Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 23

Die rede hoekom mense siek word

Die rede hoekom mense siek word

KEN jy iemand wat siek is?— Jy word miskien self partykeer siek. Jy kry dalk ’n verkoue, of miskien pyn jou maag. Party mense is baie siek. Hulle kan nie eens opstaan as iemand hulle nie help nie. Dit gebeur baiekeer wanneer mense baie oud word.

Almal word partykeer siek. Weet jy hoekom mense siek word, oud word en doodgaan?— Eendag het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat nie kon loop nie, en Jesus het gewys hoekom mense siek word en doodgaan. Kom ek vertel jou daarvan.

Jesus het in ’n huis in ’n dorp naby die See van Galilea gebly. ’n Groot klomp mense het gekom om hom te sien. So baie mense het gekom dat daar nie meer plek vir ander was om in die huis in te kom nie. Niemand kon eens naby die deur kom nie. Maar die mense het nog steeds bly kom! Een groepie mense het ’n man gebring wat verlam was en glad nie kon loop nie. Vier mans moes hom op ’n bedjie dra.

Weet jy hoekom hulle hierdie siek man na Jesus toe wou bring?— Hulle het geglo dat Jesus hom kon help en dat hy hom van daardie siekte kon genees. Weet jy hoe hulle daardie verlamde man by Jesus gekry het met al daardie mense in die huis?—

Wel, die prent wat jy hier sien, wys hoe hulle dit gedoen het. Hulle het die man eers tot op die dak gedra. Dit was ’n plat dak. Toe het hulle ’n groot gat daarin gemaak. Daarna het hulle die siek man op sy bedjie deur daardie gat tot in die kamer daaronder laat afsak. Hulle het regtig groot geloof gehad!

Al die mense in die huis was verbaas toe hulle sien wat gebeur. Die verlamde man op die bedjie het tussen hulle afgekom. Was Jesus kwaad toe hy sien wat die mans gedoen het?— Glad nie! Hy was bly om te sien dat hulle geloof gehad het. Hy het vir die verlamde man gesê: “Jou sondes is vergewe.”

Wat het Jesus vir die verlamde man gesê om te doen?

Party van die mense het nie gedink dit is reg dat Jesus dit sê nie. Hulle het nie gedink dat hy sondes kan vergewe nie. Om te wys dat hy dit regtig kan doen, het Jesus toe vir die man gesê: ‘Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe.’

Toe Jesus dit sê, is die man genees! Hy was nie meer verlam nie. Hy kon toe self opstaan en loop. Die mense wat hierdie wonderwerk gesien het, was baie verbaas. Hulle het nog nooit in hulle hele lewe iets so wonderliks gesien nie! Hulle het Jehovah geloof omdat hy vir hulle hierdie Groot Onderwyser gegee het, wat selfs mense se siektes kon genees.—Markus 2:1-12.

Wat leer ons uit hierdie wonderwerk?

Wat leer ons uit hierdie wonderwerk?— Ons leer dat Jesus die mag het om sondes te vergewe en siek mense gesond te maak. Maar ons leer ook iets anders, iets baie belangriks. Ons leer dat mense siek word as gevolg van sonde.

Beteken die feit dat ons almal partykeer siek word dan dat ons almal sondaars is?— Ja, die Bybel sê almal van ons word met sonde gebore. Weet jy wat dit beteken om met sonde gebore te word?— Dit beteken dat ons onvolmaak gebore word. Ons doen partykeer verkeerde dinge, al wil ons nie. Weet jy hoe dit gebeur het dat ons almal sonde het?—

Ons word met sonde gebore, want die eerste mens, Adam, was nie aan God gehoorsaam nie. Hy het gesondig toe hy God se wet verbreek het. En ons almal het sonde van Adam gekry. Weet jy hoe ons ons sonde van hom gekry het? Kom ek probeer om dit vir jou te verduidelik op ’n manier wat jy kan verstaan.

Hoe het dit gebeur dat ons almal sonde het?

Miskien het jy iemand al gehelp om brood in ’n pan te bak. Wat sal met die brood gebeur as daar ’n duik in die pan is? Weet jy?— Daardie selfde merk, of duik, sal op al die brode wees wat jy in daardie pan maak, nè?—

Adam was soos daardie pan, en ons is soos die brood. Hy het onvolmaak geword toe hy God se wet verbreek het. Dit was asof hy ’n duik, of ’n slegte merk, gekry het. Hoe sou sy kinders dan wees?— Al sy kinders sou hierdie selfde merk van onvolmaaktheid kry.

Die meeste kinders word nie gebore met die een of ander groot gebrek wat jy kan sien nie. Hulle word nie sonder ’n arm of ’n been gebore nie. Maar die onvolmaaktheid wat hulle het, is ernstig genoeg dat hulle siek word en later doodgaan.

Party mense word natuurlik meer dikwels siek as ander. Hoekom? Is dit omdat hulle met meer sonde gebore word?— Nee, almal word met ewe veel sonde gebore. Ons word almal onvolmaak gebore. Daarom sal almal vroeër of later die een of ander soort siekte hê. Selfs mense wat al God se wette probeer gehoorsaam en wat niks doen wat regtig sleg is nie, kan siek word.

Watter soort gesondheid sal ons hê wanneer ons sonde weg is?

Hoekom word party mense dan meer dikwels siek as ander?— Daar is baie redes. Hulle het miskien nie genoeg kos om te eet nie. Of hulle eet dalk nie die regte soort kos nie. Hulle eet miskien te veel koek en lekkers. Nog ’n rede kan wees dat hulle saans te laat gaan slaap en nie genoeg slaap kry nie. Of hulle trek dalk nie warm genoeg aan voordat hulle in die koue uitgaan nie. Party mense se liggaam is te swak en hulle kan nie teen siekte stry nie, al probeer hulle om hulle gesondheid op te pas.

Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer ons nie sal siek word nie? Sal ons ooit ontslae wees van sonde?— Wel, wat het Jesus vir daardie verlamde man gedoen?— Jesus het sy sondes vergewe en hom genees. Op daardie manier het Jesus gewys wat hy eendag vir almal gaan doen wat hard probeer om te doen wat reg is.

As ons wys dat ons nie wil sondig nie en dat ons haat wat verkeerd is, sal Jesus ons genees. In die toekoms sal hy die onvolmaaktheid wat ons nou het, van ons af wegneem. Hy sal dit doen as die Koning van God se Koninkryk. Sonde sal nie sommer skielik van ons af weggeneem word nie. Dit sal oor ’n tydperk weggeneem word. Wanneer ons sonde dan uiteindelik weg is, sal ons nooit weer siek word nie. Ons sal almal volmaakte gesondheid hê. Wat ’n seën sal dit tog wees!

Vir verdere gedagtes oor hoe sonde almal raak, lees Job 14:4; Psalm 51:5; Romeine 3:23; 5:12 en 6:23.