Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

Onthou jy om dankie te sê?

Onthou jy om dankie te sê?

HET jy vandag kos geëet?— Weet jy wie dit gemaak het?— Miskien was dit jou ma of iemand anders, maar hoekom moet ons dan vir God daarvoor dankie sê?— Omdat God die een is wat dit moontlik maak vir bome en plante om te groei, waarvandaan ons kos kry. Maar ons moet ook dankie sê vir die een wat die kos gekook het of die een wat dit bedien het.

Ons vergeet partykeer om dankie te sê wanneer ander vir ons goeie dinge doen, nè? Toe die Groot Onderwyser op die aarde was, was daar ’n paar melaatses wat vergeet het om dankie te sê.

Weet jy wat ’n melaatse is?— ’n Melaatse is iemand wat ’n siekte het wat melaatsheid genoem word. Hierdie siekte kan selfs van ’n mens se vlees laat afval. Toe Jesus op die aarde gelewe het, mag melaatses nie tussen ander mense gebly het nie. En as ’n melaatse iemand sien aankom het, moes hy uitroep om daardie persoon te waarsku om van hom af weg te bly. Die melaatse moes dit doen sodat ander mense nie te naby hom sou kom en miskien by hom aansteek nie.

Jesus was baie goed vir melaatses. Eendag moes Jesus op pad na Jerusalem deur ’n klein dorpie gaan. Toe hy naby die dorpie kom, het tien melaatses uitgekom om hom te sien. Hulle het gehoor dat Jesus krag van God gehad het om alle soorte siektes te genees.

Die melaatses het nie naby Jesus gekom nie. Hulle het ’n ent van hom af bly staan. Maar hulle het geglo dat Jesus hulle melaatsheid kon wegneem. Daarom het die melaatses vir die Groot Onderwyser geroep toe hulle hom sien: ‘Jesus, Leermeester, help ons!’

Voel jy jammer vir mense wat siek is?— Jesus het. Hy het geweet hoe swaar dit is om ’n melaatse te wees. Daarom het hy hulle geantwoord en gesê: “Gaan wys julle vir die priesters.”—Lukas 17:11-14.

Wat sê Jesus vir hierdie melaatses om te doen?

Hoekom het Jesus vir hulle gesê om dit te doen? Dit was as gevolg van die wet oor melaatses wat Jehovah aan Sy volk gegee het. Die wet het gesê dat God se priester na die vlees van ’n melaatse moes kyk. Die priester sou vir die melaatse sê wanneer hy heeltemal gesond is. Wanneer hy gesond was, kon hy weer saam met gesonde mense lewe.—Levitikus 13:16, 17.

Maar hierdie melaatses was nog steeds melaats. Het hulle dan na die priester toe gegaan soos Jesus vir hulle gesê het?— Ja, hulle het dadelik gegaan. Hierdie manne moes geglo het dat Jesus hulle siekte sou genees. Wat het gebeur?

Wel, terwyl hulle op pad na die priester toe was, het hulle siekte hulle verlaat. Hulle vlees is genees. Hulle is gesond gemaak! Hulle geloof in Jesus se krag is beloon. Hoe bly was hulle tog! Maar wat moes hulle toe gedoen het om te wys dat hulle dankbaar is? Wat sou jy gedoen het?—

Wat het hierdie melaatse onthou om te doen?

Een van die manne wat gesond gemaak is, het na Jesus toe teruggegaan. Hy het Jehovah begin verheerlik en goeie dinge oor God gesê. Dit was die regte ding om te doen, want die krag wat hom gesond gemaak het, het van God af gekom. Die man het ook by die voete van die Groot Onderwyser neergeval en vir hom dankie gesê. Hy was baie dankbaar vir wat Jesus gedoen het.

Maar wat van die ander nege manne? Jesus het gevra: ‘Was daar nie tien melaatses wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege? Het net een teruggedraai om God te verheerlik?’

Ja, dit is waar. Net een van die tien het God verheerlik, of geloof, en teruggekom om vir Jesus dankie te sê. En hy was ’n Samaritaan, ’n man van ’n ander land. Die ander nege manne het nie vir God dankie gesê nie, en hulle het ook nie vir Jesus dankie gesê nie.—Lukas 17:15-19.

Soos watter een van hierdie manne is jy? Ons wil soos die Samaritaanse man wees, nè?— Wat moet ons dan onthou om te doen wanneer iemand iets goeds vir ons doen?— Ons moet dankie sê. Mense vergeet baiekeer om dankie te sê. Maar dit is goed om dankie te sê. Wanneer ons dit doen, maak dit Jehovah God en sy Seun, Jesus, bly.

Hoe kan jy net soos die melaatse wees wat teruggegaan het na Jesus toe?

As jy daaroor dink, sal jy onthou dat mense al baie dinge vir jou gedoen het. Byvoorbeeld, was jy al ooit siek?— Jy was dalk nog nooit so siek soos daardie tien melaatses nie, maar jy het miskien al ’n slegte verkoue of pyn op jou maag gehad. Het iemand na jou gekyk?— Hulle het dalk vir jou medisyne gegee en ander dinge vir jou gedoen. Was jy bly dat hulle jou gehelp het om beter te word?—

Die Samaritaanse man het vir Jesus dankie gesê omdat hy hom gesond gemaak het, en dit het Jesus bly gemaak. Dink jy dit sal jou ma of pa bly maak as jy dankie sê wanneer hulle dinge vir jou doen?— Ja, dit sal.

Hoekom is dit belangrik om te onthou om dankie te sê?

Party mense doen elke dag of elke week dinge vir jou. Dit is dalk hulle werk om hierdie dinge te doen. Hulle geniet dit miskien selfs om dit te doen. Maar dalk vergeet jy om dankie te sê. Jou onderwyseres werk miskien hard om jou te help om te leer. Dit is haar werk. Maar sy sal bly wees as jy vir haar dankie sê omdat sy jou help om te leer.

Partykeer doen mense net klein dingetjies vir jou. Hou iemand ooit ’n deur vir jou oop? Of gee iemand ooit vir jou kos by die tafel aan? Dit is goed om selfs vir hierdie klein dingetjies dankie te sê.

As ons onthou om vir mense op die aarde dankie te sê, dan sal ons heel moontlik onthou om vir ons Vader in die hemel dankie te sê. En hoe baie dinge is daar tog waarvoor ons vir Jehovah kan dankie sê! Hy het vir ons die lewe en al die goeie dinge wat die lewe lekker maak, gegee. Daarom het ons baie goeie rede om God te verheerlik deur elke dag goeie dinge oor hom te sê.