat Hy sou ontvang. Daarom het Jesus gesê: ‘Gaan weg, Satan! Want die Bybel sê dat dit Jehovah jou God is wat jy moet aanbid en dat jy hom alleen moet dien.’—Matteus 4:1-10; Lukas 4:1-13.

Wat sal jy doen as jy versoek word?

Ons kom ook voor versoekings te staan. Weet jy wat party van hulle is?— Hier is ’n voorbeeld. Jou ma maak dalk ’n lekker tert of koek vir nagereg. Sy sê miskien vir jou om nie voor ete daarvan te eet nie. Maar jy is baie honger, en nou kom jy dalk in die versoeking om daarvan te eet. Sal jy gehoorsaam wees aan jou ma?— Satan wil hê jy moet ongehoorsaam wees aan haar.

Dink aan Jesus. Hy was ook baie honger. Maar hy het geweet dat dit baie belangriker is om God bly te maak as om te eet. Jy wys dat jy soos Jesus is as jy doen wat jou ma sê.

Ander kinders gee miskien vir jou pille om te drink. Hulle sê dalk vir jou dit sal jou regtig lekker laat voel. Maar die pille is miskien dwelms. Dit kan jou baie siek maak, en dit kan jou selfs doodmaak. Of iemand gee dalk vir jou ’n sigaret, wat ook dwelms inhet, en daag jou uit om dit te rook. Wat sal jy doen?—

Dink aan Jesus. Satan het Jesus probeer kry om sy lewe in gevaar te stel deur vir Hom te sê om van die tempel af te spring. Maar Jesus het geweier om dit te doen. Wat sal jy doen as iemand jou uitdaag om iets te doen wat gevaarlik is?— Jesus het nie vir Satan geluister nie. En jý moet ook nie vir enigiemand luister wat jou probeer kry om verkeerde dinge te doen nie.

Hoekom is dit verkeerd om beelde in aanbidding te gebruik?

Dalk vra iemand eendag vir jou om ’n beeld te aanbid, iets wat die Bybel sê ons nie moet doen nie (Eksodus 20:4, 5). Dit is dalk deel van ’n seremonie by die skool. Hy sê miskien vir jou dat jy nie eens meer skool toe mag gaan as jy weier om dit te doen nie. Wat sal jy doen?—

Dit is maklik om die regte ding te doen as al die ander dit doen. Maar om die regte ding te doen, kan baie moeilik wees as ander ons probeer kry om te doen wat verkeerd is. Hulle sê dalk wat hulle doen, is nie regtig so verkeerd nie. Maar die groot vraag is: Wat sê God daarvan? Hy weet wat die beste is.

Dit maak met ander woorde nie saak wat ander sê nie, ons moet nooit dinge doen wat God sê verkeerd is nie. Só sal ons God altyd gelukkig maak en sal ons nooit die Duiwel bly maak nie.

Meer inligting oor hoe ons versoekings om verkeerd te doen, kan weerstaan, kan gevind word in Psalm 1:1, 2; Spreuke 1:10, 11; Matteus 26:41 en 2 Timoteus 2:22.